Vrymoedigheid om in God
“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees … laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid” (Hebreërs 10:19,20,22).
Daar is twee kante aan God se werk op Golgota. Die een kant is die oordeel vir die mens en die ander kant is die voordeel vir God. Die een bevoordeel die sondaar die ander bevoordeel die Vader.
Ons weet goed wat die voordeel vir die mens is. Die kruis van Christus gee aan ons die vergifnis van sonde. Aan ons is die mag en die oorwinning oor alle sonde en bindinge gegee. Ons ontvang genade en barmhartigheid. Buitendien ontvang ons die belofte van die Ewige lewe. Die kruis gee vir ons die ontvlugting van die skrik van die sonde en die hel.
Ek dank God vir hierdie voordeel en verlossing wat die kruis vir die mens gebring het. Ek is dankbaar dat dit week-na-week in kerke, reg oor die wereld, gepreek word.
Maar daar is ‘n ander voordeel van die kruis, een waarvan ons min weet. Die voordeel van die Vader. Ons verstaan baie min van die verrukking van die Vader, wat die kruis bewerk het. Dit is die verrukking wanneer Hy ‘n verlore kind, weer tuis mag ontvang.
As ons net op vergiffenis konsentreer wanneer ons die kruis sien, het ons ‘n belangrike waarheid gemis wat God vir ons
in die kruis openbaar. Daar is ‘n voller betekenis hier en dit het te doen met sy behae. Hierdie waarheid gee aan God se volk baie meer as net verligting. Dit bring vryheid, rus, vrede en vreugde.
Volgens my kom baie Christene met vrymoedigheid voor God vir vergiffenis, vir die voorsiening in hulle behoeftes, en vir verhoring van hulle gebede. Tog mis hulle die vrymoedigheid in hierdie geval - iets wat net so belangrik is in hulle wandel met die Here.
God verheug Hom in die vreugde van ons omgang met Hom.
Die Here het groot vreugde daarin dat die kruis vir ons toegang tot Hom bewerkstellig het. Ja, die glorierykste tyd in die geskiedenis was toe die tempel voorhangsel in twee geskeur het, op die dag toe Jesus gesterf het. Op daardie oomblik het die aarde geskud, die rotse het oopgeskeur en grafte het oopgegaan.
Dit was op daardie oomblik dat die toegang tot God oopgebars het. Op daardie oomblik toe die voorhangsel – wat die mens van God se heilige teenwoordigheid geskei het – geskeur het, het iets ongeloofliks gebeur. Van daardie oomblik af, kon die mens God nader en God kon na die mens kom.
Hy wat eenmaal in ondeurdringbare duisternis gewoon het, het nie vir ons gewag om na Hom toe te kon nie, Hy het na ons toe gekom. God self het die inisiatief geneem, en Christus se bloed het alle hindernisse oorkom. Dit was ‘n eensydige skuif van God se kant, dit is soos wanneer een party verklaar, “Dit is genoeg, - Ek gaan vrede maak. Ek gaan hierdie muur tussen ons afbreek. Ek sal dit op my eie inisiatief doen”. Voor die kruis was daar geen toegang tot God, vir die gewone mens nie, slegs die Hoëpriester kon die Allerheiligste binnegaan. Nou het Jesus se kruis vir ons ‘n pad na God se teenwoordigheid oopgemaak. Slegs deur sy genade, het God die muur verwyder wat ons van Hom geskei het. Nou kon Hy na die mens kom, om die verlorenes en sondaars te omhels.
Dink aan Israel se wonderlike verlossing. Toe God se volk oor droë grond, oorgetrek het, sien hulle hoe hulle vyande onder die golwe verdrink. Dit was ‘n wonderlike oomblik, en hulle het in lofsang, dans en danksegging uitgebreek: “Ons is vry! God het ons verlos van die hand van ons onderdrukker”.
Israel se verhaal versinnebeeld ons eie verlossing van die bande van sonde. Ons weet dat Satan oorwin is op die kruis, en ons was onmiddellik verlos van sy ystergreep. Maar God se doel is groter, as net om ons te red en te verlos. Kyk, God het nooit bedoel dat Israel hulle daar op die wal van die Rooi see moet vestig nie. Sy belangrikste doelstelling was om hulle uit Egipte te verlos, om hulle na Kanaän te lei, sy land van volheid en oorvloed. Kortliks Hy het hulle uitgelei om hulle in te lei: in sy hart vol liefde vir hulle. Hy wou ‘n volk hê wat absoluut afhanklik was van sy liefde en Genade. Dieselfde geld vandag nog vir sy volk.
Israel se eerste toets het net ‘n paar dae later gekom, en hulle begin kla en murmureer en is ontevrede. Waarom? Hulle het God se bevryding ervaar, maar hulle het nie sy groot liefde vir hulle daaragter raakgesien nie.Hier is die sleutel van my boodskap: jy kan nie vreugde en vrede ervaar – jy kan selfs nie weet hoe om die Here te dien nie totdat jy sy vreugde in jou verlossing raakgesien het nie. Totdat jy die liefde van sy hart gesien het, in die vreugde van sy gemeenskap met jou, Totdat jy sien dat by die kruis elke muur van skeiding verwyder is. Totdat jy weet dat jou hele verlede veroordeel en weggewas is. God sê “Ek wil hê dat jy vorentoe sal gaan, in die volheid wat ek vir jou in my teenwoordigheid wil gee!”
Baie mense verheug hulle in die voordele van die kruis. Hulle het uit Egipte weggetrek, en hulle staan op die oorwinningsland aan die anderkant van die Rooi See. Hulle geniet hulle vryheid, en hulle dank God gedurig omdat Hy hulle verdrukker in die see gewerp het. Maar hulle mis God se groter bedoeling om hulle te seën. Hulle verstaan nie waarom God hulle uitgebring het, naamlik om hulle in te bring, in Homself, nie.
Jesus het hierdie gelykenis vertel, om ‘n groot waarheid te illustreer. In die gelykenis sien ons die voordeel van die mens maar ook die voordeel van God. Die gelykenis handel nie net oor die vergiffenis van ‘n verlore mens nie. Dit handel nog meer met die blydskap van die vader wat na hom toe hardloop.
Julle ken die storie. ‘n Jong man neem sy deel van sy erfenis van die vader en vermors dit deur ‘n losbandige lewe. Hy eindig gebroke, sy gesondheid en sy gees verrinneweer, en dan besluit hy om terug te gaan na sy vader. Die skrif sê: “En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen (Lukas 15:20).
Let daarop dat niks die vergifnis van die
vader verhinder nie. Hierdie seun hoef niks te doen nie – selfs nie eers sy sonde te bely nie – want die vader het reeds voorsiening gemaak vie versoening. Ja, alles gebeur deur die vader se inisiatief: hy hardloop na sy seun toe en omhels hom, die oomblik wanneer hy hom, in die pad, sien aankom. Die waarheid is dat vergifnis nooit ‘n probleem is vir ‘n liefhebbende vader nie. Netso is dit ook nie ‘n probleem vir ons hemelse Vader as Hy ‘n berouvolle kind, sien nie.
Vergifis is nie die hoofsaak in die gelykenis nie. Jesus maak dit duidelik dat alleen nie al is nie. Die vader omhels nie sy seun bloot net om hom te vergewe en hom weer te laat gaan nie. Nee, die vader verlang meer. Hy wil sy seun se geselskap hê, sy teenwoordigheid, sy gemeenskap.
Selfs al was die verlore seun vergewe, was hy nog nie tuis in sy vader se huis nie. Slegs dan sal die vader tevrede wees, sal sy vreugdesbeker vol wees. Dit is die hoofsaak in die gelykenis.
Hier begin die storie interessant word. Dit is duidelike dat die seun nog nie gerus was nie, selfs al het die vader hom vergewe. Daarom was hy bang om sy in sy vader se huis te gaan. Hy sê vir die vader met ander woorde: “As u net weet wat ek gedoen het, al die vuil, goddelose dinge. Ek het teen God gesondig en teen u liefde en genade. Ek verdien nie u liefde nie. U het alle reg om my af te sny.”
Dit was die verlore seun se ou natuur wat gepraat het. Hy sê: “Ek kan nie sommer so skotvry gaan nie. My vader omhels en soen my, maar hy vra geen vrae nie. Hy aanvaar my met oop arms. Dit kan nie reg wees nie. Ek moet op ‘n manier betaal. Miskien skuld ek meer as wat ek kan betaal, maar ek moet tog probeer.”
Liewe gelowiges, wat van jou? Protesteer jy ook teen jou vader se aandrang om in te kom? Jy mag weet dat jou sonde vergewe is, maar jy is onwillig om in sy teenwoordigheid te verkeer, om jou geselskap te geniet? Miskien is jy ook soos die verlore seun, jy staan langs die pad, wenende, vol goddelike verdriet. Soos hy roep jy ook uit na die Vader, “Ek het gesondig teen die hemel en teen u, ek is nie werd om u seun genoem te word nie.” (Lukas15:21).
Dit is ware bekering, maar sulke bekering is nie volkome as jy teensinnig is om in jou Vader se huis in te gaan. Waarom weifel jy? Miskien dink jy nog aan die sonde van jou verlede, soos die verlore seun.
Kyk hoe reageer die Vader teen sy seun. Hy uiter nie een woord van verwyt nie. Hy praat nie van wat die verlore seun gedoen het nie, van sy opstandigheid sy domheid, sy losbandigheid, sy geestelike bankrotskap nie. In werklikheid sien die vader nie eers sy seun se onwilligheid om in te kom nie, dit is onwaardig. Hy ignorer dit! Hoekom?
In die vader se oë was die ou seun dood. Daardie seun word nie eers aan gedink nie. In die vader se oë was hierdie seun wat teruggekom het, ‘n nuwe mens. Sy verlede was vir altyd verby. Die vader het eintlik gesê: “Sover dit my aangaan is die ou “jy” dood. Gaan nou saam met my as ‘n nuwe man. Dit is wat ek van jou verwag. Dit is nie nodig dat jy onder ‘n skuldgevoel leef nie. Hou op om oor jou sonde en onwaardigheid te praat. Die probleem van jou sonde is afgehandel. Kom nou, met vrymoedigheid, in my teenwoordigheid, en geniet van my genade. Ek is bly oor jou!”
Maar die verlore seun was nie gelukkig in sy vader se teenwoordigheid nie. Hy het seker gedink, “Gaan ek ernstig gestraf
word? Wat kan ek doen om dit te voorkom? Ek moet die gevolge van my dade dra, ek behoort die lat op my rug te voel. Ek moet bewys dat ek verander het”.
In sy gedagtes het hy veroordeel gevoel, dit kom van die Satan af. Vandag gebeur dieselfde ding met baie van God se kinders. Ons Vader verheug Hom oor ons, Hy omhels ons met arms van liefde. Tog dink ons dat nederigheid beteken om vir God te vertel hoe sleg ons was, om die verlede op te grawe in plaas van sy uitdrukking van liefde te aanvaar. Al die tyd, dink ons skuldig, “Hy moet kwaad wees vir my, ek het erger gesondig as andere”.
Die verlore seun het, soos Paulus dit noem, ‘n “vernuwing van die gedagtes” nodig. Ek is lief daarvoor om hierdie woorde van die gelykenis te lees: “Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees (Lukas 15:22-23)”.
Toe bring die diensknegte die beste kleed in die huis. Wanneer hulle dit om die seun se skouers sit, verteenwoordig dit die bekleding met die regverdigheid van Christus. Toe het die Vader ‘n ring aan sy vinger gesit, dit verwys na die mens se vereniging met Christus. Daarna trek hy skoene aan die seun se voete, dit wil sê hy trek die skoene aan van die evangelie van vrede in Christus. Hierdie liefhebbende vader het vir sy kind gewys:
“Weg met daardie vodde van die vlees, daardie pogings om My te behaag. Ek wil jou wys hoe Ek jou sien, hoe jy vir my lyk. Jy kom in my huis soos ‘n nuwe koningskind. Jy kom nie soos ‘n slaaf en ‘n bedelaar nie, maar as my kind in wie Ek ‘n behae het! Kom dan nou in met vrymoedigheid en sekerheid!”
Dieselfde geld vir ons vandag. Ons moet vernuwe word in ons gedagtes, oor hoe God ons in sy teenwoordigheid gaan ontvang. Ek gaan terug na die vers aan die begin van hierdie boodskap. “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, … laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid” (Hebreërs 10:19-20, 22).
Die woord vir “onbeskaamd” hier kom van die stam wat verwys na ‘n “vrygemaakte slaaf”. Dit beteken om nie langer onder die wet van sonde en die dood te wees nie, maar onder die wet liefde van die vader –slegs deur sy genade – wat ons in sy teenwoordigheid kan kom. En hierdie is die bevoegdheid: “… en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig – Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde (Kolossense 1:12-13)
Ons kan onsself eenvoudig nie waardig maak om in God se teenwoordigheid te kom nie. Ons kan bid en Bybel lees totdat ons moeg is, ons kan God beloof dat ons ons bes sal doen, maar niks wat uit die vlees kom, kan ons ooit bekwaam maak om in sy teenwoordigheid te kom nie. Ons kan niks na God bring wat Hom sal behaag nie. Dit kom deur genade alleen.
Die Seun is nou versoen, hernuwe en bekwaam.
Nou is die fees in gereedheid om die verlore seun se tuiskoms te vier. Die vader kondig aan, “Dit is noodsaaklik dat ons in die huis sal gaan en fees sal vier”. Geliefdes, dieselfde geld vir ons vandag: dit is noodsaaklik dat ons in die vader se teenwoordigheid sal gaan, sonder skuld of veroordeling, en vrolik sal wees!
Die vader se uitspraak hier wys sy blydsksap dat sy seun weer “tuis” was, in sy huis van vrede, liefde en vreugde. Die vader sê eintlik: “Dit was belangrik vir my dat my seun in my huis sal inkom in my teenwoordigheid. Dit is my vreugde”.
Stel jou voor as die seun oor die drumpel van sy vader se huis tree, hoe doen hy dit? Hy kan sy vader nie tevrede stel as hy in ‘n hoekie gaan sit – verwerp en verlore nie – terwyl hy oor al sy sonde nadink nie. Hy kan nie in die teenwoordigheid van sulke verstommende genade gaan sit en steeds bedruk wees deur veroordeling, en die angs dat hy tog veroordeel sal word as hy weer val nie. So ‘n houding sal die vaderhart seer maak.
Die skrif sê vir ons wat toe gebeur het: “…laat ons eet en vrolik wees” (Lukas 15:23-24). Voorwaar, in daardie huis het vreugde uitgebreek met feesvier, sang en dans. Die seun kon binnestap sonder angs of skuld, omdat hy geweet het sy vader was tevrede met hom. Alles net omdat die vreugde van die vader oorheers het.
Nou vra ek: wat kan my bly maak en laat sing in die Vader se teenwoordigheid? Wat kan my vry maak om saam met die vader bly te wees? Dit is nie slegs die wete dat ek veilig is nie … nie net dat die kruis vir my toegang tot die Vader gegee het nie… nie net dat my siel tot rus gekom het nie. Eerder is dit om in geloof, die Here se behae in my te sien, om te sien dat Hy bly is met my, Om te weet dat in sy oë daar geen vlek van sonde op my is nie, en dat Hy my sien as waardig en ‘n vreugde vir Hom. Geliefdes, dit is die kern van die boodskap van hierdie gelykenis. Dit het minder te doen met die tuiskoms van die seun, dit gaan meer oor die blydskap van die vader! Daardie vader was ten volle opgeneem deur die blydskap van die gemeenskap met sy seun en die een-wees met hom. So is dit ook met ons: ons teenwoordigheid in die vader se huis is Sy blydskap en vreugde, Ek wil u herinner aan die Vader se woorde met die doop van Jesus: “Dit is my geliefde Seun, in wie Ek my verheug” Net soos God Hom in sy Seun verheug, verheug Hy Hom oor jou, want jy is in sy Seun!
Ek verbaas my dat soveel gelowiges, veral die in die bediening, deesdae so bedruk en terneergedruk is. Waarom is ware geluk en blydskap so dikwels afwesig? Ek is oortuig dat die rede hiervoor is dat baie daarmee worstel, om God te sien soos Hy ons sien. Volgehoue vrede en vreugde kom slegs as ons diep binne-in glo, dat ons is wat God sê ons is. Sy woord sê “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam et Christus verborge in God” (Kolossense 3:3).
Dink net hoe tragies dit sou wees – hoe ‘n klad op die vader se liefde - as die verlore seun met blydskap sy vader se huis sou betree het, net om dadelik daarna toe te gee aan die ou vrese: “Dit is te goed om waar te wees. Wat sal gebeur as my vader van gedagte verander? Wat sal gebeur as ek môre weer val?” Nee! Hy moes sulke gedagtes weerstaan. En hy moes sy oë hou op die vader se sigbare blydskap op daardie oomblik.
Ek ken ‘n prediker wat onlangs weer geval het in ‘n verdowings verslaafdheid waaronder hy vroeër gebuk gegaan het. Onmiddellik het ‘n klomp Jobs-troosters hom omring – predikante en ouderlinge wat daarop aangedring het dat hy die besonderhede van sy sonde moet openbaar, sodat hulle hom kon help. Ek sê vir u daardie soort behandeling werk nooit God se versoening uit nie. Oordeel, skuld,werke van die vlees – dit bring niemand ooit terug in die Vader se liefde nie.
Die feite is dat die prediker hom alreeds bekeer het. Hy het in berou uitgeroep, “Ek het gesondig teen God, teen my familie, teen my gemeente”. Daar was alreeds gevolge. Wat hierdie man nou nodig het, is om te weet dat die Vader reeds daar is om hom te omhels – om hom te soen en tuis te verwelkom terwyl Hy sê, “Ek is bly oor jou. Jy het na die oorwinning van die kruis gekom. Jy is my geliefde seun en jy leer van Christus”.
As navolgers van Christus, moet ons God se Woord as die waarheid aanvaar met betrekking tot wat Hy van ons sê. Dit beteken dat ons “ou mens” nog steeds probeer om God in die vlees te behaag. So iemand haat sonde, hy wil God nie beledig nie, en tog bring sy gewete hom nog onder veroordeling, en skuld. Dan probeer hy sy probleem met sonde te oorbrug! Ek sal vandag begin om my sonde te beveg, al kos dit wat! Ek wil hê God moet sien hoe hard ek probeer”.
So ‘n mens bring baie sweet en trane na God toe, Hy bid en vas om aan God te bewys dat hy ‘n goeie hart het. Hy kan sonde vir dae lank oorwin en dan sê hy vir homself: “Ek kan dit vir een dag doen, waarom nie vir twee nie? En as ek dit vir twee of vier dae kan doen, waarom nie vir ‘n week nie? “Teen die einde van die maand voel hy goed oor homself, oortuig dat hy homself kan bevry.
Maar dan tree sy ou sonde weer op die voorgrond, en daar gaan hy diep in wanhoop. En dan begin die sirkelgang van voor af. So iemand is op ‘n trapmeule waarvan hy nie kan afkom nie. Mag dit nooit so wees nie! Sy man-in-die vlees is gekruisig met Christus, dood in God se oë. Paulus sê vir ons dat die oumens dood verklaar is aan die kruis. Jesus het die oumens saam met hom na die kruis geneem, waar hy dood en vergeet is. Netsoos die verlore seun se vader die oumens in die seun geïgnoreer het, so-sê die Here van ons oumens: “Ek sal nie met so-een onderhandel nie. Daar is nou net een mens waarmee ek deel. Dit is my seun Jesus, en almal wat deur geloof in Hom is.”
Die nuwe mens is die een wat alle hoop opgegee het om God te behaag uit homself. Die een wat dood is vir die ou maniere van die vlees. Deur die geloof weet hy daar is slegs een manier om God te behaag: Christus moet alles wees. Hy weet dat daar net een is wat die Vader behaag: Christus en almal wat in Hom is.
Hierdie nuwe mens leef net deur geloof: “Die regverdige sal deur die geloof leef”. Hy glo God se Woord so volkome, dat hy op niks anders leuen nie. Hy het Christus as die bron van alles bevind. Hy glo wat God van hom sê: “Jou ou mens is dood en jou lewe is geborge met Christus in God”. Hy mag dit nie voel nie, of ten volle verstaan nie, maar hy stry nie met die liefhebbende Vader se Woord nie. Hy aanvaar dit in die geloof, en glo dat die Here getrou is aan sy Woord.
Nou is die Vader verheug! En Hy sê: “Dit is my geliefde seun, wat My behaag. Julle is sy liggaam, en Hy is julle hoof. Daarom verheug Ek my ook oor julle. Alles wat Ek aan my Seun gegee, gee Ek aan julle, Sy volheid behoort aan julle”.
Dit is ‘n voorbeeld van hoe om vrymoedigheid te hê om in sy teenwoordigheid te kom! ■