‘n Manifestasie van Jesus

David Wilkerson

"Daarom…gee ons nie moed op nie...maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan” (2 Korinthiërs 4:1-2). Die apostel Paulus het verklaar dat ons geroep is om ‘n manifestasie van die waarheid te wees. Natuurlik weet ons Jesus is hierdie waarheid. So, wat bedoel Paulus deur in wese te sê dat ons Jesus aan die lig moet bring?

Paulus praat hier van ‘n sigbare uitdrukking. ‘n Manifestasie is ‘n “aan die lig bring,” wat iets duidelik en verstaanbaar maak. Kortliks, Paulus sê ons is geroep om Jesus openlik bekend en verstaanbaar te maak vir alle mense. In elkeen van ons lewens, moet die natuur en gelykenis van Christus uit ons voortskyn.

Paulus neem hierdie begrip van manifestering van Christus selfs verder. Hy sê ons is in werklikheid God se brief aan die wêreld: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense...’n brief van Christus...geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart” (2 Corinthiërs 3:2-3). Ons lewens is briewe geskryf deur die Heilige Gees en uitgestuur na ‘n verlore wêreld. En ons word voortdurend gelees deur diegene rondom ons.

In werklikheid het God geweet die goddelose sou nie sy geskrewe Woord lees nie. Die vleeslike mens kan eenvoudig nie geestelike dinge verstaan nie. Hy beskou dit as dwaasheid. So, in plaas daarvan, het God persoonlike briewe aan ‘n onbekeerde wêreld gestuur. Hierdie briewe is egter nie in ink geskryf of in leer gebind nie. Dit is lewende, asemhalende, wandelende Skrif. En dit beliggaam die evangelie van Christus, wat die “krag van God tot redding [is] vir almal wat glo” (Romeine 1:16).

Jy sien, die rede waarom God die Heilige Gees gestuur het, was om Jesus aan die wêreld te manifesteer. Die Gees praat gedurig van Christus en maak Hom duidelik vir die menslike begrip. Hy openbaar Jesus op baie maniere. Maar God het gekies om sy Seun aan sondaars bekend te maak op ‘n mees effektiewe manier: deur Homself in vlees-en-bloed sendbriewe te openbaar, lewende boodskappe wat deur almal gelees kan word.

Hoe presies, word ons God se briewe aan die wêreld? Dit gebeur slegs deur die werk van die Gees. Die oomblik waarop ons gered word, druk die Heilige Gees die beeld van Jesus in ons af. En Hy gaan voort om hierdie beeld in ons te vorm te alle tye. Die Gees se sending is om in ons die beeld van Christus, wat so eg en akkuraat is, te vorm sodat dit werklik mense se gewetes sal deurboor.

Die Heilige Gees vermag dit deur van ons verloste harte en oorgegewe liggame besit te neem en ons gedurig in Jesus se teenwoordigheid in te neem. In ons Here se teenwoordigheid word ons verander. Ons word verplig tot ‘n heilige lewe, heilige gesprekke en ‘n heilige lewenstyl.

En soos wat ons meer tyd met Hom deurbring, word sy beeld in ons al sterker. Uiteindelik word ons lewens so ‘n kragtige manifestering van Jesus dat diegene rondom ons daardeur aangeraak en beweeg word.

Wat ‘n ontsagtlike woord het Paulus vir ons hier gegee. Hy sê dit is moontlik om sulke helder ligte van Christus te word dat dit letterlik ‘n impak sal maak op mense se gewetens. “Maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan” (2 Korinthiërs 4:1-2). Ons moet soveel soos Jesus word deur die persoon van die Heilige Gees en so sy reinheid weerspieël dat ander nie kan help om van sonde oortuig te word nie. Christus se beeld in ons slaan deur elke muur wat hulle opgerig het – elke afgod, sonde en boosheid – en dit raak die gewetes aan.

Paulus praat nie hier van preek of getuig nie. Hy noem niks daarvan om godsdienstige traktaatjies uit te deel of herlewingsbyeenkomste te hou nie. Natuurlik is sulke evangelistiese pogings belangrik. Nie een van hierdie werktuie kan egter op sigself die toegeskroeide gewetes van goddelose sondaars aanraak nie. Dit is moontlik om al hierdie dinge vir evangelisasie te gebruik en steeds nie ‘n deurdringende manifestasie van Christus veroorsaak nie.

Beskou Jesus se woorde oor hierdie onderwerp. Hy vertel vir ons dit is wel moontlik om deel te neem aan wonderbare manifestasies wat nie ware manifestasies van Homself is nie: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê” Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Matthéüs 7:22-23).

Dit bewys dat in Jesus se tyd die mense magtige manifestasies gesien het: mense het duiwels uitgedryf, die siekes gesond gemaak en wonderwerke gedoen. En skares het na Hom gestroom om hierdie dinge te sien. Tog het sulke manifestasies nie altyd die mense se gewetes aangeraak nie. Waarom nie? Diegene wat die wonderwerke gedoen het, het nie altyd die gelykenis van Jesus gehad nie. Daarom kon hulle hul nie “aanbeveel” tot die skare se diepste hartsbehoeftes nie. Die manifestasies wat hierdie mense gebring het, was nie van Christus nie, maar dit was vleeslike tekens en wonders.

Jy mag vra, “Impliseer jy dat God nie die gewetes van die ongereddes aanraak deur prediking en evangelisasie nie?” Natuurlik is dit nie wat ek sê nie. Ons God kan enigiemand bereik op enige manier wat Hy kies. Maar Hy doen dit op een voorwaarde: dat die individue wat sy evangelie bring, uit ‘n manifestasie van waarheid lewe. ‘n Persoon kan ‘n welsprekende spreker of die mees Bybelkundige prediker op aarde wees. Maar daardie dinge sal nie ‘n duit saakmaak as hy nie ‘n intieme wandel met Jesus het nie. As Christus se teenwoordigheid ons nie verander na sy beeld nie, is ons slegs ‘n klinkende simbaal.

Regoor die nasie bid Christene vir herlewing. Baie verwag dat die Heilige Gees op hul gemeenskappe sal val en menigtes bekeer. Hulle wil sien hoe God sondaars na hulle kerke toe bring en die sitplekke vol maak. Maar hierdie soort gebed kan ‘n ontduiking van verantwoordelikheid wees. Dikwels wanneer herlewing nie kom nie, sê die mense, “Dit is nie ons skuld nie. Ons het gevas en gebid. Ons het die gebied met uitnodigings besaai. Maar God het dit nie goed gedink om herlewing te stuur nie. Dit is sy probleem, nie ons s’n nie. Hulle plaas die verantwoordelikheid heeltemal op die Here.

Ek glo God reageer, “O nee, Ek sal nie daardie speletjie speel nie. Julle sal persoonlike verantwoordelikheid neem vir julle getuienis van My. Ek wil hê dat elke lid van my liggaam ‘n skitterende manifestasie van my Seun sal wees. Julle is verantwoordelik vir hoe julle My bekend maak aan jul families, vriende, bure en medewerkers.

Eenvoudig gestel, herlewing begin wanneer diegene rondom jou Jesus in jou sien. En dit is presies waarna God soek. Jy kan ure deurbring om te bid vir ‘n ontwaking in die kerk. Maar die hele tyd, kan jou daaglikse gedagtes, wandel en gesprekke jou verraai. As jy misluk om Jesus ten volle te manifesteer, is alle ander dinge tevergeefs.

Hoe kan ons selfs helderder skitter om ‘n manifestasie van waarheid te word? Hoe kan ons lewens so ‘n duidelike beeld van Jesus word dat ons binne-in ander ‘n oortuiging van sonde en ‘n honger na God veroorsaak?

Ons vind die sleutel in Esegiël 44. Toe Esegiël profeties na die laaste dae gekyk het, het hy twee soorte priesterskappe in die kerk sien bestaan. Een was die regverdige Sadok priesterskap. Sadok was ‘n goddelike bedienaar wat Israel tydens Dawid se heerskappy gedien het. En hy het getrou aan Dawid gebly in beide goeie en slegte tye. Sadok se lewe was ‘n voorbeeld van geregtigheid vir al die ander priesters. Ek het nou vir ongeveer twintig jaar oor die Sadok priesterskap gepreek.

Die ander priesterskap wat Esegiël gesien het in die laaste dae is die Eli priesterskap. Eli was ‘n ontroue priester wat toegelaat het dat verdorwenheid God se huis binnegekom het. Hy was ongehoorsaam aan God se Woord, sagkens met sonde en traag met heiligheid. En die bediening onder hom was verontreinig deur sensualiteit en ‘n liefde vir die wêreld. Hierdie priesters se lewenstyl het veroorsaak dat die goddelose mense die dinge van God verag het en ware aanbidding bespot het. Die Here sê van hierdie korrupte priestersdom “Maar die Leviete wat ver van My afgewyk het by die afdwaling van Israel, wat van My af weggedwaal het agter hulle drekgode aan, hulle moet hul ongeregtigheid dra” (Esegiël 44:10).

Hierdie Eli priesterskap verteenwoordig gekompromitteerde Christene in hierdie laaste dae. Hulle het geen krag om die gewetes van mense aan te raak nie. En hulle lewenstyl veroorsaak dat die goddeloses wegdraai van die Here af: “Omdat hulle...vir die huis van Israel 'n struikelblok tot ongeregtigheid was” (Esegiël 44:12). Hierdie vleesgedrewe gelowiges gaan kerk toe en verklaar hulle is volgelinge van Christus. Hulle glo selfs dat hulle deel van ‘n heilige priesterdom is. Maar hulle gesprekke en losbandige lewens is veragtelik in God se oë.

Sulke mense is onreine manifestasies van wie Jesus is. Sondaars sê van hulle, “Daardie persoon noem homself ‘n Christen. Maar elke keer wat ek naby hom is, vertel hy vuil grappe. Hy wil heeltyd praat oor die veragtelike, gewelddadige films wat hy gesien het. Hoe kan hy waarlik ‘n Christen wees? Hy is glad nie soos Jesus nie.”

Hou in gedagte, Jesus noem ons “konings en priesters vir sy God en Vader” (Openbaring 1:6). En die apostel Petrus herinner ons, “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom...en laat julle ook opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterskap” (1 Petrus 2:9,5). Ek vra jou, watter priesterskap beskryf jou lewe: die goddelike Sadok priesterskap of die verontreinigde Eli priesterskap? Hierdie twee bedienings verteenwoordig twee soorte manifestasies. En dit stel Jesus aan die wêreld voor op twee baie verskillende maniere.

Paulus het gewaarsku daar is twee verskillende evangelies. Christus se evangelie en ‘n “ander evangelie.” Hy het gesê dat diegene wat hierdie “ander” evangelie verkondig, betower is. Iewers langs die pad, het hulle weggedraai van die waarheid. Miskien het hulle aan ‘n afgod of aan ‘n geheime sonde vasgehou. En nou veroorsaak hulle gekompromitteerde lewens dat mense hul getuienis verwerp.

Dit is baie jammer, maar waar: baie Christen ouers stuur hulle kinders reguit na die hel. Pa is veronderstel om die priester in die huis te wees. En Ma is ook ‘n lid van God se koninklike priesterskap. So, watter een van hierdie twee priesterskappe manifesteer jy: Sadok of Eli s’n?

Vir jare was ek ‘n jeug-evangelis wat deur die land gereis het en duisende jongmense bedien het. Gedurende daardie tyd, het ek gesprekke gehad met talle gekwelde tieners uit Christen huise. Hierdie kinders was heeltemal afgesit van die kerk. Hulle wou niks te doen hê met hul ouers se godsdiens nie. Hulle het gepraat van hul pa’s en ma’s se erge bakleiery, blatante skynheiligheid, verskriklike geskinder en geheime sondes. Hulle het aanhoudende murmerering en gekla oor hulle dominee of pastoor, kerklede, familie en vriende gehoor.

In sulke gevalle was die pa gewoonlik aktief in die kerk. Mense het hom as toegewyd en vol van Jesus gesien. Maar sy kinders het geweet hoe om sy lewe te lees en hulle het hom gesien soos hy werklik was: ‘n skynheilige. Hy het hulle ma sleg behandel met beledigende taal. Of hy het ‘n geheime stapel pornografiese tydskrifte gehad. Of hy was uitgevang waar hy vuil video’s gekyk het.

So ‘n pa dien in die Eli priesterskap. Hy het geen geestelike gesag gehad nie. En op sy beurt, ontvang hy geen respek nie. Hy mag vir sy kinders preek, of hulle dreig of probeer om gehoorsaamheid af te eis. Maar hy mors sy asem. Dit is alles tevergeefs.

Ons sien dit geïllustreer in Eli se lewe. Eli het twee seuns gehad genaamd Hofni en Pinehas, wat ook as priesters gedien het. God het hierdie mans “seuns van Belial,” of kinders van die duiwel genoem. Hulle het die vermetelheid gehad om te hoereer met die vrouens by die poort van die tempel. Hulle het selfs prostitute in God se huis ingebring. Eli het egter nooit afgereken met sy seuns oor hulle sonde nie. Hy het nooit met hulle gepraat behalwe ‘n leë woord van vermaning nie. Hy het immers geweet dat enigiets wat hy vir hulle sou kon gesê het, tevergeefs was weens sy eie geestelike traagheid.

Vandag is daar meer Christen alkoholiste as ooit tevore. Sommige ouers het hulle tieners vir my gebring om hulp te soek. Te dikwels wanneer ek privaat met hierdie kinders praat, lag hulle oor hulle ouers se bekommernis oor hulle drinkery. “My pa en ma het altyd ‘n voorraad wyn gehad,” het hulle gesê. “Hulle sou drink en dan bid. My ouers het my aan hierdie dinge blootgestel. Ek het nie weens groepsdruk gedrink nie. Ek het by die huis ‘n alkoholis geword. “Ander het my vertel, “My pa raas altyd met my oor my daggarokery. Maar hy drink die hele tyd. Dit is net vloeibare dagga.”

Dit is selfs meer tragies dat ek in hierdie kinders ‘n passiwiteit teenoor Jesus bespeur. Wanneer die Gees tydens kerkdienste beweeg, sit hulle sonder om aangeraak te word. Die preek mag oortuig van sonde, maar die jongmense bly onaangeraak. Ek moet wonder: wat het hulle verhard? Hoe het hulle so ongeïnteresseerd geraak in die dinge van God? Hulle is nie diep verontreinigde kinders of God-haters nie. In werklikheid is baie van hulle goedgeaard en vrygewig. Maar dit is jammer want hulle lewens is volslae geestelike leemtes. Ek kan slegs tot die gevolgtrekking kom dat hulle nie ‘n ware manifestasie van Jesus by die huis gesien het nie.

Esegiël vertel vir ons die priesters in Eli se bediening laat besoedeling in God se huis toe (sien Esegiël 44:7). “Uitlanders, onbesnedenes van hart,” het drekgode in die heiligdom ingebring. En die priesters het “hulle (die volk) gedien ...voor hulle drekgode” (Esegiël 44:12). Dit beteken die herders het die mense se afgodery goedgekeur. Hierdie priesters het eintlik God se mense gerus gestel oor hulle sonde.

Hierdie kwessie van “gedien voor hulle drekgode” moet elke Christen diep tref. Jy sien, ons huise is veronderstel om heiligdomme, waar die Here verhef word, te wees. En geen afgod of gruwel mag daarin toegelaat word nie: “En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek” (Deuteronómium 7:26).

Dit is die gedeelte waarna God my gelei het om toe te pas toe Hy my beveel het om ontslae te raak van ons familie se TV-stel jare gelede. Die Heilige Gees het geopenbaar dat as ek Christus se volheid wou beleef en wou aanhou om profeties te spreek, moes ek daardie afgod verbreek. Ek kon immers nie eers my eie familie bedien as ek aan iets gruweliks sou vasgeklou nie. Dit is toe dat ek besef het dat TV ‘n kragtige wapen vir die vyand sou word. Satan sou dit gebruik om die lig van God se Gees te verdof in die harte en gedagtes van menigtes van Christene.

Natuurlik was dit lank gelede toe die televisie gematig was volgens vandag se standaarde. Die gewildste programme was “I Love Lucy,” “The Honeymooners” en “The Andy Griffith Show.” Die woord “seks” mag nie eers genoem geword het nie. Op daardie stadium sou TV-kykers hulle nie kon indink wat die inhoud van vandag se programme sou wees nie: blatante naaktheid, bloeddorstige geweld, in-jou-gesig seks, die verheerliking van owerspel en homoseksualiteit en die bespotting van evangeliese Christene.

Nou wil ek ‘n ewe belangrike kwessie uitlig: is jou kind se slaapkamer ‘n spelonk van ongeregtigheid? Is sy rakke vol sensuele rap CD’s en video’s? Weet jy watter soort musiek hy op sy rekenaar afgelaai het? Is jy seker hy besoek nie pornografiese webblaaie nie, of selfs dat hy nie met perverse volwassenes in kletskamers gesels nie?

Miskien kyk jou kind X-gegradeerde gemors op sateliet-TV in jou woonkamer. Jy vertel vir jouself, “Ons skryf in vir sateliet-TV slegs vir CNN News en die Discovery Channel.” Maar as jy nie polisieer wat jou kinders inneem nie, dan manifesteer jy nie Christus aan hulle nie. ‘n Onlangse berig van ‘n regeringsagentskap stel voor dat ouers hulle kind se rekenaar in die woonkamer inbring. Dit sou sy kanse verminder om deur ‘n pedofiel gekontak te word. Dit was nie een of ander prediker se raad nie, maar die regering s’n.

Moet my nie hier verkeerd verstaan nie: die kwessie is nie om terug te trek uit die gemeenskap uit nie. In werklikheid, dit is net die teenoorgestelde: om ‘n manifestasie van die waarheid van Jesus te wees in elke area van jou lewe. Ons God wil van ons lewende, asemhalende Bybels vir die wêreld maak. So, hoe kan ons in filmteaters sit en inneem vertonings wat geweld, ‘n sonde wat God haat, verheerlik? Hoe kan ons blatante vloekery van ons Verlosser se Naam verduur? Hoe kan ons passief sit terwyl sensuele, suggestiewe beelde voor ons oë geparadeer word? Hoe kan enige Christen glo dat hy uit die stoel van die spotters sal opstaan met ‘n rein hart, terwyl daar ‘n manifestasie van Christus uit hom voortskyn?

Dit is nie wettiesheid nie. Dit is om Christus te manifesteer. En dit is om te vermy om ‘n Eli, wat sagkens met sonde was, te word. God het van hierdie priesterskap gesê, “En hulle mag nie nader kom na My toe... om nader te kom na al my heilige gawes, na die hoogheilige gawes nie” (Esegiël 44:13).

“Maar die Levitiese priesters, die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het toe die kinders van Israel van My af weggedwaal het, hulle moet na My toe nader kom om My te dien...Hulle moet in my heiligdom ingaan...en my diens waarneem” (Esegiël 44:15-16). God sê in wese, “In die laaste dae sal Ek ‘n Sadok-bediening, wat bestaan uit dienaars na my hart, hê. En in teenstelling met die Eli-priesterskap, sal hulle tot My nader en My bedien.”

Paulus skryf, "Daarom, aangesien ons hierdie bediening het...[het] ons...van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring” (2 Korinthiërs 4:1-2). Paulus sê om Christus te manifesteer behels om van alle heimlike oneerlikheid en geheime sondes afstand te doen. Kortliks, hierdie dinge weerspieël Esegiël se profesie: God se Sadok bedienaars sal die maniere van Eli verwerp, afstand doen van alle afgode, na God terugkeer met hernude passie, meer afgesonder word tot die Here en vasbeslote wees om sy heerlikheid te weerspieël.

Jy mag wonder: waar het die Sadok priesters die krag vandaan gekry om hierdie dinge te doen? Hoe het hulle die vermoë bymekaargeskraap om hulle lewens heeltemal van gruwels te reinig, terwyl die Eli priesters vrylik van sulke gif gedrink het? Wat het met hierdie ware dienaars gebeur om te veroorsaak dat hulle aan Jesus vashou te midde van soveel kompromie?

Eenvoudig gestel, Sadok priesters word verander en bemagtig deur met Christus afgesonder te wees. Hulle bring kwaliteit tyd deur in sy teenwoordigheid. Die gevolg is dat hulle hul roeping gevind het: om tot Jesus te nader en Hom te bedien in sy teenwoordigheid. Hoe bedien hulle die Here? Die woord wat Esegiël vir bedien gebruik is sharath (sien Esegiël 44:15-16). Dit beteken om te wag op of te bedien en te aanbid. Kortliks, dit praat van jaloerse toewyding.

Ek het onlangs van ‘n soortgelyke toewyding in die New York Times gelees. ‘n Verslaggewer was na ‘n nuwe Hindu tempel in Pomona, New York, gestuur. Die tempel was gebou vir die god Vishnu, wat deur baie Asiatiese immigrante aanbid word. Die verslaggewer het beskryf hoe hy gesien het hoe ‘n Hindu priester sy god bedien. Eerstens het die priester die binneste heiligdom of heilige plek binnegegaan. Toe het hy vir ure voor ‘n graniet beeld van Vishnu gekniel. Die god sit in die kronkels van ‘n vyf-koppige kobra, waar dit beskerm word deur die slang se kappies. Die verslaggewer het geskryf, “Die priester het ure later moeg en gelukkig uit daardie heilige plek uitgekom soos ‘n seëvierende krygsman. Hy was bedek met sweet en hy het ‘n verlepte blommekrans onder sy arm gedra.”

Ek wonder of God jaloers word oor hierdie soort toewyding. Terwyl priesters in ander godsdienste lewelose afgode dien, is menigtes van God se mense behep met die dinge van hierdie wêreld. Ons gee Hom slegs brokkies van ons tyd van ons gejaagde, oorskiet oomblikke.

Hulle sal “voor my aangesig staan om aan My die vet en die bloed te offer, spreek die Here HERE” (Esegiël 44:15). Let op twee dinge wat Esegiël hier noem: die vet en die bloed.

1. Die “vet” verteenwoordig die beste deel van ‘n offergawe. Dit verwys na die diere offergawes wat deur die priesters geoffer is: “En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuurofferspys vir ‘n lieflike geur: Al die vet behoort aan die HERE. ‘n Ewige insetting is dit vir julle geslagte in al julle woonplekke: géén vet en géén bloed mag julle eet nie” (Levitikus 3:16-17). Die vet was beskou as die keurigste deel van die offerdier. God het sy mense in wese vertel, “Ek wil hê dat julle My die beste gee wat julle kan bied.”

Vandag is ons offergawe ons aanbidding en toewyding aan die Here. En God vertel vir ons, net soos Hy vir Israel vertel het, “Ek wil die beste van jou lewe hê. Ek wil nie hê dat jy slegs jou moeë, tam ure vir My gee nie. Ek wil jou aanbidding en diens hê wanneer jou gedagtes en liggaam op hulle beste is. Ek wil die beste van alles hê wat jy kan bied.”

Kortliks, ons bedien die Here elke keer wanneer ons Hom eerste plaas. Ons bedien Hom wanneer ons wegstap van aktiwiteite, begeertes en belange om by Hom te wees – wanneer ons alle belangrike dinge opsy skuif en wegsluip om Hom te aanbid – wanneer ons elke gedagte opsy stoot en net aan Hom dink. Dit is om vir Hom die “vet” te bring, die beste deel van onsself. Die Bybel noem hierdie vet selfs die “brood van God.” Met ander woorde, ons voed die Here wanneer ons Hom belangriker maak as enigiets anders.

2. Die “bloed” waarvan Esegiël praat verteenwoordig ‘n lewe wat aan God oorgegee is. Dit beteken onvoorwaardelike toewyding, die oorgee van ons hele lewe. In wese bedien ons die Here elke keer wanneer ons staatmaak op die krag van Christus se bloed. En ons moet dit doen in elke situasie en krisis. Jy sien, om Jesus se bloed te toe te eien is nie ‘n eenmalige belewenis nie. Dit is ‘n daaglikse noodsaaklikheid. Ons moet ons beroep op die krag van sy bloed elke keer wat ons genesing, vrede in ons gemoed en reiniging van sonde nodig het. In alle omstandighede moet ons stewig staan op die beloftes wat God vir ons gemaak het deur die gestorte bloed van sy Seun. Ons moet gereinig, verlos en onwrikbaar staan op sy aansprake.

Die Here noem hierdie offers van vet en bloed “’n lieflike geur” (Levítikus 3:16), wat beteken ‘n lieflike geur op sy lippe. Die Here proe hierdie lieflike geur wanneer ons Jesus die “vet” en “bloed” van ons lewens gee: wanneer ons ons liggame oorgee as lewende offers en op Christus se bloed vertrou as ons oorwinning. Ons voed eintlik God met iets liefliks na sy smaak.

Slegs as ons hierdie dinge doen, sal ons Jesus ten volle manifesteer. En slegs dan sal ons lewens gevul wees met Heilige Gees krag en die gewetes van almal rondom ons aanraak.