God Gebruik Mense

David Wilkerson (1931-2011)

God gebruik mense om ander mense te verkwik. Hy is so lief vir hierdie soort bediening dat Hy die profeet Maleági gedring het om daaroor te praat as ‘n broodnodige werk in die laaste dae. Maleági het beskryf hoe God se volk mekaar in sy tyd opgebou het deur middel van een-tot-een-opbouing: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek” (Maleági 3:16).

Wanneer het dit presies gebeur? Maleági se woorde het gekom gedurende ‘n tyd van ongebreidelde goddeloosheid, toe die “sprinkaan” baie vrugte in die land vernietig het. God se volk het moeg geword en begin twyfel dat dit die moeite werd was om met die Here te wandel. Hulle het gedink, “Ons word gesê dat dit die moeite werd is om die Here te dien, sy Woord te gehoorsaam en sy laste te dra. Maar as ons om ons kyk na hulle wat trots is en kompromieë maak, is dit hulle wat gelukkig lyk. Hulle streef na welvaart, leef onverskillig en geniet die lewe ten volle.”

Ek is oortuig daarvan dat Maleági se boodskap oor hierdie bediening ‘n spieëlbeeld van die hedendaagse tyd is. Hy het ons ‘n toonbeeld gegee van ‘n uitstorting van die Heilige Gees in die laaste dae waar God se volk ophou met skinder en kla en eerder verkwikking bedien. Dit gebeur per telefoon, per brief, per e-pos en van aangesig tot aangesig. En God is so ingenome met hierdie bediening, dat vir ons gesê word dat Hy alles neerskryf. Elke vriendelike woord wat gespreek word, elke oproep wat gemaak word, elke brief wat geskryf is, en elke poging om die neerslagtiges te vertroos, word opgeteken in ‘n “herinneringboek.” En die Bybel sê dat elkeen van ons wie se dade opgeteken is, vir Hom kosbaar sal wees: “En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep” (Maleági 3:17) .

Wees ‘n Titus vir iemand wat neerslagtig van gees is. Bid om die gees van Onesíforus te hê, wat die wat ly, soek om hulle tot genesing te bring. Dink daaraan: jy het al die mag van die hemel gekry om ‘n gelowige wat ly te verkwik, iemand wat die vertroosting nodig het wat God uniek aan jou gegee het. Ja, daar is mense wat jou nodig het en die Here bedoel dat jou voormalige vertroosting hulle sal verkwik. Bel daardie iemand vandag en sê: “Broer, suster, ek wil vir jou bid en bemoedig. Ek het ‘n goeie boodskap vir jou.”