‘n Aangename Geur vir God

David Wilkerson (1931-2011)

As ons Hebreërs 11 lees, vind ons een gemeenskaplike ding in die lewens van die genoemde mense. Elkeen het ‘n spesifieke eienskap wat die soort geloof aandui waarvan God hou. Wat was hierdie element? Hulle geloof is gebore uit diepe intimiteit met die Here.

Trouens, dit is onmoontlik om ‘n geloof te hê wat God behaag sonder om intimiteit met Hom te hê. Wat bedoel ek met intimiteit? Ek praat van ‘n nabyheid aan die Here wat kom uit die verlange na Hom. Hierdie soort intimiteit is ‘n hegte persoonlike band, 'n gemeenskap. Dit kom wanneer ons die Here meer as enigiets anders in hierdie lewe begeer.

“Deur die geloof het Abel aan God 'n beter offer aand God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het  dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is” (Hebreërs 11: 4, AFR53). Ek wil ‘n paar belangrike opmerkings oor hierdie vers maak. Eerstens getuig God self van Abel se offers. Tweedens moes Abel vir die Here ‘n altaar bou waarop hy sy offers gebring het. Hy het nie net onbevlekte lammers vir die offer aangebied nie, maar ook die vet van daardie lammers. “En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet” (Génesis 4:4).

Wat beteken die vet hier? Die boek Levitikus sê rakende die vet: “En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuurofferspys vir ‘n lieflike geur. Al die vet behoort aan die HERE ”(Levitikus 3:16). Die vet was die deel van die offer wat ‘n soet aroma laat opstyg het. Hierdie deel van die dier het vinnig vlam gevat en is verteer; die vet hier dien as ‘n tipe gebed of gemeenskap wat vir God aanvaarbaar is. Dit verteenwoordig ons bediening aan die Here in die afgesonderde binnekamer van gebed. Die Here self sê dat sulke intieme aanbidding tot Hom opstyg soos ‘n aangename geur.

Die Bybel se eerste vermelding van hierdie soort aanbidding is deur Abel. Daarom word Abel in Hebreërs 11 se “Saal van Geloof” genoem. Hy is ‘n tipe dienskneg wat in gemeenskap met die Here was en Hom die beste van alles wat hy gehad het, aangebied het. Soos Hebreërs sê, Abel se voorbeeld leef vandag voort as ‘n getuienis van ware, lewende geloof: "Deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is" (Hebreërs 11:4).