DIE ENIGSTE VEILIGE PLEK

David Wilkerson (1931-2011)

Dwarsdeur die geskiedenis het mense geglo hulle kon enige ramspoed goed genoeg hanteer sonder geloof in God. Die profeet Jesaja het geskryf dat sulke spotters spog, “As die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie...” (Jesaja 28:15). Jesaja sê hierdie mense is geestelik blind (sien Jesaja 26:11); met ander woorde, hulle sal geen ramspoed aan God se werk toeskryf nie. In plaas daarvan, sal hulle optree asof God glad nie in die hemel is nie.

Talle spotters in Amerika dink hulle rykdom sal hulle van alle rampe red, maar God sê in baie duidelike terme dat wanneer sy goddelike skudding begin, sal die goddelose rykes skielik hulle besittings waardeloos ag (sien Jesaja 2:20-21). Ander sê, “Doemprofete sê nou al eeue lank dieselfde dinge, maar die wêreld het nog nie tot ‘n einde gekom nie. Ons moet net die lewe geniet terwyl ons kan.”

Dit is waar dat God se profete aan elke geslag waarskuwings gegee het, maar die geskiedenis bewys dat God altyd sy oordeel gestuur het op die bepaalde tyd. John Owen, die groot Puriteinse prediker het ‘n ernstige waarskuwing gegee aan sy gemeente op 9 April 1680, en terwyl die skeptici gespot het, het God werklikwaar verskriklike oordele oor daardie samelewing gestuur. John Owen het geleef om te huil oor ‘n vlammende menseslagting wat London verswelg het en daardie groot stad verwoes het. Trouens, hy het die vervulling van al sy kragtige profesieë gesien – oorlog, verwoesting, verpletterde ekonomieë, landwye depressie en siektes wat menigtes roekelose, ongeërgde mense uitgeroei het.

Geliefdes, ons leef in net so ‘n tyd soos Owen s’n. En in tye soos hierdie, is daar slegs een reaksie: “Die regverdiges sal deur geloof lewe!” Owen het sy mense met trane vermaan om ’n ark van veiligheid vir hulleself en hulle families gereed te maak. “Daardie ark is Jesus Christus – die enigste veilige plek.”

Ons mag gevare oral sien, maar ons het ook ‘n vuurvlammende wag van engele wat ons omring en ons het ‘n God onder eed om ons te dra deur enige ramp wat ons mag beleef. Plaas jou geloof in Jesus en jy kan die naderende storm met stille vetroue en vrede in jou gemoed tegemoetgaan. Hy is jou goeie, liefdevolle herder en Hy is getrou om jou deur te dra!