‘N BEGEERTE OM TE STERF
Hierdie sterflike liggame van ons is net doppe en die lewe is nie in die dop nie. Dit is ‘n tydelike beperking wat ‘n toenemende, volwasse-wordende lewenskrag omhul en optree as ‘n verbygaande beskermer van die lewe daar binne-in. Die dop is sinteties in vergelyking met die ewige lewe wat dit bedek.
Elke ware Christen is gevul met ewige lewe. Dit is geplant as ‘n saad in ons sterflike liggame wat voortdurend volwasse word en dit moet uiteindelik uit die dop breek om ‘n nuwe vorm van lewe te word. Hierdie heerlike lewe van God in ons pas druk uit op die dop, en, op die presiese oomblik waarop opstandingslewe volwassenheid bereik, breek die dop oop. Die kunsmatige grense word oopgebreek en soos ‘n pasgebore kuiken, word die siel vrygelaat uit sy tronk. Prys die Here!
As ‘n kind van God, op die presiese oomblik wat ons Here besluit ons dop het sy funksie volbring, moet ons ons ou liggaam verlaat. Paulus het gesê, “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Filippense 1:21). Hierdie soort bespreking is heeltemal vreemd vir ons hedendaagse, geestelike woordeskat. Ons het sulke aanbidders van die lewe geword dat ons baie min begeerte het om te sterf en by die Here te wees. Maar was Paulus morbied? Het hy ‘n ongesonde beheptheid gehad met die dood of gebrek aan respek betoon vir die lewe waarmee God hom geseën het? Glad nie! Paulus het die lewe tot die volste geleef maar hy het die vrees vir die “angel van die dood” oorwin en kon sê, “Dit is beter om te sterf en by die Here te wees as om in die vlees te bly.”
Diegene wat in die Here sterf, is die wenners en ons wat agterbly, is die verloorders. Ek moedig jou aan om jou aandag weer te fokus op die heerlike stad wat God gereed maak vir diegene wat in die geloof sterf (sien Hebreërs 11:16). Vra Hom om jou los te sny van die bande van hierdie wêreld sodat jy met kosbare afwagting kan uitsien om in sy teenwoordigheid te wees – wanneer dit ook al mag wees.