Die Welbehae van God

David Wilkerson (1931-2011)

God het met Jesaja oor ‘n sekere dienskneg wat sy hart sou behaag gepraat: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het” (Jesaja 42:1).  Wie is die een wat God ondersteun en dra en al sy treë bewaar? Wie is sy Uitverkorene, sy Gekosene – die een in wie Hy so ‘n welbehae het?

Ons kry die antwoord in Matthéüs se evangelie: “En meteens gaan die hemele vir Hom oop en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” (Matthéüs 3:16-17). Die oorspronklike woord vir “Ek het ‘n welbehae in” hier, is “genoeë.” God het in wese gesê, “My siel geniet my Seun, Jesus Christus!”

Dwarsdeur die Ou Testament, was ontelbare getalle skape en beeste aan die Here as offers gebring, maar die Bybel sê nie een van hierdie offers het die Here enigsins behaag nie: “Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie” (Hebreërs 10:6). Maar in net die volgende vers lees ons hierdie wonderlike woorde van Jesus: “Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom ... om u wil te doen, o God” (10:7).

Christus het aarde toe gekom om te doen wat geen diereoffer kon doen nie. God het ‘n fisiese liggaam vir Hom hier op aarde berei – ‘n liggaam wat die finale, volmaakte offer sou wees. Kortliks, God het Homself om ons onthalwe verneder. Deur Homself in ‘n menslike baarmoeder te omsluit, het Hy ons natuur aangeneem. Hy het die rykdom van die hemel prysgegee om vir ons arm te word en sy lewe as losprys vir ons te gee.

Van die grondlegging van die wêreld af, het God net een plan gehad: om die afvallige, sondige mensdom te versoen en ons weer in sy goeie boekies te bring. God se plan van hoe om dit te doen, was eenvoudig. Hy het gesê, “Ek gaan my Seun as ‘n verlosser stuur en nadat Hy gesterf, opgestaan het en voor My staan, sal Ek slegs Hom erken.”

Die Here het gesê, “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring” (1 Petrus 3:18). God sou nooit enige werke van menslike vlees aanvaar nie, maak nie saak hoe goed dit mag lyk nie. Hy sou slegs Christus erken. Die dienskneg wat Hom volmaak behaag en in wie Hy Hom verheug het!