Goddelike Krag in Ons Lewens

Jim Cymbala

Ek het iemand beraad wat probleme in sy huwelik gehad het. Om die waarheid te sê, hy het onaangenaam opgetree en hy het sy vrou verbaal mishandel. Ek het op die ou end vir hom gesê: “Respekteer jy my? Is jy bereid om na my te luister?” Hy het geantwoord: “Respekteer ek jou? Ek kom al nege jaar hierheen. Alles wat ek is, is aan jou te danke!”

Ek het my kop in my hande gesit. “Ag nee. Moenie dit vir my sê nie.” God het my afgegooi van die hoë perdjie waarop ek gesit het, maar God het ook daardie beradingsessie met 'n deurbraak beëindig en Hy gaan daardie man en sy vrou gebruik om iets goeds vir Hom te doen.

Petrus die apostel het ook deurbrake geken. Hy het geskryf: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Petrus 1:3, AFR53). Daar waar Petrus van “kennis” praat, bedoel hy intimiteit, nie intellektuele kennis nie. Hoe lyk 'n godvresende lewe? Dit is Christus-gelykvormigheid, aanbidding, dankbaarheid, omsigtigheid, eerbied. Hierdie dinge vind plaas wanneer ons Jesus beter leer ken! Hoe beter ons Hom leer ken, hoe meer sal ons nuwe maniere sien waarop ons nie soos Christus is nie, en verandering sal plaasvind.

Miskien stribbel jy teë: "Jy weet nie waar ek woon nie! Jy ken nie my skoonma nie. As jy geweet het saam met wie ek woon of waar ek werk...” Petrus het gesê dat God ons alles gegee het wat ons nodig het om 'n godvrugtige lewe te lei. Wat jy ook al vandag nodig het, God het dit vir jou. Of ek en jy dit toeëien, is 'n ander saak.

Jy weet, wanneer mense depressief raak, hou hulle soms op om te eet. Dit is hoe party van ons is wanneer dit kom by die krag en genade en toerusting wat God ons bied om 'n godvrugtige lewe te lei. Spandeer tyd saam met die Here! Steek jou hand op en sê: “God, U weet wat ek vandag nodig het om 'n godvrugtige lewe te lei. Ek wil nie hê my aandag moet afgelei word nie. Ek wil nie in die versoeking kom en weggetrek word nie. Ek wil vandag soos Jesus wees.” Jy dink as ons so bid en vra om soos Christus te wees, dat God ooit sal sê: “Nee. Ek hou nie van daardie versoek nie”? Glad nie.

Wanneer ek en jy na God toe kom en sê: "Ek wil 'n lewe lei wat U behaag, maar ek kan dit nie op my eie doen nie", sê God: "Ek het alles wat jy nodig het." Kom ons doen dit in Jesus se Naam!