DIE BLYDSKAP OM GOD SE AANGESIG SOEK

David Wilkerson (1931-2011)

“Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Psalm 27:4).

Dawid getuig, “Ek het een gebed, Here, een versoek. Dit is my belangrikste doel in die lewe; dit verteer my en ek sal daarna soek met alles wat in my is.” Moenie ‘n fout maak nie, Dawid was nie ‘n askeet, wat die buitewêreld vermy en weggekruip het in ‘n eensame woestynplek nie. Nee, Dawid was ‘n passievolle man van aksie, ‘n groot kryger, met groot skares wat gesing het van sy oorwinnings tydens oorloë. Hy was ook passievol in sy gebed en toewyding, met ‘n hart wat na God gesmag het. Die Here het Dawid geseën met baie van die begeertes van sy hart en hy het alles gesmaak wat ‘n mens in die lewe sou wou hê: rykdom, krag en gesag, respek en bewondering. Boonop was hy omring deur getroue manne wat gewillig was om vir hom te sterf.

Die belangrikste van alles, Dawid was ‘n aanbidder, ‘n man wat God geloof en geprys het en Hom gedank het vir al sy seëninge. Toe Dawid gebid het dat hy in die huis van die Here mag bly al die dae van sy lewe, het hy nie bedoel om sy troon te verlaat om in die fisiese tempel van God te gaan woon nie. Nee, sy hart het gesmag na iets wat hy in die gees gesien het. Hy het kortliks gesê, “Daar is ‘n prag, ‘n heerlikheid, ‘n opgewondenheid oor die Here wat ek nog nooit in my lewe beleef het nie. Ek wil weet hoe dit is om ononderbroke gemeenskap met my God te hê. Ek wil hê my lewe moet ‘n lewende gebed wees.”

Toe Dawid vir die Here gevra en gebid het, “Hoor, o HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my” (Psalm 27:7), het God met hierdie eenvoudige woorde geantwoord, “Soek my aangesig” (27:8). Dit is die sleutel! Soos jy God se aangesig soek, sal Hy jou bring tot voortdurende, ononderbroke gemeenskap met die Christus van glorie.