DOEN JESUS STEEDS WONDERWERKE?

Gary Wilkerson

Die Woord van God is vol verhale van skares wat na Jesus gekom het om genees te word. “En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak” (Matthéüs 4:24).

“En toe ... het hulle baie na Hom gebring ... en Hy het die geeste met ’n woord uitgedrywe; en almal wat ongesteld was, het Hy gesond gemaak” (8:16).

“En toe Jesus uitgaan, het Hy ’n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak (14:14).

Waarom het hierdie wonderwerke plaasgevind? Omdat Jesus die mense wat siek en hartseer was gesien het en Hy hulle jammer gekry het. Terwyl Hy altyd diegene wat verlore was uitgesoek het, was sy hart heeltyd gebroke oor die verdruktes. Bykomstig tot sy groot deernis, het Jesus ‘n hoër roeping op sy lewe gehad – die verheerliking van sy Vader. Hy wou die heerlikheid en majesteit van God uitstraal en sy Naam verhoog deur die werke wat Hy gedoen het.

Soos die dissipels saam met Jesus geloop het en saam met Hom bedien het, het Jesus dit aan hulle beklemtoon dat hulle selfs groter dinge sou kon doen as wat Hy besig was om te doen. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit” (Johannes 14:12).

Nou, ek en jy glo dat Jesus die siekes genees en dat Hy gekom het om die verlorenes te bereik. Maar sien ons Hom wonderwerke deur ons verrig? Ons sing Jesus-liedere, hoor Jesus-preke, lees Jesus-boeke en bid vir mekaar – maar volg ons Hom noukeurig na? Te veel van die Amerikaanse mentaliteit sê dat om Jesus te volg, beteken om sekere geloofsbelydenisse te glo – maar om Hom pligsgetrou te volg, is soveel meer.

Bid hierdie gebed saam met my: “Jesus, gee my die krag, die geloof, die vertroue en die moed om my hart te ondersoek met u Woord. Inspireer my om U toe te laat om deur my te werk met selfs groter werke wat U gedoen het toe U op die aarde was.”