Die Verwarring van die Massas
In ons samelewing lyk dit asof 'n klein groepie die veranderinge wat in ons kultuur plaasvind, lei, en hulle is baie kwaad. Die hele situasie herinner my aan die groot menigte wat in die stadion van Éfese ingestorm het in protes teen Paulus se bediening. In Handelinge 19:21-41 was die mense wat die oproer gelei het, die afgodemakers, maar vir die duisende ander mense in die stadion gebruik die Skrif nie die woorde “met woede vervul” nie. Dit gebruik die woorde "in die war" vir hulle.
Ek weet nie of jy al ooit die program gesien het waar die televisieverslaggewer na universiteitskampusse toe gaan en betogers vrae vra oor hoekom hulle glo wat hulle glo of hoekom hulle 'n bordjie "Pro-dit" of "Anti-dit" het.
Die verslaggewer vra hulle waarom hulle daar is en hulle sê: 'Wel, want dit is reg. Dit is 'n beweging. Dit is om 'n onreg reg te stel.”
Hulle herhaal net wat professore, die samelewing, die media of vriende vir hulle probeer sê dat dit “cool” of “relevant” is. As jy hulle nie ondersteun nie, is jy 'n hater. Wie wil as tiener of jong volwassene 'n uitgeworpene wees? Hulle het eintlik geen idee wat hulle daar doen nie. Nie die vaagste benul nie. Hulle ken nie die geskiedenis van die beweging wat hulle ondersteun nie. Hulle weet nie hoekom hulle glo wat hulle glo nie. Hulle staan nie op hul eie morele oortuiging nie.
'n Groot persentasie mense is verward. Ek sou selfs so ver gaan om te skat dat soveel as 90 persent van die mense nie weet hoekom hulle glo wat hulle glo as dit kom by groot kulturele kwessies nie. Hulle het gehoor dat “verligte” mense op hierdie spesifieke manier dink; hulle lees 'n artikel; hulle het iets in die nuus gesien en daarom het hulle dit begin glo. Die meeste is nie regtig woedend oor die kwessies nie; hulle is net verward. Net soos die Efésiërs in Handelinge 19:29-32, weet die meeste van hulle nie waarom hulle bymekaargekom het nie.
Ons reaksie behoort dieselfde te wees as Paulus s’n ná die oproer. “En nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis. En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom” (Handelinge 20:1-2, AFR53).
Ons moet opstaan en nie moedeloos word nie. Ons behoort mekaar aan te moedig om as getuies te bly lewe. Ons moet lewe as hoop en lig vir ons samelewing.