Die Vader se Blydskap
“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees...laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Hebreërs 10:19-20,22, AFR53).
Daar is twee kante aan Christus se werk op Golgota. Die een kant is tot voordeel van die mens, en die ander kant tot voordeel van God. Die een bevoordeel die sondaar, terwyl die ander die Vader bevoordeel.
Ons weet goed wat die voordeel aan die kant van die mens is. Die kruis van Christus gee vir ons vergifnis van ons sondes. Krag vir oorwinning oor alle verslawing en heerskappy oor sonde is aan ons gegee. Barmhartigheid en genade word aan ons voorsien; en natuurlik word die belofte van die ewige lewe aan ons geskenk. Die kruis het ons die middele gegee om te ontsnap uit die verskrikkinge van sonde en hel.
Ek dank God vir hierdie voordeel van die kruis vir die mensdom en vir die wonderlike verligting wat dit bring. Ek is verheug dat dit week na week in kerke regoor die wêreld verkondig word.
Daar is egter nog 'n voordeel van die kruis; een waarvan ons baie min weet. Dit is tot voordeel van die Vader. Ons verstaan baie min van die blydskap van die Vader wat deur die kruis moontlik gemaak is. Dit is 'n plesier wat Hom toekom wanneer Hy 'n verlore kind in sy huis ontvang.
Na my mening, het die meeste Christene geleer om na God te kom vir vergifnis, vir die voorsiening van behoeftes, vir antwoorde op gebed. Hulle het egter nie vrymoedigheid in die aspek van geloof nie, 'n aspek wat deurslaggewend in hulle wandel met die Here is.
Die Here het groot blydskap omdat die kruis ons vrye toegang tot Hom bied. Trouens, die wonderlikste oomblik in die geskiedenis was toe die voorhangsel van die tempel in twee geskeur het op die dag toe Christus gesterf het. Op die oomblik dat die voorhangsel – wat die mens van God se heilige teenwoordigheid skei – geskeur het, het iets fenomenaal gebeur. Van toe af kon die mens nie net in die teenwoordigheid van die Here ingaan nie, maar kon God ook na die mens toe kom.
Dit het die basis gelê vir Christus om die heerlike gawe van die Gees aan sy volgelinge te stuur, en ons verhouding met God is getransformeer.