Die Sadok Oorblyfsel

David Wilkerson

“En daar het ’n man van God by Eli gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Egipte in die huis van Farao was nie? En Ek het hom vir My as priester uitgekies uit al die stamme van Israel om op my altaar te klim om die reukwerk aan die brand te steek, om die skouerkleed te dra voor my aangesig; en Ek het aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die kinders van Israel gegee. Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel?”

“Daarom spreek die HERE, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees. Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap, sodat daar geen bejaarde in jou huis sal wees nie. Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou, in alles waarin Hy aan Israel goed sal doen; en in jou huis sal daar al die dae geen bejaarde wees nie. Maar Ek sal, om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag, een vir jou nie uitroei van my altaar af nie; en al wat aangroei uit jou huis, sal op manlike leeftyd sterwe. En dit sal vir jou die teken wees wat oor jou twee seuns, oor Hofni en Pínehas, sal kom: Op een dag sal hulle altwee sterwe. En Ek sal vir My ’n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ’n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel. En almal wat in jou huis oorbly, sal kom om hulle voor hom neer te buig vir ’n geldstukkie en ’n broodjie, en hulle sal sê: Voeg my tog by een van die priesterordes, dat ek ’n stukkie brood kan eet” (1 Samuel 2:27-36).

Ons vind hier ‘n vloek op een priesterskap – en die profetiese opgang van ‘n “bestendige” heilige oorblyfsel priesterskap. Eli verteenwoordig ‘n vervloekte priesterskap, ‘n priesterskap van vet, selfgesentreerde dienaars van God. Hy verteenwoordig diegene wat priesters genoem word, maar wat die werk van God ligtelik opneem. Diegene van hierdie priesterskap hou nie van die bediening van teregwysing nie. Hulle geestelike kinders word goddeloos weens hulle lui leefstyl en hulle weiering om teen sonde te waarsku. Hulle “vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel” (1 Samuel 2:29).

Eli het in sy seuns die ongeregtigheid wat ‘n vloek op hulle gebring het, gesien, maar “hulle nie streng bestraf nie” (1 Samuel 3:13). Hieroor het God gesê, “Ek is op die punt om sy huis vir altyd te veroordeel.” En sy huis was veroordeel! Die heerlikheid van die Here het Silo verlaat, die ark was gevange geneem en hy en sy seuns het gesterf.

Wat was hierdie ewige oordeel op Eli se priesterskap? Eerstens, dit was ‘n swak priesterskap. “Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap...” (1 Samuel 2:31). Tweedens, dit sou voortdurend ontbreek aan God se volheid. Selfs in tye van geestelike uitstortings, was hierdie priesterskap verdoem om aan God se heerlikheid te ontbreek. “Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou, in alles waarin Hy aan Israel goed sal doen...” (1 Samuel 2:32). Derdens, almal in hierdie soort priesterskap sou sterf in die fleur van hulle jeug – in die fleur van geestelike lewe en seën – weens ‘n bevlekte wandel met God. “En al wat aangroei uit jou huis, sal op manlike leeftyd sterf” (1 Samuel 2:33). En vierdens, hierdie swak, bevlekte, selfgesentreerde priesterskap sal voortlewe. Dit is steeds met ons vandag! “Ek sal...een vir jou nie uitroei van my altaar af nie” (1 Samuel 2:33).

‘n Heilige priesterskap voorspel

Die onbekende profeet wat na Elik toe gekom het, het ‘n nuwe soort priesterskap wat God sou oprig, voorspel. “En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel” (1 Samuel 2:35). Dit is ‘n wonderlike profesie! Hier is die eerste profesie van ‘n HEILIGE OORBLYFSEL PRIESTERSKAP, wat bestaan tot die einde toe, wat bestaan totdat Christus terugkeer. Dit is ‘n oorblyfsel waarvan God sê, “Ek sal bou!”

Tydens die heerskappy van Dawid, was daar ‘n tweeledige priesterskap. Sadok en Ábjatar het hierdie profesie tot die letter volbring. “En is die priesters Sadok en Ábjatar nie daar saam met jou nie?” (2 Samuel 15:35). Sadok in Hebreeus is TSADOG, wat beteken een wat regverdig bewys is. Ábjatar is EBYATHAR, wat beteken in vrede met die Here wat God is! Hierdie twee priesters verteenwoordig die twee priesterskappe wat genoem was deur die onbekende profeet – een met die gees van Eli; die ander, ‘n bediening vir die Here.

LAAT ONS EERS KYK NA SADOK. Hy was een van hulle wat na Dawid in Siklag gegaan het. “En dit is hulle wat na Dawid na Siklag gekom het toe hy nog uit die teenwoordigheid van Saul, die seun van Kis, verban was; hulle was ook onder die helde wat gehelp het in die oorlog... Want dag vir dag het hulle na Dawid gekom om hom te help, totdat dit ’n groot leër was soos ’n leër van God. En dít is die getalle van die leërafdelings van die wat vir oorlog gewapen was, wat na Dawid in Hebron gekom het om die koningskap van Saul op hom oor te bring volgens die bevel van die HERE...en Sadok, ’n jongman, ’n dapper held, met sy familie: twee-en-twintig owerstes” (1 Kronieke 12:1,22-23,28).

Sadok en sy hele huis het Saul verwerp en aan Dawid hulle harte en getrouheid geskenk. Nie een keer het hulle teruggekyk nie. Hy het bewys dat hy regverdig was omdat hy bewys het hy was getrou! Hy was daar toe Dawid hom nodig gehad het! Toe ander weggevoer is deur die rebellie van Absalom, het Sadok getrou gebly deur dit alles heen.

“En die hele land het hardop gehuil terwyl al die mense verbytrek; en die koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad na die woestyn. En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergestig – Ábjatar het ook opgetrek – totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het. Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien. Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie — hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë. Verder het die koning aan die priester Sadok gesê: U is tog siener? Gaan in vrede na die stad terug, en julle twee seuns, Ahímaäs, jou seun, en Jónatan, die seun van Ábjatar, met julle saam. Kyk, ek vertoef by die woestyndriwwe totdat daar ’n woord van julle kom om my in te lig... En is die priesters Sadok en Ábjatar nie daar saam met jou nie? Alles wat jy dan hoor uit die huis van die koning, moet jy aan Sadok en Ábjatar, die priesters, te kenne gee” (2 Samuel 15:23-28,35).

Lees dit weer: “U is tog siener?” Dit beteken, “Sadok, jy het die gawe van onderskeiding! Jy weet wat is goddeloos en wat is heilig. Jy is sterk genoeg, getrou en toegewyd genoeg aan my om in daardie realm van rebellie en afgodery in te gaan en die koninkryk te red!” Die koning het gesê, “Keer terug na die stad!” God het nou ‘n heilige priester gehad om die huis van God te bewaar van verwoesting!

‘n Hele land was in rebellie, maar in God se huis was daar ‘n heilige oorblyfsel. Op die troon van goddeloosheid, ongehoorsaamheid en waar Absalom ontugtige dade met byvroue op die paleis se dak gepleeg het voor die volk, was daar ‘n getroue oorblyfsel priesterskap onaangeraak! Sadok het opreg, heilig, toegewyd, onberispelik en getrou gebly! Hy het God se Woord geken; hy het sy lewe en toekoms daaraan toevertrou – DAWID WAS DIE ENIGSTE KONING! [Dawid is ‘n tipe Christus.]

Die hele tyd het God vir Sadok ‘n bestendige huis gebou, ‘n priesterskap wat die profesie vervul het wat die man van God wat oor Eli voorspel het. Dit was daardie “getroue priester...wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is.”

Die heilige oorblyfsel, die GETROUE PRIESTERSKAP VAN VANDAG, hierdie dienaars van die Here wie se harte onberispelik en getrou is – hulle is DIE NAKOMELINGE VAN SADOK! DIE GEESTELIKE SEUNS VAN SADOK!

Esegël het ‘n visioen gesien van ‘n geestelike tempel. Daarin het hy oorblyfsel priesters gesien offerhandes bring aan die Here.

“Moet jy aan die Levitiese priesters wat uit die geslag van Sadok is, wat na My mag nader kom – spreek die HERE – om My te dien, ‘n jong bul gee as sondoffer” (Eségiël 43:19). Hulle is “naby die Here” wat “om My te dien” [die Here]. Diens aan die Here is die kenmerk van die Sadok oorblyfsel.

LAAT ONS NOU KYK NA ÁBJATAR. Hy was vroom, toegewyd, in vrede met God, en sy naam dui op groot eerbied vir Sy heerskappy. Hy is ook saam met Dawid en Sadok aan die ander kant van Kidronspruit. “Ábjatar het ook opgetrek — totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.... En Sadok en Ábjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar gebly... En is die priesters Sadok en Ábjatar nie daar saam met jou nie? Alles wat jy dan hoor uit die huis van die koning, moet jy aan Sadok en Ábjatar, die priesters, te kenne gee. (2 Samuel 15:24,29,35).

Ábjatar wou niks te doen hê met Absalom se rebellie nie. Hy en sy seun Jónatan het net so getrou voorgekom as Sadok. Hy het uiterlik heilig, onberispelik en getrou voorgekom. Waarom het die profete hom geïgnoreer en in plaas van hom, van Sadok gepraat as die voorbeeld van die heilige oorblyfsel priesterskap?

Ábjatar het in hom die saad van Eli gehad! Die lui, toegeeflike, swak gees van Eli het dormant in sy siel gelê. Dit het gebeur net soos die man van God vir Eli voorspel het – dat hy op die piek van sy bruikbaarheid, op die piek van God se seën, sou val. Sy innerlike swakheid sou geopenbaar word; hy sou net só ver gaan en dan kort van God se heerlikheid stop. Ábjatar se hart was nie reg met God nie.

“Intussen was Adónia, die seun van Haggit, so vermetel om te dink: Ek sal koning word! En hy het vir hom waens en perderuiters aangeskaf en vyftig man wat voor hom uit loop. En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so? Bowendien was hy ook baie mooi van gestalte, en sy moeder het hom ná Absalom gebaar. En hy het met Joab, die seun van Serúja, onderhandel en met Ábjatar, die priester, sodat hulle gehelp het as volgelinge van Adónia. Maar Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada, en Natan, die profeet, en Símeï en Reï en die helde van Dawid het nie met Adónia saamgegaan nie. En Adónia het kleinvee en beeste en vetgemaakte vee geslag by die klip Sohélet wat langs die fontein Rogel staan” (1 Konings 1:5-10). Hier sien ons dat Sadok getrou gebly het en Ábjatar in die strik getrap het! Alles wat die onbekende profeet vir Eli gesê het, het vervul geword in sy nakomeling Ábjatar.

Ábjatar se sonde was SELFVERHEFFING! Luister na hierdie tragiese woorde: “Ábjatar, die priester... as volgelinge van Adónia...” Hy het die rebelse, kompromie-makende menigtes al die pad gevolg tot by die steen van Sohelet, wat in Hebreeus beteken die steen van die slang! Nie ‘n enkele heilige man was daar nie. Nie Sadok nie, nie Natan nie, nie Reï nie en nie een van Dawid se getroue helde nie. Dit was ‘n grootpraterige klomp. Hulle het die “ou en deurgetrapte” weë van Dawid bespot. Hulle het gevra vir ‘n nuwe soort koninkryk! ‘N NUWE SOORT PRIESTERSKAP! En Adónia, die leier van hierdie hele nuwe beweging het die hele tyd gesmag na Abisag, die Sunnamitiese. Daar was rebellie, die gees van owerspel, ‘n demoniese koninkryk van trots en selfvertroue. ‘n Nuwe golf van selfverheffing het deur die land versprei, het die massas mislei en Ábjatar was eens met hulle.

Ábjatar het vasgevang geraak in hierdie demoniese realm. Hoe jammer! ‘n Vroom, eens getroue man, op die piek van sy bediening, HET ‘N VERKEERDE SKUIF GEMAAK! HY HET ‘N KOMPROMIE GEMAAK! Hy het teen die ware weg gedraai en onwetend gedink hy doen God se wil. Nou sien ons hom so geestelik blind – met geen onderskeiding nie! Hy doen die diens van ‘n priester by die steen van ‘n slang!

Kyk na die verskil tussen hierdie twee priesterskappe. Ábjatar het onder die vloek van die  huis van Eli gekom weens die trots van sonde en rebellie wat skielik op hom gespring het soos ‘n veldbrand. Die selfverheffende prediking van Adónia het iets in hom aangetrek – en hy het sy lydende verlede eenkant toe geskuif om suksesvol en aanvaarbaar te wees vir die nuwe golf evangelie.

Vergelyk dit met die Sadok priersterskap – die heilige oorblyfsel! “Verder het koning Dawid gesê: Roep vir my Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada. Toe kom hulle in voor die koning, en die koning sê vir hulle: Neem die dienaars van julle heer met julle saam en laat my seun Salomo op my eie muil ry, en bring hom af na Gihon toe; en laat Sadok, die priester, en Natan, die profeet, hom daar as koning oor Israel salf, en julle moet op die ramshoring blaas en sê: Mag koning Salomo lewe! Dan moet julle agter hom optrek, dat hy kan inkom en op my troon sit; want hý moet koning wees in my plek, en ek het hom aangestel om ’n vors oor Israel en Juda te wees....Toe het Sadok, die priester, afgegaan saam met Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti, en hulle het Salomo laat ry op die muil van koning Dawid en hom na Gihon gebring. En die priester Sadok het die horing met olie uit die tent geneem en Salomo gesalf, en hulle het op die ramshoring geblaas, en die hele volk het gesê: Mag koning Salomo lewe! Toe gaan die hele volk op agter hom aan, terwyl die volk op fluite speel en hulle verheug met groot blydskap, sodat die aarde geskeur het van hulle geluid. En Adónia het dit gehoor en al die genooides wat by hom was, toe hulle net klaar geëet het; Joab het ook die geluid van die ramshoring gehoor en gesê: Waarom is die geluid van die stad rumoerig? Terwyl hy nog spreek, kom Jónatan, die seun van die priester Ábjatar, daar aan; en Adónia sê: Kom in, want jy is ’n wakker man en bring ’n goeie boodskap. Maar Jónatan antwoord Adónia en sê: Ja, maar ons heer die koning Dawid het Salomo koning gemaak! En die koning het Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti met hom saam gestuur, en hulle het hom op die koning se muil laat ry; en Sadok, die priester, en Natan, die profeet, het hom in Gihon as koning gesalf, en daarvandaan het hulle met blydskap opgetrek, sodat die stad opgewonde geraak het; dit is die geluid wat julle gehoor het. En ook het Salomo die op die koninklike troon gaan sit” (1 Konings 1:32-35,38-46).

Koning Salomo het alles geweet van die vloek op Eli se huis. En hy het Ábjatar herken as deel van daardie soort priesterskap. “En vir Ábjatar, die priester, sê die koning: Gaan na Ánatot op jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here HERE voor my vader Dawid uit gedra het en omdat jy deelgenoot was van alles wat my vader gely het. So het Salomo dan Ábjatar verdrywe, sodat hy nie meer priester van die HERE was nie, om die woord van die HERE te vervul wat Hy oor die huis van Eli in Silo gespreek het” (1 Konings 2:26-27). Wat ‘n verstommende vervulling van profesie! ‘n Man wat eens die lyding van sy heer gedeel het – was nou afgedank, verwerp, op die rak gesit. “Gaan jou eie weg... – VAN GEEN NUT MEER NIE vir God se koninkryk!

Eségiël het ook die profetiese belangrikheid van hierdie dubbele priesterskap verstaan. Beide bedienings was in sy dag in bedryf – en Hy het voorspel die priesterskap van Sadok en van Levi sou duideliker wees in die laaste dae.

Eségiël het die bediening van Sadok gesien as ‘n diens vir die Here en nie vir die mense nie. Deur sy visioen tempel het hy gesê, “En hy het vir my gesê: Hierdie kamer, waarvan die voorkant na die suide lê, is vir die priesters wat die diens van die huis waarneem. En die kamer waarvan die voorkant na die noorde lê, is vir die priesters wat die diens van die altaar waarneem; dit is die seuns van Sadok wat uit die kinders van Levi na die HERE mag nader kom om Hom te dien” (Eségiël 40:45-46). Hy het die Sadok oorblyfsel gesien as ‘n PRIESTERSKAP GEROEP UIT ‘N PRIESTERSKAP!  “Dit is die seuns van Sadok wat UIT die kinders van Levi na die HERE mag nader kom om Hom te dien...” “Moet jy aan die Levitiese priesters wat uit die geslag van Sadok is, wat na My mag nader kom — spreek die Here HERE — om My te dien, ’n jong bul gee as sondoffer” (Eségiël 43:19).

Die Sadok diens is geskei van die wêreld en het EEN missie in die lewe: OM AAN DIE HERE SE TAFEL TE WEES OM HOM TE DIEN! “Maar die Levitiese priesters, die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het toe die kinders van Israel van My af weggedwaal het, hulle moet na My toe nader kom om My te dien en voor my aangesig staan om aan My die vet en die bloed te offer, spreek die Here HERE. Hulle moet in my heiligdom ingaan, en hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien en my diens waarneem” (Eségiël 44:15-16).

Die priesterskap is geklee in die rein, ongemengde mantels van heiligheid! Hulle lewe in absolute gehoorsaamheid aan die Here. Hulle leer God se kinders die verskil tussen reg en verkeerd. Hulle is nie bang om sonde te veroordeel nie. “En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is” (Eségiël 44:23). Hulle enigste ware besitting in die lewe is die Here self. “En dit sal vir julle ‘n erfdeel wees; Ek is hulle erfdeel en julle mag aan hulle geen besitting in Israel gee nie; Ek is hulle besitting” (Eségiël 44:28).

Eségiël waarsku: die vloek van die huis van Eli het op ‘n verdorwe hoerkerk en sy afgodiese herders geval!

“En sê aan die wederstrewiges, aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Laat dit genoeg wees met al julle gruwels, o huis van Israel! Omdat julle uitlanders ingebring het, onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees, om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig; toe julle my brood, vet en bloed gebring, en hulle my verbond verbreek het by al julle gruwels “ (Eségiëls 4:6-7).

Hier is ‘n huis van God vol gruwels – so sleg dat God dit nie meer kan verdra nie! “Genoeg!” sê Hy. Hulle het Sy heiligdom besoedel met goddelose aanbidders. Hulle het ‘n vorm van goddelikheid met geen krag van heiligheid nie. God sê, “Nie meer nie!” Hierdie half-bekeerde, wêreldse, verdorwe, sogenaamde gelowiges het geen plek in My huis nie!”

Jimmy Swaggart het eenkeer vir my gevra, “Waarom laat God dat hierdie verdorwe bedienings voortlewe? Dit lyk of hulle voortgaan, floreer en die massas verlei.” Aanvanklik het ek gedink God sou hulle uitwis – hulle tot ‘n val bring. Nou sien ek dit anders. Nou weet ek wat Eségiël geprofeteer het en dit laat my ween. God vervloek ‘n vervloekte volk met vervloekte herders. Hy stel vir hulle herders aan na hulle eie harte. Afgodiese herders word aangestel om afgod-liefhebbende skape te lei! Lees wat die Woord sê, “Maar die Leviete wat ver van My afgewyk het by die afdwaling van Israel, wat van My af weggedwaal het agter hulle drekgode aan, hulle moet hul ongeregtigheid dra: hulle moet dienaars wees in my heiligdom, as wagte by die poorte van die huis en bedienaars van die huis; hulle moet die brandoffer en die slagoffer vir die volk slag en voor hulle staan om hulle te dien. Omdat hulle hul gedien het voor hulle drekgode en vir die huis van Israel ’n struikelblok tot ongeregtigheid was, daarom het Ek my hand teen hulle opgehef, spreek die Here HERE, sodat hulle hul ongeregtigheid moet dra. En hulle mag nie nader kom na My toe om die priesteramp vir My te bedien nie en om nader te kom na al my heilige gawes, na die hoogheilige gawes nie; maar hulle moet hul skande dra en hul gruwels wat hulle bedryf het. Dus sal Ek hulle aanstel om die diens van die huis waar te neem, vir die hele bediening daarvan en vir alles wat daarin gedoen moet word” (Eségiël 44:10-14).

Hierdie afvallige, sonde-liefhebbende herders het weggedwaal van die Here af in hulle harte. Hulle klou vas aan geheime afgode; hulle lyk en klink soos manne van God, met al die uiterlike bediening in die huis. Hulle self het struikelblokke geword en verlustig hulle in boesemsondes waaroor God se Heilige Gees hulle veroordeel. Hulle weet dit is verkeerd. God sê, “Genoeg!” Steeds hou hulle aan bedien met afgodery binne-in hulle en hulle struikel oor en oor weens ‘n goddelose ding wat hulle wandel met God blokkeer. Wat ‘n vloek! “En hulle mag nie nader kom na My toe...en...na al my heilige gawes...HULLE MOET HUL SKANDE DRA EN...HUL ONGEREGTIGHEID” (Eségiël 4:12-13).

Hulle sal nie verwyder word uit God se huis nie; hulle sal “die diens van die huis waar te neem, vir die hele bediening daarvan en vir alles wat daarin gedoen moet word.” Wat is hulle skande – hulle straf? “Daarom, kyk, Ek sal julle sekerlik ophef en julle, saam met die stad wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, van my aangesig af wegwerp; en Ek sal julle ’n ewige smaad oplê en ’n ewige skande wat nie vergeet sal word nie” (Jeremia 23:39-40). “Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel. Omdat julle dan nou al hierdie dinge gedoen het, spreek die HERE, en Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie, daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het. En EK SAL JULLE VAN MY AANGESIG WEGWERP soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het” (Jeremia 7:12-15).

Die ergste straf, die ergste skande op ‘n man of vrou van God, IS OM TE BEDIEN IN DIE VLEES MET GEEN SALWING NIE. Hulle huise is soos Silo, “Weggevoer is die eer!” Hulle boodskap is kaf en God se heilige teenwoordigheid het hulle verlaat. Tog – hulle is steeds aangestel om die huis te bedien, maar is ook verlaat deur die Here. Dink daaraan – gesalf as bedienaars vir ‘n huis van rebelse kinders – hoewel hulle agodedienaars is. ‘n Verskriklike waarheid!

Dit is die nakomelinge van Eli – die Ábjatar priesterskap! Jesaja het hulle stom honde, dromers, lui, gierig, herders met geen verstand genoem. “Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam. Kom, sê hulle, laat ek wyn gaan haal, en laat ons sterk drank drink, en die dag van môre sal wees soos vandag, buitengewoon groot!” (Jesaja 56:10-12).

God wou herders oprig vir die mense na Sy eie hart. As God se kinders hulle bekeer het, as hulle hulle afgode neergewerp het, as hulle Hom met hulle hele hart gesoek het – sou Hy vir hulle getroue, heilige herders gegee het.

“Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die HERE. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die HERE; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die HERE. Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ’n stad en twee uit ’n geslag en sal julle in Sion bring. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand” (Jeremia 3:12-15).

Maar die meeste van God se kinders lyk of hulle die Eli priesterskap verkies! “’n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” (Jeremia 5:30-31). Kompromie-makende, afgod-liefhebbende, wellustige, sensuele Christene het herders aangestel net soos hulleself. Daar is ‘n hele priesterskap; die nakomelinge van Eli, aangestel om die afgode op die troon van die harte van Christene met verdeelde harte te voed.

In hierdie laaste dae, is ons almal priesters van die Here. Aan watter priesterskap behoort jy? Sadok of Ábjatar?

God rig reeds nou DIE KONINKLIKE PRIESTERSKAP – SEUNS VAN SADOK op! “En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:5,9).

Ons is geroep tot ‘n diens VIR DIE HERE. “Maar júlle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God!” (Jesaja 61:6).

Alle leiding kom na hierdie priesterskap terwyl hulle die Here dien. “En Bárnabas en Saulus het van Jerusalem teruggekeer, nadat hulle hul diens vervul het, en hulle het Johannes saamgeneem, wat ook Markus genoem word... En daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus” (Handelinge 12:25 en 13:1-4).

Lees dit weer: “En terwyl hulle besig was om DIE HERE TE DIEN en te vas, het DIE HEILIGE GEES GESÊ!” Daar is ‘n bepaalde booskap wat sal kom na almal wat die tafel van die Here liefhet en wat weet hulle een diens is vir die Here. Alle ander bedienings spruit uit daardie diens vir Hom.

So seker was wat daar nag en dag is, het God ‘n verbond gesluit om vir Homself ‘n Sadok oorblyfsel te verseker om Hom te dien tot die heel einde. Wat ‘n glorieryke profesie het Hy vir Jeremia gegee. “En die woord van die HERE het tot Jeremia gekom en gesê: So spreek die HERE: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie, dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars. Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien” (Jeremia 33:19-22). Prys God – Hy het ‘n verbond gesluit om ‘n heilige, afgesonderde, getroue priesterskap te besit. Daardie belofte is so seker as die een wat Hy met Dawid gemaak het aangaande ‘n seun om op sy troon te sit.

Reinig die Gees jou? Word jy deur die vuur gelouter? Ween jy oor die gruwels in die land? Smag jy na Christus se heiligheid? Sit jy dikwels by die Here se tafel? Werp jy afgode neer? Is jy siek en sat vir al die selfverheffende bedienings in die land?

God wil jou uit een priesterskap oorplaas na ‘n ander – uit Ábjatar – tot in Sadok se nakomelinge!

Te midde van al die verwoesting, die afvalligheid en die groot geloofsversaking, kom die Sadok oorblyfsel na vore – sigbaar en gesalf. Diegene uit die Sadok oorblyfsel praat almal dieselfde taal: getrouheid aan Koning Jesus, bekering as ‘n manier van lewe, afsondering van alles wat aangeraak is of verteenwoordig word deur die wêreld, ‘n intense honger en dors na geregtigheid, reiniging en loutering, en ‘n rein hart volkome aan Hom oorgegee.

 [Alle skrifgedeeltes uit die 1953 Afrikaanse Bybel]