Daar is ‘n Uitroep Van Bekering in die Land

David Wilkerson

Ek wil vir jou ‘n berig bring van wat gebeur as gevolg van die bediening van ons boek, Set the Trumpet to Thy Mouth.

Ons het baie kritiek en teenreaksie verwag, maar ons het nie verwag om te hoor van soveel duisende van geliefde gelowiges van God wat vir ons geskryf en gesê het, “Ons sien dieselfde dinge! God sê vir ons harte dat oordeel naby is! Jou waarskuwings druk presies uit wat die Heilige Gees vir ons sê!”

Daar is ‘n magtige golf van bekering, gebrokenheid, terugkeer na eerste liefde en hertoewyding aan die Here. Herders en evangeliste het geskryf en geskakel en vertel hoe hulle harte opnuut aan die brand gesteek is. Herlewings van bekering breek uit in baie dele van die land. Die boek word gebruik deur God om ‘n bekering te laat plaasvind wat reeds op die punt was om te gebeur. In sommige gevalle, bevestig die basuingeroep slegs die werk van die Gees wat reeds aan die gang is.

Ons het ‘n oproep uit die noordweste ontvang wat vertel van ‘n ontwaking onder houkappers in die berge van suid Kanada as ‘n gevolg van die lees van Set the Trumpet to Thy Mouth. Ons hoor van talle wat hulle afgode afgelê het: hulle keer terug na gebed en ernstige lees van die Bybel – en reinheid van hart.

Punk-rockers

Die hoofstuk oor “Musiekduiwels” het skokgolwe deur die kontemporêre Christelike musiekveld gestuur. ‘n Sogenaamde Christelike punk-rockgroepleier het my onlangs besoek; hy was kwaad en uitdagend. Dieselfde dag, het die leier van ‘n ander Christelike rockgroep my kom sien. Wat ek uit hulle harte en lippe gehoor kom het, het my met afsku gevul. Ek is steeds in geestelike skok. Hulle sê sonder om skaamte dat hulle hul musiek van die sekulêre harde-rock en punkgroepe gekry het. Hulle roem daarin dat hulle die nuwe “Rock-profete” is – en rock gebruik om helde te word, sodat hulle daardie heldestatus kan gebruik om Jesus aan die kinders te verkondig. Hulle is geestelik so blind – so oorgegee aan hulle afgode – so verhewe bo teregwysing – dit is skrikwekkend.

Hulle wil nie met my praat oor die waarskuwings van oordeel nie; al wat hulle wil doen, is om hulle gevoelens te lug omdat ons hulle heilige afgod skade aangedoen het. Na wat ek gesien en gehoor het, is ek selfs meer oortuig dat rockmusiek die ergste van alle Sataniese afgode is. Ek sê in my boek hulle is so verslaaf, hulle sou engele wegwys wat hulle wil waarsku. Nou weet ek dat hulle meer as dit sal doen. Hulle ignoreer engele, profete, en die Heilige Gees. In wese was vir my gesê, “Ek gee nie om hoeveel jy bid of wat God vir jou sê nie, ons wil dit nie hoor nie!” Hulle sal voortgaan om die waarskuwings van God se Woord teë te staan – en die Woord verdraai en hulle afgode regverdig.

Ek het die Heilige Gees gevra om vir my die wortel van die verslawing aan hulle afgod van rock te wys, veral aangesien sommige Christelike rocksterre dink hulle is profete vir die Christen jeug. Wat hulle doen, is baie gevaarlik. Trouens, hulle is uiters gevaarlik vir die koninkryk van God weens hulle groot misleidings en invloed onder die jeug.  Nou weet ek wat die wortel-oorsaak is. Die Bybel gee ‘n naam aan die wortel van alle euwels – en dit is GELD! As Christen rock nie so baie plate verkoop het nie, as dit nie die konsertsale volgepak het nie, as dit nie soveel verafgoding van die kunstenaars veroorsaak het nie – sou dit amper oornag uitsterf. Boekwinkels verkoop sogenaamde Christelike rock, punk rock – omdat kinders die plate koop – en hulle wil hierdie afgodery hê. DIT GAAN ALLES OOR GROOT GELD! GEWILDHEID! DIE TREFFERSPARADE KLIM! GROOT SKARES! Dit is regtig nie ‘n kwessie van of rockmusiek self boos is nie – dit is die duiwel se rookskerm. Die wortel van die euwel is liefde vir geld – die soeke na gewildheid – om bo-aan te bly – om voorsiening te maak vir die bose grille en begeertes van vleeslike Christenskap.

Wat my die ergste van alles pla, is die geestelike blindheid van die herders oor hierdie soort afgodery. Hierdie punkers en harde-rockers het die ondersteuning van kerke, bedienaars, en gebedsgroepe, wat hulle aanmoedig. Een punk-rockgroep woon ‘n Pinksterkerk by – en die herder beveel hulle aan vir konserte. Hulle almal sê vir my, “Dit is alles reg. Ons het ‘n bedekking. Ons het die herder agter ons. Ons dra ons kerk se goedkeuring weg!” Hoe tragies! Ons vergewe mekaar se sonde! Ons keur gruwels goed! Ons verloor die vrees van God! Ons sien sonde oor! Enigiets is aanvaarbaar solank dit resultate kry. Jeremia het vir ons dit uitgebulder, “Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! –om al hierdie gruwels te doen?” (Jeremia 7:8-10).

Ek sal nie ophou nie! Ek doen ‘n beroep op herders, ouers, op jeug wat slawe van Jesus Christus is: Staan op in Sy Naam en openbaar en verwerp hierdie verskriklike gruwels!

Dank God vir diegene wat hulle harte en die Woord ondersoek – omdat ek ook geliefde musiekante ontmoet het wie se harte brand met begeerte om die Here te behaag. Hulle sou niks doen om die Gees te bedroef nie. Bid vir hulle – dat God hulle sal help om die wortel agter hierdie bose afgode raak te sien, sodat hulle vir ons Saligmaker sal sê, “Ek sou liewer ‘n armlastige wees en nooit op die treffersparade wees nie, ‘n sekulêre werk neem – as om te bedien en kompromieë te maak ter wille van geld!”

Televisie afgod!

Laat my jou vertel wat my regtig ook grief. Dit is Christene wat vir my sê, “David, ek weet jy is reg – TV is ‘n afgod; dit is vulgêr, goddeloos, pervers, en dit raak erger by die dag! Jy praat sekerlik die waarheid; ek glo elke woord wat jy sê.” Dan – doen hulle niks daaromtrent nie. Hulle gaan voort om voor daardie simpel afgod te sit – en mors God se kosbare tyd – en word gebreinspoel deur demoniese invloede – en niks verander nie! Hulle laat die waarskuwingsverse oor afgode van hulle verstand afloop soos water. Hulle sê – maar hulle doen nie! Dit is alles woorde! Ek sou liewer dat ‘n Christen my bestraf en my name noem as om saam te stem met die boodskap en niks daaraan te doen nie.

Gelowiges van God, die Gees maak dit baie duidelik – God sal nie langer ons afgodery duld nie. Hy gaan dit oordeel. Sommige word kwaad vir my – sommige wil van my poslys afgehaal word – maar ek sal nie ophou uitvaar teen hierdie afgod nie. Duisende Christene het dit afgelê en vertel nou van die vryheid en seën van God wat vloei in hulle harte en huise.

Is hierdie afgod steeds in jou huis? Is die meubels daarop gerig? Sodat jy voor dit kan sit en jou siel en verstand voed?

Vrees jy God se Woord? Laat dit jou sidder? Dit behoort! Ek het ‘n kragtige woord van God se troonkamer vir diegene wat weier om hierdie en ander afgode te laat staan – GOD SAL BLYDSKAP EN DIE STEM VAN BLYDSKAP WEGNEEM. JY MAG DALK GEVAAR LOOP OM DIE STEM VAN DIE BRUID TE VERLOOR!

“Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek laat uit hierdie plek ophou voor julle oë en in julle dae die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid. En as jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak en hulle jou vra: Waarom het die HERE al hierdie groot onheile oor ons gespreek? En wat is ons ongeregtigheid en ons sonde wat ons teen die HERE onse God begaan het? — dan moet jy vir hulle sê: Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die HERE, en agter ander gode aan geloop en hulle gedien en hul daarvoor neergebuig het, maar My verlaat het en my wet nie gehou het nie, en julle nog erger gehandel het as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie” (Jeremia 16:9-12).

Moet asseblief nie vir my kwaad word nie. Ek smag dat alle afgode van die skape sal afkom – dat alle verdeelde harte tot bekering sal kom – sodat jy die beskutting van die Here rondom jou en jou huis kan behou! Ek is net een van die Here se wagte; Ek vra jou om te wandel in die vrees van die Here n die Gees se oproep tot afsondering te gehoorsaam. Dit is ‘n skrikwekkende waarskuwing om te hoor dat jy DIE STEM VAN DIE BRUID kan verloor – dat Christus mag sê, “Gaan na jou afgod – My stem sal nie meng met die stemme van die duisternis nie!”

‘n Profesie

Ek sien iets kom wat my hart laat juig. Ek sien die Heilige Gees wat voortkom uit God se kinders met soveel krag, so ‘n gees en drang na ‘n hart van bekering, so ‘n sielsondersoeking, so ‘n brandende woord van God – bekering en geween, harde geroep, ‘n heilige neerval oor sonde sal neerdaal en almal in die huis tref. Ek sien honderde bedienaars saam oortuig word van sonde deur ‘n boodskap wat voortkom, so kragtig, so heilig dat manne van God op hulle aangesigte sal val in berou. Bedienaars sal ween oor belydenisse van owerspel, seksuele sondes, allerhande verborge sondes. Ek sien honderde bedienaars en hulle vroue met hande opgelig, uitroep tot God vir reiniging en genesing. Hulle sal op die vloer lê in die gange; hulle sal ween in die badkamers; hulle sal aan die kerkbanke hang; hulle sal strompel en val onder Heilige Gees oortuiging. ‘n Golf van bekering vind reeds plaas. Dit sal versprei. Die Heilige Gees het belowe om die seuns van Levi (die bediening) te reinig en hierdie algehele bekeerde, gereinigde herders sal UITGAAN EN DIE BRUID BYMEKAARMAAK!

Ander sal hulle harte verhard en weghardloop uit die huis, kwaad en uitdagend. Hulle sal spot en tart en bekering wegwys omdat hulle harte verdeeld is en verslaaf is aan ‘n afgod.

Die oproep is nou so luid, so duidelik: BEKEER JOU! LÊ ALLE AFGODE AF! REINIG JULLE HARTE EN JULLE HANDE!

Daar is ‘n beloofde vloek wat kom oor almal wat nie die dinge van God ter harte neem nie. Die profeet Maleági waarsku,

“En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod. As julle nie gehoor gee nie, en as julle dit nie ter harte neem om my Naam eer te bewys nie, sê die HERE van die leërskare, dan sal Ek die vloek onder julle stuur en julle seëninge in ‘n vloek verander; ja, Ek het dit alreeds vervloek, omdat julle niks ter harte neem nie. Kyk Ek sal julle nakomelingskap bedreig, en Ek sal mis op julle gesigte strooi, die mis van julle feeste; en hulle sal julle na die mishoop dra” (Maleági 2:1-3).

In geval iemand hierdie waarskuwing sou ignoreer as ‘n ontoepaslike Ou Testament vloek, hoor hier:

“Pas dan op dat daar nie  oor julle kom wat deur die profete gesê is nie” (Handelinge 13:40).