Wanneer die Nietige tot Oorwinning Lei

Tim Dilena

Ons ken almal die verhaal van Dawid – die jong herder wat ‘n held geword het toe hy die Filistynse reus genaamd Goliat verslaan het. Dawid was die jongste seun van Isai, wie se drie oudste seuns in die leër van koning Saul gedien het. Hulle vader Isai het Dawid na die slagveld gestuur om te gaan kyk hoe dit met sy broers gaan en om voorrade vir hulle te neem.

“Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle ‘n pand saambring. En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak ... en weggegaan ... En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom” (1 Samuel 17:18-19).

Dawid se vader het hom gevra om iets kleins te doen en hy was gehoorsaam en het nooit gedink dat hierdie nietige taak tot ‘n groot oorwinnig vir homself, vir die Israeliete en vir God sou lei nie. Dawid was dapper en op die ou end het hy Goliat, wat die Israeliete onophoudelik gespot het, doodgemaak – iets wat sy lewe sou bepaal (lees die volledige verhaal in 1 Samuel 17:23-51).

Dink daaraan. Die Heilige Gees het Dawid nie aangespoor om vir sy broers kaas te neem nie, hy het gegaan omdat sy vader hom die opdrag gegee het. Dawid was besig met ‘n kaasaflewering, ‘n nietige diens, toe hy bonatuurlik geposisioneer was vir die bestemming wat God vir hom beplan het.

Hudson Taylor, ‘n Britse sendeling na China, het gesê: “‘n Klein dingetjie is ‘n klein dingetjie, maar getrouheid in klein dingetjies is ‘n wonderlike ding.”

Jou toetrede tot jou bestemming begin met nederige take wat miskien nie eens ooreenstem met dit wat jy wil doen nie. Jy moet die nederigheidstoets slaag. Baie mense word nooit gekies om teen die reus te veg nie omdat hulle nie die kaasopdrag wou hê nie!

Lees van die begin van die Bybel af tot aan die einde en oor en oor vind jy die verhale van mans en vrouens wie in hart, siel en gees diensbaar was en wat die wêreld ‘n baie beter plek gemaak het:

Moses het nie gesê: “Ek doen nie woestyne nie.” Rut het nie gesê: “Ek doen nie skoonma’s nie.”

Noag het nie gesê: “Ek doen nie bote nie.” Maria het nie gesê: “Ek doen nie maagdelike geboortes nie.”

Paul het nie gesê: “Ek doen nie briewe nie.” Jesus het nie gesê: “Ek doen nie kruise nie.”

Wees die gelowige wat die oënskynlik nietige daad doen op jou pad om jou bestemming in Christus te vind. Lewer die kaas af!

Nadat hy ‘n middestad gemeente in Detroit vir dertig jaar lank bedien het, het Pastoor Tim vir vyf jaar by Brooklyn Tabernacle in New York Stad en vir vyf jaar in Lafayette, Louisiana bedien. Hy het Senior Pastoor van Times Square Kerk geword in Mei 2020.