SONDER OORSAAK GEHAAT

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het gesê Hy het gekom om die verlorenes te soek en te red. Dit was dieselfde Een wat mag gehad het om die winde en golwe te onderwerp, maar Hy het as ‘n nederige dienskneg gekom. Die evangelies sê vir ons Hy het geduldig geluister na die mense se hartverskeurende geroep. Menigtes het by Christus gepleit om hulle te verlos van al hulle verdrukkings en Hy het hulle behoeftes aangespreek. Hy het die siekes genees, die blinde oë geopen, dowe ore oopgemaak, stom tonge losgemaak, en baie kreupeles laat loop. Jesus het gevangenes vrygemaak van alle vorme van verslawing – Hy het selfs die dooies opgewek.

Niemand het nog ooit die mensdom meer liefgehad as Jesus nie; Hy het geween oor die menigtes voor Hom, en hulle as verlore skape gesien wat ‘n herder nodig gehad het. Trouens, niemand in die geskiedenis sou meer geëerd, gerespekteerd en geliefd wees as Jesus Christus nie. Hy het werke van deernis gedoen aan die mense wat Hy teëgekom het; Hy het geween oor die wêreld se geestelike blindheid en sy lewe vir almal uitgestort. Maar ten spyte van die dinge wat Jesus gedoen het, het die wêreld hom sonder oorsaak gehaat.

Wat het Jesus gedoen dat Hy so verag was, beide in sy eie tyd en vandag? Eenvoudig gestel, die wêreld het Hom gehaat omdat Hy as ‘n lig gekom het om almal van duisternis te verlos. Hy het gesê:  “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). Jesus het ook vir ons gesê, “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie” (Johannes 3:20).

Jesus het belowe om mense van hulle boeie van duisternis te verlos en ook om mense oral vry te maak van alle sataniese magte. Maar, wat ons as Christene egter as ‘n heilige gawe van verlossing en vryheid sien, word deur die wêreld beskou as ‘n vorm van slawerny. Sulke mense het hulle sonde lief en het geen begeerte om daarvan vry te word nie.

Die Lig van die wêreld het gekom en woon in jou. As jy hierdie waarheid omhels en in die Gees wandel, sal jy in staat wees om sy lig uit te straal teenoor diegene rondom jou.