Wagte van die Nag

David Wilkerson

Ons leef in ‘n tyd waarin die boodskappe van die profete verstaan en verkondig moet word. Jesus het geleef en gepreek en was die hele tyd daarvan bewus dat Hy die woorde van die profete vervul, “En Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en ALLES WAT DEUR DIE PROFETE GESKRYWE IS, sal aan die Seun van die mens vervul word” (Lukas 18:31). [Hoofletters in teksverse is ons s’n.]

Jesus het die twee dissipels op pad na Émmaüs verwyt omdat hulle nie geglo het wat die profete gespreek het nie. “En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo ALLES WAT DIE PROFETE GESPREEK HET” (Lukas 24:25).

Paulus het dit baie duidelik gestel dat die profete oor hierdie laaste dae gepraat het, “En ook AL DIE PROFETE VAN SAMUEL AF EN DIE WAT GEVOLG HET, ALMAL WAT GESPREEK HET, HET OOK HIERDIE DAE AANGEKONDIG” (Handelinge 3:24).

Johannes die Doper het die boodskap van die profete verstaan en verkondig. Hy het nie nuwe openbaring, of nuwe leerstelling, of nuwe waarheid nodig gehad nie. Hy het uit Jesaja gepreek! “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gespreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. WANT DIT IS HY VAN WIE DEUR DIE PROFEET JESAJA GESPREEK IS toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” (Matthéüs 3:1-3).

Ons het nie NUWE WAARHEID – HUIDIGE WAARHEID – of watter nuwe dinge ook al mense wil hê om hulle ore te streel, nodig nie. Ons moet hoor wat die profete hieroor gespreek het vir ons tyd. Hulle was akkuraat aangaande Christus in elke besonderheid. Hulle moet ook reg wees oor hulle waarskuwings en teregwysings aan ons!

Deur die hele Nuwe Testament, sien ‘n mens gebeure ontvou sodat dít wat deur die profete gespreek is, vervul kon word. “En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met ‘n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak, SODAT VERVUL SOU WORD WAT GESPREEK IS DEUR JESAJA, DIE PROFEET, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra” (Matthéüs 8:16,17). “Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak, en hulle ‘n streng bevel gegee dat hulle Hom nie bekend moes maak nie, SODAT VERVUL SOU WORD DIE WOORD WAT GESPREEK IS DEUR JESAJA, DIE PROFEET” (Matthéüs 12:15-17).

Jesaja het die heerlikheid van Jesus eeue gelede gesien en Hy het Chritsus verkondig in sy eie tyd. Jesaja het nie net die toekomstige Here en Saligmaker gesien nie; hy het ook ‘n harde, verwoestende visioen gesien van die einste dae waarin ons leef. Sy visioen in Hoofstuk 21 moet verstaan, geluister na en verkondig word! Dit is ‘n boodskap VIR HIERDIE TYD!

Jesaja begin, “’n Harde gesig is my te kenne gegee...” (Jesaja 21:2).

Die profeet gee nie vir ons die besonderhede van hierdie verskriklike visioen nie, maar sy insig in die toekoms was so verpletterend, dat dit hom erg onstel het. Jesaja het die visioen se impak op homself beskryf: “Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie kan sien nie. My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ‘n verskrikking” (Jesaja 21:3-4).

Wat het sulke stuiptrekkings in Jesaja se liggaam veroorsaak? Waarom het sy hart wild geklop? Waarom soveel angs in sy siel? Hy het ‘n storm gesien dreun vanuit die woestyn. Dit was ‘n massiewe vyandige leër – “ruiters, twee aan twee, ‘n stoet esels, ‘n stoet kamele...”

Die profete het die naderende val van die Babelse bestel gesien. Hy het in sy geestelike oor gehoor – hy het in sy geestelik oog gesien – die val van alles wat van hierdie wêreld is. Hy het die einde van trots, ambisie, goddeloosheid en verdorwenheid gesien, “Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond” (Jesaja 21:9).

Jesaja het die hele naderende oordeel en verwoesting gesien en hy het uitgeroep, “DAN MOET HY SKERP LUISTER” (Jesaja 21:7). Hy roep uit, “STAAN OP...SALF DIE SKILD” (Jesaja 21:5). Maar niemand luister nie! In plaas daarvan, “Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink...” (Jesaja 21:5).

Onbeskryflike oordele staan voor die deur; massiewe leërs marsjeer buite die poort; die dag van afrekening het gekom! Die profeet skree, “Gee aandag! Maak gereed! Salf die skilde! Trek die hele wapenrusting aan!” Maar hulle ignoreer die waarskuwings van die profeet! Hulle gaan aan soos gewoonlik, eet, drink, hou partytjie – sprei ‘n tafel van voorspoed, sukses en vermaak. Hulle is doof! Hulle wil nie hoor van die toenemende somberheid buite die poort nie! Hulle het hulle eie MOOIWEERSPROFETE wat by die hoof van die tafels gesit het. Terwyl hulle saam met hulle gesit het op ivoorbanke, terwyl hulle mooi dinge profeteer, “Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry” (Jesaja 30:9-10).

Wat ‘n duidelike beskrywing het Jesaja van ons huidige dag gehad. Hier is ontstelde wagte wat die basuin blaas en die onverskilliges smeek om wakker te word en om gereed gereed te maak vir ‘n dag van rampspoed! Maar die krone het hulle tafels gedek en gaan sit om te dans en te speel!

Dit is nie asof hulle Jesaja geïgnoreer het nie – hulle het op hom geskreeu, “Genoeg van jou verdoemenis en somberheid! Jy was te lank op die muur! Waarom gee jy ons nooit ‘n goeie boodskap nie? Waarom so rof, so hard – so negatief?”

Ek vra jou, as die wagte stilbly, as hy moeg raak om te waarsku, of as hy ophou of bedaar – SAL DIT ENIGIETS VERANDER? SAL DIT DIE VERWOESTING KEER? NEE!

Of die mense nou luister of nie, God stel Sy wagte in plek!

“Want so het die HERE vir my gesê: Gaan heen sit ‘n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien” (Jesaja 21:6). God het getroue wagte in hierdie moeilike tye aangestel. Hulle sien die storm van goddelike oordeel saampak; en hulle is aangestel om die mense te waarsku.

Ons weet dat die Ou Testamentiese profete en herders aangestel was as wagte. Sommige was sieners genoem omdat hulle so naby God gewandel het dat hulle kon sien wat ander nie kon sien nie. Hulle kon die naderende vyand sien; hulle kon die toekoms in sien – hulle waarskuwings het uit die hart van God gekom. God het vir Eségiël gesê, “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Eségiël 3:17).

God het deur Jesaja gespreek: “o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde” (Jesaja 62:6-7).

Dit behoort die heilige oorblyfsel baie te bemoedig! Dit behoort hoop te bring aan al God se kinders wat sug en huil oor die gruwels in die huis van die Here! GOD HET HEILIGE WAGTE AANGESTEL WAT NOOIT SAL STILBLY NIE! NAG EN DAG, SAL HULLE DIE BASUIN BLAAS EN DIE MENSE WAARSKU TOTDAT GOD SE HUIS GEREINIG EN WAKKER GEMAAK IS!!

Sommige sê, “Hierdie boodskap van naderende oordeel deur selfgestileerde profete sal verbygaan! Hierdie belaglike waarskuwings, hierdie ontsagwekkende gebulder, hierdie harde visioene, sal ‘n stille dood sterf!” Nooit! God het Sy wagte gestuur! God het hulle opdrag gegee en hulle sal “NIE...SWYG NIE!” Noem hulle self-aangestel; noem hulle waningelig; noem hulle enige naam van jou keuse – hulle sal nie gekeer word in hulle sending nie. Hulle is aangestel deur goddelike gesag.

Die Nuwe Testament is ‘N OPROEP TOT ELKE DIENAAR VAN GOD – OM TE WAAK! “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. WAAK DAN EN BID ALTYDDEUR, SODAT JULLE WAARDIG GEAG MAG WORD OM AL HIERDIE DINGE WAT KOM, TE ONTVLUG EN VOOR DIE SEUN VAN DIE MENS TE STAAN” (Lukas 21:32-36).

Paulus waarsku die huidige bediening: “WAAK, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk!” (1 Korinthiërs 16:13).

Vir drie jaar, het Paulus oor die Korinthiese kerk gewaak, “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. DAAROM MOET JULLE WAAK en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Handelinge 20:28-31).

Aan die opsieners, aan biskoppe, aan pastore – Hy het dieselfde dinge gesê! “WAAK – WAARSKU ALMAL – NAG EN DAG – MET TRANE!”

Paulus het van ‘n ware bedienaar gesê, “HULLE WAAK OOR JOU SIEL.” Dit is die toets van ‘n ware wag! Waak hy oor sy eie belang – sy eie drome – sy eie ambisies? Of, WAAK HY OOR SIELE? As Paulus vandag vir bedienaars moes preek, sou hy dieselfde boodskap verkondig wat hy vir jong Timótheüs gegee het: “Want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. MAAN WEES JY IN ALLES NUGTER; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Timótheüs 4:3-5).

Jesaja se visioen het gefokus op ‘n geroep wat tot sy ore gekom het uit die “grondgebied van goddeloosheid.”

“Godspraak (las of geroep) oor Duma (Edom). Daar roep een my toe van Seïr af” (Jesaja 21:11). Génesis 36:8 sê Edom is Esau. In Maleági 1:3, het God gesê, “Maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ‘n wildernis gemaak.” Maleági gee vir ons God se siening van wat Edom en Esau verteenwoordig: “Die mense sal hulle noem: Gondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid” (Maleági 1:4 Rotteham, Oorspronlike Hebreeus).

Wat is hierdie geroep wat uit DIE GRONDGEBIED KOM? Dit is presies dieselfde geroep wat uit godsdienstige Amerika kom! ONS HET DIE GRONDGEBIED VAN GODDELOOSHEID geword. Ons is diegene wat die Here verwerp en teen wie God vertoornd is!

Hier is die geroep van die land van die wetteloses: “Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag? (Jesaja 21:11). Die King James Vertaling lees: “Wagter, wat van die nag? Maar die Hebreeuse teks is eintlik, “Hoeveel van die nag is verby?”

Daar was glad nie geroep, “Wat moet ons doen om gered te word? Hoe kan ons ons bekeer en terugkeer na God toe? Hoe kan ons gereed maak om die vyand tegemoet te gaan?” Die enigste vraag gevra deur hierdie misleide kinders van God was, “Hoe lank nog tot die goeie tye terugkeer? Hoe gou sal ‘n nuwe dag aanbreek, sodat ons kan terugkeer na ons etery en drinkery?”

Let op my woorde, DIE DAG HET REEDS AANGEBREEK – menigtes van voorspoedsliefhebbers gelei deur hulle suksespredikers deel slegs een belang – OM ‘N HELDER NUWE DAG VAN EINDELOSE VOORSPOED EN GENOT TE BRING! Wanneer die duisternis van resessie en depressie oral begin uitslaan, sal hulle uitroep, “Hoe lank sal dit aanhou?  Hoe gou sal ons terug in die sonlig van goeie tye wees? Hoe diep, hoe lank sal die duisternis wees?” Hulle profeteer goeie en voorspoedige tye sal binnekort aanbreek.

Die Skrif sê, “Die nag is ver heen en die dag het amper aangebreek” beteken iets baie anders vir hulle. Hulle sien dit as ‘n belofte dat God Sy aardse koninkryk binnekort gaan vestig! Geen naderende wederkoms van Christus nie. Geen die Here tegemoet gaan in die lug nie! Hulle het so aardsgebonde geword, dat hulle dit selfs nie kan prysgee om Hom in die hemel te ontmoet nie!

Dit is die geroep van die NEW AGE MENSE! Dit is die geroep van die evangelie van die KONINKRYKSPREDIKERS wat versprei: “’N NUWE DAG BREEK AAN! ‘n Dag van AARDSE VREDE EN VOORSPOED! Hulle roem, “God gaan vir ons die rykdom van die wêreld gee; ons sal konings word – en heerskappy neem oor die hele regering, alle wetenskap, alle wette en wetgewing.”

Daar is nie meer “dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid” (Markus 13:26) nie. Hulle glo duidelik nie die woord van Jesus toe Hy gewaarsku het, “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timótheüs 3:12). Hulle verwerp Christus se waarskuwing dat die kerk “gehaat [sal] wees deur almal” (Lukas 21:17), Christus word nie langer verwag “soos ‘n dief in die nag” (1 Thessalonicense 5:2) nie. Hulle glo nie Paulus se waarskuwing dat “’n skielike verderf” oor die aarde kom nie (1 Thessalonicense 5:3). Nietemin, Jesus het prontuit gesê, “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie”. Sy heerskappy is in die harte van mense.

Hoor die antwoord van die wagters (Jesaja 21:12). “Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra: KEER TERUG, KOM.” Hy sê in wese, “Vir diegene wat TERUGKEER EN HULLE BEKEER, KOM DAAR ‘N NUWE DAG – maar vir diegene wat in die grondgebied van goddeloosheid woon, gebind deur die gees van Esau, met sy begeertes en goddeloosheid – is daar niks anders as nag nie!”

Jesaja het verder gegaan deur te beskryf wat dit beteken. Vir die afvallige en ongeërgdes, “’n dag van rumoer en vertrapping en verwarring...omgooi van mure en en geskreeu na die gebergte toe” (Jesaja 22:5). Diegene wat vir self lewe, wat smag na sukses en mag en aardse heerskappy, sal ontwaak op ‘n dag van verwarring en ongekende swaarkry.

Wat dit so skrikwekkend maak, is dat Jesaja praat van ons tyd! Slegs ‘n heilige, afgesonderde oorblyfsel sal die heilige Sion uitmaak – die stad wat neerdaal van God af! Terwyl baie preek oor ‘n nuwe dag van aardse mag, heerlikheid en heerskappy – sal dit eintlik daardie gevreesde dag van verwarring, droefheid en krete om hulp wees!

Die predikers van Paradys Herstel is misleide profete. Dit word maklik deur God se Woord bewys. Hier is onwrikbare bewyse dat God hulle nie gestuur het nie, maar dat hulle hul eie verbeeldingsvlugte verkondig, “Toe sê ek: Ag Here HERE, kyk die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle ‘n duursame vrede gee in hierdie plek. En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart” (Jeremia 14:13-14).

Daar is heilige wagte – en daar is goddelose wagte! Ons lewe in ‘n dag waar talle wat eens magtig gesalf is, nou aan die slaap raak in sonde!

Laat my met jou een van die hartseerste beskuldigings teen goddelose wagte in God se Woord deel. “Op my bed snags het ek gesoek na my sielsbeminde, ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie. Ek wil dan opstaan en in die stad rondgaan, in die strate en op die pleine wil ek na my sielsbeminde soek; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie. DIE WAGTE WAT IN DIE STAD RONDGAAN HET MY AANGETREF. HET JULLE MY SIELSBEMINDE NIE GESIEN NIE? SKAARS HET EK VAN HULLE AF VERDER GEGAAN, OF EK HET MY SIELSBEMINDE GEVIND; ek het hom vasgehou en hom nie gelos voordat ek hom gebring het in die huis van my moeder en in die binnekamer van haar wat my gebaar het nie” (Hooglied van Salomo 3:1-4).

Hier is die bruid – die kerk – die kinders van God honger en dors vir hulle Here! Hulle wil Hom hê! Hulle smag na Sy liefde en teenwoordigheid. DIT IS SOEKENDE MENSE! Hulle weet nie hoe om Hom by Hom uit te kom nie! Daar is ‘n konfrontasie met sekere van die wagte! As iemand sou weet waar om Hom te kry, sou dit die wagte wees. Wie sou hierdie man wat so goed beskryf word kon miskyk: “...Sy hoof is goud, suiwer goud; sy haarlokke is golwende, swart soos ’n raaf, sy oë soos duiwe by waterstrome, in melk gewas, sittend by ’n volle bron. Sy wange is soos balsembeddings, terrasbeddings van geurige plante; sy lippe is lelies wat van vloeiende mirre drup. Sy hande is ronde stawe van goud, ingevul met chrisoliet, sy liggaam ’n kunswerk van ivoor, bedek met saffierstene. Sy bene is marmerpilare...ja, hy is geheel en al die lieflikheid self” (Hooglied van Salomo 5:10-16).

Vir die wagte vra sy, “Het julle my sielsbeminde nie gesien nie?” Met ander woorde, “Lei my na Hom na wie my siel verlang! Julle is die wagte – neem my na Hom toe!”

Hoe hartseer is hierdie woorde: “Skaars het ek van hulle af verder gegaan, of ek het my sielsbeminde gevind...” Die bruid bely, “Toe ek weggegaan het van die blinde wagte, toe het ek hom gekry! Hulle kon my nie help nie...” Jesaja het gesê: “Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer” (Jesaja 56:10).

Dink daaraan! In hoofstuk 21 is die wagte wakker; hulle roep die mense tot aksie, spreek slegs die waarheid; getrou; waak dag en nag. Nou in Hoofstuk 56, het sommige aan die slaap geraak; hulle gaan lê soos ‘n klomp lui honde. Hulle weier om die basuin te blaas! Hulle het waarskuwings laat vaar! Sommige slaap op die muur! Hulle het geestelik blind geword, onkundig – met geen onderskeiding oor nie.

WAT HET GEBEUR? Jesaja het gesê hulle het selfgesentreerd geword! Hebsugtig! Vol wellus en sensualiteit! “En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam. Kom, sê hulle, laat ek wyn gaan haal, en laat ons sterk drank drink, en die dag van môre sal wees soos vandag, buitengewoon groot” (Jesaja 56:11,12). Jesaja het gekla, “DIE REGVERDIGE KOM OM, EN DAAR IS NIEMAND WAT DIT TER HARTE NEEM NIE” (Jesaja 57:1). In plaas daarvan, het sommige gierig geword, en sorg net vir hulleself, hulle eie drome en planne – wat verval het tot in wellus en liefde vir plesier. Hulle het gemak, aanvaarding en respek onder mense gekies. Hulle is verdorwe deur ‘n begeerte na mag en posisie.

Jesus beskryf die toestand van diegene in die hel: WAARDIE WURM NOOIT STERF NIE EN DIE VUUR NOOIT GEBLUS WORD NIE! Dit is die wurm van begeerte! As daardie wurm van BEGEERTE nie vernietig word in hierdie lewe nie, sal dit in die verstand vreet tot in ewigheid.

Kyk hoeveel bedienaars vandag in owerspel verval! Die wurm van begeerte vreet soos ‘n kanker en vernietig die liefde van baie. So min ween nou vir die verlorenes! Nog minder neem die afvalligheid van God se kinders ter harte! Daar is gierigheid, selfbevordering, selfsug!

Watter droefheid moet God hê oor die afvallige, blinde wagte!

Sy smart gaan verder as hulle geestelike blindheid! Verder as die trots en die gierigheid! Verder as sensualiteit en selfgesentreerdheid! Dit is ‘n tweeledige smart!

Eerstens, smart omdat God Hom nooit kan verbly in die val van een skepsel nie. Hy betreur die verlies van hulle liefde! Die verlies van hulle gemeenskap! Die verlies van ‘n uitverkore seun of dogter! Die verlies van een so belangrik vir Sy werk op aarde. Saul val en die profeet Samuel ween oor Hom. Absalom rebelleer, sterf in rebellie – tog treur Dawid, “Absalom, my seun – my seun!” Sal God nie treur oor die verlies van Sy wederstrewige, gevalle wagte nie?

Tweedens, dit is die SMART VAN OM VERDORWE WAGTE OOR TE GEE AAN HULLE SONDES! Ek noem dit die ANGSVRYSTELLING. Jy kan dit vind in Romeine 1; maar ook dwarsdeur God se Woord. God neem nooit sy aanbod van barmhartigheid en genade weg nie! Sy genade is ewigdurend! Maar wanneer mense wat eens die waarheid geken het, dit verkondig het, omhels het – dan gebind en verslaaf word aan skepselbegeertes – en hulle weier om te laat los – weier om in heiligheid voor ‘n heilige God te wandel – DAN MOET God hulle oorgee aan hulle sondes!

Jy sien die ANGSVRYSTELLING in Eségiël 20:39, “Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here HERE: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode.”

God gee ook hierdie Christen land oor aan haar afgode. Hy sê, “Gaan na jou TV afgod! Gaan na jou geheime minnaar! Gaan na jou pornografiese kasette! Gaan na jou vieslike tydskrifte! Gaan na jou boesemsonde! As jy liewer jou afgode wil hê as ‘n lewe heeltemal afgesonder in heiligheid, gaan dan na die voorwerp van jou begeertes.”

Laat my vir jou die tragiese einde wys van die gierige, blinde wagte.

“Ek het vir my beminde oopgemaak, maar my beminde het weggedraai, verbygegaan; ek het my besinning verloor toe hy gespreek het; ek het na hom gesoek, maar hom nie gevind nie; ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie. DIE WAGTE WAT IN DIE STAD RONDGAAN, HET MY AANGETREF; HULLE HET MY GESLAAN, MY GEWOND; DIE WAGTE BY DIE MURE HET MY MANTEL VAN MY AFGENEEM” (Hooglied van Salomo 5:6-7).

Kan jy dit glo? Die blinde wagte slaan die bruid! Hulle beseer die bruid! Hulle skeur haar mantel, of sluier, af! Haar sluier is haar bedekking van beskeidenheid! Daaragter kan sy bloos! Sy kan haar oë toemaak vir alle ander, sodat sy nie sonde sal sien nie!

Dink aan al die rock-konserte in God se huis! Die sinnelose gekoreografeerde danse! Die blatante vermaak! Die klem op materialisme, sukses en selfbevordering. Die kankeragtige groei van wêreldsheid in die kerke. Die gebrek aan droefheid oor sonde onder gelowiges. Die aanvaarding van rock, punk en disco musiek in God se huis. Die dwaasheid, die lighartigheid, die onbetaamlike grappies – die gedrink en hoerery. Dit is die skuld van gierige, afvallige wagte wat die bruid se sluier aftrek! Weereens neem die blinde wagte “die sluier af...”

Die blinde wagte het dit aan die kinders van Israel gedoen en hulle probeer dit doen aan God se volk vandag: “En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede!- terwyl daar geen vrede is nie. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE” (Jeremia 6:14,15).

Die blinde wagte word kandidate as heersers van duisternis en engele van die lig.

Hulle verkondig op die ou end ‘n ander Jesus, ‘n ander evanglie! Luister na hierdie duidelike waarskuwings, “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagde aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slag Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:2-4). “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as die dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:13-15).

Ek luister na die sogenaamde Christen rockers en punkers as hulle so mooi praat van Jesus liefhê en van hulle begeerte om Hom oral te neem waar die wêreld is. Hulle klink so vroom, so nederig, so opreg. Hulle sê die regte woorde, maar hulle harte behoort nie volkome aan die Here nie. God sê van hulle, “En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het. Toe sê die HERE vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het. AG, AS HULLE MAAR SO ‘N HART GEHAD HET OM MY TE VREES EN AL MY GEBOOIE ALTYD TE ONDERHOU, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (Deuteronómium 5:28,29).

Sommige blinde wagte in die Noordweste het dans met ander se huweliksmaats in hulle kerk ingelyf. Hulle dans vir ure met die huweliksmaat van iemand anders en staar diep in mekaar se oë – en noem die verhouding ‘n GEESTELIKE KONNEKSIE. ‘n Ingewikkelde en bose leerstelling is saamgeflans om dit te ondersteun as ‘n sogenaamde “nuwe beweging van die Heilige Gees.” Dit veroorsaak egskeidings, selfmoord onder volwassenes en angs onder die kinders van diegene wat daarin vasgevang word. Honderde is betrokke en owerspel is algemeen onder hulle. Die leiers van hierdie diaboliese leerstelling preek so mooi oor Jesus, oor die bruid van Christus – en hulle boodskap is soms reg. Maar dit is die profesieë en leerstellinge van duiwels. Diegene betrokke is duiwels-geïnspireerde engele van die lig, wat kom om te mislei en indien moontlik, selfs die uitverkorenes. Daar is diegene waarna verwys word in die Hooglied van Salomo wat “die bruid wond, haar slaan, haar mantel van haar af wegneem!” God het belowe om af te reken met Sy heilige vuur van jaloesie. “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘N VUURGLOED WAT DIE TEËSTANDERS SAL VERTEER” (Hebreërs 10:26,27).

Dank God – DIE WARE EN GETROUE WAGTE OP DIE MUUR SAL NOOIT ‘N KOMPROMIE MAAK NIE! Hulle sal nooit ophou om die regverdiges te waarsku oor die misleidings en infiltrasies van die goddeloses onder God se kinders nie. Geen opregte Christen hoef te twyfel oor na wie om te luister in hierdie dae van baie stemme nie.

Daar is twee baie duidelike en onmiskenbare toetse van alle profetiese waarskuwings is:

1. Ware profesie wil Christene laat wegdraai van sonde.

“Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge” (Jeremia 23:22).

Hoor die stem van diegene wat soek om jou weg te laat draai van goddeloosheid. Vermy diegene wat mooi woorde spreek sonder verwysing na sonde.

2. Profetiese waarskuwings, het van die begin af gespreek van oordele op die goddeloses.

“Maar luister nog na hierdie woord wat ek spreek voor jou ore en voor die ore van die hele volk: Die profete wat daar voor my en voor jou gewees het, van ouds af, het geprofeteer teen magtige lande en teen groot koninkryke van oorlog en onheil en pes” (Jeremia 28:7-8).

Diegene wat van ‘n naderende oordeel waarsku is in goeie geselskap. Hulle spreek dieselfde boodskap as al die profete “van die begin af.”

Diegene wat waarsku oor naderende oordeel is in goeie geselskap. Hulle spreek dieselfde boodskap as al die profete “van die begin af.”

Ek verklaar met alle versekering dat die waarskuwings wat nou uitgaan van God se heilige wagte af, is die grootste bewyse van Sy liefde aan hierdie geslag. Hy het Sy kinders lief genoeg om hulle voor te berei; om hulle tyd te gee om hulle te bekeer en die weg vir die Here in heiligheid gereed te maak! Diegene wat die Here liefhet, sal dankbaar wees. Diegene wat gerus is in Sion, sal afgestoot en verontwaardig wees.