‘n Plek Genaamd Raad-Op
“Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters – hulle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte. Want Hy het gespreek en ‘n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
“Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes – hulle siel het vergaan van wee. Hulle het getuimel en gewaggel soos ‘n dronk man, en al hulle wysheid is verwar” (Psalm 107:23-27).
In hierdie psalm, is die plek genaamd “raad-op” op ‘n skip se dek in ‘n see wat deur die storm bedeuk word. Reuse golwe dryf die skip op na die hemele, dan sak dit neer tot in die dieptes. Kragtige winde gooi dit heen en weer, sodat geen van die matrose hulle “see-bene” kan vind nie. Hulle waggel oor die dek soos dronk manne.
Die skip se seile is geskeur en in flarde, een golf na die ander kragtige golf stort neer op die dek. Die matrose moet sukkel om net vas te hou. Dit lyk asof dit alles verby is vir hulle en hulle is heeltemal wanhopig. Hulle is hulpeloos – kwesbaar vir die mag van die elemente, nie in staan om die storm te keer nie, magteloos om hulleself te red.
Hierdie matrose het by ‘n plek gekom met die naam “raad-op.” Dit is ‘n toestand wat alle Christene die een of ander tyd tref. Hierdie frase beteken bloot, “enige moontlikheid verloor het, of te uitgeput wees om ‘n uitweg op te merk of te uit te dink.” Kortliks, dit is die einde van alle menslike vermoë en hulpbronne. Daar is geen uitweg – geen hulp, geen verlossing, anders as in God self nie!
Miskien het jy reeds by “Raad-op” beland!
Soos die matrose aan boord van die skip, het jy soos gewoonlik aangegaan met jou doen en late, gevorder in jou wandel met Jesus. Toe eendag, van nêrens af, het ‘n storm toegeslaan – en golwe van moeilikheid het neergestort van alle kante af!
Die lewe se swaarkry kom selde een op ‘n slag. Hulle is soos die golwe in ‘n storm – en kom een na die ander, vinnig en woes en word groter en groter. Dit is asof die son ondergegaan het, die lug koud en ysig geword het en die winde van moeilikheid het woes begin waai. Soos die matrose in Psalm 107, het jou “...siel...vergaan van wee...” (Psalm 107:26). (Die Hebreeuse woord hier vir vergaan beteken “beswyk van vrees.”)
Ek moet opmerk: God self het hierdie storm geïnisieer! “...Want Hy het gespreek en ‘n stormwind laat opsteek...” (Psalm 107:25). Hy is die Een wat die matrose by hierdie plek gebring het. Hy is die Een wat die wind opgesteek het, die golwe opgesweep het en die skip rondgegooi het. Dit is alles Sy werk!
Dit kan egter ‘n groot bemoediging wees vir ons geloof wanneer swaarkry ons van alle kante af tref. Ons het die kennis dat alle wee en storms in die lewe deur God bestem is, vir die wat in geregtigheid wandel. Dit word nie deur die duiwel of een of ander spesifieke sonde veroorsaak nie. Liewer, die Here het ons raad-op gemaak – en Hy het ‘n doel in dit alles!
“Geliefdes, verlaat julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).
God is nie verbaas oor jou beproewing nie. Dit gebeur in werklikheid omdat Hy wil iets in jou hart wil produseer – om Sy heerlikheid in jou te openbaar.
Jy mag voel dit is absoluut die ergste storm in jou lewe! Jou beproewing kan ‘n finansiële stryd, besigheidsprobleme, laster, familie probleme of ‘n persoonlike tragedie wees. Jy gaan bed toe in die aande met ‘n rusteloosheid van binne, ‘n wolk wat oor jou hang. Wanneer jy wakker word, is die dowwe pyn steeds by jou. En dit hou aan totdat jy eendag wakker word en uitroep, “God, hoeveel nog moet ek verduur? Hoe lank sal U toelaat dat ek hierdeur gaan? Wanneer sal dit alles eindig?”
Wanneer het die storm vir die matrose opgehou in Psalm 107? Wanneer het God hulle na die hawe van hulle begeerte gebring? Volgens die psalmis, het twee dinge gebeur:
*“Eerstens, die matrose was raad-op en het opgegee op alle menslike hoop of hulp. Hulle het gesê, “Daar is geen manier waarop ons onsself kan red nie. Niemand op aarde kan ons hier uitkry nie!”
*“Tweedens, het hulle na die Here geroep te midde van hulle swaarkry – en hulle tot Hom alleen gewend vir hulp!
“Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte” (Psalm 107:28-31).
As jy ‘n ware kind van God is – as jy vasbeslote is om Hom toe te laat om jou na die beeld van Sy Seun te vorm – dan sal jou stryd nie stop totdat jy ophou om alles te probeer uitwerk en jouself dan heeltemal in God se sorg te plaas nie. Totdat Hy Sy ewige doelwitte in jou bereik het, sal jou probleme net aanhou woed!
Tans, kan jy jou veroorsaak dat jou storm aanhou woed en jou probleme opstapel. Jy kan die kalmte wat God vir jou wil gee, misloop. Hoe gebeur dit?
Dit gebeur wanneer jy aanhou om die Here te bevraagteken tydens jou krisis; wanneer jy aanhou murmureer en kla; wanneer jy ‘n vriend skakel wat jy dink die antwoord vir jou het; waneer jy jou wend na raadgewers, sielkundiges, prokureurs en kenners; wanneer jy na ‘n Christelike boekwinkel gaan en ‘n hoop selfhelpboeke en bandopnames koop; wanneer jy aanhou kyk na daardie een geheim, daardie een plan, om jou van jou probleme te verlos.
Geliefde, jy rek net jou beproewing verder uit! Dit klink eenvoudig, maar van die heel begin af, wou God ons kinderlike vertroue hê. En jy laat net die storm aanhou woed en die golwe opstapel wanneer jy uitroep, “Here, ek is in ‘n gemors – en die enigste manier daaruit is U!”
God hou aan om ons by Raad-op te bring, totdat ons leer om Hom heeltemal te vertrou – maak nie saak hoe hopeloos dinge lyk nie!
Ons sien dit keer op keer gebeur met die kinders van Israel in die wildernis. Weer en weer het God hulle raad-op gemaak – om hulle te toets, om te sien of hulle Hom sou vertrou. Maar elke keer het hulle geweier!
Eerstens het die Here hulle by ‘n plek genaamd Pi-Hágirot, tussen Migdol en die see gebring. Hy het hulle toegesluit – in die see voor hulle, die berge aan beide kante, en Farao agter hulle. God het hulle in der waarheid gelei na ‘n plek van menslike hopeloosheid – tot by raad-op!
As die Israeliete bloot een belofte wat God aan hulle gemaak het, geglo het, sou hulle vry gewees het van alle bekommernisse en vrees. God het vir hulle gesê:
“...hoe [het] die Here jou gedra...die HERE julle God...wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ‘n plek te soek om julle laer op te slaan...om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek...” (Deuteronómium 1:31-33).
God het met ander woorde gesê, “Ek sal saam met julle gaan! Ek sal julle dra soos ‘n man sy seun dra. Ek sal voor julle loop en plekke vir julle vind om julle tente op te slaan. Waar die wolk ook al vir jou stilhouplekke voorsien, dit is waar julle moet stop.”
Dit het so gebeur dat die wolk tussen Migdol en die see gestop het – ‘n plek van totale beneweling, van raad-op wees! Daar was geen manier waarop Israel hulle pad deur die Rooi See kon sien nie. En jou het Farao se leër vinnig nader gekom.
Is jy nou op ‘n moeilike plek, met ‘n storm wat broei? Ek vra jou: Hoe het jy daar gekom? Dink jy dat die duiwel jou daar geplaas het? My antwoord vir jou is dit: “Deur die HERE word die gange van ‘n man bevestig, en Hy het ‘n welbehae in sy weg...” (Psalm 37:23). Dit maak nie saak deur watter storm jy gaan nie, dit maak nie saak hoe donker dinge lyk nie, God het jou in daardie plek geplaas – by raad-op!
Verstaan asseblief: God word nooit onkant gevang nie. Hy hoef nie Sy goddelike leiding te improviseer wanneer moeilikheid ons oorval nie. Hy skiet nie ‘n kosmiese munt op om Sy optrede om ons onthalwe te bepaal nie. Nee – lank voor Israel Egipte verlaat het en by Migdol aangekom het, was God se plan vir hulle reeds vasgestel. Hy het reeds die winde beveel om op ‘n seker tyd te waai om die Rooi See op te dam. Hy het die heeltyd geweet presies wat Hy van plan was om te doen!
Net so vandag, het God ‘n plan om jou uit jou storm uit te haal. Hy het in werklikheid daardie plan uitgedink lank voor jou moeilikheid begin het. Hy sal dit egter terughou tot op die heel laaste oomblik, terwyl Hy vir jou wag om Hom te vertrou. Hy wil sien of jy jou lewe in Sy hande sal plaas en sal sê, “Lewe of dood, ek sal die Here vertrou!”
Israel het hierdie toets gedop. Hulle het bang geword en beswyk by raad-op. God het egter steeds vir hulle gedoen wat Hy die heeltyd beplan het. Hy het Israel met ‘n magtige wonderwerk verlos. Maar die gevolg was dat die mense hulle lied van geloof aan die verkeerde kan van die Rooi See gesing het. As hulle God se belofte eevoudig vertrou het – “Ek sal voor jou uit gaan en jou dra soos ‘n man sy seun” – sou hulle die toets geslaag het!
As jy paniekerig raak as jy raad-op is soos Israel – beswyk en God beskuldig dat Hy nie omgee nie – sal Hy nieteenstaande op die laaste oomblik optree en jou verlos. Maar, daarna, sal Hy jou deur nog ‘n raad-op ondervinding neem – omdat jy nie die vorige een deurgekom het en Hom vertrou het nie!
Net drie dae na hulle Rooi See verlossing, was Israel inderdaad in die middel van nog ‘n groot krisis. Die mense was warm, uitgeput en oorweldig deur dors. Hulle verkenners het teruggekom en uitgeroep, “Daar is water daar voor by Mara, maar ons kan dit nie drink nie. Dit is te bitter!”
Die Skrif maak dit baie duidelik: Dit was nie die duiwel wat Israel in hierdie plek van beproewing ingelei het nie. Dit was die wolk wat hulle daarheen gelei het. Weereens, was die mense raad-op. En wat ‘n geween het opgestyg uit die laer – watter verskriklike beskuldigings teen Moses en God: “Julle het ons hierheen gebring om te sterf!”
Het God geweet hierdie water by Mara was bitter? Natuurlik het Hy! Maar Hy het ‘n plan gehad. Daar was ‘n sekere lewende boom naby daardie bitter fontein en Hy sou dit gebruik om die waters vir Israel te suiwer.
Ek wonder – hoeveel jaar tevore het God daardie boom op daardie plek geplant? En hoeveel keer het die warm son neergeskyn op daardie boom om dit te laat verwelk? Hoeveel wurms het probeer om dit dood te maak? Hoeveel verbygangers het probeer om dit af te kap? Ek sê vir jou, niemand het dit aangeraak nie – omdat God ‘n plan gehad het daarvoor! Hy het gesê, “Eendag gaan My kinders hierheen kom, en hierdie waters sal gesuiwer moet word. Ek het ‘n plan om hulle te verlos – en dit gaan hierdie boom insluit!”
Natuurlik verteenwoordig hierdie boom in die woestyn die Kruis. En, geliefde, God het reeds ‘n boom van verlossing vir jou geplant! Hy weet presies wat om aan jou probleem te doen en die presiese uur wat Hy dit sal doen. Al wat Hy van jou verlang, is ‘n stille rus. Hy wil hê jy moet sê, “My God is met my. Hy ken die pad uit my moeilikheid uit!”
Raad-op is ‘n plek van lyding, pyn en onsekerheid!
Ons sien dit geïllustreer in Israel se belewenis by Ráfidim:
“Daarop het die hele vergadering van die kinders van Israel, volgens die bevel van die HERE, van plek tot plek uit die woestyn Sin getrek en laer opgeslaan by Ráfidim. En daar was geen water vir die volk om te drink nie...
“Maar...die volk het teen Moses gemurmureer en gesê: Waarom het u ons dan uit Egipte laat optrek om my en my kinders en my vee van dors te laat omkom? Toe het Moses die HERE aangeroep en gesê: Wat moet ek met hierdie volk doen? Dit skeel maar min of hulle stenig my” (Exodus 17:1-4).
God het Israel na die droogste plek in die hele wildernis geneem. Dit was ‘n toetsplek – met geen stroom, geen put, nie eers ‘n syferstraaltjie water nie. Mees verbasend van alles was, Israel was daarheen gelei “...volgens die bevel van die HERE...” (vers 1).
God self het toegelaat dat Sy mense dors word: “Maar die volk het daar gesmag na water...” (Exodus 17:3). Baba’s het gehuil, kinders het gekerm, oupa’s en ouma’s se kele was droog. Ouers het na hulle families gekyk en gedink, “Binne ‘n paar dae sal ons almal dood wees.” Daarom het hulle hul woedend na Moses gewend en geskree, “Gee vir ons water om te drink!” Hulle het steeds op die mens vertrou – op vlees!
Ek wil hier iets uitwys. Eerstens, God het Israel na Migdol by die see geneem om hulle te toets – en hulle het misluk om Hom daar te vertrou. Volgende, het Hy hulle na Mara geneem, waar Hy ‘n ander plan van verlossing gehad het – en hulle het weereens die toets gedop. Nou het hy hulle na Ráfidim gebring vir nog beproewing.
Sien jy ‘n patroon? As jy nie leer om die Here te vertrou in eenvoudige, kinderlike geloof wanneer jy getoets word nie, sal Hy jou terugbring na nog ‘n toetsgrond. Jy sal van een toets na ‘n ander gaan!
Israel was weereens op so ‘n plek. Hulle was warm, dors en woedend. Maar God het reeds ‘n plan gehad! Hy was nie van plan om hulle te laat sterf nie. Hy het lank voor die tyd gekies dat hulle teen Berg Horeb moes opklim na ‘n opgaardam vol water wat Hy lank tevore vir hulle voorberei het. En daardie bron sou nie net ‘n dag, ‘n week, of ‘n maand hou nie – maar ag-en-dertig jaar!
God het egter gewag vir ‘n reaksie van geloof van Israel. Hy het in wese gesê, “Ek het jou deur al hierdie dinge geneem, maar jy het geweier om te leer. Sal jy My nou vertrou? Hoeveel probleme moet Ek nog in jou lewe toelaat voor jy My sal vertrou?”
Talle Christene word huidiglik getoets en beproef deur werkloosheid. Hulle het hulle CV’s in alle rigtings gestuur, maar weke het verbygegaan en niks opgelewer nie. Hulle het al hulle spaargeld opgebruik en nou word hulle omsingel deur krediteure. Hulle situasies lyk heeltemal hopeloos. Daar is pyn en lyding by betrokke; dit is nooit maklik nie.
Ander het werk, maar word onderbenut. Hulle verdien nie genoeg om te oorleef nie. Talle werkende jongmense moet terugtrek na hulle ouers toe. En duisende enkelmoeders skraap deur op ‘n piepklein inkomste.
Vele besigheidseienaars oorleef skaars. Baie sukkel om in die nagte te slaap, omdat die besigheidswêreld so dol is, met belastings wat die hoogte in skiet, toenemende regulasies en wankelende winste. Die kompetisie neem toe en hulle het al hul idee’s en alternatiewe uitgeput. Nou lê hulle wakker en wonder wat om te doen.
Hierdie lydende, angsbevange mense kom kerk toe en lig hulle hande op om die Here te prys. Hulle glimlag breed en omhels mekaar. Hulle gaan egter deur verskriklike pyn en onsekerheid. Hulle is bekommerd – heeltemal raad-op.
Ek vra jou: As God se kinders, het ons geen ander opsie as vrees – slapelose nage, eindelose dae van God bevraagteken en leef in uiterste onrus nie? Beskou Israel: Was hulle bekommernis en gekerm die enigste reaksie moontlik? Was dit bloot menslik vir hulle om te reageer soos hulle het, uit besorgdheid oor hulle families?
Laat my dit antwoord deur nog ‘n vraag te vra: Het God nie nog altyd geweet wat Hy sou doen in elkeen van hierdie gevalle nie? Het Hy nie nog altyd ‘n plan gehad nie?
Dink daaraan: Het God nie reeds ‘n plan gehad vir die winde om die Rooi See te laat oopmaak nie? Het Hy nie reeds ‘n boom, wat die waters kon genees by Mara, bewaar nie? Het Hy nie reeds ‘n rots gekies op Berg Horeb, waaruit Hy Israel se watervoorraad vir dekades kon voorsien nie?
Ons liefdevolle Vader sou nooit Sy kinders na ‘n droë woestyn lei net om hulle te laat sterf van die dors nie – veral nie as Hy ‘n opgaardam gehad het in ‘n nabygeleë rots nie! God het altyd ‘n plan gehad vir Sy mense. En Hy het op hierdie oomblik ‘n plan vir jou, om jou te verlos van jou huidige moeilikheid.
Daar is geen probleem wat jy het wat Hy nie kan ontrafel nie!
Laat my vir jou wys waarom God Israel op die rand van ‘n ramp moes bring voor Hy hulle behoefte wonderbaarlik aangespreek het:
God het Israel by raad-op gebring om geloof in hulle op te wek deur die bonatuurlike – en dit het nie gewerk nie!
Ek wil met jou praat oor die beperkinge van die bonatuurlike. Talle Christene reis duisende myle elke jaar om bonatuurlike dade te sien – wonderwerke, manifestasies, tekens en wonders. Dit is egter ironies dat hierdie tekensoekende verslaafdes nooit ‘n blywende geloof ontwikkel nie – omdat hulle altyd ‘n groter, meer skouspelagtige wonderwerk nodig het.
Niemand het ooit soveel wonderwerke gesien as Israel nie. God het wonderwerk op wonderwerk voorsien vir hulle – en tog het elke daad die volk so geloofloos en ongelowig gelaat as aan die begin! Jy sou dink dat die tien plae in Egipte geloof in die Israeliete sou opgewek het. Toe Egipte verdruk was met vlieë, was daar nie één te vinde in Israel se gebied nie. Toe Egipte algehele duisternis beleef het, was daar geen duisternis in Israel nie. Tog het nie een van hierdie bonatuurlike plae geloof van enige soort in hulle opgewek nie!
Selfs nadat God die Rooi See oopgemaak het, het Israel se geloof net vir drie dae gehou. Die Skrif sê:
“...hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee [Rooi See]” (Psalm 106:7).
Die psalmis sê hier: “Hulle het selfs in God getwyfel by die Rooi See – die plek waar Hy Sy grootste wonderwerk verrig het!”
Die oudstes wat gekyk het hoe Moses die rots geslaan het by Mara, het water sien uitvloei. Die hele Israel het inderdaad hulle vol gedrink – en tog het daardie wonderwerk nie enige geloof opgewek nie! Toe het God hordes kwartels vir Israel gestuur. Honderde duisende voëls het uit die lug geval tot binne-in hulle laer, en die mense het dit vir vleis gekook. Hulle het steeds egter geen geloof gehad nie! Die volgende oggend, toe Israel uit hulle tente uitgekom het, was die grond bedek met manna, bonatuurlik uit die hemel gestuur. Selfs dit het egter geen geloof geproduseer nie!
In teendeel, na al hierdie glorieryke wonderwerke, het God se kinders hulle hande in ongeloof saamgeslaan en geroep, “...Is die HERE in ons midde of nie?” (Exodus 17:7). Met ander woorde: “Is God ooit met ons? Hoe kan dit Hy wees wat ons lei as ons so baie probleme het?”
Israel het vir veertig jaar wonderkos, wonderwater, ‘n wonderwolk in die dag en wondervuurkolom in die nag, wonderbeskerming, wonderklere wat nooit verslyt het nie, ontvang. Moses het vir hulle gesê:
“...nou veertig jaar lank was die HERE jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie” (Deuteronómium 2:7).
En tog het hulle steeds in Hom getwyfel. In werklikheid het almal wat hierdie wonderwerke gesien het, behalwe twee, in die wildernis gesterf – in algehele ongeloof!
Ons is baie soos Israel. Ons wil hê God moet ‘n woord spreek, ‘n bonatuurlike verlossing vir ons bewerkstellig, gou ons behoeftes aanspreek en al ons pyn en lyding wegneem. In werklikheid sê jy moontlik op hierdie oomblik, “As God my net uit hierdie gemors kan kry – as Hy net hierdie een wonderwerk vir my doen – sal ek nooit weer in Hom twyfel nie!” Wat egter van al die wonderwerke wat Hy reeds vir jou gedoen het? Dit het geen geloof in jou opgewek om jou in jou huidige toestand te help nie!
Onlangs het twee kosbare mans van God uit die Zulu stam in Afrika, Times Square Kerk besoek. ‘n Ontsaglike herlewing is besig om plaas te vind onder die 8 miljoen Zulu’s vandag en God doen bonatuurlike dinge onder hulle. Byvoorbeeld, meer as tien gevalle is gedokumenteer van die dooies wat opgewek is.
Dit is egter nie waaroor hierdie mans wou praat nie. Wat hulle egter die meeste beïndruk het oor die herlewing, is die “oorwinnende Zulu’s” – diegene wat ‘n stand inneem vir Christus, toordokterboeke verbrand en met vrymoedigheid getuig, selfs al word hulle ernstig getoets en gelouter. Hierdie mense was eens goddeloos, met moorddadige geeste – en nou word hulle verander na die beeld van Jesus!
Ek glo die grootste teken of wonder teenoor die wêreld is nie ‘n mens wat uit die dood opgewek word nie. Nee, wat werklik ‘n impak maak op die verstand en gees van die goddeloses, is die Christen wat alle beproewings, storms, pyn en lyding verduur met ‘n vertrouende geloof. So ‘n gelowige kom uit sy moeilikheid sterker in karakter, sterker in geloof, sterker in Christus.
Ek het onlangs gelees van ‘n mistige klein dorpie in Hongarye met ongeveer 4,000 mense, wat ‘n skrikwekkende selfmoordtempo het. Die hoofberigte in die koerante lees: “Selfmoord Bekruip Geïsoleerde Dorpie.” Inwoners daar het al selfmoord gepleeg op elke moontlike manier. Een man het homself in ‘n verlate punt gegooi. ‘n Ander een het homself gehang. Sommige mense het ‘n oordosis pille geneem. Ander het hulle gewrigte gesny, insekdoder gesluk en voor treine ingespring. Hele familie het hulle lewens geneem, van tieners tot oupa’s en ouma’s.
Die dorpie is Asotthalom, eenhonderd myl suid van Budapest en dit is ‘n verlate, eensame plek. ‘n Dokter genaamd Ulloh bestuur ‘n sielkundige kliniek daar en hy het ‘n verslaggewer vertel, “Sommige mense noem die pad hierheen die ‘nou pad na die vervloekte plek.’ ...Dit is in die mense se verstand ingeprent dat God nie baie van ons hou nie.”
Geliefde, dit is die afbrekende krag van ongeloof! Daar is geen erger wanhoop as om te glo dat God Sy mes in het vir jou nie. Dit was Israel se probleem en heel dikwels is dit ons s’n ook. Ons het ‘n onuitgespreekte gevoel dat al ons lyding en probleme die gevolg is van God se misnoeë met ons!
Wanneer jy raad-op is, sal een of twee dinge met jou gebeur.
Elke Christen kom uit raad-op uit en vertrou óf in die mens, óf ten volle op God – dit is, óf vervloek óf geseënd. Op watter manier sal jy reageer in jou tyd van moeilikheid?
Jeremia skryf:
“So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land.
“Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jeremia 17:5-8).
Die eerste persoon van wie Jeremia hier praat, wag nie vir God om op te tree nie. Hy neem sake in sy eie hande – maak sy eie planne, wend hom na mense wat hy dink kán en vat kortpaaie. Hy is altyd besig om te konkel, planne te maak en te manipuleer. Sy filosofie is, “Dit is nie wat jy weet wat tel nie, dit is wie jy ken.” En hy is voortdurend op die uitkyk na daardie spesiale “wie” om sy probleme op te los!
Die Skrif sê ‘n geestelike dorheid kom in hierdie mens se lewe in :
“...hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis...” (Jeremia 17:6).
Hy lyk skaars lewendig – met geen vrug, geen fontein van lewe nie. Hy is altyd op die rand van doodgaan!
“...hy sal nie sien as die goeie kom nie...” (dieselfde vers).
Hy deel nooit in die blydskap van om verlos te wees deur God se hand nie. En alles wat hy dink goed lyk, verander in ellende. Hy is geïsoleer en bestaan slegs in “...dor plekke...” (dieselfde vers). Hy hou aan om te kwyn – verduur inspanning, altyd rasend.
Maar beskou die een wat God vertrou in die moeilike plekke, by raad-op wees:
“Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is” (Jeremia 17:7).
Hierdie Christen is “geplant.” Hy het wortels, stabiliteit, ‘n opgaardam van Lewende Water. Hy “skiet altyd uit” en is vrugbaar en groen met nuwe lewe. Die Skrif sê,
“hy sal...nie vrees as daar hitte kom nie...” (Jeremia 17:8).
Wanneer dinge warm raak en pla, sal hy nie bang wees nie!
Hierdie mens sê, “Jesus, ek hou op om na ‘n mens te kyk om my uit my beproewing te haal. Ek wend my na U alleen! U is my enigste bewaarder, my enigste hoop. Ek kyk na U om my hieruit te bring!” Die Here begeer hierdie soort geloof van ons in alledaagse sake. Jy mag beswaar maak, “Maar Broer Dave, ek is steeds werkloos en het steeds probleme.” Ek moet egter God se Woord glo: “Vertrou My, en jy sal geseënd wees!”
Jy mag antwoord, “Maar ek weet nie wat ek gaan doen nie. Die storm woed steeds voort. Dit lyk so hopeloos. Ek sien nie enige teken van hulp of verlossing nie!” Oor al hierdie dinge sê God steeds, “Vertrou My, My kind – en jy sal geseënd wees!:
Dit maak nie saak wat jou beproewing is met jou familie, met jou besigheid, of om kos op die tafel te plaas nie. As jy jou algehele vertroue in Sy Woord en Sy getrouheid plaas, het God beloof om jou te seën – en Hy kan nie lieg nie! Wanneer die hitte kom, sal jy nie eens gepla wees nie. Wanneer die wind kom, sal jy sterk staan – omdat jy sou geleer het om Hom te vertrou ten spyte van angswekkende omstandighede. Jy sal ‘n groen boom wees wat die oorvloedige vrug van vertroue dra – en almal rondom jou sal hoop en bemoediging gegee word as hulle jou stille vertroue aanskou.
God, help ons almal om ons wil en ons persoonlike agenda’s oor te gee wanneer ons kom by die plek genaamd raad-op. Mag dit ‘n plek van hernude geloof en vertroue in ons liefdevolle Vader wees. Amen!