Een Manier Om Jou Huis Te Red

David Wilkerson

“Laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word” (Handelinge 11:13,14).

Moet jou huis gered word, letterlik of geestelik, of beide? Is daar ‘n fisieke, geestelike of finansiële ramp wat voor jou deur staan en jou huis bedreig? Word jou huis verskeur deur twis, spanning, ‘n naderende egskeiding, rebelse kinders, ‘n benadeelde liefde of ‘n troebel verhouding? Is jou lewe, jou geloof, jou huwelik, jou huis in enige gevaar? Is daar ‘n behoefte vir ‘n ware wonderwerk van God of vir verlossing en saligheid?

Uit die pos wat daagliks by my kantoor instroom, is ek oortuig Satan probeer met al die slimstreke uit die hel om Christelike huise op enige moontlike manier te vernietig. Kinders word verlei en mislei deur demoniese versoekings. Talle huwelike is in groot moeilikheid, met egskeiding wat ‘n groeiende kanker is in die kerk. Al die berigte wat instroom van Christene wie se finansiële toestand desperaat is, het my gedring en in beroering gebring om te bid.

Nog nooit was Christelike huise onder meer spanning en druk as tans nie. Die fondamente van Christelike huise bewe – ‘n direkte gevolg van die morele en geestelik agteruitgang van ons samelewing.

Dit is ‘n voorwendsel om ‘n gebrek aan geloof, of onkunde oor sekere regte wat gelowiges nie opeis nie, die skuld te gee vir alles. Dit strek baie dieper as dit, en dit is ‘n saak van die grootste erns vir ons hemelse Vader.

Daar is een manier om ons huise te red. Dit is die enigste skriftuurlike manier wat ek kan sien, en dit word pragtig beskryf in hoofstuk 10 van Handelinge. Jy kan jou huis red op dieselfde manier waarop Cornelius sy huis gered het. Binne een dag, met een glorieryke wonderwerk, was sy hele huisgesin verander van geestelike blindheid tot wonderbare lig en lewe. God het sy huis ‘n private Pinkster geskenk wat die kerk in Jerusalem geskok het, die teologie van Petrus deurmekaargekrap het en die deur oopgemaak het vir die redding van die Heidense stam. Alles omdat een man vasbeslote was om sy huis te red.

Voor ek vir jou wys hoe Cornelius sy huis gered het, laat my jou vra of jy werklik joune wil red? Wil jy ‘n oop hemel en toegang tot die troon van God hê? Wil jy die een wees wat God gebruik om herlewing en bonatuurlike verandering vir jou hele huisgesin te bring?

Soms wonder ek of baie Christene werklik God ‘n nuwe werk wil sien doen in hule huise. Ons ontvang duisende gebedsversoeke van allerlei soorte, veral van huisvroue en grootouers, wat gebed vir hulle geteisterde huise vra. Onlangs, toe Gwen en ek gebid en bedroef was oor al die droewige probleme en hartverskeurende versoeke, het ek myself gevind vir die Here sê, “O God, hoeveel van hierdie dierbare Christene is desperaat genoeg om by U in hulle binnekamers af te sonder? Hoeveel is gewillig om net óns te laat bid, sonder dat hulle ure voor God se troon deurbring in voorbidding?” Ek ken baie wat ernstig bid, maar nie almal doen dit nie.

Té veel gelowiges wil vandag kortpaaie hê. Ons wil so min as moontlik tyd deurbring om te ween voor die Here. Ons wil nie vas en bid vir ure, terwyl ons in die aangesig van Jesus kyk en toeneem in krag en geloof om vestings neer te werp nie.

Ons bring nie genoeg tyd in God se heilige Woord deur om ons geloof te vernuwe nie. Ons bring ure deur om vasgenael voor die televisie god te sit en ons gees te ontwrig en ons huise oop te maak vir die mag van die duisternis. Ons gaan na die Bybel net lank genoeg om spesiale beloftes uit te soek wat ons kan opeis. Ons wil dit bloot noem en opeis, soos die broer wat gesê het, “Waarom al die gepraat oor vas en gebed? Dit word alles vir ons gedoen – praat van die werk van geloof, glo dit en dit is joune. Dit is so maklik.” Dit is bloot ‘n lui Christen se manier om ons Here se oproep tot heiligheid, voorbidding, gebed en vas te omseil. Ek kan dit bewys aan enige oopkop gelowige dat dit meer as ‘n oefening van die geloof is. Dit is meer as ‘n verstand- of woordspeletjie. Die lewe van Cornelius bewys dat God absolute toewyding, totale gehoorsaamheid en onophoudelike gebed soek.

Beskou die weë van hierdie toegewyde man van God wat gered is in sy huis en die wonderwerke wat sy toewyding teweeggebring het.

I. Cornelius het onophoudelik gevas en gebid

“En daar was in Cesaréa ’n man met die naam van Cornelius, ’n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling. Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God” (Handelinge 10:1,2).

As ek sê Cornelius het altyd gevas en gebid, bedoel ek dat hy so vasbeslote was vir hom en sy huis om in God se volheid in te kom, dat dit hom so desperaat gemaak het dat hy op die punt gekom het dat hy voedsel verwaarloos het, sodat hy God kon soek.

Kos was so sekondêr teenoor sy diep geestelike honger en verlange na God. Dae van vas sonder ‘n oorstemmende honger en dors na God rig niks uit nie – liewer eet as om vas te gebruik om seën uit hemel te probeer neertrek. Om ‘n maaltyd of twee te vas is die natuurlik reaksie van ‘n hart wat God nastrewe – honger vir Hom neem die begeerte na kos weg. Dit is bloot ‘n saak van jou aptyt verloor weens die diep innerlike smagting na ‘n aanraking van God.

Hierdie man behoort ons skaam te maak. Hy het geen bandopnames of kassette van leringe gehad nie; hy het nie eens ‘n leraar gehad nie. Hy was nie ‘n Joodse proseliet nie; hy was ‘n eenvoudige man, desperaat vir God, en dit wat hy self geleer het, was op die moeilike manier. Geen seminare, geen konferensies, geen hoe-om-dit-van-God-te-kry boeke nie. Hy het nog nie eens die Heilige Gees in hom gehad wat hom gedring het om te bid en God se aangesig te soek nie. Tog het hy altyd gebid en gevas.

Sy gebedslewe het hom ‘n gewer van aalmoese gemaak. God het nog nie sy gebed vir sy eie huishouding verhoor nie, tog het hy mildelik gegee aan almal in nood. Hy was nie so vasgevang in sy eie nood dat dit al sy tyd, aandag en geld geverg het nie.

Biddende manne kry altyd God se aandag. Hy het na God in gebed gegaan, en het “God na hom sien inkom en vir hom sê” (Handelinge 10:2,3). Die man wat bid, hoor God praat. Dit was so sedert Eden.

Daar is nie ‘n handjievol Christene wat vandag direk van God hoor nie. God se volk verander nooit. Die Israeliete het vir Moses gesê, “Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons” (Exodus 20:19). En God se volk het ver weg beweeg van God se heilige teenwoordigheid terwyl Moses nader gegaan het aan die dik wolk van duisternis “waar God was” (Exodus 20:21).

“Laat ons herder van God hoor,” was hulle uitroep. “Ons kan nie Sy ontsagwekkende teenwoordigheid hanteer nie,” het hulle gesê. So is dit vandag. God se volk het so ver van die binnekamer van God se teenwoordigheid af weggedwaal dat hulle ‘n “ster” middelaarskap geskep het. Sterpredikers, leraars en evangeliste, vir wie jy kan skryf en vir voorbidding, gebed en leiding vra. Mense weet blykbaar nie dat rekenaars nie kan bid nie.

Dit is heeltemal skriftuurlik om die gebedsondersteuning te soek van twee of drie biddende Christene wat glo. Maar nie totdat jy met vrymoedigheid na die troon van genade gegaan het om hulp, genade en barmhartigheid te ontvang in jou uur van nood.

Laat my vir jou presies sê waarom so baie Christene nie hulle gebede beantwoord kry nie en waarom hulle huise in soveel diepe onrus is nie. Hulle is afgestomp deur hulle probleme – so oorweldig dat hulle net gaan sit en huil en rou bedryf. In frustrasie parkeer talle hulleself voor die televisie en hoop om hulle gedagtes van die lyding te laat vergeet. ‘n Bedwelmende lusteloosheid kom oor hulle en hulle word beset deur hulle probleme.

Ons almal weet waar die antwoord lê! Ons weet gebed is die enigste manier om ons huise te red en al ons probleme op te los. Nie ‘n vinnige gebedjie nie, nie lui gebed nie, maar die uitstort van die hart in gebroke berou voor Sy heilige teenwoordigheid.

Ons het die Heilige Gees wat voortdurend in ons sug, ons bearbei, en ons roep om in die binnekamer af te sonder en die Koning van die Hemel te aanbid. Ons weet dat in Sy teenwoordigheid is volheid van blydskap, genade en barmhartigheid om gehelp te word in die uur van nood, ‘n horende oor en ‘n alsiende oog. Dan waarom – o – waarom bid ons nie?

God se kinders hardloop heen en weer na groot byeenkomste en seminare om leraars te hoor wat eenvoudige oplossings en maklike formules aanbied om wonderwerk te laat gebeur. Ek ken mense wat vir twee tot sewe volle dae vir ure kan sit en luister na preke oor God, maar nie vir twee ure ‘n dag met Hom kan praat nie. As ons ophou rondhardloop en vir onsself leraars bymekaarmaak wat ons ore streel en liewer afsonder met God vir ‘n dag, sal ons ware wonderwerke sien en die verandering van hele huishoudings.

Huwelike sal herstel word! Ons het nie ‘n mens-tot-mens probleem nie, net ‘n mens-tot-God probleem. Ons het vreemdelinge vir God geword; ons het huisgodsdiens in ons huise geïgnoreer en verwaarloos; en God het ons oorgelaat aan ons dwase planne.

Dit is tyd om eerlik te raak, heiliges van God. Daar gaan niks anders as voortdurende nederlaag, rusteloosheid en oneindige probleme wees nie, tensy ons God vra om vir ons ‘n honger terug na Hom te gee; tensy ons weer leer om al ons probleme uit te stort in die binnekamer; totdat ons slegs op Hom steun; totdat ons in Sy heilige teenwoordigheid bly; totdat ons ons eie antwoorde van God af kry.

Ons gaan nie ons huise red met halfhartige gebede of deur een of ander soort opgepompte vleeslike geloof nie. Ons Verbondsgod tree nie op ter wille van diegene met ‘n verdeelde hart nie, wat speel met boesemsondes nie; Hy werk sy krag slegs deur die doeltreffende, vurige gebed van heilige gelowiges.

Duidelike, gedetailleerde leiding deur gebed

Die duidelik en gedetailleerde leiding wat Cornelius ontvang het van God is opwindend om te lees. “Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by ’n sekere Simon, ’n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen” (Handelinge 10:5,6).

Terselftertyd, het ‘n ander biddende man, Simon Petrus, ‘n visioen van die Here gekry om hom gereed te maak om na die huis van Cornelius te gaan om verlossing te bring.

God werk oral wanneer Sy mense begin om ernstig te bid. God het ontelbare dienende engele; Hy het die waens en die leërskares van die hemel; Hy het die krag en majesteit in die hemel en op die aarde; Hy spreek die woord en dit gebeur; en niks kan Sy volmaakte wil weerstaan nie. Al waarvoor God wag, is ‘n hart wat op Hom gerig is. ‘n Hart wat met Hom kommunikeer; volkome toegewy aan Hom; ‘n hart wat Hom aangryp, ‘n hart nie net op Hom gerig nie, maar afgesonder is slegs vir Hom.

Gebedskrygers hoef nooit van hulle geestelike gesag afstand te doen aan iemand anders nie. Hulle hoef nooit hoed in die hand na ander te gaan en smeek vir leiding nie. Hulle self is in die realm van ‘n geopende hemel, en hoor daagliks van hulle Here.

Toe ek ‘n kind was, onthou ek van heiliges van God wat gepraat het van “die horings van die altaar vasgehou” (1 Konings 1:50,51). Deur die horings van die altaar vas te gryp, het Israel hulleself onder die beskerming van die reddende, helpende genade van God gebring. Die altaar was ‘n plek van beskutting, sowel as offergawes, en oortreders wat hierdie horings vasgegryp het, was veilig van alle skade. Selfs Koning Salomo kon nie die vergryper Adonia doodmaak toe hy in die huis van God ingehardloop het en daar die horings van die altaar vasgegryp het nie.

Daar is ‘n plek van beskutting en veiligheid, ‘n plek van genade en verlossing. Dit is die altaar! Maar soos in die dae van Elia, is ons altare afgebreek. Die enigste altaar in talle huise vandag, is ‘n afgod – ‘n televisiestel, waarop hulle baie kosbare ure offer. Moeder, as jy regtig jou huishouding gered, genees en verlos wil hê, waarom sit jy en kyk na daardie bose sepieprogramme? Waarom mors jy God se kosbare tyd deur sulke gruwels soos Dallas, Knotts Landing, Dynasty en al die ander verskriklike goddelose programme te kyk? Pa, jy sê jy wil hê God moet vir jou ‘n wonderwerk vir finansies uitspreek – jy het nodig dat iets binnekort gebeur. Waarom raak jy dan nie desperaat voor God nie? Het jy tyd vir sport, stokperdjies, rus? Waarom, as dit so kritiek is, hou jy nie op daarmee, stop alles en wag op God in jou binnekamer nie? Waarom kan ons nie besef niks gaan gebeur nie, niks gaan verander nie, dit sal net erger word, tensy ons terugkeer na God in passievole gebed en hertoewyding.

II. Cornelius was gereed om alles te gehoorsaam wat hom beveel was.

“Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is” (Handelinge 10:33).

Nie ‘n woord wat God vir hom en sy familie gehad het, was op die gebied van seën, rykdom, gesondheid, kragte of gawes nie. Dit was nie, “Vertel vir ons wat God vir ons kan doen. Vertel vir ons van al die gawes van die Heilige Gees wat uitgestort is in Jeruslem. Vertel vir ons hoe om suksesvol, voorspoedig en gesond te wees” nie. Nee, al wat hy wou hoor, was, “Wat verwag God van ons op die gebied van gehoorsaamheid?” En, “Wat word beveel?”

Saulus het dadelik na sy bekering uitgeroep, “Here, wat wil U hê moet ek doen?” Hierdie vroeë Nuwe Testament gelowiges was meer geïnteresseerd om te weet wat hulle verantwoordelikhede was teenoor God as om te leer hoe om iets vir hulleself te kry van Hom. Gehoorsaamheid was van groot belang vir hulle. Die woorde van Jesus was nog vars in hulle gedagtes, “As julle My liefhet, sal julle My gehoorsaam.” Gehoorsaamheid was die vrug van liefde vir Hom.

Hoeveel van ons kan bid soos Cornelius gebid het, vir homself en vir sy hele familie? Kan ons in die binnekamer van gebed ingaan, alle beloftes, alle versoeke vir seëninge en goeie dinge eenkant toe skuif en oopmaak vir God om vir ons ‘n openbaring van wat ons verantwoordelikhede teenoor Hom is te gee? As Hy vir ons sê, ons as ouers, is verantwoordelik om alle afgode af te breek, insluitend die televisie, sodat ons huise gered kan word van verdorwenheid, sou ons dit doen? Waarom bid vir God se beskerming oor jou familie, veral jou kinders, wanneer ons hulle laat sit voor so ‘n afgod en hulle gedagtes gerig word op kwaad, onder jou eie toesig?

Wat as die Heilige Gees jou oortuig om op te hou met alle geskinder, alle hoor en oorvertel van die mislukkings van ander – en met die reiniging van jou lippe sou Hy oor jou huis skyn met groot vrede en blydskap – sou jy gehoorsaam wees?

Cornelius het sy familie laat sit, Petrus in die oë gekyk en gesê, “Ons as ‘n familie wil weet wat ons moet doen om ons huis te red – wat God beveel.” Hoe vinnig het God opgetree om daardie soort gebed te verhoor, trouens so vinnig dat Petrus nooit sy preek klaargemaak het nie – die Gees van God het in die middel van hierdie boodskap geval.

Petrus het dit baie duidelik gemaak dat Jesus Christus “deur God bestem is as Regter van lewende en dode” (Handelinge 10:42). Hy het in wese gesê, “Christus het nie net die sondes van Sodom en Noag se spotters geoordeel nie – maar Hy is die Regter van jou sondes. So bekeer jou en glo en word gered.”

Trouens, ons sondes verhinder ons gebed om verhoor te word. Sonde in ons veroorsaak dat Hy Sy gesig verberg. Jesaja het gewaarsku, “maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:2). Ons het vergeet Hy is ons regter aan wie ons moet antwoord; ons kies om Hom te sien as ‘n goedhartige gewer van goeie dinge. Ons fokus slegs op Sy ewigdurende goedheid en genade, terwyl ons Sy opdrag deur die Vader om ons regter te wees ignoreer. Die Gees wil hê ons moet ons verneder in die Here se teenwoordigheid, om vir ons die sondigheid van ons ongeregtighede te wys, om Christus te openbaar as die heilige, ontsagwekkende Regter voor wie ons almal eendag rekenskap sal moet gee. “Want ons almal moet voor die regterstoel van Christus verskyn.”

Ons kan ons huise red deur ons harte daarop in te stel om die Here ten alle koste te gehoorsaam. Terwyl ander na Hom gaan slegs om geseën te word, moet jy na Hom gaan om te luister. Met oop ore en ‘n gewillige hart, sal God sy wil openbaar, Hy sal vir jou wys wat nodig is van jou kant af, en jy kan gehoorsaam wees en die weg gereed maak vir die ware herstel en herlewing in jou huis.

III. God het die huis van Cornelius gered deur ‘n uitstorting van die Heilige Gees te stuur.

“En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het... hoe hulle in tale spreek en God groot maak” (Handelinge 10:44-46).

Dink daaraan, ‘n private Pinkster, wat neerdaal op ‘n hele huishouding met almal wat daar opgelig word tot in die hemel. Dit was wonderbaarlik; die lofsange was opwindend; die hele huisgesin, alle familie en kinders was gered en gevul met God se Heilige Gees. Alles net omdat een man sy hart daarop ingestel het om God te soek totdat ‘n antwoord kom.

En hier sit ons, in die dag van die uitgestorte Heilige Gees, met min of geen bewyse van Sy werking en teenwoordigheid in ons huis nie. Dit is skrikwekkend maar waar, baie van ons Christen huise is nou onder die beheer van die gees van die wêreld, eerder as die Gees van God. Waar die Gees van die Here is, daar is eenheid. Waar Hy woon, is daar rus en vrede; daar is onuitspreeklike blydskap en ‘n sin van oorwinnig oor sonde en die duiwel.

Ons moet die geestelike gesag in ons huise terugneem. As ‘n Christen man en vrou nie in totale eenheid saamvloei in die Gees en liefde van Jesus nie, is daar ontsaglike gevaar wat voorlê. Een of beide lewe nie in die Gees nie. Wanneer beide God soek in private gebed en toewyding aan God, werk die Gees Sy wonderwerke en bring hulle in dieselfde opstandingsrealm.

In die afgelope maande, maak die Heilige Gees mans, vroue en grootouers wakker en roep gelowiges terug na ‘n dieper wandel in die Gees. Daar is ‘n reiniging wat oral plaasvind, met die Gees wat arbei in huise en trane van bekering en ‘n toenemende honger vir werklikheid terugbring.

Mense word moeg vir al die godsdienstige speletjies, moeg om slagoffers gemaak te word van demoniese magte, moeg vir al die leë plesiere en onbevredigende materialisme. Duisende Christene wat nou aan die brand is vir God, gooi hulle TV-stelle weg en gaan terug om die Here met erns te soek. Hulle werp al hulle afgode neer en verander hulle huise terug na tempels van die Heilige Gees.

God doen iets nuuts in die land tans. Iets so magtig, so bonatuurlik dat dit die hel terroriseer. Die Heilige Gees het gekom om ‘n volk af te sonder vir die Here. Om suksesvol te wees, is nou nie naastenby so belangrik as om van God te hoor nie. Voorspoed vir hierdie nuwe gedoopte heiliges, beteken om Jesus te soek op ‘n nuwe en lewende manier. Huise, grond, meubels, karre, klere – al hierdie dinge het hulle bekoring verloor vir ‘n volk nou passievol verlief op die Here van die Hemel. Die Heilige Gees het gekom om Christus as die Verlosser van ons gesinne – van ons huishoudings - te openbaar.

Ek sien in die geestelike wêreld in en sien duiwels vlug; ek sien magte van die duisternis bewe; ek sien ‘n bedroefde duiwel – omdat God se ware kerk, eens ‘n sluimerende reus, deur die Heilige Gees opgewek is om homself wakker te skud, op te staan en sy plek van mag en gesag op te eis.

Hele huisgesinne, hele kerke, hele bedienings word onderstebo gekeer. God sê, “Raak ernstig! Raak dood ernstig oor geestelike dinge of word uitgelaat!” Van dwarsoor die wêreld hoor ek van bedienings was sê, “Ek was nog nooit hongerder vir God, meer gebroke en in nood nie! Ek soek die Here vir algehele vernuwing! Ek wil deel wees van wat God doen!”

Ek doen ‘n beroep op elke kind van God wat hierdie boodskap lees – BID! Bid vir reiniging! Bid vir nuwe krag oor sonde. Bid vir ‘n vars salwing op jou van die Heilige Gees. Bid vir die uitstorting van die Heilige Gees op jou huis. Bid vir ‘n groot en heerlike uitstorting van God se Gees op jou herder en op jou kerk.

As ons ooit ons huise gaan red, is dit nou of nooit! God gee vir ons ‘n ultimatum om terug te keer na Sy altaar, terug na nederigheid en bekering. Ons kan ons huise slegs red deur gebed, gehoorsaamheid en ‘n vars uitstorting van die Heilige Gees.

Hoor die stem van die profete!

*Hoséa – “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ’n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën” (Hoséa 10:12).

*Amos – “Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:6-8).

*Obadja – “Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal ’n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem” (Obadja 1:17).

*Nahum – “Die HERE is goed, ’n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil” (Nahum 1:7).

*Sefánja – “En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie” (Sefánja 1:12).

*Maleági – “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie. Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die HERE van die leërskare” (Maleági 4:1-3).