Die Enigste Manier Om Heilig Te Word

David Wilkerson

Die Bybel leer ons dat ons geroep is om heilig te wees “soos God heilig is.” Hoe word ons egter in God se oë heilig gemaak?

Dink aan Petrus se woorde: “Maar soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar gekrywe is, Wees heilig, want Ek is heilig" (1 Petrus 1:15–16, kursief myne).

Lees nou die volgende woorde van Paulus: “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld, om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees" (Efésiërs 1:4, kursief myne). "Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking" (1 Thessalonicense 4:7).

Paulus maak dit duidelik in hierdie laaste vers: God het ons nie net geroep tot redding, of om hemel toe te gaan, of om sy vergifnis te ontvang nie. Al hierdie dinge is die voordele van ons een ware roeping. En dit is om heilig te wees soos die Vader heilig is.

Elke gelowige in die kerk van Jesus Christus is geroep om heilig te wees soos Christus heilig is. Eenvoudig gestel, dit beteken om rein en onberispelik in God se oë te wees.

“Maar dit is onmoontlik,” sê jy. “Is ek regtig veronderstel om net so heilig te wees as wat Jesus was? Hy was vlekkeloos, onskuldig en volmaak. Hoe kan enigeen daardie standaard bereik? Buitendien, sê die Bybel nie, ‘Daar is niemand so heilig soos die Here nie’?”

Dit was die ware doel van die wet — om vir ons te wys dat dit onmoontlik is om God se standaard van heiligheid te bereik. Geen hoeveelheid menslike wilskrag, mag of vermoë kan iemand heilig maak nie.

So, as niemand behalwe die Here heilig is nie, hoe word ons waarlik ‘n heilige volk?

Christus se heiligheid het ons heiligheid geword.

God erken net een persoon as heilig: Jesus Christus, ons Verlosser wat alleen in volmaakte heiligheid staan. Omdat Jesus alleen heilig en volmaak is, sal God geen ander persoon erken nie. Daarom moet ons in Christus wees as ons ooit deur die hemelse Vader aanvaar wil word. Ons staan voor Hom enkel en alleen deur die genade van Christus en nie op ons eie meriete nie.

“En albei in een liggaam met God versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het" (Efésiërs 2:16). "Deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep" (Efésiërs 2:15).

As gevolg van Christus se werk aan die kruis, hoef die mens nie langer te probeer om heilig te wees deur God se wet te onderhou nie. Hy kon nie deur goeie werke, regverdige dade of enige menslike poging heilig word nie. In plaas daarvan, het die Vader een man as heilig aanvaar: die nuwe, opgestane Mens.

En toe hierdie nuwe Mens almal wat in Hom glo aan die Vader voorgestel het, het die Vader gereageer: “Ek ontvang hulle as heilig, omdat hulle in my Seun is.” “Waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde" (Efésiërs 1:6).

Hierdie heilige, onberispelike Mens het ‘n liggaam. En ons is deel van daardie liggaam. “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik" (1 Korinthiërs 12:27). Ons is gemaak been van Christus se been en vlees van sy vlees. En ons is in sy familie aangeneem: “So is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen lede van mekaar" (Romeine 12:5).

Dit is die belangrike deel: Omdat ons in Christus is, is ons heilig gemaak. "As die wortel heilig is, dan die takke ook" (Romeine 11:16). "Ek is die wynstok, julle die lote" (Johannes 15:5).

Jy sien, heiligheid is nie iets wat ons kan bereik of waarvoor ons kan werk nie. Dit is eerder iets wat ons glo deur geloof en vertroue in Jesus se werk. God aanvaar ons net as heilig as ons geloof in Christus het en in Hom bly deur die Heilige Gees. Ek herhaal: Die pad na heiligheid is nie deur menslike vermoë nie, maar deur geloof in ons Here Jesus Christus, wat dit namens ons bereik het.

Wat ‘n wonderlike oplossing vir die angstige smekinge van die menigtes wat daarna dors om heilig te wees. Ons is heilig as ons in Christus se heiligheid rus! Ons heiligheid is sy heiligheid — dit vloei na ons, die takke, van die wortel af.

Hierdie leerstelling van heiligheid was egter nie altyd die praktyk van die kerk nie. Dikwels is aan heiligheid gedink as iets in terme van uiterlike optrede. Om hierdie onderwerp beter te verstaan, wil ek jou terugneem na die Ou Testament en die vertelling van Moses by die brandende bos.

Moses het ‘n bos gesien wat helder gebrand het soos met vuur, maar sonder dat dit verteer was.

Moses was alleen op die berg Horeb waar hy sy skoonpa se skape opgepas het, toe hierdie vreemde verskynsel sy aandag getrek het. Terwyl hy nader gestap het om beter te kan sien, het God hom vanuit die bos geroep.

“En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die Here sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos" (Exodus 3:3–4).

God was in die bos teenwoordig. Dit is waarom dit gebrand het, maar nie verteer was nie. Dit was ‘n visuele voorstelling van God se heiligheid. (Inderdaad, waar die Here ookal teenwoordig is, is die plek heilig.)

Toe het die Here vir Moses gesê, “Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig" (Exodus 3:5). Die meeste van ons lees oor hierdie vers sonder om die geweldige diepte van die betekenis te verstaan. En dit het alles te doen met hoe om heilig te wees.

Jy sien, Moses was op die punt om geroep te word tot God se ewige doel vir sy lewe. Daardie doel was om Israel uit slawerny te verlos. Maar eerstens moes God vir Moses die grond wys waarop Hy, die Here, genader moet word. Dit moet heilige grond wees. Kortliks, Moses was geroep tot ‘n aangesig-tot-aangesig kommunikasie met ‘n heilige God, en hy moes behoorlik daarvoor voorberei word.

Moses het gevrees terwyl God met hom gespreek het: “Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien" (Exodus 3:6). Waarom het hy gevrees? Dit was omdat hy ‘n openbaring gekry het van die ontsagwekkende heilige grond waarop God genader moet word!

Die Nuwe Testament bevat ‘n ooreenstemmende vers: “Sodat geen vlees voor Hom sou roem nie" (1 Korinthiërs 1:29).

Hierdie vers van Paulus is nie net ‘n Nuwe Testamentiese waarheid nie. Dit was ook in Moses se tyd waar. Moses kon nooit God se volk in sy eie krag verlos nie. Hy moes eens en vir altyd, vir homself weet dat God se werk nie deur menslike vermoë bereik kan word nie, maar deur totale vertroue in en afhanklikheid van die Here.

Ons weet almal dat God Israel bonatuurlik sou red. En hier by die brandende bos, was Moses voorberei om God te vertrou om daardie glorieryke werk te volbring. Hy sou iets van God se natuur leer wat hom later sou help om die Here te vertrou om alles tot stand te bring. Wat was die aspek van God se natuur? Sy heiligheid.

Dieselfde is waar vir elke Christen vandag. Ons mag probeer om in die vlees te bereik wat ons dink God wil hê. Maar die Here sê vir ons, net soos Hy vir Moses gesê het, “Daar is net een grond waarop jy My kan nader en dit is heilige grond. Jy kan nie enige vertroue in jou vlees plaas nie, omdat geen vlees in my teenwoordigheid sal kan staan nie. My doelwitte word nooit bereik deur dit wat jy in jouself tot stand kan bring nie.”

Waarom het God vir Moses beveel om sy skoene uit te trek? Waarom die fokus op Moses se voete?

Die Here het ‘n alledaagse, gewone voorwerp gebruik om ‘n geestelike waarheid te leer, net soos Jesus geldstukke, pêrels, kamele en mostertsade sou gebruik. God het gesê, “Moses, jy moet beskermende drag dra om jou voete teen beserings te beskerm. Maar geen hoeveelheid vleeslike beskerming kan jou bewaar op die sending waarop Ek jou stuur nie. Jy sal ‘n wonderwerk van verlossing nodig hê.

“Ek stuur jou na Egipte, daardie yster-smeltoond, om ‘n geharde diktator aan te vat. Jy sal in ‘n situasie wees waaruit net Ek jou kan verlos. So, plaas alle vertroue op jou vlees eenkant, selfs jou sagmoedigheid en nederigheid. Anders sal jy nie kan uitrig wat Ek jou roep om te doen nie. Al jou vermoëns sal nutteloos wees as Ek dit nie heilig nie. Plaas jou algehele vertroue in my Naam en mag.”

Moses sou allerhande soorte beproewings trotseer. Hy was op die punt om 3 miljoen mense in die woestyn in te lei waar daar geen kruidenierswinkels, klerewinkels of selfs ‘n put met water was nie. Hy sou op God moes vertrou om alles bonatuurlik te voorsien.

Laat ons onthou dat Moses reeds probeer het om in die krag van sy vlees as ‘n verlosser op te tree. Veertig jaar tevore, het hy ‘n swaard in sy hand geneem en ‘n wrede Egiptiese slawerdrywer doodgemaak. Nou het God hom gewaarsku, “Moses, jou ywer moet geheilig word anders sal dit jou vernietig. Is jy gewillig om jou swaard neer te lê en op my woord van leiding te vertrou? Sal jy enige hoop om ‘n verlosser in jou eie krag te wees, neerlê? Sal jy My liewer vertrou om jou te lei om my wil uit te voer?

Die heiligheid wat God van ons vereis, is ver bo die bereik van alle menslike krag.

Niemand kan heiligheid in God se oë deur sy eie krag of wilskrag bereik nie. Ons kan nie eers die Here behoorlik dien sonder om die benadering te gebruik wat vir Moses uiteengesit is nie. Ons moet na God kom terwyl ons sê, “Here, ek het niks om U te bied nie. U moet alles doen.”

Dit is moontlik vir iemand om ontslae te wees van alle wellus en elke bose begeerte en steeds nie heilig te wees nie. Jy kan ‘n wonderlike persoon wees, ‘n liefdevolle maat, opreg en eerlik, en steeds nie heilig wees nie. Al ons menslike goedheid is soos ‘n besoedelde kleed in God se oë.

Baie van ons dink steeds, “As ek tog net oorwinning oor hierdie laaste ding in my lewe kan kry, sal ek heilig wees.” Daarom neem ons die swaard van wilskrag en goeie voornemens op en besluit om die vyand van ons hart dood te maak.

Geliefde, dit sal nooit gebeur nie. Dit is alles ‘n ydele poging om te oorwin. Ons kan nooit heilig wees terwyl ons op die grond van eie geregtigheid staan nie.

In der waarheid, jy en ek kyk na dieselfde brandende bos as Moses. En God sê aan ons dieselfde as wat Hy aan Moses gesê het, “Jy kan nie voor My op daardie soort vleeslike grond staan nie. Daar is net een grond waarop Ek genader kan word. Dit is geloof in my Seun en sy werk aan die kruis.”

Ons almal het gesien dat God selfs die slegstes van die mensdom kan red. Ons kan kyk na die slegste dief, moordenaar, dwelmverslaafde of alkolis — mense wat glad nie goeie werke het nie — en met vertroue van hulle sê, “Deur bekering en geloof is hulle in Jesus regverdig gemaak.”

Dit is die ware, reddende krag van God. Tog is daar baie Christene wat lewe asof hulle eie pogings en strewes goed genoeg is vir heiligheid. Op die Oordeelsdag sal hulle in hulle vlees voor God staan en sê, “Kyk na alles wat ek vir U gedoen het, Here. Ek het daagliks gestrewe om rein en heilig te wees. Ek het geprofeteer, die armes kos gegee, die siekes genees en duiwels uitgedryf. En ek het dit alles gedoen om U te behaag.”

Maar God sal jou antwoord, “Ek het jou nooit geken nie — omdat jy nooit op behoorlike grond gestaan het nie. Jy het nooit jou skoene uitgetrek en jou vertroue in jou vlees eenkant geplaas nie. Jy het al hierdie dinge nie deur die krag van my Gees gedoen nie. Jy het dit alles in jou eie krag gedoen. En dit is minagting van my Seun se werk aan die kruis. Ek aanvaar net een geregtigheid — van een Man wat Ek ag. Dit maak jou vleeslike werke ‘n stank in my neus.”

Daar is net een vraag wat ons almal voor daardie dag moet vra: “Wanneer Ek voor die Here staan, sal Hy die Seun in my sien? Sal ek heilig in Christus wees?”

“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem" (1 Korinthiërs 1:30–31).

In wese sê Paulus, “God sal nie toelaat dat enige mens in sy eie werke roem nie. Ons kan Hom slegs verheerlik deur sy Seun, wat elke dag ons wysheid en geregtigheid en heiligheid word.”

Daar is net een grond waarop ons heilig gemaak word: totale en algehele vertroue in Christus.

Wanneer ek van algehele vertroue in Christus praat, bedoel ek nie net in sy reddende krag nie, maar ook in sy bewarende krag. Ons moet sy Gees vertrou om ons te bewaar en ons te verander na Jesus se beeld.

Dink aan jou eie getuienis. Eens was jy vervreemd en afgesny van God deur slegte dade. Watter goeie dade het jy gedoen om dinge met Hom reg te maak? Geen! Niemand was al ooit in staat om homself te red nie.

Net so was niemand nog ooit in staat om homself heilig te maak of heilig te hou nie. Ons word daagliks in Christus se heiligheid ingebring deur geloof alleen, terwyl ons vertrou op wat God se Woord sê: As jy in Christus is, is jy heilig soos wat Hy heilig is.”

“Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onbersipelik voor Hom te stel; as julle ten minste in gegrond en vas bly in die geloof" (Kolossense 1:21–23).

Let op die frase, “As julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof.” Jesus sê, “Hou aan om op My te vertrou deur in geloof te lewe. Ek sal jou as rein, foutloos, onberispelik en heilig aan my Vader voorstel.”

Geliefde, dit is alles die heiligmakende werk van die Heilige Gees. Soos die Gees jou bemagtig om die werke van die vlees dood te maak, sal Hy jou lei deur sy oortuiging en vertroosting.

Daar is net een heiligheid: Christus s’n. Daarom is nie een gelowige heiliger as ‘n ander nie. Daar is nie grade van heiligheid nie, net grade van volwassenheid in Christus. Jy kan ‘n nuwe Christen wees en steeds heeltemal heilig in Christus wees. Dit is dwaas om jouself teen iemand te meet wat jy as “heilig” ag. Ons word almal deur een standaard gemeet, die heiligheid van Christus. En as ons in Hom is, is sy heiligheid ons s’n in dieselfde mate.

Jy mag nooit weer na ‘n ander Christenleier kyk en sê, “O, ek wens ek was so heilig soos hy!” nie. Jy mag dalk nie daardie persoon se dissipline in sy gebedslewe hê nie. Jy mag dalk meer dikwels sukkel en meer foute as hy maak. Maar hy is nie meer aanvaarbaar by die Vader as jy nie. Jy mag jouself aan niemand meet nie, omdat niemand meer geliefd in die oë van die Vader is as jy nie!

Liewe heilige, trek jou skoene uit. Verwyder enige vertroue op die vlees. Dit is die grond waarop jy moet lewe: “Ek eis my heiligheid, wat in Christus Jesus is, af. Ek is deel van sy liggaam. En my Vader sien my as heilig omdat ek in Hom bly.” Amen!