Bemagtig deur God se Teenwoordigheid

David Wilkerson (1931-2011)

Die Skrif verskaf eindelose voorbeelde van hoe die teenwoordigheid van die Here sy kinders bemagtig om vir Hom te lewe. Neem Moses byvoorbeeld. Hy was oortuig dat sonder God se teenwoordigheid in sy lewe, dit vir hom nutteloos sou wees om enigiets te probeer. Toe hy van aangesig tot aangesig met die Here gepraat het, het hy met vrymoedigheid gesê, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hier vandaan optrek nie” (Exodus 33:15). Hy het in wese gesê, “Here, as U nie met ons is nie, gaan ons dit nie maak nie. Ons sal nie een tree gee sonder die versekering van u teenwoordigheid nie.”

God se teenwoordigheid is wat ons uitsonder van ongelowiges. Die Ou Testament is vol verhale van groot seën wat kom na diegene wat God se teenwoordigheid met hulle gehad het. Byvoorbeeld, God se teenwoordigheid was so duidelik in Abraham se lewe dat selfs die heidene rondom hom die verskil tussen sy en hulle lewens gesien het. Die heidense koning Abiméleg het gesê, “God is met jou in alles wat jy doen” (Génesis 21:22).

God het aan Josua belowe dat geen vyand teen hom sou kon staande bly as sy teenwoordigheid met hom was nie: “Niemand sal teen jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie. Wees sterk en vol moed!” (Josua 1:5-6). Wanneer God se Gees in jou lewe teenwoordig is, kan jy ‘n oorwinnaar wees omdat jy vertrou op sy belofte om met jou te wees in alles wat jy doen.

God het Jesaja vertel van ‘n spesiale belofte wat Hy gemaak het teenoor diegene wat Hy liefhet: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos: Ek het jou by die naam geroep: jy is myne ... Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland ... Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou” (Jesaja 43:1-5). Met God se teenwoordigheid in jou, kan jy deur enige vuur gaan en jy sal nie net oorleef nie, maar sal deur dit alles heen bewaar en beskerm word. Net soos dit was met Moses, Abraham en ander, het jy ‘n kragtige getuienis van God se teenwoordigheid in jou lewe vandag.