‘n Volkome, volmaakte, opregte hart
Dit is moontlik om voor God te wandel met ‘n volkome en volmaak opregte hart! God het vir Abraham gesê, “Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees” (Genesis 17:1).
God het ook vir Israel gesê: “Jy moet opreg wees voor die Here jou God” (Deuteronomium 18:13). Dawid het homself, in sy hart, voorgeneem om hierdie bevel te gehoorsaam. Hy het gesê: “Ek wil my daaraan wy om opreg te lewe” (Psalm 101:2).
Die Skrif wys ook vir ons dat Salomo te kort geskiet het in God se bevel om volkome opreg te wees: “Toe het hy die Here sy God nie meer met soveel toewyding gedien soos sy pa nie... hy het nie aan die Here getrou gebly soos Dawid nie” (1 Konings 11:4-6).
Ons vind hierdie bevel van die Here, om volmaak opreg te wees, ook in die Nuwe Testament. Jesus het gesê: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matteus 5:48).
Paulus het geskryf: “Dat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring” (Kolossense 1:28) en in dieselfde brief, “… dat julle geestelik volwasse en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God kan wees” (4:12).
Petrus het gesê: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het, om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak” (1 Petrus 5:10).
Hierdie volkome opregtheid beteken nie dat ons ‘n sondelose, foutlose hart sal hê nie. Die mens oordeel volgens die uiterlike voorkoms, volgens wat hy sien. Maar God oordeel die onsigbare motiewe (1 Samuel 16:7). Dawid het ‘n volkome hart teenoor God gehad, “al die dae van sy lewe”, tog, het hy God dikwels gefaal. Sy lewe was vir alle tye gemerk deur owerspel en moord.
Die basiese definisie van volmaaktheid is: volmaaktheid, volwassenheid. In die Hebreeus en Grieks sluit die definisie die volgende in: opregtheid, vlekloos, smetloos, volkome gehoorsaam. Dit beteken om te voltooi waarmee begin is. Wesley noem dit “volgehoue gehoorsaamheid.”
‘n Volkome hart, is ‘n hart wat vinnig reageer. Dit reageer gou en heeltemal op die Here se influisteringe, en waarskuwings. Hierdie hart sê, ten alle tye, “Spreek Heer, u dienskneg luister. Wys my die pad en ek sal daarin wandel.”
Eenkeer, tydens ‘n lang rit van “Teen Challenge Farm” in Pennsylvania na New York, het die Here met my hart gepraat: “Daar is so iets soos ‘n volkome hart. Ek wil vir jou wys wat dit is, sodat jy daarna kan soek en streef.”
Daardie tyd het God aan my openbaar dat Christus Homself toevertrou aan hulle wat met ‘n volkome gehoorsame hart, Hom volg. Drie dinge onderskei so ‘n hart.
“Die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte” (1 Kronieke 28:9). Die volkome hart roep saam met Dawid, “Deurgrond my hart, o God, deurgrond my hart … kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie” (Psalm 139:23-24).
God het ook vir Jeremia gesê, “Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand” (Jeremia 17:10). Die Hebreeuse betekenis van hierdie vers is, presies dit, “Ek deurgrond en toets deeglik”. Die Skrif sê: “die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God” (1 Korintiërs 2:10).
Jesus praat in Openbaring 2:24 van die “diep geheimenisse van die Satan”, om in die diepste ellende van die sonde in te gaan. Hy sê dat die boosheid, diep in die siel ingaan, met wortels in die hel. Dawid sê oor die kwaadwilliges: “Hulle beplan skelmstukke en sê: “Ons het ‘n volmaakte komplot gesmee, want wat binne in ‘n mens is, wat hy uitgedink het, is ‘n geheim” (Psalm 64:7). “’n Slegte vrou is soos ‘n gevaarlike afgrond” (Spreuke 23:27).
Hierdie gedeeltes is almal heilige waarskuwings: “Julle besef nie hoe diep hierdie omgang met die bose, julle affekteer nie. Dit neem julle in die dieptes van Satan self, dieptes wat geheimsinnig, bodemloos, innig is. Hierdie pad lei na die hel.”
In hierdie laaste dae het sonde meer gekompliseerd geraak, meer subtiel, meer wellustig en meer gesofistikeerd. Dit kom vermom as kuns, kultuur en opvoeding. Ek glo dat daar nuwe dieptes van sonde is. Dit het sterker en dieper wortels gekry. Ons kinders word gekonfronteer met dieptes van sonde wat ons nooit geken het of ooit sal ken nie! “Wee julle wat planne diep verberg vir die Here, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê ‘wie sien ons en wie ken ons?’” (Jesaja 29:15).
Die volkome hart vra die Heilige Gees om te kom en die diepte van die innerlike mens te ondersoek, om in alle verborge dele te skyn, om te grawe en aan die lig te bring alles wat nie van Christus is nie. Vlak preke sal nie diep genoeg grawe om dit aan die lig te bring nie. Hulle wat sonde verberg wil nie ondersoek en veroordeel word nie.
‘n Broer het wenend na my gekom, tydens ‘n biduur. Hy het Times Square Church ‘n paar maande tevore verlaat omdat hy gevoel het dat die prediking te hard was. Tydens hierdie tyd, het hy met die Here bly wandel en selfs gegroei, ten spyte van homself. Uiteindelik het hy oorgeskakel na ‘n kerk wat ‘sagter’ was.
Nie lank daarna nie, het hierdie broer in sy ou sonde teruggeval. Hy het tred gehou met die ander en daar is vir hom vertel dat alles met hom goed gaan – maar hy het beter geweet. Hy het dieper en dieper weggesak in sy ou sonde. Nou, by die biduur het hy teruggekom om die ware Woord van God te hoor.
Daardie selfde aand het ‘n man in ‘n rystoel langs hom gesit. Sy vrou was by hom. Hulle het myle ver gery om ‘n oortuigende woord van God te hoor. Hierdie man was honger daarna om sy binneste deur God te laat skud. Hy het gesê, dit is ‘n lang tyd gelede dat ek laas ‘n boodskap gehoor het wat my van my sonde oortuig het.
Baie Christene wil vandag deur die Bloed bedek wees – maar nie gewas wees nie. Die ritueel in die Ou Testamentiese tabernakel gee ‘n duidelike beeld van die wandel met God, wat die Kerk behoort te hê.
Die tabernakel het ‘n buitenste voorhof gehad waar die offerlam geslag is. Dit het die bloedbedekking vir sonde gesimboliseer. Maar daar was ook ‘n brons waskom.
Geen priester kon die tent van ontmoeting binnegaan, en met God kommunikeer as hy nie eers gewas en gereinig was nie.
Die evangelie wat ons vandag hoor, klink so: “Gaan na die altaar en deur geloof vertrou op die Bloed gestort vir jou. Gaan dan onbeskaamd na die tent van ontmoeting. Die voorhangsel is geskeur, jou Pappa het jou lief, Hy wag vir jou. Hy sien net Jesus in jou.”
Christene wat hierdie boodskap glo, dink dat hulle die waskom kan oorslaan – wat in ons geval beteken, die was deur die water van die Woord. Hulle glo dat hulle verby die verantwoordelikheid van die heiligdom mag druk, met sonde wat soos modder aan hulle koek en sondige gewoontes wat diep in hulle harte nestel. En grootpraterig kan verklaar, “Ek is die geregtigheid van God in Christus.:
Die volkome opregte hart wil meer sekerheid hê, of ‘n sonde-bedekking. Die hart wil in God se teenwoordigheid wees om gemeenskap te ervaar. Gemeenskap is om met die Here te praat, om sy aangesig te soek. Dit is wat ‘n mens in die Allerheiligste vind. Dit kom in die volgorde: bedekking, reiniging, toewyding, gemeenskap.
Baie gelowiges wil niks meer hê as net bedekking nie – ‘n vinnige kaartjie na die saligheid! Hulle gaan rond en roep uit, “Ek is onder die Bloed! Ek is onder die Bloed! Ek is gered!”
Maar hulle kwoteer net een helfte van die vers: “En die bloed van Jesus Christus, reinig ons van alle sonde” (1 Johannes 1:7). Lees gerus alles: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is …die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:6-7). Jesus sê, “Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 15:3).
Ons hoor predikers wat sê, “Julle hoef nie deursoek te word nie. Al julle sonde is in elk geval onder die Bloed! Al hierdie gesoek en gegrawe na sonde bring net veroordeling en ‘n skuldlas.”
Tog sê die Skrif Dawid se hart was volkome opreg, maar hy roep uit: “Deursoek my, o God!”
In Openbaring 2:23 sê Jesus, “Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” Geliefdes, Jesus het met die Kerk gepraat!
Die Here se deursoeking is nie veroordelend nie, maar verlossend. Sy bedoeling is nie om ons in sonde te vang, en te veroordeel nie, maar om ons voor te berei om in sy heilige teenwoordigheid te kom, as rein, skoon houers. “Wie mag in sy heiligdom gaan staan? Die een wie se hande rein en wie se hart suiwer is … so iemand sal van die Here seën ontvang” (Psalm 24:3-5).
God het my onlangs iets gewys in verband met ‘n hart wat Hom vertrou, wat ek nog nooit voorheen gesien het nie! Die psalmis skryf: “Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered. Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie” (Psalm 22:5-6).
Oor en oor het Dawid getuig, “Ek skuil by die Here” (Psalm 11:1). “My God op U vertrou ek” (Psalm 25:2). Die Hebreeus vir die woord beteken, “om oor ‘n afgrond te spring” – dit is soos ‘n kind wat sy vader hoor roep, “Spring!” en wat vertrouend gehoorsaam, homself vorentoe laat val in sy vader se arms.
Dit is een aspek van vertrou. Party van julle is nou in so ‘n situasie. Jy staan op die rand en twyfel, maar jy het geen ander opsie as om te spring, in die arms van Jesus in nie! Party het hulleself net oorgegee aan die omstandighede, maar dit is fatalisme. Hulle noem dit vertroue. Dit is nie vertroue nie – dit is gevoelloosheid. Vertroue is meer as passiewe oorgawe! Dit is aktiewe geloof!
Party van julle het van die Here ‘n vuur-en-reddingswerk maatskappy gemaak. Dit is soos wanneer die Satan jou huis aan die brand gesteek het en jy staan op die dak en roep, “Here, help! Red my!” Dan kom die Here met sy engele en ‘n groot net en roep, “Spring!” Jy spring, die huis brand af en jy sê, “Dankie, Here, dat U my gered het!”
Baie van ons beperk ons vertroue tot hierdie reddings aksies. Dit is asof ons sê, “Here, ek vertrou U om al my vure te doof, om my van al my probleme te verlos, en uit al my moeilikhede te red. Ek weet dat U daar sal wees, as ek U nodig het.”
As ons dit doen, dink ons dat ons geloof opgebou is en ons God behaag. Maar ons besef nie dat ons die duiwel daarmee komplimenteer nie, hy is nou die een wat die aksie aan die gang sit, en God is bloot die een wat reageer. Ons sien die Satan as die een wat al ons toetse, beproewings en moeilike tye beplan. Ons sê uitdruklik, “Die duiwel doen dit!”
Die opvatting wek die indruk dat God eenvoudig net reageer op al die duiwel se goed beplande strategie. Ons God reageer nie – Hy gee die leiding, Hy neem die inisiatief!
As jy waarlik met Christus wandel is jy nie die duiwel se slaansak nie! Hy het geen vrymag om jou aan te raak nie.
Wat se soort vader sal ek wees, as ek enige molesteerder, of bullebak by my kinders vrye toegang sal gee? Tog sê ons: “Die duiwel het dit aan my gedoen … hy het daardie deur toegemaak … hy het dit of dat aan my gedoen!”
Gelowige, waar is jou Vader? Slaap Hy? Gee Hy nie om nie? Wil jy vir my sê Hy laat jou oop vir enige aanvalle van verkragters en moordenaars? Nooit!
Satan kon nie aan Job raak sonder God se toestemming nie. God moes die muur rondom Job laer maak, sodat Satan hom kon by kry! Jesus is deur “die Gees die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word” (Matteus 4:1).
God is altyd in beheer. Nie vir een oomblik is Satan buite die beheer van God se Woord nie!
Christus openbaar Homself aan Paulus as die Een wat “hulle oë oopmaak, sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van Satan tot God kan bekeer” (Handelinge 26:8). ‘n Boodskapper van Satan het Paulus kom kasty, slegs omdat God dit toegelaat het. Hy wou nie sy dienskneg toelaat om hoogmoedig te word, weens die groot openbaring wat hy ontvang het nie. God was in beheer.
Minstens twee keer het Paulus probeer om na Tessalonika te gaan, “maar die Satan het dit verhinder” (1 Tessalonisense 2:18). Tog kon die duiwel nie God se werk tot ‘n einde bring nie. Die gelowiges in Tessalonika word later Paulus se “kroon op sy werk.”
Die vertrouende hart sê: “Al my weë word deur die Here bepaal! Hy is my liefhebbende Vader. Hy laat swaarkry, versoeking en toetse toe – maar nooit meer as wat ek kan dra nie, want Hy maak altyd ‘n pad van ontvlugting moontlik! Hy het ‘n ewige plan en doel vir my. Hy het elke haar op my hoof getel. Hy het elke sel, in my liggaam getel, en het my “aanmekaar geweef in die skoot van my moeder” (Psalm 139:3). Hy weet wanneer ek sit, staan of gaan lê. Ek is die appel van sy oog. Hy is Heer – nie slegs van my lewe nie, maar van elke situasie of gebeure wat my lewe aanraak!”
God het alles onder beheer!
Ek het op ‘n stadium gedink ek weet wat ‘n gebroke hart is. Ek het gedink dat ek baie gebrokenheid ervaar het – tot die Heilige Gees my oë geopen het, vir ‘n dieper betekenis van die woord.
Dawid het gesê: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses” (Psalm 34:19). Hy het ook gesê: “’n Gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie” (Psalm 51:19).
Gebrokenheid is meer as trane, meer as hartseer, meer as ‘n verslae gees, meer as nederigheid. Baie wat ween is nie gebroke nie. Baie wat voor God lê en trane stort is nie gebroke nie. Ware gebrokenheid gee in die hart die grootste krag wat God aan die mens kan gee – groter krag as om die dooies lewendig te maak, groter as krag oor siekte!
Die Gees het vir my hart gesê: “Ek sal vir jou wys wat God as gebrokenheid van hart sien – sodat ek aan jou die soort krag kan gee wat jy nodig het in verwoesting – ‘n krag wat buitengewone eer en heerlikheid aan die Here bring in moeilike tye!
Gebrokenheid is soos afgebreekte, verkrummelde mure, ruïnes. “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging, U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie … herbou tog die mure van Jerusalem” (Psalm 51:19-20). God vergelyk ‘n gebroke hart met die mure van Jerusalem.
Laat my toe om vir u die voorbeeld voor te hou van ‘n ware hartgebroke man: “Ek is die nag stilletjies uit met ‘n paar man by my; ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen dier by my gehad nie. Ek is die nag deur die Dalpoort en het die mure van Jerusalem nagegaan, daarna het ek omgedraai en is weer deur die Dalpoort huis toe” (Nehemia 2:12-15).
Nehemia het in die donkerte van die nag die “stadsmure nagegaan.” Die Hebreeuse woord shabar word hier gebruik. Dit is dieselfde woord wat in Psalm 51:19 gebruik word vir “’n gebroke hart.”
Party mense dink Nehemia was so gebroke toe hy gaan sit en huil het, “ek het gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid” (Nehemia 1:4). Tog was sy vas en sy belydenis net die begin van die proses van gebrokenheid. Nehemia se hart was nie ten volle gebreek totdat hy in Jerusalem aangekom het nie. Toe eers het hy die vernietiging gesien en iets daaraan begin doen!
Nehemia kon in die koning se paleis in Susan gebly het. Hy kon dae van vas, ween, belydenis en gebed gehad, het en steeds nie ‘n gebroke hart verkry het nie!
Die gerug het versprei dat “daar ‘n man gekom het, wat die welvaart van die kinders van Israel soek” (Nehemia 6:6). Maar Nehemia het gesê, “ek het vir niemand gesê wat God in my hart gesit het om te doen nie.”
Hy is met ‘n donkie buite om die mure en het die ruïnes geinspekteer. In Hebreeus beteken dit “sy hart het op twee maniere gebreek.” Dit het gebreek uit verdriet om die verwoesting – en dit het gebars van hoop om dit te herbou!
Dit is ‘n ware gebroke hart – ‘n hart wat die kerk en families verwoes sien, en die Here se leed hieroor ervaar. So ‘n hart breek oor die skande op die Here se naam. Dit kyk diep in die eie hart en sien, soos Dawid, sy eie skande en mislukking, en roep uit, “Here, ek het die mure laat bars! Ek het u heilige getuienis verontagsaam. Ek is verbrysel deur die sonde. Dit kan nie so aangaan nie!”
Maar daar is ‘n ander element van gebrokenheid: hoop. Die ware gebroke hart het van God gehoor, “Ek sal gesond maak, terug gee, weer opbou. Raak ontslae van die gemors en begin werk aan die heropbou!”
Drie jaar gelede het ek deur Times Square gestap, wenende oor al die sonde. Ek het huis toe gegaan, in Texas, en vir meer as ‘n jaar geween en getreur. Toe het God gesê: “Gaan en doen iets daaraan.”
Ek het gekom en die vernietiging gesien, maar ek was nie ten volle gebroke, voordat ek nie hoop ontvang het en die mure begin herbou het nie!
Het jy na die vernietiging in jou eie lewe gekyk? Het jy soos Dawid gesondig en skande op sy Naam gebring? Is daar ‘n bars in jou muur? Iets wat nie herstel is nie?
Geliefde, dit is goed om op die Rots (Jesus) te val en in stukke gebreek te word. As jy Christus in al sy heerlikheid sien, sal jy in elk geval versplinter word. Selfs die goeie in jou – die talente, die bekwaamhede, die vermoëns – sal tot niet gaan as jy voor Hom staan of lê, hulpeloos en geledig!
Daniël het gesê, “Ek het magteloos en doodbang geword en geen krag meer in my gehad nie” (Daniël 10:8). Gebrokenheid is die algehele vernietiging van alle menslike krag en vermoë. Dit besef die volle werklikheid van sonde en die skande wat dit op Christus se Naam bring!
Nogtans, besef dit ook: “Staan regop, want ek is na jou toe gestuur” (Daniël 10:11). Dit is die algehele sekerheid dat dinge gaan verander – dat genesing en heropbou gaan plaasvind. Jou ruïnes gaan deur God terug geëis word!
Dit is ‘n heilige geloof wat sê: “God werk in my! Satan kan my nie terughou nie. Ek gaan nie agteruitgaan of val nie. My sonde bedroef my, maar ek het my bekeer. Nou is die tyd om op te staan en te herbou!”
Totdat jy by daardie hoop uitgekom het, sal jou trane nie ophou vloei nie. Jou lewe mag nog na ‘n vuilgoedhoop lyk, met berge van stof en gebreekte skerwe, maar onthou – jy het sy swaard en sy wapens in jou hand. En oor dit alles is daar ‘n groot kennisgewing – deur die Here se hand aangebring wat sê:
God is besig om te werk. Vyande, pas op!