‘N BLYWENDE GEREGTIGHEID

David Wilkerson

Gebrokenheid is om alle hoop te laat vaar om die hemel op enige maatstaf van persoonlike goedheid te verkry. Dit is om alle vertroue in jou eie pogings neer te lê. Dit is om jou geheel en al te wend na die oorwinning van die Kruis van Christus, en om te glo Hy is die enigste weg. Laastens, dit is om Hom te vertrou, dat Hy ons deur Sy Heilige Gees sal krag gee om te leef volgens die eis wat Hy op ons lewens maak.

Ons het gebrokenheid en nederigheid nodig om in geloof te bly wandel: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19).

“Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15).

Dit maak nie saak hoe ek voel nie, Christus is my geregtigheid. Dit maak nie saak hoeveel twyfel mag ontstaan nie, Christus is my geregtigheid. Dit maak nie saak hoeveel beskuldigings ek gedurende die dag van die duiwel hoor nie, ek staan hierop: God sien my regverdig in Christus!

“Maar op hierdie een sal ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Waar is die Lam van God nou? Hy is in die hemel en sit op die troon, Koning van die konings, Here van die here, Vredevors. Eendag sal al die godsdienste van die wêreld hulle knieë voor Jesus buig en erken dat Hy die Here is. “Elke knie sal buig, elke tong bely, Hy was – Hy is – die ewige Lam van God” (sien Filippense 2:10-11). Kyk, daar is die Lam van God!