Die Oordeelstroon van Christus
Paulus vermaan ons nie om mislei te word oor God se haat vir sonde in Sy huis nie. Wat kon duideliker wees as die volgende waarskuwing: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?...Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaard of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:10).
Paulus het die kerk by Korinthe aangespreek en verder bygevoeg, “Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is” (1 Korinthiërs 12:2). Dit stel voor hulle was eens verslaaf aan ‘n boesemsonde, verlei deur een of ander vorm van afgodery.
Toe het Paulus hierdie hoopvolle woorde bygevoeg, “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Korinthiërs 6:11).
Die kerk vandag lyk magteloos of onwillig om selfs regverdig te oordeel – omdat ons ‘n sin van besoedeling verloor het as gevolg van die goddeloosheid in ons midde. Soveel mense het donker gedeeltes in hulle eie lewens, sodat hulle die sondes van ander móét verskoon. Die uitroep vir verdraagsaamheid spruit dikwels uit onveroordeelde vlees. Die enigste manier waarop sonde in die kerk uitgedaag kan word, is deur profetiese, Elia-tipe prediking van mense van God wat hulle eie sondes veroordeel en laat staan het. Ons kort profete soos Natan wat nie omgekoop kan word nie, wat die moed het om ‘n heilige vinger te wys en uit te roep, “Jy is die man.”
God se ultimatum
Paulus sê, “En dit was sommige van julle; maar...” Paulus praat met broers en susters in die Here wat eens op ‘n tyd hulleself aan die vlees oorgegee het, sommige selfs na bekering. [Sien 1 Korinthiërs 6:11]. Hulle het ontvang wat ek noem die Here se liefdevolle ultimatum! Die Heilige Gees kom na die kind van God wat toegee aan sonde, en Hy veroordeel; Hy waarsku; Hy verdra geduldig mislukking na mislukking. Hy stuur die Woord; Hy stuur profete en wagte; Hy praat op ‘n duisend maniere en beveel in liefde, “Laat staan jou sonde! Stop hierdie flirtasie met die dood en gevaar! Ek sal jou moet ontbloot en jou tugtig as jy weier om hierdie ding te kruisig.”
Die dienaar van die Here wat sy boesemsonde haat – wat uitroep om verlos te word – wat daarna smag om vry, heilig en rein te wees – moet die finale ultimatum van die Here in die oë kyk. God sal bonatuurlik sy aandag kry; Hy sal sonder om doekies om te draai praat en vir hom in die innerlike mens sê, “Nou of nooit! As jy aanhou met jou sonde, moet jy die gevolge dra – oordeel – openbaring – jy sal baie skade ly! Onderwerp jou en sien my heerlikheid! Onderwerp jou met liefde en heilige vrees, en Ek sal jou bedek, jou vergewe, jou wegsteek in ‘n hut vir die twis van die tonge.”
Ons kry die Here se ultimatum ook in die waarskuwings van Petrus. Hy skryf aan “die geliefde,” waar hy hulle herinner aan wat die profete voorspel het sou gebeur in die laaste dae. “Spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel” (2 Petrus 3:1-3). Hulle sou “moedswillig vergeet...[van] die belofte van sy wederkoms...en sê... alles [bly] soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:4,5). Petrus het gewaarsku dat ‘n vurige slagting sou kom waarin “...die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand...waardeur die hemele deur vuur sal vergaan” (2 Petrus 3:10-12). Daar volg hierdie liefdevolle ultimatum: Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eievastigheid nie” (2 Petrus 3:17).
Hoor jy die Heilige Gees in hierdie waarskuwing, dierbare heiliges? Die Gees sê: “Julle het die waarskuwings van die profete gehoor! Julle sien, julle weet van beter. Julle is gewaarsku! Pasop – anders word julle verlei met afgodery, kompromie – en julle struikel! Pasop anders word julle verander en in die hart verhard deur onkunde en die dwaling van die goddelose mense – en nie meer standvastig in die Here en in Sy heiligheid wees nie!”
Paulus het gesê, “Dit was sommige...maar...” Maar omdat julle jul bekeer het van julle sonde met ‘n haat daarvoor, omdat julle dit laat staan het, omdat julle in die dood van die Kruis ingebring is, omdat julle die vlees gekruisig het en teruggekeer het na die heilige vrees van God – is julle nou gewas, geheilig en geregverdig! As as julle voortgaan om in nederigheid en in die vrees van God te lewe, hoef julle nooit weer vorige sondes te vrees nie. “En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?” (1 Petrus 3:13). God grawe nie ou sondes op wat werklik vergewe en laat staan is nie. Wat mans en vroue van God laat struikel, is hoogmoed. Dit is wat voor die val kom – ‘n hoogmoedige gees! “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val” (Spreuke 16:18). Wanneer vorige sondes aan die lig kom, is dit omdat daar nooit ‘n innige droefheid of goddelike berou daaroor was wat ware bekering bewerkstellig het nie. En die enigste soort goddelike berou wat ware bekering bewerkstellig, is dít wat die hart breek omdat dit skande en skaamte vir Christus en Sy saak gebring het.
God het ook vas besluit om bedienaars en bedienings neer te bring wat “die wingerd afgewei [het]; wat aan die arm man ontroof is, is in julle huise...my volk vertrap en die ellendiges mishandel” (Jesaja 3:14,15).
Die oordeelstroon van Christus
Hoe angsbevange is ons oor ontbloting hier op aarde. Hoe verskriklik die gedagte om ons reputasies vernietig te hê in die oë van mense. Maar dit behoort nie ons belangrikste oorweging te wees in hierdie laaste dae nie. Deesdae dink ek nogal baie oor daardie dag wanneer ek voor die oordeelstroon van Christus moet staan. Op die ou einde is dit nie mense aan wie ons rekenskap moet gee nie – dit is God!
As gelowiges, moet ons almal eendag voor die oordeelstroon van die Here Jesus Christus staan om rekenskap te gee oor elke daad, woord, en gedagte. Wat ‘n ontnugterende waarheid dat “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:12).
Paulus het gewaarsku, “Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely” (Romeine 14:10,11).
Min Christene verstaan vandag die realiteit van voor Christus staan as regter, heeltemal alleen, van aangesig tot aangesig met Hom wie se heiligheid ‘n verterende vuur is. Sy oë vlam en Sy reinheid straal uit Hom uit met onuitspreekbare heerlikheid – Hy sal almal wat Sy Naam geneem het en bely dat Hy hulle Here is voor Hom roep.
Johannes het Hom in al Sy ontsagwekkende geregtelike mag gesien. Hy het van Hom gesê, “Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters” (Openbaring 1:14,15).
Dink aan al die ligsinnigheid en lighartigheid in die kerk vandag. Dink aan al die dwaasheid, die grappe, die windmakerigheid en die vermaak, die wêreldse mengsel, die vertoon van vlees en verheffing van die mens. Beskou al die nuwe leerstellinge van duiwels, die verleidings van hedendaagse Isébelle, die bespotting van diegene wat uitroep om geregtigheid, die bespotting van God se profete en wagte, die najaag van rykdom en sukses. Nie eens die gedagte daaraan kan staande bly in Sy teenwoordigheid op daardie dag van rekenskap nie!
Johannes het gesê, “Sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:16). Wat ‘n ineenstorting sal daar wees wanneer die verloste skares wag op hulle oomblik van waarheid. Aangesien tyd nie meer sal bestaan nie, kan hierdie dag van oordeel nie gemeet word nie. Maar Paulus het dit baie duidelik gemaak dat ons ALMAL ons beurt voor Sy oordeelstroon kry; ons moet almal ons knieë buig; ons moet almal rekenskap gee oor ons dade. Talle wat groot dade in Sy Naam gedoen het, sal veroordeel word omdat hulle nooit hulle ongeregtigheid laat staan het nie. Die Here sal sê, “Gaan weg van My af, Ek ken jou nie.” Hulle moet eendag staan voor wat die Bybel noem die Groot Wit Troon oordeel.
As ons met tye nie eens in die son kan kyk nie – hoe sal ons in die ewigheid kan kyk in die oë van Hom wie se glans soos die son in al sy krag is. Van aangesig tot aangesig met die Seun van geregtigheid, wat kan bly staan, wat kan dit verduur; watter verborge ding kan ongeopenbaar voortgaan; watter geheim kan onontdek bly? Hier in die helderheid van Sy heiligheid – sal Christus elke geheim van die hart, elke motief, elke aksie oordeel. Paulus het geskryf, “In die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie” (Romeine 2:16).
“Ek het voor sy voete geval soos ‘n dooie”
Johannes was ‘n heilige apostel, ‘n getroue en gehoorsame dienskneg van die Here Jesus Christus. Hy was die een vir wie Jesus so lief gehad het, die een wat met sy kop op die Meester se bors gelê het. Maar nou, in die openbaring op Patmos, het Christus verskyn as die regter, wat tussen die kerke staan, met oë wat vuurvlam en met donder in Sy stem. En Johannes, toe hy Christus in hierdie skrikwekkende rol as regter gesien het, het gesê, toe “val ek soos ‘n dooie aan sy voete” (Openbaring 1:17).
Wat ‘n verligting, watter blydskap moes dit vir Johannes gewees het toe Christus sy regterhand uitgesteek het, dit op hom neergelê het – en daardie liefdevolle woorde gespreek het, “Moenie vrees nie...Ek was dood en kyk, Ek leef...Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openbaring 1:17,18).
Ons moet nou in Sy liefde lewe, sodat ons “ons harte voor Hom gerusstel” (1 Johannes 3:19). Die Here se doel vir ons is om in oorwinning te lewe, “sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Johannes 2:28). Maar was Johannes se hart nie gerusgestel in Hom nie? Het hy nie met vrymoedigheid voor sy Here gelewe nie? Hy kon nie met die openbaring van Jesus Christus toevertrou gewees het as hy nie ‘n rein en heilige werktuig was nie. Dit was nie sonde se houvas op Johannes wat hom teen die grond gewerp het nie – dit was die visioen van Christus se onuitspreeklike heiligheid en reinheid. Johannes was ten volle geregverdig deur die bloed van die Lam – hy het voor Christus gestaan as een wat nie in sy eie geregtigheid geklee was nie, maar met dít wat van Christus af was deur geloof. En tog het hy neergeval soos ‘n dooie in Sy heilige teenwoordigheid.
Hier is ‘n regverdige man, verban op die eiland Patmos weens sy onwrikbare geloof en getuienis, gehoorsaam tot die dood, nadat hy net soos Paulus, alles in die wêreld prysgegee het om Christus te ken – en hy val neer in die verblindende teenwoordigheid van Christus as regter. Hoe sal hedendaagse Christene voor Sy vurige teenwoordigheid staande bly, waar hulle kom met die stank van afgodery aan hulle? Niemand sal daar verskyn met begeertes wat aan hulle kleef soos ‘n diepgewortelde wynstok en vir Hom sê, “Sien my wederstrewigheid, my kompromie, my liefde vir plesier oor – en oordeel my nie volgens my geregtigheid nie, maar op U s’n, O Saligmaker – want ek glo ek word geregverdig en vrygespreek deur geloof.” Hou in gedagte dat die dood geen heiligende mag het nie. Die dood sal nie ‘n mens se karakter verander nie. Diegene wat weier om hulle sonde te laat staan, is nie waarlik gered nie. Ons word geroep om ons sonde te “bely en [te] laat staan” (Spreuke 28:13).
Hoeveel roekelose gelowiges sal buig voor ons sondelose Saligmaker en dink hulle was gereed vir hierdie uur, dat hulle Sy oë van vuur en die helderheid van Sy heiligheid sou kon deurstaan – net om te ontdek dat hulle nooit werklik die vlees verloën het en die Kruis opgeneem het om Hom in die opstandingslewe in te volg nie?
Niemand sal staande bly nie, want dit staan geskryf, “Elke knie sal buig...” Vra vir biddende Daniël wie se visioen van Christus in sy heerlikheid hom van alle krag ontledig het en hom op die grond gewerp het. Vra vir die heilige profeet Jesaja wat dit is om Hom hoog en verhewe te sien, met Sy heerlikheid wat alle dinge vul – want toe hy die Koning van die hemele gesien het, kon hy slegs uitroep, “Wee my...onrein” (Jesaja 6:5). En dit, nadat hy kragtig deur God gebruik is om Sy profetiese Woord te verkondig!
Die vuur van Sy heiligheid
Paulus het gewaarsku, “Elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Korinthiërs 3:13-15).
Ek wil die waarheid in liefde spreek teernoor almal wat nederig kan getuig dat “Dit was ek... maar nou is ek afgewas, geheilig, en geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (sien 1 Korinthiërs 6:11). Wie is hulle wat buig voor die oordeelstroon van Christus en kyk hoe hulle werke brand, skade ly, maar soos deur vuur heen gered word?
Kan sondes wat reeds bely is, buite in die openbaar gebring word voor die oordeelstroon van Christus? Ek glo dit sal. “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:14). In daardie dag word nie net alles geopenbaar om die genade van God te openbaar nie, maar ook om aan ons te openbaar hoe ons geestelike luiheid ons beroof het van Sy bepaalde goddelike seëninge.
Op daardie dag gaan dit glad nie om vergifnis nie, maar om vir ons Sy heerlike heiligheid en genade te toon. Alles sal geopenbaar word, nie vir die doel van oordeel nie, maar verklarend. Met ander woorde, ons sal die hele geskiedenis van genade vir elkeen van ons individueel getoon word en vir die hele mensdom en hoe ons daarop gereageer het. “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang” (1 Korinthiërs 4:5).
Wat ons nie verstaan het nie, sal dan geopenbaar word en op elke gebied van ons verhouding met Hom, sal ons ons mislukkings en optredes in hulle ware lig sien – soos die Here dit sien. Sal ons haat vir sonde so oppervlakkig lyk wanneer dit gemeet word in die teenwoordigheid van Sy heerlikheid? Ons sal sien dat ons meer geïnteresseerd was in sekuriteit en kwytskelding as om aan Sy heiligheid te voldoen. By die oordeelstroon kom alles met sy volle geskiedenis uit, wat nodig is om aan ons volle rekenskap te gee van die werkinge en die heerlikheid van God se genade.
Ek glo dat selfs diegene wat dalk die werke mag hê wat staande sal bly in die vuur van Sy heilige teenwoordigheid, sal sommige werke hê wat nie sal bly staan nie, en hulle sal ‘n mate van skade beleef. Ons werke sal alles getoets word deur die vuur van Sy teenwoordigheid.
Ons Here Jesus Christus sal elke motief, elke verborge begeerte, alles wat vir self of eie eer gedoen is aan die lig bring – en dit meet aan Sy eie reinheid en absolute heiligheid om vir ons die heerlikheid van Sy genade te toon. Wat ‘n belewenis sal dit wees om die volle openbaring en visie van Christus se heiligheid en regverdige oordeel van God op ons te laat losbars met al sy oorweldigende mag! In die lig van die ewigheid, in die lig van wie Hy is in heilige heerlikheid en mag – hoe selfsugtig, hoe verbygaande, hoe dwaas, hoe nietig sal baie van ons werke en dade voorkom.
Hoe kan ons verloor as ons weet ons sal gered word, selfs al is dit deur die vuur van Christus se heiligheid heen? Watter soort lyding? Sê dit nie, “Hy sal skade ly” nie? O, geliefde – watter skade sal dit wees wanneer ons gewys word wat kon gewees het! Meer as die ewige belonings wat verlore is, sal dit aan ons geopenbaar word hoeveel ons verloor het op die aarde deur benede die krag van Sy Woord te lewe. Ons sal dan verstaan hoeveel liefde en vertroue ons Hom geweier het – hoe oppervlakkig ons gelewe het – hoe min ons gesmag het na Sy heerlikheid en teenwoordigheid.
Ek glo die meeste, indien nie almal nie, sal ‘n vurige beproewing verduur onder die blik van Sy ontsagwekkende oë van vuur – terwyl ons te wete kom hoeveel dieper in die Here ons kon gegaan het, hoeveel van Sy openbaring ons kon gehad het, maar nie toegeëien het nie. O, die pyn om voor ons oë te sien die vermorste tyd, die onnodige laste van depressie en vrees, die ongegronde bekommernisse wat ons gedra het omdat ons nie Sy beloftes vertrou het nie.
Hoeveel sal uitroep – “O, geseënde Saligmaker, dit kon ‘n soveel groter seëvierende lewe gewees het! Ek kon U soveel beter intiem geken het. Ek moes U Woord geglo het oor hoe waardeloos die dinge van die aarde was! Ek het U Woord so verwaarloos – ek het so min gebid – ek was so louwarm. Ek het nie omgegee oor die verlorenes en behoeftiges soos ek moes nie. Die naakte, die arme, die hongere, die gevangene het ek verwaarloos!”
Slegs dan sal ons, en al die engele en skepsels wat in Sy teenwoordigheid lewe, die heerlikheid van Sy genade verstaan. Hoewel vergewe, sal alle verkeerde motiewe, alle vleesgeïnspireerde dade, alles wat nie opweeg teen Sy heiligheid nie, verteer word deur Sy vuur. Dan sal Hy wat dood was en nou lewe, wat die sleutels van die hel en dood het, sagkens sy Hand op ons lê en sê, “Moenie vrees nie” (Openbaring 1:17).
Watter heerlikheid sal dit wees om deur die vuur van Sy heiligheid te kom tot in die ewige vreugdes wat voor die bruid gestel is. Ons kan nie met ons beperkte verstand verstaan watter vrede, blydskap en heerlikheid ons wese sal oorstroom as Christus ons aanraak nie, en as ons opstaan om Sy omhelsing te ontvang, terwyl Hy liefdevol fluister – “Ons is een – vir ewig!”
Ons Here sal die heerlikheid van Sy genade uitstraal – die engele sal verstaan – ons sal verstaan. Ons sal ‘n witgeklede skare wees wat kan sing: “So was ons....maar onverdiende genade...ewige liefde, barmhartigheid...en heerlikheid! Dit was regtig nie deur my werke nie – maar deur Sy genade!”
Geestelike Owerspel
Hoeveel Christene wat ure se sensualiteit, erotiese TV – met al sy gure saamslapery, amper naaktheid, ontrouheid en suggestiwiteit inneem – sal erken dat ‘n gees van owerspel hulle beset? Jesus het gesê om te kyk, is om te begeer, en die gedagte self is owerspel. “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matthéüs 5:27.28).
Vandag is daar Christene, onder andere bedienaars, wat kan kerm van geestelike pyn oor die blatante sondes van owerspel, hoerery en homoseksualiteit wat publiek geopenbaar word. Nog nooit tevore het so baie welbekende bedienaars in skande verval nie. Nog nooit was die Naam van Jesus meer besoedel voor die oë van die wêreld nie. Diegene wat egter kan roem, “Ek is nie so nie – ek het nog nooit sulke vreeslike sondes gedoen nie,” kan ure voor televisie programme sit wat net so besoedel is en die Heilige Gees bedroef net soos enige van die sondes wat in die publiek openbaar gemaak word. Vandag huur ‘n toenemde aantal Christene video films wat in die hel geïnkubeer word, vol seksuele gemors, geweld, vloekery en bespotting van God.
Kind van God, ek wil dit in liefde sê, maar ek gaan dit beklemtoon en baie duidelik sê – menigtes Christene het geestelike hoere geword – owerspelers! Miljoene wat getuig hulle het Christus lief, dat Hy hulle Here is, kyk nou na gemors waaroor hulle sou geween het net vyf jaar gelede. Hoe kan die sin van Chirstus in jou wees, as jy Satan toelaat om jou oë met demoniese, sensuele gemors te vul? Noem my ‘n fanatikus en sê vir my ek is wetties – maar dit sal nie die feit verander nie dat miljoene gelowiges, eens aan die brand met die krag van Christus se heiligheid, nou verveeld is in hulle gedagtes en alle geestelike onderskeiding verloor het weens hierdie afgodery. Dit laat my wonder hoeveel gelowiges wat “gerustes in Sion” is, roekeloos sal lê voor hierdie afgod en besoedeling inneem in hierdie laaste uur wanneer die basuin van God weerklink.
Ek weet hoe geduldig die Heilige Gees met my en my familie was oor hierdie saak. Ek weet egter God was bedroef oor my gebrek aan onderskeiding, my verskonings, my dwase regverdigings – en die tyd het aangebreek toe ek geweet het dit sou onmoontlik wees om die salwing van die Gees te behou as ek voortgaan om uit so ‘n vuil fontein te drink. Ek was nooit verslaaf aan enige soort onwelvoeglikheid nie en ek het altyd uit skaamte gebloos selfs nadat ek ‘n film op ‘n erotiese netwerk gekyk het. Vir ons familie, was daar net een keuse, en dit was om heeltemal ontslae te raak van ‘n televisie in ons huis. Die Gees van God is baie geduldig met die liggaam van Christus oor hierdie saak – maar nou, soos ons nader kom aan die wederkoms van Christus, roep die Heilige Gees die bruid om haarself gereed te maak en haarself met heiligheid te versier. Die kaf word weggeblaas; oordeel het begin in die huis van God; die beker van ongeregtigheid loop oor; ware profete en wagte gee stem aan God se haat teenoor alle afgodery; die goddeloosheid word erger en erger; die dringende oproep gaan uit om uit Babel pad te gee en nie deel te neem aan haar sondes nie. Aangesien televisie so vulgêr geword het en ontaard het in ‘n aanvaarbare soort sagte pornografie – is dit nie tyd om te hoor wat die Gees sê en sy houvas oor jou huishouding te breek nie? Waarom is dit so moeilik vir ‘n liefhebber van Jesus Christus om hierdie afgod prys te gee?
Dit breek werklik my hart om die verskonings te hoor van Christene wat sê dat hulle smag na God en wat ware geestelike voortuitgang gemaak het – en tog nie met hierdie laaste vesting wil afreken nie. Ek sê vir jou, met trane, dat niemand wat daarop aanspraak maak om toegewyd te wees aan Jesus Christus, Sy volheid en heerlikheid sal ontvang wat Hy nou uitstort op ‘n heilige oorblyfsel – as een afgod of demoniese vesting toegelaat word om te bly nie.
Geliefde heiliges – waarom, waarom, o waarom kan ons nie onderskei nie, dat televisie die kragtigste vesting van Satan, sy mees strategiese wapen teen die kinders van God, sy verhewe en onveroordeelde plek in die harte en huise geword het van ‘n volk wat getuig dat hulle onder die heerskappy van Christus is? Selfs tragieser as dit, is die saak dat die Heilige Gees uit ons lewens en huise bedroef word. As jy ‘n verhaasde beweging na God, waarheid en heiligheid soek – sal jy nie hierdie waarskuwings ligtelik opneem nie! Jy sal ophou verskonings maak en op jou aangesig val voor God en die Heilige Gees vra om jou vry te maak.
Die meeste Christene het geen reg om bedroef te wees oor die manier waarop die goddelose roem oor geopenbaarde sonde onder die Here se herders nie. In plaas daarvan, behoort daar selfveroordeling te wees, ‘n uitroep na God vir ‘n eerlike hartsondersoek, sodat ons self nie onder goddelike oordeel sal kom deur ander te oordeel terwyl ons dieselfde ding doen nie. So seker as wat die Gees van God sonde in Sy huis oordeel, so sal Hy sonde oordeel in jou huis en in myne. Soos Jesaja, het ek gebid, “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is” (Jesaja 6:5).
Hoe meer Hy Sy barmhartigheid aan ons bewys, hoe meer Hy Sy liefde aan ons openbaar, hoe meer behoort ons hardop uit te roep, “O Christus, kosbare Here – hoeveel tyd het ons gemors! Hoe blind het ons geword! Hoe min onderskei ons U heiligheid en oordele! O, as ons U nie so seergemaak het nie! O, as ons tog maar skoon hande en rein harte voor U gehandhaaf het! My Jesus – waarom het ons U so bedroef – en hoe kon U ons so liefhê – om ons te verlos van die strik van Satan?” Ons moenie verskonings maak of ander blameer nie, maar ons eie sonde veroordeel en dit vir eens en vir altyd laat staan.
Eerlikwaar, as ons sou gekry het wat ons verdien het, sou ons almal voor die wêreld geopenbaar word vir ons vorige sondes van afgodery, hoogmoed, wellus en skynheiligheid. Ons moet elkeen voor ons heilige God lewe met Sy regverdige vrees en skrik op ons. Ons moet bewe in Sy teenwoordigheid omdat Hy so ‘n genade en barmhartigheid aan ons bewys het – ons weggesteek het in Sy skuilplek vir die mag van die duisternis. Mag God ons help om al ons afgode te verpoeier en voor Hom in heiligheid te lewe.