Die Krag van Opregtheid

Jim Cymbala

“Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan” (Efésiërs 6:13-14, AFR53).

Die woord “waarheid” hier in die “gordel van waarheid” beteken eintlik nie die Woord van God nie. Die meeste mense besef dit nie. Die swaard van die Gees, wat later in hierdie reeks verse genoem word, word die Woord van God genoem. Waarheid hier beteken eenvoudig opregtheid. God het ‘n wapenrusting vir ons en een van die eerste dinge wat Hy wil hê dat ons moet aantrek, is opregtheid. Met ander woorde, wees opreg omdat jy nie beskerm kan word as jy ‘n akteur is nie.

Satan is die meester akteur, die meester bedrieër. Hy kom as ‘n engel van die lig (sien 2 Korinthiërs 11:13-15).

Enige daad van onopregtheid – om op een manier by die kerk op te tree en ‘n ander manier tuis, enigiets geheim, enigiets wat verborge is of wanneer ons voorgee met ‘n valse buitekant – is dit net soos om vir die vyand te fluit om te kom aanval.

Hy gaan in elk geval op een of ander stadium ‘n aanval teen baie van ons loods, so waarom meer van sy aandag uitlok? Hoeveel van ons het sedert ons ‘n Christen geword het ‘n paar gevegte met die vyand deurgemaak? Hoeveel van ons het geestelike oorlogvoering ervaar? Dit is vir sommige van ons moeilik om dit selfs te erken omdat ons bang is dat iemand dit sal hoor en sê: “Sjoe, ek het gedink dat jy seëvierend in Christus is! Wat bedoel jy dat Satan jou aanval?”

Hy het Jesus 40 dae en 40 nagte aangeval! Dit is waarom die Bybel sê: “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:13). Jy weet nie waardeur die persoon langs jou gaan nie, maar as ons eerlik en opreg met mekaar kan wees en mekaar kan bemoedig met God se beloftes, sal ons in staat wees om teen ons vyand vas te staan.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.