GRYP GOD AAN MET GELOOF

David Wilkerson (1931-2011)

“Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). Waarom sou Jesus so ‘n vraag vra? Dit dui op gebrek aan geloof, nie net by die wêreld se mense nie, maar onder God se kinders.

Geloof is een van die mees bespreekte onderwerpe in die kerk. Groot werke word gedoen en massiewe projekte word onderneem, alles in die naam van geloof. So, wat bedoel Jesus deur te vra, “Wanneer die basuin uiteindelik blaas, sal Ek enigsins geloof vind?” Ons kry ‘n ontnugterende leidraad in Hebreërs: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:12).

Een van die bekendste gevalle van ongeloof, word gevind in die storie van Sagaría, die vader van Johannes die Doper. Hier was ‘n toegewyde, goddelike priester wat gely het weens één episode van ongeloof. Die Skrif sê Sagaría was “regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel” (Lukas 1:6). Hy het getrou bedien en was ‘n gerespekteerde, getroue dienskneg, maar toe die engel Gabriël die boodskap gebring het dat hy ‘n seun sou hê, was Sagaría vervul met twyfel en hy het toegegee aan ongeloof. God was nie tevrede met Sagaría se ongeloof nie en Hy het hom met stomheid geslaan: “En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie” (Lukas 1:20).

Slegs één sonde het Israel uit die Beloofde Land uitgehou – ongeloof! “Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie” (Hebreërs 3:19). “Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie” (Hebreërs 4:11).

Ons God het ontsaglike beloftes aan ons gemaak en Hy begeer dat ons Hom by daardie beloftes hou. Ek moedig jou aan om besit te neem van sy wonderlike Woord en in sy beloofde rus in te gaan. Dan sal jou lewe ‘n skitterende getuienis wees vir hierdie geslag.