​‘N BONATUURLIKE ONTSNAPPING

David Wilkerson

Vasgekeer tussen twee berge met die Rooi See voor hulle, was Israel in ‘n hopelose penarie terwyl ‘n woedende Farao en sy ysterwaens van agter af op hulle afgestorm het.

Dit is ‘n baie bekende storie, een wat jy al jou hele kerklewe hoor. Die kinders van Israel was deur God in ‘n verskriklike krisis ingelei waar hulle agtervolg was deur ‘n venynige vyand. Ongelooflik soos dit mag lyk, het die Here sy volk doelbewus tot in hierdie netelige posisie gelei. Ek glo hierdie storie is van groot belang vir die kerk vandag en inderdaad vir hierdie tydstip in die geskiedenis.

Israel was skynbaar hulpeloos vasgekeer. En dit het paniek deur die hele laer van Israel gestuur. Vrouens en kinders het gehuil en het rondom vaders en grootouers saamgedrom. ‘n Groep ontstoke ouderlinge het op Moses afgestorm en hom beskuldig, “Was daar nie genoeg grafte in Egipte nie? Jy het ons hiernatoe gebring om te sterf. Ons het jou in Egipte gesê om ons uit te los. Dit was vir ons beter om slawe vir Farao te wees as om in hierdie miserabele woestyn te sterf!”

Ek wonder of Moses ‘n oomblik van benoude vertwyfeling in daardie uur gehad het. Ek stel my voor hy val sy knieë neer en roep uit, “Here, wat gaan aan? Hoe is dit moontlik dat hierdie U wil is vir ons?” Dit is verstommend dat God in daardie donker oomblik ‘n wonderwerk van verlossing vir Israel bewerk het. Skielik was die winde so sterk opgewek dat dit die see in twee verdeel het. Met daardie bonatuurlike ontsnappingsroete voor hulle, het die mense op droë grond deur die see geloop. Toe Farao en sy leër probeer volg het, het die golwe omgetuimel en hulle het in die bruisende water verdrink.

“So het die HERE dan dié dag uit die hand van die Egiptenaars verlos. En Israel het die Egiptenaars dood gesien aan die kant van die see. Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg” (Exodus 14:30-31).