‘n Feesmaal Nuttig Terwyl Jou Vyand Moet Toekyk!
“U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teenstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor” (Psalm 23:5).
Van al die wonderlike beloftes wat God aan ons in die 23ste Psalm gee, is hierdie een van die mees glorierykes. Dink aan wat hy beloof om hier vir ons te doen: Hy sê Hy gaan vir ons ‘n tafel dek met heerlike kos daarop en dan ‘n kelner se voorskoot aantrek en vir ons ‘n feesmaal bedien. En Hy doen dit alles reg voor ons vyande!
As Hy die spyseniering doen, sal die ete beslis nie ‘n gewone maatlyd wees nie. Die woord vir tafel in hierdie vers beteken “onthaal.” God praat nie van net ‘n klein bordjie kos nie. Hy praat maar van ‘n groot onthaal — massiewe feesmaal. Hy dek voor ons ry op ry heerlike hemelse lekkernye.
En daar is net een gas by hierdie maaltyd — jy. God doen hierdie wonderlike voorbereiding en bedien elke persoon, wat Jesus liefhet en homself assosieer met sy Naam.
Verder, om die atmosfeer reg te kry, het God hierdie feesmaal verklaar as ‘n tydperk van vreugde, blydskap en gejubel. Hy sê vir jou, “Eet en drink — juig en wees bly.” “Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik” (Prediker 10:19).
Terwyl jy die smaaklike kos geniet, salf God jou hoof met vreugde-olie: “U maak my hoof vet met olie” (Psalm 23:7). “Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo U metgeselle” (Psalm 45:8).
In die tussentyd, terwyl God die feesmaal voorberei en aan jou bedien, laat Hy jou vyande van buite af na die toneel sit en kyk na alles wat plaasvind. Hulle sien dat die Here self jou tafel dek met lekkernye, jou na jou sitplek begelei en jou bedien. Dan kyk hulle hoe jy jou siel met die hemel se heerlikste kos vul. Ek sê vir jou, geen demoniese mag, die duiwel ingesluit, kan ooit hierdie soort liefde, barmhartigheid en genade verstaan nie.
Wat ‘n ontsaglike toneel — kan jy jou voorstel? Jou vyande is geskok. Hulle was seker dat God jou gaan straf oor jou mislukkings. Hulle was gereed om te spog terwyl jy vernietig word. Nou word hulle egter beveel om te kyk hoe jy smul aan disse, wat deur God self bedien word. Hulle word geforseer om te kyk hoe die Here jou bedien, jou voed en jou salf met die olie van vreugde en blydskap.
Jesus vertel vir ons dat die Vader dit vir al sy kinders doen: “Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien” (Lukas 12:37).
Voor ons praat oor die tafel van die Here, moet ons eers kyk wie ons vyande is.
In Bybelse terme is daar twee soorte vyande: die demoniese soort en die menslike soort. In die 23ste Psalm, verwys Dawid na die demoniese vyande. Hulle verteenwoordig die duiwel en al sy helse owerhede en magte.
Jesus vertel vir ons, “En die vyand...is die duiwel” (Matthéüs 13:39). As Dawid in Psalm 18 van sy “magtige vyand” praat, praat hy van demoniese hordes wat hom haat as gevolg van sy diep, toegewyde wandel met die Here: “Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my” (Psalm 18:18).
Baie van ons vyande kom egter nie uit die hel nie. As Jesus vir ons sê om “ons vyande lief te hê,” praat Hy sekerlik nie van die duiwel en sy hordes nie. Hy praat van mense in ons lewens wat as werktuie deur Satan gebruik word om ons ongelukkig te maak. Dit was Dawid se vleeslike vyande wat veroorsaak het dat hy uitgeroep het, “Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek” (Psalm 143:9).
Jy mag dalk net ‘n paar menslike vyande hê, omdat jy in ‘n klein sirkel beweeg. Of, jy mag ‘n oorvloed van hulle hê, omdat jou sfeer van invloed veel breër is. In elke geval, as jy jou hart daarop gesit het om Jesus te volg, sal jy ‘n aanstoot wees vir baie. En jy gaan weerstaan word deur beide ongelowiges en vleeslike Christene.
Trouens, jy sal deur die duiwel en sy bose geeste as ‘n teiken gemerk word. Jou vyand, die aanklaer, gaan jou fisiek en geestelik aanval. En hy sal moeilikheid vir jou veroorsaak onder jou menslike vyande.
Op ‘n manier, word die Here se bonatuurlike feesmaal selfs meer wonderlik — omdat beide soorte vyande moet sit en kyk hoe die Here jou bedien. Aan die een kant sit die duiwel en sy hordes en aan die ander kant sit al jou aardse vyande. En te midde van hulle almal, stort Here sy vreugde-olie oor jou uit.
Aan die demoniese kant, is die duiwel woedend omdat hy gedink het dat hy jou sekerlik gehad het. En aan die menslike kant, beklee God jou vyande met skaamte. Sy woord sê van die regverdige: “Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal my kroon skitter” (Psalm 132:18). God sê in wese, “Jou vleeslike vyande het gedink dit is klaarpraat met jou. Maar nou kan hulle net in verwondering staar terwyl Ek jou voed en seën.”
Terwyl jy begin eet aan die heerlike voedsel voor jou, buig die Here af en fluister in jou oor, “Jy hoef nie oor enige van jou vyande bekommerd te wees nie. Hulle is nie in staat om enigiets aan jou te doen nie.” “Want hulle het U met onheil bedreig; hulle listige plan uitgedink sonder om iets uit te rig” (Psalm 21:12).
God gee vir ons inderdaad goddelike versekering. Jy is in staat om te sing, “En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE” (Psalm 27:6).
God dek sy tafel vir jou, nie net in jou tye van oorwinning nie, maar veral in jou tye van mislukking.
Die Puriteine het dikwels die frase “verras deur sonde” gebruik. Daarmee het hulle bedoel die tye waarin jy nie verwag het om te sondig nie, maar wanneer die vyand skielik inkom soos ‘n riviervloed en jou oorweldig. Soms oorwin hy jou — ‘n ou wellus of gewoonte wat jy gedink het jy het oorwin — en toe faal jy.
Jy bely dit gou, is bedroef en treur oor jou sonde. Maar dan word jy kwaad vir jouself, terwyl jy in skuldgevoelens en verwarring rondrol, “Hoe kon ek toelaat dat dit weer gebeur?” En as jy probeer om God se teenwoordigheid binne te gaan, voel jy skaam en verleë. Jy sê vir jouself, “Ek moet kans kry by die Here om dit te probeer uitwerk. Ek moet Hom op een of ander manier daarvoor vergoed. Ek moet vir Hom bewys dat ek nie bedoel het om dit te doen nie.”
Dit is wanneer jou aanklaer, Satan, jou bespring soos ‘n honger leeu. Hy bring elke skriftuurlike waarskuwing oor God se haat vir sonde na jou gedagtes. Hy herinner jou aan Bybelse waarskuwings om nie te sondig teen die lig nie. En hy laat jou onthou van God se misnoeë met almal wat in die Ou Testament gefaal het. Dan fluister hy vir jou:
“Kyk hoe het God sy Gees weggeneem van almal in die Skrif wat gefaal het. En nou het jy op dieselfde manier gesondig. Hy het sy Gees heeltemal uit jou lewe weggeneem. Jy is vals en skynheilig — jy doen nie wat jy sê nie. En wanneer jy op die oordeelsdag voor Hom staan, sal jou eie woorde jou veroordeel.”
Geliefde, die duiwel ken nooit die gevolge van enige Christen se mislukking nie. Hy weet nie hoe jy gaan reageer nadat jy misluk het nie, of hoe God teenoor jou sonde sal optree nie. Satan se grootste vrees is inwerklikheid dat jy reguit sal hardloop na God se barmhartigheid en vergifnis.
Daarom doen die vyand alles in sy vermoë om jou te verhoed om God se verbondsbeloftes te verstaan. Hy wil jou terugbring onder die wet, waar jou gewete jou sal veroordeel. Hy wil hê jy moet oortuig wees dat jy vir jou mislukking moet betaal. Hy wil sien dat jy van droefheid rondrol en jou pad terug na God se guns probeer verdien.
Nee — dit is nooit wat die Here vir enige berouvolle hart beplan het nie. Jy sien, net wanneer jy dink dat jy God se toorn en tugtiging verdien, nooi die Here jou na ‘n feesmaal toe. En terwyl jou vyande gereed staan om te kyk hoe jy onder God se oordeel gaan ly, verras God hulle — en vir jou — deur jou by sy tafel te voed. Dit is hoe God sy berouvolle kinders behandel!
Hier is ‘n voorbeeld: Beskou ‘n ouderling in die kerk — ‘n goddelike man wat daagliks bid, God se woord bestudeer, sy vrou eer en ‘n liefdevolle vader is. Hierdie man se vorige oortredings is alles onder die bloed van Christus. Sy eens vinnige humeur is oorwin deur die krag van die Heilige Gees. En nou leef hierdie goeie, bedagsame man in die wysheid van God.
Maar eendag het die vyand teen hom gekom soos ‘n riviervloed. Die man het ‘n aaklige dag by sy werk gehad en toe hy die kantoor verlaat het, was sy gedagtes gespanne. Op pad huistoe probeer hy om te bid en dink, “Here, ek wil net by die huis kom, op die bank gaan lê en U dank dat hierdie dag verby is.”
In die tussentyd, het sy vrou by die huis ook ‘n slegte dag gehad. Alles het verkeerd gegaan en die kinders was onbeheerbaar. Nou is sy gespanne terwyl sy vir haar man wag om huistoe te kom en teen die ongehoorsame kinders op te tree.
So, toe hierdie gespanne man by die deur inloop, kom sy vrou gou na hom toe en begin al die probleme van die dag op hom aflaai. Hy is egter te oorweldig om te luister — en hy sê vir haar hy wil nie daarvan hoor nie. Nou word sy net nog meer gefrustreerd. Hulle begin argumenteer — en skielik bars die damwal. Binne oomblikke skree hulle, noem mekaar allerhande name en druk mekaar se verkeerde knoppies. Hulle ruil lelike woord uit met die doel om te wond en seer te maak.
Dan van nêrens af nie, knak die man. Hy spuug ‘n stroom van woedende woorde uit — insluitend ‘n vloekwoord. Sy vrou staan geskok terug. Sy sê, “O, is dit hoe ‘n man van God met sy vrou praat? Dit is die woorde van ‘n ouderling in die kerk, ‘n man wat almal dink so heilig is? Wat ‘n skynheilige.”
Woedend draai die man om en storm by die deur uit. Buite is hy egter geskud en gewond, sy siel oorval met skaamte en goddelike droefheid. Hy begin in sy binneste uitroep, “O, God — waar het dit vandaan gekom? My hart moet so boos wees. Nou haal ek al my frustrasies uit op my familie.”
Selfs die goddelikste Christen word verras deur oorweldigende, onverwagte situasies soos hierdie een. En soms gebeur dit kort nadat ons groot oorwinnings behaal het. Soos Adam, wil ons vir God wegkruip. Ons dink dat Hy vir ons kwaad is en dat Satan ‘n vastrapplek in ons lewens gekry het. Dan, in ons verwarring, val ons in die groef van Romeine 7: “Dit wat ek gehaat het, het ek gedoen. En dit wat ek gehoop het om te doen, het ek nie gedoen nie.”
Skielik dink ons, “Hoe kan ek dit selfs oorweeg om enigeen te bedien as ek so boos is? O, God — hoe lank sal dit my neem om hierdie modder van my hande af te was en weer heilig te voel?”
Dit is die presiese oomblik waarin God ons roep, “Kom na die feesmaal. Jy het nie tyd weg van My af nodig nie. Kom sit en ervaar my barmhartigheid. Ek wil hê dat jy die feesmaal by my tafel geniet, terwyl jou vyande moet toekyk.”
Wat is God se gesindheid teenoor ons wanneer ons deur sonde oorval word?
Jesus antwoord hierdie vraag in die gelykenis van die verlore seun. Die jongman, wat weggeloop het, was deur sonde oorweldig en het al sy hulpbronne op sy begeerlikhede deurgebring. Hy het in wesenlike slawerny beland en moes die kos van varke eet. Hy het gedink, “Ek het so erg gesondig dat ek nooit soos voorheen deur my pa aanvaar sal word nie. Ek moet sekerlik op een of ander manier daarvoor betaal.”
Die verlore seun se vrese het hom daarvan weerhou om na sy vader toe terug te keer. In werklikheid, was sy vader egter nooit kwaad vir hom nie. Daardie goddelike man het eenvoudig net gehunker na sy seun se terugkeer. Ten slotte, toe die verlore seun in ‘n put van wanhoop was en die volle impak van sy mislukking ervaar het, het hy aan die oorvloed in sy vader se huis gedink. Uit desperaatheid het hy teruggekeer huistoe.”
Wat was die vader se reaksie? Hy het uitgehardloop om sy seun tegemoet te gaan — hy het hom omhels, sy nek gesoen en hom vergewe, sonder om vrae te vra. Die Skrif sê vir ons, “Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees” (Lukas 15:22-23).
Hier, in Jesus se eie woorde, sien ons die hemelse Vader se gesindheid teenoor sy kinders. Onmiddellik na ons mislukking, bedien ons Here aan ons ‘n feesmaal en salf ons met die vreugde-olie. Jy sien, God kyk na die hart — en die presiese oomblik waarop Hy ons heelhartige uitroep om vergifnis hoor, dek Hy die tafel voor ons. Dan sê Hy vir ons, “Moenie van my af weghardloop nie. En moenie in die duiwel se varkhok bly en sy leuens aanvaar nie. Ek het jou lief — kom nou en sien wat Ek vir jou voorberei het.”
Die eerste seëning wat jy op jou bord sal vind, is onmiddellike en onvoorwaardelike vergifnis. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Sodra ons bely, beëindig God hierdie saak van ons sonde. Hy hef alle klagtes teen ons op en werp ons oortreding heeltemal van sy aangesig af weg.
Verder wil Hy nie meer hoor van ons sonde nie. Hy sê in wese, “Ek is daaroor — nou moet jy daaroor kom. Ek hou niks teen jou nie. Ek het alles begrawe. Verbly jou nou in my verlossing, genade en barmhartigheid. Verlustig jou daarin!”
Wanneer ons die Vader se vergifnis aanvaar, nooi Hy ons uit om elke gereg op sy spyskaart te nuttig: genade, barmhartigheid, vriendelikheid, goedertierenheid, teerheid, deernis, onverdiende liefde, vrede, rus, blydskap en vreugde en vars fonteine van Heilige Gees herlewing.
Praat van die heerlikheid van God te beleef. Net toe jy oordeel en vergelding verwag het, het die Here jou genooi na ‘n feesmaal van sy barmhartigheid en genade. “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5). “Want U goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered” (Psalm 86:13).
Ek weet hoe dit voel om te verwag dat God se oordeel op my sal neerkom nadat ek misluk het. Ek wonder, “Sal daar ‘n aanval op my liggaam wees? Gaan een van my kinders ly? Sal my vrou weer siek word? God, waar gaan U my tref oor dit wat ek verkeerd gedoen het?”
Onmiddellik dek die Here egter vir my ‘n feesmaal in die teenwoordigheid van my vyande. Wie is my vyande in hierdie geval? Hulle is duiwelse vyande van vrees, depressie, verwarring, innerlike onrus en sataniese leuens. Daarom bely ek dit vinnig en neem God se verbondsbeloftes in besit. En ek herinner myself, “David, jy hoef nie te bewys dat jy jammer is nie. Al wat jy nodig het, is om te bely, jouself te bekeer en op jou Vader se woord te staan. Gaan dan na die feesmaal en juig in die teenwoordigheid van al jou vyande.”
So sit ek by die Here se tafel en my Herder, Jesus, bedien my. Hy herstel my siel deur my sy barmhartigheid, vergifnis en liefdevolle goedheid te voer. Dan laat Hy my neerlê by stille waters en wys vir my teksvers na teksvers oor sy liefde. Ek voel die genade van God oor my siel spoel. En trane van blydskap was al my skuld, vrese en angste weg.
Terwyl hierdie ontsaglike seëninge plaasvind, word ons vyande verplig om toe te kyk, totaal verslaan. En ten slotte hoor ek hulle fluister, “Hy het die geheim leer ken — hy vertrou op God se beloftes. Kom ons beweeg aan.”
Laat ons nou daarop fokus om in die teenwoordigheid van ons menslike vyande die feesmaal te geniet
Die belofte van Psalm 23 sluit beide soorte vyande, demonies en menslik in. En die Here wil ook hê dat ons die feesmaal moet nuttig voor ons menslike vyande — mense wat werktuie in Satan se hande geword het om ons te teister.
Laat my dit illustreer met ‘n voorbeeld van ‘n brief wat ons bediening ontvang het. ‘n Dierbare Christen vrou het geskryf van haar gekwelde huwelik met haar ongeredde man. Hierdie man het veroordeel gevoel deur sy vrou se heilige lewe. Daarom het hy onlangs begin om haar te mishandel, te teister en haar allerhande name te noem.
Onlangs het haar man dronk huistoe gekom. In ‘n woedebui het hy sy vrou teen die muur vasgepen en in haar gesig geskree, “Jou Jesus-freak — jy is mal. Ek is moeg van jou gepreek. Ek wil nie nog ‘n woord hoor nie. Jy is niks beter as ek nie.” Hy het aangegaan en aangegaan, in ‘n taal uit die hel en het eindelose beskuldigings teen haar gebring.
Stadig het ‘n woede in die vrou opgekom. Alles in haar wou reageer om al die gemene dade van haar man teen haar op te noem. Maar in plaas daarvan, het sy haar oë toegemaak en saggies gebid, “Heilige Gees, help my.”
Die genade van God het oor haar gespoel — en sy was gevul met ‘n bonatuurlike vrede. Sy het bloot liefdevol na haar man gekyk en niks gesê nie. Toe hy sien dat sy nie gaan reageer nie, het hy haar laat gaan, woedend weggeloop en voor die TV gaan uitspan. In die tussentyd, het sy stil met haar huiswerk aangegaan met blydskap in haar hart. Sy het by die Here se tafel ‘n feesmaal genuttig — waar sy die genade, geduld en hoop wat God vir haar gedek het, genuttig het.
Miskien beleef jy ‘n spanningsvolle situasie by die werk. Miskien het jou medewerkers jou verraai en skinder oor jou by jou baas. Jy bring jou dae deur deur bedroef te wees oor die wrede manier waarop hulle jou skade aangedoen het.
Geliefde, Jesus roep jou om voor jou vyande die feesmaal te geniet. Hy herinner jou dat jy selfs in die ergste situasie, jou na God se verbondsbelofte kan wend, “Geen wapen teen jou gesmee sal iets uitrig nie.” Jou Vader is reeds besig om die tafel vir jou te dek en wil jou vul met sy genade en deernis.
Dit is moontlik om die Here se tafel mis te loop deur ongeloof.
Toe Israel uit Egipte gekom het, het hulle al die feeste, wat God vir hulle voorberei het, misgeloop. Jy sien, na hulle verlossing, het God hulle beveel om die fees van die ongesuurde brode in die beloofde land te hou elke jaar. Dit het beteken dat hulle vir ses dae lank ongesuurde brood moes eet — en op die sewende dag moes hulle ‘n feesmaal hou.
God het ook verskeie ander feeste vir Israel beplan — wonderlike tye vir die hele nasie om in die Here te juig, sy teenwoordigheid te geniet en sy salwing te ontvang. Hulle tafels was gelaai met goeie dinge — melk, heuning, olie, druiwe, graan en vleis.
Een van daardie vieringe sou ‘n fees van die eerstelinge wees. “En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die HERE jou God jou en jou huis gegee het” (Deuteronómium 26:11). Die Here het vir sy mense gesê, “Ek wil hê julle moet juig oor alles wat Ek vir julle gegee het. Dit is ‘n tyd om te lag en te jubel en te onthou.”
Moses het ook Israel se leiers beveel om die Pasgafees te vier. Hierdie fees was bedoel om ‘n tyd van lering vir hulle kinders te wees: “Jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat die HERE aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het” (Exodus 13:8). Elke vader moes sy seun vertel, “Hierdie fees gaan oor die viering van ons verlossing. Ons juig omdat God ons uit Egipte vrygelaat het.”
Met elke fees, het die Here vir Israel vertel, “Juig — wees bly en sing.” Die feeste was veronderstel om genesende, vrymakende vierings van God se liefdevolle goedheid teenoor sy mense te wees.
Die Skrif noem slegs een fees wat in die wildernis gehou is. Daardie fees het op die eerste herdenking van Israel se verlossing uit Egipte plaasgevind. Na dit, was die voorgeskrewe feeste skynbaar vergete.
Dit is nie wat God vir sy mense bedoel het nie. Sy planne vir hulle was om in die beloofde land te woon, waar hulle al die bronne sou gehad het om die feeste te hou. Maar weens Israel se sonde, het hulle in die wildernis gebly. En hulle enigste bron was die manna wat God uit die hemel vir hulle gestuur het en ‘n bietjie koring wat hulle uit Egipte vir hulle saamgebring het.
Kan jy jou voorstel wat ‘n Israelitiese kind moes gedink het gedurende die een fees wat Israel gevier het? Hy het van manna geleef, soggens, smiddae en saans, sy hele lewe lank. En nou, terwyl die fees gehou word, sien hy nog meer manna bedien word. Daarom vra hy vir sy pa, “Pa, waaroor gaan hierdie feesviering?”
Sy pa antwoord, “Dit is die fees van die ongesuurde brode, seun. Ons vier ons verlossing uit Egipte. Dit is ‘n tyd om te juig oor die vryheid wat God vir ons gegee het.”
Die seun is verward. Juig oor verlossing? Al wat hy ooit by sy ouers hoor, is murmurering, klagtes en ongeloof. En op verskeie geleenthede het hy gesien dat hulle in hulle tente insluip om klein afgodjies wat hulle uit Egipte gesmokkel het, te aanbid.
Daarom vra die seun vir sy pa, “Noem Pa dit verlossing? Waaroor is ons veronderstel om oor te juig — die droë woestyn? Al wat ons ooit beleef is die vervelige ou eentonigheid van dinge. Waarom moet ons ‘n feesmaal hou met nog meer van hierdie manna? Waarom woon ons nie waar al die lekker dinge is nie?”
Dit is jammer dat Israel voortdurend misluk het om die Here se feeste te hou. Die Skrif sê vir ons, “En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:19).
Ek wonder hoeveel tieners sien vandag net ongeloof in ‘n ouer geslag wat getuig dat hulle van sonde verlos is. Hoeveel kinders in Christelike huise sê, “Pa, Ma — noem julle dit verlossing? Daar is geen gejuig in ons familie nie. Ons huis is vol onrus en stryd. En al wat ek hoor is klagtes en geskinder. Die plek is soos ‘n begrafnisondernemersperseel.”
Dit is geen wonder dat so baie tieners vandag die Here nie dien nie. Hulle ouers dwaal steeds in die wildernis rond. Hulle het nog nooit in die verbondsbeloftes van God ingegaan nie. Hulle weet nie wat dit beteken om te juig nie, omdat hulle nooit die fees bywoon nie.
Leef jy ‘n lewe van geestelike stagnering? Is jy heeltyd oorlaai — lewe jy een dag op ‘n slag, altyd vol vrees en geniet jy nooit jou wandel met die Here nie? Laat my jou vra — is jy nie moeg vir dit alles nie? Sê jy nooit vir jouself, “Ek weet Jesus het my gered en dat ek verander is. So, waarom geniet ek nie sy feesmaal nie? Waar is my salwing met vreugde-olie?”
Jy moet ‘n stap van geloof neem. Moenie steier oor God se beloftes aan jou nie. Neem dit in besit — en wees ten volle oortuig dat Hy in staat is om dit wat Hy belowe het, uit te voer. Die Heilige Gees reageer net op geloof. Hy reageer nie op jou rivier van trane of op jou beloftes dat jy beter sal doen nie. Dit mag deel van jou bekering wees. Maar slegs geloof bring ‘n reaksie by God. Geloof bring Hom in aksie om sy heerlikheid in jou lewe in te bring.
So, aanvaar jou Vader se liefde en vergifnis. Jy het ‘n reg tot die feesmaal — en geen duiwel in die hel kan jou daarvan beroof nie. Glo God se Woord aan jou — en laat Hom toe om jou by sy hemelse tafel te laat aansit.