‘n Geloofs Verduistering

“Simon, Simon!” het Jesus gesê, “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.

Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs die gevangeneskap en die dood in te gaan.” Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.” (Lukas 22:31-34).

In ‘n vorige boodskap het ek geskryf dat Petrus ‘n verduistering van sy geloof beleef het. Sulke ervarings het toegewyde Christene, deur die eeue, oorgekom. Ek is deur die Heilige Gees gelei om weer aandag aan hierdie onderwerp te gee, aangesien baie Christene deesdae deur sulke ervarings gaan.

Soos julle weet het Petrus se verduistering tydens Paasfees gebeur. Jesus het na sy dapper dissipel gedraai en gesê: “Simon, die Satan het daarop aangedring om julle te mag sif soos koring.” Sommige geleerdes vertaal dit as volg, “Petrus, Satan het geëis dat julle aan hom oorgegee moes word, dat hy julle lewe kan skud.”

Die waarskuwing is baie duidelik: Satan was op die punt om ‘n bonatuurlike aanval op Petrus se geloof te maak. Om te sif beteken, “om hard te skud, op en af, heen en weer, agter toe en vorentoe, om op elke moontlike manier te skud.” Eenvoudig gestel, die duiwel wou Petrus se geloof skud op die ergste moontlike manier.

Vroeër daardie dag, het Petrus gespog dat hy ‘n onwankelbare geloof het. Hy het vir Jesus, voor die ander dissipels gesê, “Here, ek sal U nooit wantrou nie, ek sal eerder sterf as om U te wantrou.”

Moenie ‘n fout maak nie: Petrus se geloof was nie net emosies nie. Van al die dissipels wat Petrus die een wat keer op keer dapper geloof getoon het. Dit was hy wat uit die boot geklim het om die eerste tree op die water te gee na Jesus toe. En dit was Petrus wat sy geloof in Jesus se goddelikheid uitgespreek het, met die woorde: “U is die Messias, die Seun van God” – waarop Jesus geantwoord het dat Hy sy kerk op die getuienis sal bou. Petrus se geloof was waaragtig – en dit is presies die rede waarom die duiwel hom aangeval het.

Satan eis nie geleenthede om mense te breek wat swak of wankelende geloof het nie.

Min van ons is onder die indruk van hierdie waarheid as ons in die midde van ‘n toetsing is. Ons sien nie in dat ons juis in die vuur is, om rede van ons wandel met Jesus nie. Die duiwel probeer ons honger na God se teenwoordigheid uitwis. Dink aan Petrus: Hierdie man was op die punt om ‘n pilaar in God se kerk te word, wat die Evangelie, met Pinkster, die wêreld sal indra. ‘n Mens kan seker wees dat die duiwel dit nie sonder meer sal laat gebeur nie.

“Petrus, die haan sal nie kraai, voordat jy My drie keer verloën het, deur te sê dat jy My nie ken nie.” (Lukas 22:34)

Natuurlik, word die geloof van alle Christene getoets. Dit gebeur soos die vlees teen die gees veg, in die begeertes na die dinge van die wêreld. Ek dank God, vir die van dag tot dag se geloof, wat Christene in hierdie wêreld staande hou.

Vir sommige diensknegte is Satan se skud en sif meer as net ‘n geveg tussen vlees en gees. Dit is ‘n onder-vier-oë bonatuurlike aanslag van die duiwel self om hulle geloof te probeer vernietig. Sulke diensknegte se geloof loop deur onder goedbeplande felle aanslae van die magte van die bose, dit skud hulle verstandelik, fisies en geestelik. Maar ek wil vir u wys hoe God ons geloof so bevestig het, dat ons deur hierdie aanslae kan kom.

Jesus het geweet dat die sataniese aanvalle waaraan Petrus onderwerp sou word, op sy geloof gemik was. Dus berei Hy sy dissipels voor deur vir hulle te sê: “Ek het vir julle gebid dat julle geloof nie sal ophou nie.” Jesus waarsku Petrus selfs dat hy gaan val: “maar as jy deur dit gekom het, versterk dan jou broers.” Ten slotte sê Jesus iets wat sy dissipels eenvoudig nie kon aanvaar nie: “Ek sê vir jou, Petrus, voordat die haan vannag kraai, sal jy driemaal gesê het, dat jy My nie ken nie.”

Dink hieroor na: Sê nou maar Jesus het dit oor jou gesê, hoe sou jy reageer het? Maar, Here, U weet ek was getrou. Ek het alles verlaat om U te volg. En U het vir my U beloftes gegee om my te vrywaar daarvan om te val. Maar nou sê U, ek sal ongehoorde dinge doen, dat ek soos ‘n ateïs sal praat. Hoe kan dit wees?

Ek dink die meeste Christene sal so reageer. Ons mag tye van skudding beleef het, maar baie min van ons, kan ons voorstel dat Satan se aanvalle so fel kan wees, dat ons in die gevaar sal verkeer om Jesus te verloën.

Stel jou nou voor dat Petrus buite staan, en homself by die vuur warm maak. Dit was nou die uur waarvoor Jesus hulle gewaarsku het, wanneer dit sou lyk of die magte van die duisternis die oorwinning het. Ek kan my slegs voorstel watter vreeslike dinge die satan in Petrus se gedagte gefluister het, wat hom laat wonder het:

“Ek kan nie glo wat nou met Jesus gebeur nie. As Hy waarlik God is, hoe kon Hy hierdie vernedering toegelaat het? Hy is veronderstel om die Seun van die lewende God te wees. As Hy homself nie kan red nie, hoe sal Hy my red? Alles wat Hy ons vertel het, gaan op in rook. Waar is God se krag, sy teenwoordigheid in hierdie wanhopige uur?”

Baie van ons het dieselfde vrae gevra onder die beproewing. Ons is net so verbysterd soos Petrus, as ons uitroep en geen antwoord hoor nie … as ons omstandighede van sleg tot slegter gaan … as ons tot wanhoop gedryf is.

Wat bedoel ek met die term: “geloofs-verduistering”?

In die natuur gebeur ‘n sonsverduistering, as die maan tussen die son en die aarde inskuif, en die lig gedeeltelik of geheel-en-al uitsluit. Vir ‘n tyd lyk dit asof die son heeltemal verdwyn het, en die daglig word skielik donker. Die Griekse betekenis van “eclipse” is, “Ek is weg” of “Ek hou op om te bestaan”. In die antieke denke was die son, vir ‘n tyd, uitgeblus, deur die gode.

Vir Christene is ‘n “geestelike verduistering”, ‘n donker uur wanneer dit lyk of God afwesig is, uit ons lewe. Dit gebeur meestal tydens ‘n toets tydperk, wanneer die satan inbeweeg om ons visie van God te verduister. Hy het dit met Petrus probeer. Hy het alles in die hel na hom toe gegooi om hom in ‘n algehele verduistering te bring.

Sê vir my, het jy ooit so ‘n verduistering beleef? ‘n Uur waarin jou gedagtes oorstroom was met vrae? As jou gebede op die grond val en God se Woord vir jou geslote bly? Wanneer jy voel dat jou lewe leeg was, ‘n absolute mislukking?

In sulke tye hoor julle beskuldigende fluistering: “Na al jou gebede, al die openbaringe wat jy uit God se Woord ontvang het, na al jou getuienisse van God se getrouheid – na dit alles is jy nog so swak? Jy kan nie lewe wat jy preek nie.” Skielik word die versoeking groot, om te dink: “Hierdie geloofswandel werk nie uit in my lewe nie. Niks werk vir my uit nie. Ek glo nie ek kan verder gaan nie, ek is te neergeslaan. Ek moet maar handdoek ingooi.

Dink aan Petrus se taal te midde van sy geloofsverduistering. Toe iemand vra: “Is jy nie ‘n volgelinge van Jesus nie?” Lieg Petrus: “Ek weet nie waarvan jy praat nie. Ek ken die man nie.” As hy ‘n tweede keer in ‘n hoek gedruk word, reageer hy, “Ek ken hom nie.” Ten slotte, die derde keer, sweer Petrus en skree, “Ek ken die man nie!”

Dit was ‘n algehele geloofsverduistering. Petrus klink soos ‘n verwoede ateïs. Sy geloof was totaal aan flarde. Hy het ‘n grens oorgesteek. Hy het Jesus verloën. Dieselfde brawe dissipel wat duiwels uitgedryf het, het in algehele ongeloof versink. Sommiges moes gedink het “Regtig, God is nou klaar met Petrus, Hy het sy salwing van hom getrek. Hoe kan ‘n ware dissipel van Jesus so praat?

Ek sal vir julle sê hoe dit kan gebeur. Dit gebeur as ons onder die vyand se geweldige aanval gebuk gaan, en God oënskynlik verdwyn het. Dit is presies die tyd wanneer satan se stem so oordonderend is dat ons God nie meer hoor nie. Skielik voel dit asof ons lewe tevergeefs was, dat dit glad nie tel nie. In daardie donkerste oomblik van geloofsverduistering het die duiwel soveel chaos veroorsaak, dat ons geen uitweg sien nie. Ons kan ons nie voorstel dat God se krag ons kan verlos nie.

Satan wou gehad het dat Petrus in totale wanhoop sou oorgee. Inderdaad, toe hy tot homself kom en besef dat hy Jesus driemaal verloën het, word hy oorweldig deur ‘n swart wolk van seflveroodeling.

Wat van jou? Het jy onder selfveroordeling geleef op ‘n punt toe jy deur ‘n geloofsverduistering gegaan het? Miskien het jy herhaaldelik teruggegaan in ‘n sondige gewoonte of het jy nie geglo God kan sy beloftes in jou lewe volvoer nie. Sedertdien lewe jy in ‘n spiraal van vrees, skuld en veroordeling.

Ons weet almal hoe God vir Petrus uit hierdie vreeslike tyd gered het. hy het dit op dieselfde manier gedoen soos Hy alle godvresendes in die Skrif gehelp het, as hulle in ‘n geloofsverduistering was.

1. Elia, wat waarlik God se stem gehoor het, het ‘n ernstige geloofsverduistering beleef.

Elia se geloof het letterlik die hemele geopen en gesluit. Hier was ‘n profeet wie se vreeslose getuienis en sy geharde geloof konings bang gemaak en die hel laat bewe het. Toe satan Israel in sy greep gehad het, het Elia opgestaan en alle afgodsdiens tot ‘n val gebring.

En tog het hierdie geheiligde profeet ‘n geloofsverduistering ervaar. Satan het geweet watter uitwerking Elia se geloof op Israel sal hê en hy het ‘n aanval teen hom geloods deur die bose Koningin Isebel. Dit het gebeur op die oomblik van Elia se grootste triomf: hy het juis 400 Baäl profete gedood en te voet gehardloop van Karmel tot by Jisreël. By sy aankoms hoor hy dat Isebel ‘n prys op sy kop gesit het en verklaar het, “Elia is so goed as dood.”

Emosioneel uitgeput, verloor Elia sy geloof. In ‘n enkele uur het die geloof, wat die hemele kon open, tot niks verskrompel. Terwyl hy uitgeput in ‘n grot wegkruip, val hy in ‘n diepe slaap. Hy gee oor en sê in soveel woorde: “Ek is klaar met geloof, hoop en ywer. Die lewe is nie die moeite werd nie. ek het alles gegee wat ek in my gehad het, maar dit het alles tot niks gekom nie. Gee God nie om nie? Here, neem my uit die gemors, maak my net dood.”

Elia lyk nou soos Petrus. “Waarlik hierdie man het nou ‘n grens oorgesteek. Hoe kan ‘n geheiligde man geregtigheid preek en wonderwerke doen en dan ontken dat God omgee?” Nou vra ek: Het God Elia se salwing teruggetrek, nadat hy sulke onsin kwyt geraak het? Het Hy die profeet bestraf weens sy beskuldigings? Nee, God versorg sy dienskneg, Hy voed hom en versterk hom. Hy stuur ‘n engel om vir Elia ‘n maaltyd voor te berei, wat hom so versterk dat hy vir veertig dae kon aangaan.

2. Jeremia het ook ’n geloofsverduistering beleef.

Hier was ‘n magtige verkondiger van heiligheid en bekering, ‘n vreeslose Godgesinde profeet wat in die vrees van die Here gewandel het. Tog, soos ons in Jeremia 20 lees, het hierdie man ‘n vreeslike geloofsverduistering beleef.

Jeremia het by die tempelpoort gepreek, toe ‘n satan-geïnspireerde priester, Pasgur hom deur die gesig geslaan het. Pasgur beveel dat Jeremia in ‘n openbare blok vasgeskroef moes word, waar almal hom kon sien en bespot. As Jeremia vry gelaat word, spreek hy ‘n oordeel van God uit, oor Pasgur en sy aanhangers. “Jy, Pasgur en hierdie stad sal val. Julle sal in ballingskap weggevoer word.” (sien Jeremia 20:6)

Onmiddelik het ‘n sielsverduistering oor Jeremia gekom, en hy stort in ontmoediging ineen. Die vurige heiligheids-prediker, spreek duistere gevoelens teenoor God uit: “Here, U het my mislei. Die woorde wat U my gegee het, het blaam op my gebring. Elke dag word ek bespot. U het my verlaat, daarom hou ek op. Ek gaan U woord nie meer uitspreek nie. Al U beloftes is leeg. My lewe en bediening het in skande geëindig. U moes my in my moeder se skoot omgebring het.” (Sien Jeremia 20:7-8; 14)

Het Jeremia hier ‘n grens oorgesteek? Kon enigeen wat gesê het dat hy God dien, so gepraat het? Ons vind ons antwoord in die volgende hoofstuk. “Die woord van die Here het tot Jeremia gekom …” (Sien Jeremia 21:1) Die profeet se verduistering was verby, God was nog steeds daar. Jeremia se mees effeketiewe bediening het nog voor gelê.

God is altyd op hoogte van die planne en aanvalle wat satan teen God se mees geseënde knegte gebruik. In sowel Elia as Jeremia se lewe, het God geweet dat hulle geloof, die verduistering sou kon verdra. God het geweet dat hulle uitroepe gebore is in verwarring en pyn. En die Skrif maak dit duidelik dat God nie vir een oomblik sy salwing van een van hulle weggeneem het nie.

Die meeste van ons kan nie met hierdie ernstige beproewings en skuddings van die geestelike reuse, saamvoel nie.

As ons van Elia en Jeremia lees, dink ons: “Ek was nog nooit in so ‘n situasie waar ek God gesmeek het om my lewe te neem, soos Elia nie. Ek het God nog nooit daarvan beskuldig dat Hy my mislei het, soos Jeremia nie. Ek het nog nooit vir die Here gesê: ‘Ek gee op nie. Hierdie manne se verduistering was totaal, ‘n tydelike oorskaduwing van hulle geloof. Ek kan nie daarmee identifiseer nie.”

Tog beteken dit nie dat ons geloof nie ‘n verduistering belewe het nie. Ons verduistering mag meer weggesteek wees. Die probleem is dat ons in dieselfde soort vertwyfeling kan raak, as ons dink dat God ons in die steek gelaat of teleurgestel het. Na ‘n teleurstelling mag satan die volgende gedagtes in ons plant: “Waar is jou God nou dat jy Hom nodig het? Dinge gaan van erg na erger, maar God is nêrens te sien nie. God het beloof om ‘n uitweg te maak. Waar is Hy?

Alhoewel ons dit miskien nie uitspreek nie, bly die gedagtes in ons woel dat God vir ons kwaad is, dat Hy nie by ons is nie, dat ons Hom teleurgestel het. Dus swyg ons teenoor God, ons bid nie meer nie, en vertrou nie meer op Hom in ons beproewinge nie.

Ongeag van hoe intens ons verduistering is, of dit gedeeltelik of geheel-en-al is, laat ons net besef die duiwel sit daaragter. Dit word nie veroorsaak deur iets in ons natuur, of deur God se oordeel nie, maar dit is ‘n bonatuurlike aanval van die hel self. As ons dit nie raak sien, sal ons afwaartse gly voortgaan. Ons moet satan se vasbeslotenheid om ons geloof te ondergrawe nie onderskat nie.

Jy mag vra: “Is Jesus nie gekrenk as ons Hom wantrou nie? Is Hy nie bedroef as ons twyfel en sy getrouheid bevraagteken nie? Ja, dit krenk Hom. Ons ongelowige gedagtes mag tot verwarring en chaos aanleiding gee. Bitterheid kan intree, en as ons dit toelaat om te verhard, kan ons heeltemal wegval.

Maar die feit bly staan, God ken die ware diepte van wat in jou hart is, en vir Hom het niks verander ten opsigte van jou nie. Hy sien jou nie skielik as ‘n vyand, wat in ‘n oomblik verander het, as gevolg van jou beswaarde hart nie. Hy sien jou nog as sy vriend, ‘n stryder vir sy koninkryk wat op die punt staan om in nuwe terreine van vertroue te beweeg. Juis om hierdie rede het jy ‘n teiken vir satan geword.

Die duiwel is vasbeslote om jou blind te maak vir God se genade en barmhartigheid. Net soos die maan, tydens ‘n sonsverduistering, probeer satan om tussen jou en God in te skuif, totdat alles heeltemal swart word. Tog het God, deur dit alles ‘n plan om jou geloof deur hierdie verduistering vaster te anker.

3. Baie van ons kan identifiseer met die gedeeltelike verduistering wat Dawid ervaar het.

In Psalm 55 praat Dawid van ‘n sataniese aanval wat sy krag en geduld uitgeput het. Dit het so ‘n ernstige verduistering veroorsaak dat Dawid wou weghardloop. Hy kla: “Daar is pyn in my siel, ‘n drukking wat nooit einde kry nie. Dit is ‘n geveg wat nooit einde kry nie. Wat ek belewe maak my bang. Daar is tye wat ek nie kan ophou bewe nie.

“Here, moet U nie langer vir my verberg nie. Luister na my smekinge. U moet vir my ‘n uitweg maak om te ontsnap. As ek net ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly. Ek wil net rus kry van hierdie stryd.”

Wat was die oorsaak van hierdie stryd van Dawid? Dit was ‘n stem: “die dreigemente van my vyand.” (Psalm 55:4) In Hebreeus is die betekenis “die stem van ‘n man”. Dit was satan en sy demoniese magte se stem; “weens die geraas van die goddelose” (Psalm 55:4).

Dawid sê van hierdie stemme: “hulle stort onreg op my af, en in toorn behandel hulle my as vyand.” (Psalm 55:4) Wat hy sê is: “Die stemme van die duiwels beskuldig my. Satan en sy trawante smee komplotte teen my, hulle oorweldig my met leuens. Hulle bring mislukkings uit my verlede voor my, en probeer my bang maak.”

Wat doen Dawid daarmee? Hy roep tot die Here en vra Hom om die duiwel die swye op te lê: “Verwar, Here, en verdeel hulle spraak” (55:10). “Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my … Hulle val aan, lê en loer - hulle let op my hakskene” (Psalm 56:6, 7).

Dawid se getuienis maak dit vir ons almal duidelik: dit is oorlog. Ons word beveg deur bose magte, in ‘n geveg om ons geloof. Ons veg teen die vader van die leuens. Die enigste manier om hierdie stryd te veg, is om tot die Here te roep om hulp.

Soos alle ander knegte van God, kom Dawid uit sy verduistering en word soos nooit tevore, magtig deur God gebruik. Geliefdes dieselfde vreugde wag vir ons, net na hierdie verduistering. Tog is dit wanneer ons op ons diepste plek is – die diepte van ongeloof – wat God sy grootste werk in ons doen, en ons voorberei om Hom te verheerlik.

Was jy onlangs geskud, het dit gelyk of jou geloof wyk, in ‘n donker uur van verduistering?

Soos Petrus mag jy heeltemal oorwonne voel. Of soos Jeremia mag jy voel asof God jou mislei en verlaat het. Of soos Elia mag jy oorweldig voel en wil jy net eenvoudig hê jou lewe moet verby wees. Jy sien geen uitweg uit die verduistering nie.

Ek dring daarop aan dat jy drie dinge doen:

1. Rus in God se liefde vir jou. Onthou hierdie voorbeelde en die feit dat God vir elkeen van hulle ‘n plan gehad het, na die verduistering. Die bedoeling was dat hulle uit die verduistering sou kom, voorbereid vir wat God vir hulle beplan het.

2. Weet dat hoe ongelowig jou gedagtes ookal is, God weet waardeur jy worstel, en Sy liefde vir jou neem nooit af nie.
Al is ons ontrou, Hy bly getrou. “Ons was ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en sinsgenot, ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mense verskyn.” (Titus 3:3-4)

Die Griekse betekenis van “verskyn” is “bo-op” sit. God kyk neer op ons stryd, ons bekommernis, ons vrees, ons vrae – in kort, op ons tye van verduistering – en Hy sit sy goddelike liefde bo-op dit. Dit maak nie saak wat ons toestand is nie, sy liefde regeer oor ons.

3. Maak soos Dawid gemaak het, roep dag en nag tot God. “Here, God van my verlossing, ek het dag en nag tot U geroep. In die môre kom my gebed tot U. Neig U oor tot my (sien Psalm 55).

Geliefde, maak dit jou gebed, soos ek dit myne gemaak het.

“Here, ek het soms voor U geswyg. Ek het van U weggedraai as gevolg van my teleurstellings. Maar ek kom tot U in gebed en geloof. Hoor my roep, Jesus. Ek weet dit is nie my stryd om te stry nie, maar U sin. Ek vertrou U om die vyand stil te maak. Ek weet dat U liefde oor my heers, selfs in die donkerste tye. Ek rus in U welbehae in my. Amen.”