‘N VERDUISTERING VAN GELOOF

David Wilkerson (1931-2011)

Die vreeslose profeet Jeremia, ‘n kragtige prediker van heiligheid en bekering, het die gedagtes van God gehad en het in die vrees van die Here gewandel. As ons egter Jeremia 20 lees, sien ons waar hierdie groot man ‘n verskriklike verduistering van geloof ly.

Jeremia het by die tempelpoort gepreek toe ‘n Satan-besete priester, Pashur, nadergekom het en hom in die gesig geklap het. Toe het Pashur beveel om Jeremia weg te sleep in hom toe te sluit in ‘n openbare blok, waar hy gespot was deur die verbygaande skares. Toe hy vrygelaat is, het Jeremia God se oordeel op Pashur en sy volgelinge uitgespreek: “En jy, Pashur, en al die inwoners van jou huis sal in gevangenskap gaan” (Jeremia 20:6). Met ander woorde, “Pashur, jy en hierdie stad gaan onder!”

Dadelik nadat dit gebeur het, het ‘n duisternis van siel oor Jeremia neergedaal en hy het van moedeloosheid ineengestort. Die eens deurdringende heiligheidsprediker het nou duister gevoelens teenoor God geuiter: “Here, U het my mislei. Die woord wat U vir my gegee het, het ‘n skande geword en elke dag word ek bespot. U het my verlaat, en daarom verlaat ek U. Ek gaan nie meer u Woord spreek nie, omdat al U beloftes leeg is. My lewe en bediening het in skande geëindig. U moes my in die baarmoeder doodgemaak het” (sien Jeremia 20:7-9,17).

Het Jeremia hier te ver gegaan? Hoe kon sulke taal uit iemand kom wat daarop aanspraak maak om God te dien? Ons kry ons antwoord in die volgende hoofstuk: “Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het” (Jeremia 21:1). Die profeet se verduistering van geloof het verbygegaan en God was nooit weg nie. Hy is altyd bewus van die planne en aanvalle wat Satan gebruik teen sy mees effektiewe dienaars en Hy het geweet Jeremia sou volhard. God het verstaan dat Jeremia se geroep gekom het uit verwarring en pyn en die Skrif maak dit duidelik dat God nie ‘n enkele oomblik sy salwing van hom af weggeneem nie.

Jy mag voel dat God jou teleurgestel het. Wees gewaarsku dat die duiwel hierdie twyfel veroorsaak en hy is absoluut vasbeslote om jou visie van God se barmhartigheid en genade te blokkeer. Maar reik uit na jou Vader en rus in sy liefde met die versekering dat Hy jou nooit verlaat het nie.