‘N GETUIENIS VIR DIE BANGES

David Wilkerson (1931-2011)

In die verlede, het Christene hoofsaaklik aan verlossing gedink as fisiek, maar binnekort sal mense uitvind dat hulle verlos moet word van vrees en angs. Wanneer daardie tyd aanbreek, sal verlossing beteken om “’n betroubare woord uit die hemel te hê.” Wanneer verskriklike dinge begin gebeur, sal mense angstig wees om te weet wat God volgende gaan doen. Hulle sal hulle na alle rigtings wend en die stem van iemand wil hoor wat kalm, vredevol en stabiel is. Hulle sal uitroep, “Is dit God se oordeel? Wanneer gaan dit ophou?”

Wie sal die antwoorde hê? Jy – die gewone Christen wat jou met God afgesonder het. Jy sal ‘n kalm gees hê wanneer dit lyk of alles in duie stort omdat jy weet dat God met jou is. Jy sal uit die hemel hoor en sal staan op sy beloftes om jou te beskerm.

“Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode . . . onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red” (1 Samuel 7:3).

Oor en oor het die volk van Israel Samuel gedring om vir hulle te bid omdat hulle geleer het om sy gebede te vertrou. Samuel het die antwoorde vir Israel gehad omdat hy van God gehoor het en die regte woorde vir die krisis uur gebied het.

Vandag, soek God na ‘n heilige oorblyfsel gewone gelowiges wat vol vrede is, liefhebbers van Jesus wat tekens en wonders vir die wêreld sal wees. Beskryf dit jou? Is jou lewe nou ‘n getuienis vir ‘n bang en geskokte wêreld? Ek dring by jou aan om jou met God af te sonder en Hom om met jou te laat praat. Stel jouself vir Hom beskikbaar deur jouself aan gebed oor te gee en dan sal jy ‘n soldaat wees wat gereed is in hierdie laaste dae.