Bely Christus

“Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemel is” (Matthéüs 10: 32-33).

Wat beteken dit om Christus voor die mense te bely of te verloën? Die Griekse woord vir bely beteken hier “verbond” of “instemming.” Jesus praat van ‘n ooreenkoms wat ons met Hom het. Ons deel is om Hom in ons daaglikse lewens te bely en te verteenwoordig. Ons doen dit deur op sy beloftes te vertrou dat Hy vir ons sal sorg en daarvan te getuig deur die wyse waarop ons lewe.

Die Here het pas sy vir luisteraars gesê, “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie” (Matthéüs 10:29). Hy het gesê, “Dink aan die biljoene van voëls wat oor die hele aarde voorkom. Tot op hierdie dag het nie een van hulle gesterf sonder dat die hemelse Vader daarvan geweet het nie. Dink jy dat jou God minder vir jou omgee?”

Christus het uitgewys, “En van julle is selfs al die hare van die hoof almal getel” (Matthéüs 10:30). Hy het beklemtoon, “Jou Vader weet so baie van jou dat dit bokant jou verstand is. Jy kan nooit besef hoe diep en gedetaileerd sy sorg vir jou is nie.”

Jesus het alles opgesom deur te beveel, “Wees dan nie bevrees nie; julle is baie meer werd as baie mossies” (Matthéüs 10:31). Met ander woorde, “Dink aan wat nou net aan jou geopenbaar is oor die Vader se sorg. Jy moet hierdie waarheid aan die hele wêreld verkondig en ‘n lewe lei wat dit verklaar, ‘God sorg vir my’”. Ons mag ons geloof in Jesus verklaar, Hom aanbid en selfs sy Naam verkondig, maar as ons in vrees lewe, dan getuig ons nie teenoor die wêreld van sy sorg nie.

Laastens belowe Christus, “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is” (Matthéüs 10:32). Op die oordeelsdag sal Jesus ons by die hand neem, ons na die Vader se troon neem en verklaar, “Hier is die een wat my Woord geglo het. Hy het geleef voor mense met absolute vertroue dat Ek hom as waardevol ag en hy het gewys dat Ek vir hom tot in elke detail sorg. Hy het geweet dat ek redes gehad het waarom Ek alles wat in sy lewe gebeur het, toegelaat het. En selfs in sy moeilikste tye, het hy sy sorg en vrese op my gelaai en het hy aan die hele wêreld verklaar dat Ek vir hom sorg. Hy net my deur alles heen vertrou.”

Wat beteken dit om Christus voor die mense te verloën? “Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemel is” (Matthéüs 10:33). Wanneer dit daarby kom om Jesus te verloën, dink meeste van ons aan Petrus. Ons wonder, “Hoe kon iemand wat so naby aan die Here was, Hom verloën?” Tog, selfs die mees toegewyde tussen ons kan net so skuldig wees aan dieselfde sonde.

Ons ontken Jesus wanneer ons Hom nie in ons oorweldigende beproewings vertrou nie.

Baie Christene voel dat hulle nie langer die beproewing wat hulle in die gesig staar, kan dra nie. Dag na dag steek hulle hulle pyn weg, terwyl hulle die diep krete van hulle seerkry, smoor. Hulle gedagtes is oorgeneem met vrees en in hulle harte wil hulle nie aangaan nie. Beskryf dit jou? As jy sukkel om jou seerkry in woorde uit te druk, verstaan selfs jou vriende nie. Erger, ‘n deurdringende vraag talm in jou gedagtes: “Is die Here besig om my te oordeel oor iets wat ek gedoen het?”

Dawid het ook die stryd van self-vertwyfeling gestry toe hy oorweldig is. Hy het gebid, “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (Psalm 143:2). Hy het gesê, “Antwoord my uitroep, Here, maar, asseblief moenie my oordeel nie. Dit is erg genoeg dat ek ly. Ek sal dit nie kan hanteer as ek betaal vir wat ek verkeerd gedoen het nie.”

Geliefde, dit is nie die manier waarop die Here werk nie. Hy probeer nie jou liefde wen deur jou seer te maak nie. Watter tipe man sal ‘n vrou se hart probeer wen deur haar seer te maak? Jesus trek ons harte met genade, liefdevolle goedheid en sy goeie nuus. So moenie God blameer vir jou probleme nie. En moenie jouself blameer nie. Jesus begeer slegs een ding van jou: ‘n uitroep om hulp. Hy wil hê dat jy na Hom uitreik. Wanneer jy dit doen, belowe Hy om gou te kom.

Ek moet jou vra: Weet die wêreld dat jy ‘n liefhebber van Christus is? As dit so is, word jy vir lank neerslagtig gesien? Praat jy die hele tyd oor die dinge wat verkeerd gegaan het? Het jy in hierdie toestand gebly sonder om Christus se beloftes op te eis? Na aanleiding van Jesus se eie woorde, verloën jy Hom voor die mense. Eerstens, jy ontken sy liefde vir jou, en tweedens, jy laat na om van Hom te getuig vir wie Hy is: jou Verlosser, beskermer en voorsiener. Jy weier om sy getrouheid te erken.

Ek begryp dat depressie of ‘n neerslagtige gees veroorsaak kan word deur iets anders as ongeloof. Dikwels mag fisieke faktore betrokke wees, soos ‘n chemiese wanbalans, ‘n gebrek aan serotonien, ‘n bi-polêre afwyking of een of ander siekte. Hierdie is regte fisieke probleme. En ek praat nie van heiliges wat aan hierdie dinge ly nie. Ek praat van die oorweldigende probleme wat ons almal in die gesig staar, die beproewings van die alledaagse lewe. Of God se beloftes is almal waar, of die lewe self is een groot leuen. Net soos Paulus sê, as daar geen opstanding was nie, dan kan ons maar net sowel alle hoop opgee. Ons mors almal net ons tyd.

Die boodskap van die Psalms is duidelik: Ons moet die Here vertrou te alle tye, in alle omstandighede. Al wat Dawid kon doen met tye, was om uit te roep, maar hy het ook hierdie kragtige stelling aan neerslagtige gelowiges gerig: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (Psalm 34:20,23).

Ons verloën Christus voor mense wanneer ons bose dade sy heiligheid verraai.

“Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk” (Titus 1:15-16).

Toe Paulus gesê het dat alle dinge rein is vir die reines, het hy van die gelowiges gepraat wie se verstand en gedagtes nie verontreinig is nie. ‘n Heilige reinheid vloei uit hulle geselskap en lewenstyl uit en hulle sal nie toelaat dat enigiets hierdie rein stroom besoedel nie. Hulle luister nie na vuil praatjies nie. Hulle sit nie voor ‘n TV of rekenaar en onreinheid inneem nie. Hulle loop vinnig weg van allerhande geskinder. In plaas daarvan, sien hulle alle mense deur oë van liefde.

Maar daar is ‘n ander tipe dienaar: “vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel” (Titus 1:15). Hierdie persoon se verstand en gewete is besoedel met gemors en sy gewete is verontreinig met die sonde wat hy wegsteek. Vir hom is niks rein nie. Hy drink veragtelike beelde van films en TV in. Hy lag oor vuil grappe wat geen dienaar van Christus moet verdra nie. En oral waar hy kyk, sien hy sonde in ander en skinder vrylik oor hulle.

Tog word ‘n bose hart deur sy bose leuens geopenbaar. Miljoene in die wêreld ignoreer en verwerp Christus, maar die blatantste, grootste verloëning van Jesus is die een wat in Titus beskryf word: “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk” (Titus 1:16).

Ek wil met elke liefhebber van Christus praat wat ‘n boesemsonde wegsteek. Jy weet jou hart is verontreinig. En, ja, die Bybel sê dat jou sonde jou sal uitvind. Dit is die mees hartbrekende aspek van geheime sonde, wanneer dit geopenbaar word in die publiek. Ons verkleineer God se naam voor die wêreld en ontken wie Hy is. Maar die Here wil jou nie openbaar maak nie; sy grootste begeerte is om jou vry te maak. Hy wil jou vergewe, jou reinig en jou verlede bedek. Dit is sy liefdevolle hart teenoor jou; Hy weier om jou te laat gaan. Anders bly daar net die drie gevreesde woorde oor: “As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën” (2 Timótheüs 2:12).

Ons verloën Christus voor mense deurdat ons persoonlike sekuriteit net soos die wêreld najaag..

Terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, het God my ‘n virus gewys, ‘n siek knop wat teen die wortels van ons harte lê. Dit is ‘n saad van vrees, en dit het te doen met ons eie persoonlike sekuriteit. Terwyl ek hierdie preek skryf [2002], is daar ‘n groot wolk van vrees wat oor die wêreld hang. Mense word geteister deur ‘n diepe vrees van onsekerheid. In 1974, in my boek “The Vision,” het ek gewaarsku teen ‘n aaklige ekonomiese storm wat oor die hele wêreld sou kom. Ek het geprofeteer dat besigheidsmense wreed sal word en groot finansiële suksesse sal wil maak. In die tussentyd, sou werknemers by die duisende afgelê word en duisende beleggers sou bedrieg word.

Dit het begin gebeur net soos ek geprofeteer het. ‘n Aandelemakelaar het dit aan my bevestig, “Almal op Wall Street weet dat die insinking kom. Hulle gryp alles wat hulle kan, bou neseiers op en hardloop vir die uitgange. Al wat ons nou hoor is, ‘Ek het myne.’”

In die tussentyd, het hierdie siekte selfs onder Christene wortel geskiet. Baie bewe van vrees en kommer, “Hoe sal ek dit maak as die ekonomie sink? Hoe gaan ek vir my familie sorg?” Hulle word met vrees besoedel. Sommige streef selfs na oneerlike wins en laat getrouheid na. Hulle malle rondgekrabbel veroorsaak die grootste verloëning van Christus in die geskiedenis.

Hoe sal jy die storm wat kom, trotseer? Sal jy paniekerig word en huil van moedeloosheid? Sal jy planne maak en saam met die res van die wêreld agter geld aan skarrel? In hierdie tye moet daar mense van God wees, wie se lewens bely dat Jesus hulle voorsiener is. En wanneer die storm kom, sal ons nodig hê om Hom met meer as net woorde te bely. Ons het nodig om ten vollle in sy rus in te gaan en om ons siel se vrede in Hom te vind. Hy moet ons toevlug, ons voorsiening en ons sekuriteit word.

Sommige van die kosbaarste briewe wat ons bediening ontvang, is van weduwees in hulle tagtigs en negentigs. Hulle lewe op klein Maatskaplike Tjeks, sommige minder as $600 ‘n maand. Hulle skryf, “God onderhou my. Hy voorsien in al my behoeftes en rek my geld elke maand. En Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie. Ek het nog nooit enigiets kortgekom wat ek regtig nodig gehad het nie.” Jesus sê Hy sal sulke dienaars voor die Vader bely.

Sal jy Christus voor mense bely? Bêre hierdie woord in jou hart: “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see...Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek” (Psalm 46:2-6).