Wanneer die Beskutting Afkom

David Wilkerson

Satan self erken dat God ‘n beskermende beskutting het rondom die regverdiges en dat die beskutting nie net hulle nie, maar alles wat hulle het, beskerm – insluitend hulle nakomelinge.

Toe hy Job wou afbreek, het Satan by God gekla, “Het U nie self hom en sy huis en alles wat by het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werke van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land” (Job 1:10).

Beskuttings, skilde en mure is sinoniem in God se Woord. Skild kom van die Hebreeuse stamwoord GANAN, wat beteken om te bedek, te omring, of te verdedig. Hierdie woorde is verwisselend – en spreek van Christus wat Sy regverdiges aan elke kant bedek, omring en beskerm. God was Job se skild, ‘n bedekking of dak waaronder hy onaantasbaar was vir enige vyand. God se teenwoordigheid het hom soos ‘n muur omring.

Skild is ‘n verbondswoord. God het vir Abraham gesê, “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot” (Génesis 15:1). Met ander woorde, “Ek is ‘n beskutting en ‘n muur rondom jou aan alle kante – jy het niks om te vrees van enige vyand nie.”

Hoe magtig was die laaste woorde van Moses toe hy Israel geseën het. Hy het gesing, “Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ‘n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande hulle al kruipende aan jou onderwerp; maar jý sal op hulle hoogtes trap” (Deuteronómium 33:29).

Dawid het geen vyand gevrees nie – geen duiwel, geen demoon en geen lewende siel nie! Hy het getuig, “Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my” (Psalm 3:6). Waarom kon Dawid so goed slaap elke nag en wakker word met hernude krag? Omdat die beskutting rondom hom was! Hy het gesê, “Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef” (Psalm 3:3).

Agter daardie skild, daardie beskermende beskutting, was Dawid veilig teen alle vyandige aanvalle. Niks op aarde of uit die put van die hel kon hom aanraak nie. Hy kon sê, “Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie...Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek” (Psalm 3:6,7). Die demoniese hordes wat hom aangeval het, moes vlug omdat hulle verpletter is deur die beskutting rondom Dawid. Hulle kon nie deur daardie muur dring nie!

‘n Beskermende beskutting is ‘n verbondsreg vir almal wat onbevlek voor die Here lewe

Ons almagtige Verbondsgod het ‘n skild geplaas rondom almal wat vlekkeloos en rein van hart voor Hom lewe! Die beskutting was nie net rondom Job nie, dit was rondom Abraham, Moses, Samuel, Dawid – en is steeds rondom alle heiliges wat lewe in geregtigheid en in die vrees van God!

Toe Hy ‘n verbond met Abraham gesluit het, het God hom beveel, “Wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou” (Génesis 17:1,2). Met ander woorde, “Abraham, wandel vlekkeloos voor my en jy hoef nooit weer te vrees nie, omdat Ek ‘n verbond met jou sluit om jou skild en beskutting te wees teen alle vyande wat ooit teen jou of teen enige van jou nakomelinge sal kom.”

Dawid het getuig, “Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie. Want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge — daar het ek nie van afgewyk nie. Maar ek was opreg voor Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid” (2 Samuel 22:22-24).

Hy het bygevoeg, “By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg” (2 Samuel 22:26). Dit beteken diegene wat hulle kant van die verbond nakom, sal volkome en vlekkelose beskerming van alle vyande beleef.

Presies hoe veilig is ‘n kind van God wat in verbond met God lewe – wat vlekkeloos en rein van hart is? Watter effek het Satan of sy magte van duisternis op die regverdiges wat hulle ongeregtighede laat staan? Dawid maak dit baie duidelik dat oorwinning seker is vir diegene wat rein is. “En U het my die skild van u uitredding gegee, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak. U het my voetstap onder my ruim gemaak, en my enkels het nie gewankel nie. Ek het my vyande agtervolg en hulle verdelg en nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie. Ja, ek het hulle vernietig en hulle verbrysel, sodat hulle nie weer opgestaan het nie, maar onder my voete geval het. En U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders onder my laat buk. En U het my vyande vir my laat vlug; my haters, dié het ek vernietig. Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie; na die HERE, maar Hy het hulle nie geantwoord nie. Toe het ek hulle vermaal soos die stof van die aarde, soos modder van die strate het ek hulle fyngemaal, hulle vertrap” (2 Samuel 22:36-43).

Wat ‘n getuienis van beskerming en oorwinning. Hy kon roem, “Satan en sy bose hordes omring my, maar God se skild maak my onoorwinlik. Ek verpoeier die vyand. Ek vertrap hom in die grond in. Ek laat hom vlug – ek verslaan alle vyande. Die magte van duisternis haat my. Hulle het my probeer aanval, maar hulle kon nie ‘n hand op my lê nie – ek het hulle verpletter met God hulp! Die vyand is verpletter en ek is veilig agter die beskutting.”

God is ‘n beskutting rondom elke kind van Hom wat in integriteit en reinheid wandel. “En Hy is ‘n skild vir die wat regskape wandel” (Spreuke 2:7). “Want die HERE is ‘n son en ‘n skild...Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie” (Psalm 84:12). “Hy is ‘n skild vir die wat by Hom skuil” (Spreuke 30:5).

Daar is geen beskutting rondom Christene wat in sonde en wederstrewigheid lewe nie

Diegene wat goddeloos en verdeelde harte het, het die verbond verbreek en hulle is weerloos teen die owerhede en magte van die duisternis. “Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond — terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp... jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog” (Psalm 50:16-21).

Israel het hulle verbond met God verbreek. Hulle is duidelik gewaarsku wat sou gebeur as hulle aan God ongehoorsaam sou wees. Hulle het geweet hulle sou die beskutting verloor en ‘n maklike slagoffer word vir allerhande vyande. “As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die HERE jou God, te vrees nie, dan sal die HERE oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes; en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe. Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die HERE teen jou laat opkom totdat jy verdelg is. En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God nie. En soos die HERE oor julle bly was om aan julle goed te doen en julle te vermenigvuldig, so sal die HERE oor julle bly wees om julle tot niet te maak en julle te verdelg” (Deuteronómium 28:58-67).

Israel was ‘n keuse gegee! Volg die Here en wees vlekkeloos – en word beskerm. Of, draai weg en word oorweldig deur die magte van die duisternis. “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk. Wat ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die HERE jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Maar as jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en hulle dien, dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; julle sal die dae nie verleng in die land waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie. Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe” (Deuteronómium 30:15-20).

Dit is ongelooflik, maar Israel het gekies om in ongehoorsaamheid te lewe – hulle het weggedraai van die verbond om hulle begeertes na te jaag. Watter verskriklike rampe het gevolg! Dawid het uitgeroep, “U het hulle tranebrood laat eet, hulle oorvloedig trane laat drink. U het ons ’n voorwerp van stryd gemaak vir ons bure, en ons vyande drywe die spot” (Psalm 80:6,7).

Waarom het die vyand nou vir Israel gelag? Omdat die beskutting af was! “Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verby gaan, hom kaalpluk? Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af” (Psalm 80:13-14).

Satan is die wildevark wat hulle wingerd opvreet. Demoniese magte loop daardeur soos hulle wil, en verslind die vrugte – omdat die skild weg is! Die muur is afgebreek. En waarom? Omdat die volk van God in hardkoppige en opsetlike ongehoorsaamheid aan God gelewe het. “Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel. Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel! Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek” (Psalm 81:11-14).

God het gedreig om die heining van sy wingerd af te breek en dit onbewerk te laat staan

Ek sidder oor die profetiese boodskap van die profeet Jesaja. Dit is nie spekulasie – dit is iets wat God gesê het Hy is ten volle van plan om uit te voer.

Eerstens, hoor die getuienis van Jesus oor die heining wat Hy rondom Sy volk, sy wingerd, gebou het, “Luister na ‘n ander gelykenis: Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan” (Matthéüs 21:33).

Maar God het gesê daardie heining kom af – weens sonde! “Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring? Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ’n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie” (Jesaja 5:3-6).

God sê vir ons wat Hy beslis gaan doen. Ek glo Hy doen dit reeds nou al. Daar is ‘n hoerkerk op die aarde vandag wat die duiwel se speelplek geword het. Dit bestaan uit misleide Christene wat sonde oorsien. Hulle is eiewillig, liefhebbers van genot, wat nie langer bloos oor hulle ongeregtighede nie. Hulle het verdeelde harte; hulle het ‘n vorm van godsaligheid met geen krag nie. Hulle het hulle afgode; hulle weier om hulle boesemsonde prys te gee; en hulle word verblind deur ‘n valse vrede.

Hierdie hoerkerk word beskryf in Deuteronómium 29 as verblind deur ‘n valse vrede. “...En as jy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel – om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk.” (Deuteronómium 29:19).

God waarsku dat Hy hulle heining sal afbreek en hulle uitsonder vir teenspoed en vloeke. “Die HERE sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die HERE en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die HERE sal sy naam onder die hemel uitdelg. En die HERE sal hom tot sy ongeluk van al die stamme van Israel afskei volgens al die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is” (Deuteronómium 29:20,21).

Dawid het geweet hoe dit was om die verbond te verbreek en uitgesonder te word vir teenspoed en swaarkry van oral af. God het vir Dawid gesê, “Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie” (Psalm 89:4). Maar God het dit nie verbreek nie – Dawid het. Selfs al verbreek God nooit Sy goedertierenheid nie – sal Hy steeds oortredings met die roede besoek. “As hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid” (Psalm 89:32,33).

Luister as jy hoor hoe Dawid vertel van ‘n plunderende vyand wat verwoesting in sy lewe ingebring het weens sonde. “Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde. U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond. U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings ’n puinhoop gemaak. Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy ’n smaad geword. U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak. Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie” (Psalm 89:39-44).

Is dit nie die rede waarom so baie Christene deur Satan geplunder word nie? Hulle is nie in staat om weerstand te bied teen demoniese magte en owerhede van die duisternis nie, want God het hulle beskutting verwyder. Hulle was eens gesalf, maar nou word hulle beleër deur die magte van die hel – omdat hulle geen goddelike berou het oor die sonde wat in hulle oorgebly het nie. Hulle weier om hulle te bekeer en hulle wêreldse weë te laat staan. Ongehoorsaamheid het ‘n stroom van teenspoed en allerhande probleme gebring. Hulle versteek en regverdig hulle sonde. Dit is waar – nie alle lyding is die gevolg van sonde nie. Daar is ‘n dissipline wat deur ons liefdevolle Vader toegedien word. Sommige, soos Job, word gelouter sodat hulle soos suiwer goud kan voortkom. Sonde haal egter altyd die beskutting af.

Hoe verskriklik toe God die muur rondom Jerusalem afgehaal het. Jeremia kon skaars sy oë glo met die aanskoue van die vinnige en verskriklike ramp en ongelooflike verwoesting aan die hand van die vyand. Hy het uitgeroep, “Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het dit bitter. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die HERE het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit. En van die dogter van Sion het gewyk al haar heerlikheid; haar vorste het geword soos takbokke wat geen weiveld vind nie en kragteloos heengegaan het voor die vervolger uit” (Klaagliedere 1:4-6).

Jeremia het baie akkuraat beskryf wat met Israel gebeur het toe hulle hulle verbond verbreek en hulle beskutting verloor het. Hy het namens hulle gesê, “Hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie” (Klaagliedere 1:14).

Dit is presies wat ek sien gebeur in die kerk vandag, waar menigtes oorweldig word deur sataniese aanvalle. So min kan nou opstaan en dit weerstaan. So min het enige geestelike gesag oor. Satan kom teen hulle soos ‘n stortvloed en hulle krag verdwyn. Dit hou gewoonlik direk verband met die sonde wat in hulle oorgebly het. Hulle weier om deursoek te word deur die lig van God se Woord. Hulle kom nie na die lig toe om sonde geopenbaar te kry nie. In plaas daarvan, flankeer hulle met owerspel, hoerery en allerhande begeertes. Hulle sit passief voor hulle afgode van TV, verdorwe films en pornografie. Daar is baie vrees, ongeloof, skinder, laster en gevloek. Ander bid nie, hulle vergeet die Here vir dae aaneen en hulle is nie langer intiem met die geliefde Saligmaker nie.

Dan wonder hulle waarom die vyand hulle lewens en huise plunder. Hoe blind kan ons wees? Ons sondes het die Here gedwing om die beskutting van ons af te haal.

Ons het die vrees van God heeltemal verloor as ons nie bewe vir hierdie waarskuwing nie – “Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ’n wildernis maak...en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie” (Jesaja 5:5,6).

God praat van die kerk, van ons lewens en veral van ons kinders en kleinkinders. ‘n Hongersnood van God se Woord – geen openbaring nie! ‘n Huis wat vertrap en ‘n wildernis gemaak is. God het belowe om ‘n verbond te sluit, nie net met Abraham nie, maar ook met sy nakomelinge: met sy kinders, kleinkinders, en sy hele nageslag. “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou” (Génesis 17:7).

Die belangrikheid daarvan om in ‘n verbond te lewe, om vlekkeloos en rein van hart te wees, is dat dit ‘n beskutting en ‘n skild voorsien vir ons en ons hele nageslag. Dit is beskerming vir ons nageslag. God sal sekerlik die oortredings van ons kinders en kleinkinders besoek, maar deur al die swaarkry en teenspoed, sal Hy die verbond onthou met die vader en moeder wat vlekkeloos voor God gelewe het – en Hy sal genade tydens toorn onthou. Ons moet ons kinders beveel om ook vlekkeloos te lewe, sodat hulle ook in veiligheid kan lewe, beskerm deur die goddelike beskutting. “Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ’n toekoms vir die man van vrede. Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny” (Psalm 37:37,38).

Saul het die verbond verbreek en God het die beskutting weggeneem. Hoe jammer om te lees van die tragiese einde van hierdie eens magtige gesalfde man wat sterf saam met sy seuns aan die hand van die vyand. Hy en sy nageslag was afgesny.

Wanneer die Bybel sê die beskutting is verwyder, beteken dit eintlik die teenwoordigheid van die Here is weg. Eiewil en ongehoorsaamheid in Saul het veroorsaak dat die Here hom verwerp het. “MAAR die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ’n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik. Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ’n bose gees van God verskrik u” (1 Samuel 16:14,15).

God het Satan toegelaat om by Saul uit te kom nadat Hy Sy Gees van hom af weggeneem het. Satan het hierdie geteisterde man geterroriseer. Dit was eenkeer van Saul gesê, “Die Gees van God het oor hom vaardig geword, sodat hy onder hulle geprofeteer het” (1 Samuel 10:10). Vergelyk dit met 1 Samuel 18:10. “Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis.”

Predikers se vroue skryf vir my en vertel van mans wat uitvaar en te kere gaan en hulle slaan. Ander vertel my van slegte humeur – wilde uitbarstings, wat hulle teen die muur gooi, hulle seermaak – gevolg deur berou en liefderyke verskonings. Dit is demonies. Dit gebeur omdat die Here padgegee het uit hulle lewens. Die beskutting is af, alles is verlate – en die hele familie ly as gevolg daarvan. Íkabod is op hulle harte en verstand geskryf.

Saul se sondige hart het ellende oor sy hele huis gebring! “En die Filistyne het Saul en sy seuns agternagesit, en die Filistyne het Jónatan en Abinádab en Malkisúa, die seuns van Saul, gedood. So het dan Saul en sy drie seuns en sy wapendraer, ook al sy manne op dieselfde dag almal saam gesterwe” (1 Samuel 31:2,6). “En toe die Filistyne die volgende dag kom om die gesneuweldes te plunder, vind hulle Saul en sy seuns nog daar lê op die gebergte Gilbóa. En hulle het hom uitgetrek en sy hoof en sy wapens saamgeneem en dit in die land van die Filistyne rondgestuur om die blye boodskap vir hulle afgode en vir die volk te bring. Daarna het hulle sy wapens in die huis van hulle god neergelê en sy hoofskedel in die huis van Dagon vasgeslaan” (1 Kronieke 10:8-10).

God haal die beskutting van hierdie nasie af

Die geroep van die sondes van hierdie land het die hemele bereik. Ons beker van ongeregtigheid loop oor. Ek glo die profeet Eségiël het hierdie soort oordeel wat God op ons sal uitgiet, gesien. Hy sal die beskutting rondom ons verwyder en ons ‘n “onbemuurde land” maak. Ons sal kwesbaar wees vir alle vyande. “Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die jare sal jy ’n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel wat gedurigdeur as puinhoop daar gelê het — ja, dit is uit die volke uitgebring, en hulle woon almal in veiligheid. Dan sal jy optrek soos ’n onweer wat aankom, jy sal wees soos ’n wolk om die land te oordek, jy en al jou leërs en baie volke saam met jou. So sê die Here HERE: In dié dag sal daar gedagtes in jou hart opkom, en jy sal ’n listige plan beraam en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie” (Eségiël 38:8-11).

Dit is meer as ‘n profesie oor Rusland wat Israel binneval. Amerika is ook ‘n smeltkroes van mense wat van alle lande af kom. Ek glo dit is ‘n tweeledige profesie, ook gerig aan hierdie land, die grootste van alle Christelike lande op aarde. Ons het miljoene wat beweer om “die Israel van geloof” te wees – almal wedergebore afstammelinge van Abraham – die ware nageslag van die belofte.

Hierdie land was eens God-vresend, geestelik, en Christus was verhewe in ons midde. Nou word Hy belaster, gevloek, en uit ons skole en howe uitgewerp. Soveel as 150,000 lesbiërs en homoseksuele paradeer op een slag op ons strate en vertoon onbeskaamd hulle verdraaiings. Ons howe wettig die moord van miljoene ongebore baba’s – daar is baie bloed op ons hande. Ja, daar is steeds ‘n vokale Christen menigte – maar so min lewe in heiligheid en reinheid. Daar is baie lippediens aan die Here, maar baie min oorgawe en afsondering. Dit is ‘n land verdorwe deur hebsug, materialisme, wellus en geweld. Dit is ‘n kerk afvallig, swak en geplunder deur Satan. ‘n Laodicensiese beswyming het oor die hoerkerk gekom.

Kerk van God – word wakker! Ons mure het verkrummel! Die beskutting is verwyder. Die skild is weg! Ons is daardie land sonder reëlings en hekke. Dit is waarom selfs die kleinste en swakste van lande ons treiter en gyselaar hou. Ons vyande lag oor ons onbekwaamheid om op te tree. Amerika is nou ‘n onbemuurde land!

Elke jaar wat verbygaan, hoop die bewyse op dat God die beskutting verwyder het wat Hy eens rondom hierdie nasie gehad het. Droogtes het erger geword. Sprinkane vernietig ons gewasse. Oorstromings word meer in getal en meer vernietigend. Vulkane, lank dormant, ontplof nou. Vure versprei oor hele state. Storms word meer onheilspellend en dreigend. Vreemde siektes versprei en maak duisende dood. Nasionale en internasionale skuld hoop aanhoudend op. Handelsbalanse is skrikwekkend. Oral waar jy gaan, vra mense nou, “Wat gaan aan? Waarom soveel rampe? Waarom loop soveel dinge verkeer?” Die beskutting is af! Die skild is verwyder! Die mure verkrummel! Dit is die Here se werk – omdat hierdie land die verbond verbreek het met ‘n Heilige God!

Ek ontvang nou bykans daagliks boodskappe van dierbare gelowiges wat vir my sê, “Ons herders, ons ouderlinge, glo nie eens wat jy profeteer nie. Hulle sê jy is net ‘n oordeelsdagprediker wat mense probeer bang maak. Hulle sê jy het nie hierdie harde boodskap van die Here ontvang nie.”

Daarom staan die herders (hoewel daar min is) en die ouderlinge op voor die mense en gee hulle vertroostende boodskappe en gloeiende, vertroostende profesieë van vrede en seën. Een ouderling het geprofeteer, “Amerika sal nie geoordeel word nie, omdat ons bid! Ons sal nie moeilikheid of teenspoed sien nie. Vrees nie,” En die skare was mal daaroor – en het hardop hande geklap.

Ek hoef nie daarop te antwoord nie. Die profeet Jeremia het reeds. “Ook het die HERE al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat — maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie — met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu; en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie” (Jeremia 25:4-6).

Dit is die belofte as ons ons bekeer – almal van ons en ons afgode laat staan en ons wend tot die Here met ons hele hart. Maar daar is ‘n verdere boodskap van God wat hierdie profete van vrede en seën beter na moet luister – of hulle sal verantwoordelik gehou omdat hulle met rebellie raadgee en die oë van die ongehoorsames verblind. My Bybel sê daar sal geen vrede, geen seën wees nie, maar net teenspoed wanneer daar sonde en wederstrewigheid is. Ek gee nie om wat hulle profeteer nie – die Bybel sê dit:

“Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die HERE is vir hulle ’n smaad, hulle het daar geen behae in nie. Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE... Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie. Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp. Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek gooi struikelblokke voor hierdie volk waaroor hulle sal struikel, vaders en seuns tesame; die buurman en sy vriend sal omkom” (Jeremia 6:10,13,14,15,17,19,21).

“En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; en die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die HERE” (Jeremia 8:11,12).

Eségiël stels dit selfs sterker. Hoor dit – al julle profete wat roep, “Vrede, moenie onsteld wees nie, alles gaan goed, God is nie ‘n God van oordeel nie, maar slegs van genade.” “En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat profeteer, en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is: Hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE: Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie. Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope. Julle het in die bresse nie opgegaan nie en die muur nie gebou om die huis van Israel, om in die stryd pal te staan in die dag van die HERE nie. Hulle het nietigheid gesien en leuenagtige waarsêery, hulle wat daar sê: Die HERE het gespreek — terwyl die HERE hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord! Het julle nie ’n bedrieglike gesig gesien en leuenagtige waarsêery gespreek nie deurdat julle sê: Die HERE spreek, terwyl Ék nie gespreek het nie? Daarom, so spreek die Here HERE: Omdat julle valsheid gespreek en leuenagtige gesigte gesien het, daarom kyk, Ek het dit teen julle, spreek die Here HERE. En my hand sal wees teen die profete wat bedrieglike gesigte sien en leuens waarsê: hulle sal in die vergadering van my volk nie wees nie en in die boek van die huis van Israel nie opgeskryf word nie en in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die Here HERE is. Omdat, ja, omdat hulle my volk verlei het deur te sê: Vrede! terwyl daar geen vrede is nie; en as die volk ’n muur bou, kyk, dan bepleister hulle dit met los kalk; sê vir hulle wat met los kalk pleister, dat dit sal afval; daar sal ’n oorstromende stortreën kom; en julle, haelstene, sal val en ’n stormwind sal losbreek. En kyk, daar val die muur! Sal dan nie vir julle gesê word: Waar is die pleister waarmee julle gepleister het nie? Daarom, so spreek die Here HERE: Ja, Ek sal ’n stormwind in my grimmigheid laat losbreek, en daar sal ’n oorstromende stortreën kom in my toorn en haelstene in grimmigheid tot vernietiging. En Ek sal die muur afbreek wat julle met los kalk gepleister het, en dit op die grond gooi, sodat sy fondament blootgelê sal word; dan sal die stad val, en julle sal daarin omkom; en julle sal weet dat Ek die HERE is. En Ek sal my grimmigheid laat uitwoed teen die muur en teen hulle wat dit met los kalk gepleister het; en Ek sal vir julle sê: Weg is die muur! En weg is hulle wat dit gepleister het, naamlik die profete van Israel wat profeteer aangaande Jerusalem en vir hom gesigte van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie, spreek die Here HERE. En jy, mensekind, rig jou aangesig teen die dogters van jou volk wat as profetesse optree uit hulle eie hart, en profeteer teen hulle” (Eségiël 13:1-17).

Lees dit en sidder, heiliges van God! “En Ek sal die muur afbreek...En Ek sal my grimmigheid uitgiet teen die muur...Weg is die muur” (Eségiël 13:14,15). Hulle is leuenaars, sê Eségiël, wat vals profeteer weens geldelike redes. Om geld te laat aanhou vloei! Om offergawes aan te moedig! “En julle ontheilig My by my volk vir ’n paar hande vol gars en vir ’n paar stukke brood om siele dood te maak wat nie moes gesterf het nie, en om siele in die lewe te hou wat nie moes geleef het nie, deurdat julle my volk belieg wat na leuens luister. Omdat julle met leuens die hart van die regverdige droewig gemaak het — terwyl Ek hom geen smart aangedoen het nie — en die hande van die goddelose versterk het, dat hy van sy slegte weg nie sou terugkeer, om hom in die lewe te hou nie; daarom sal julle geen bedrieglike gesigte meer sien en geen waarsêery meer drywe nie; maar Ek sal my volk uit julle hand red, en julle sal weet dat Ek die HERE is” (Eségiël 13:19,22,23).

God het ‘n heilige oorblyfsel wat lewe in die verbond – beskut met ‘n muur van vuur!

Die Here het ‘n heilige volk in hierdie laaste dae – ‘n volk wat hierdie wêreld en sy begeertes laat staan. ‘n Volk afgesonder, heilig in hart, wat hulle gereed maak soos ‘n bruid wat wag vir haar bruidegom. Hierdie wêreld is nie meer hulle huis nie – hulle verlang om by Jesus hulle Here te wees. Hierdie wêreld het geen bekoring vir hulle nie – dit het sy houvas verloor. Hulle is nie vasgevang in die soeke na sukses, of geld, of voorspoed, of beroemdheid, of mag nie! Christus is vir hulle alles. Vir hulle het Christus self belowe dat Hy ‘n muur van vuur rondom hulle sal wees! “En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, ’n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in” (Sagaria 2:5).

Die oorblyfsel wat lewe in verbond, vlekkeloos, rein van hart, sal luister na die woorde van die wagte van die Here op hulle mure – en hulle sal verlos word van al die magte van die hel en die duisternis. “O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes — moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ’n lof op aarde! Die HERE het gesweer by sy regterhand en by sy magtige arm: Waarlik, Ek sal jou koring nie meer gee dat jou vyande dit eet nie, en uitlanders sal jou mos nie drink waarvoor jy gewerk het nie. Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die HERE prys; en hulle wat dit oes, sal dit drink in my heilige voorhowe” (Jesaja 61:6-9)

Ek sal jou nooit weer jou graan as voedsel vir jou vyande gee nie! God is steeds ‘n beskutting om die regverdiges.