Die Gebed van Ongeloof

David Wilkerson (1931-2011)

Jy het seker al gehoor van die gebed van geloof. Ek glo daar is ‘n spieëlbeeld van hierdie gebed, ‘n gebed wat gebaseer is op vlees. Ek noem dit die gebed van ongeloof.

Die Here het hierdie woorde teenoor Moses gespreek: “Toe vra die Here vir Moses: Wat roep jy na My?” (Exodus 14:15, AFR53). In Hebreeus sou hierdie vers iets soos die volgende gelees het: “Waarom skreeu julle op My? Waarom pleit julle so hard in my ore?”

Waarom sou God dit vir Moses gesê het? Hier was ‘n godvresende, biddende man in die krisis van sy lewe. Die Israeliete was deur Farao agternagesit, met geen ontsnapkans nie. Die meeste Christene sou waarskynlik soos Moses gereageer het. Hy het na ‘n afgesonderde heuwel toe gegaan om alleen met die Here te wees en sy hart in gebed uitgestort.

Toe God Moses hier hoor roep het, het Hy vir hom gesê: “Dis genoeg.” Die Skrif is nie baie duidelik oor wat toe gebeur het nie, maar op daardie stadium het God dalk gesê: “Moses, jy het geen reg om jou voor My te kwel nie. Jou geroep is ‘n belediging vir My getrouheid. Ek het jou alreeds my plegtige belofte van verlossing gegee. En ek het jou uitdruklik beveel wat om te doen. Hou nou op roep.”

Geliefde, God het nie verander tussen die Ou en die Nuwe Testament nie. Hy is ‘n God van liefde en genade soos Jesaja gesê het, maar Hy haat steeds sonde omdat Hy heilig en regverdig is. Dit is waarom Hy vir Israel gesê het: “Ek kan jou nie hoor nie weens jou sonde.”

Beskou die woorde van die Psalmdigter: “Ek het Hom aangeroep met my mond, en lofgesang was onder my tong. As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie. Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed. Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie.”

Terwyl ons ons eie krisis beleef, kan ons onsself oortuig: “Gebed is die belangrikste ding wat ek nou kan doen.” Maar ‘n tyd kom wanneer God ons vra om op te tree, om sy Woord in geloof te gehoorsaam. Op so ‘n tyd, sal Hy nie toelaat dat ons afsonder in ‘n woestyn om te bid nie. Dit sou ongehoorsaamheid wees, en gebede op daardie stadium sou met ongeloof aangebied word.