Neem Jou Passie vir God Toe?

David Wilkerson (1931-2011)

Mag ek vir jou ‘n boodskap gee wat ek glo uit die gedagtes van Christus deur die Heilige Gees kom? Dit het te make met wat ek glo een van die grootste behoeftes in die kerk van vandag is. Trouens, dit is ‘n boodskap wat elke gelowige behoort te hoor.

Dit is die boodskap: ‘n toenemende aantal Christene is nie meer heeltemal tevrede met Christus nie. Hy word onttroon deur wat die Here self dorings genoem het. Jesus het dorings gedefinieer as die sorge van hierdie wêreld, die bedrieglikheid van rykdom, die begeerlikhede van ander dinge wat in die hart inkom. Christus het gesê dat dit die dorings is wat die Woord verstik en veroorsaak dat dit onvrugbaar word.

Ek vra jou, is die Here meer in jou gedagtes as ‘n jaar gelede? Bring jy meer tyd in sy teenwoordigheid deur as ‘n jaar gelede? Neem jou passie vir Hom toe of verdroog dit?

Baie van diegene wat eens hartstogtelik op Christus verlief was, probeer nou om hul eie belange na te streef. Hulle word met spanning en probleme belas en jaag na rykdom en die dinge van hierdie wêreld. Hulle het koud of louwarm geword, en hulle het al minder tyd vir Jesus. Die Here en sy kerk kry nou net ‘n uur van hul tyd, op Sondagoggende.

Jesus het gesê: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Johannes 15: 6). Met ander woorde, daardie persoon is besig om op te droog en put nie meer die lewe uit die ware wingerdstok nie. Hy word mislei deur te dink dat alles goed gaan, want hy praat nog steeds die taal van die intimiteit wat hy eens met Christus gehad het.

 Ek hoor die Heilige Gees die Here se kinders terugroep na hul eerste liefde toe. Terug na honger en dors na meer van Christus. Terug na die besteding van kwaliteit tyd in sy teenwoordigheid. Terug na liefde vir sy Woord. Terug na die werp van alle sorge op Hom. Terug na afhanklik wees van Hom vir leiding.

 Christus begeer intimiteit met sy bruid. Hy smag daarna dat sy geliefde met liefde en gehoorsaamheid na Hom terugkeer. Ek onderwerp hierdie woord nederig aan jou, met die vertroue dat die Heilige Gees jou hart sal aanraak en jou nader aan Homself sal trek.