’N VRYGEWIGE LEWE

Gary Wilkerson

Ons almal hou daarvan om preke te hoor en boeke te lees oor God se seëninge. Dit is waar dat God ‘n vrygewige natuur het en dit kan ons van hulp wees om meer daarvan te leer. Maar ons wandel met Christus moet ons verander van ‘n “ontvangende” lewe na ‘n “vrygewige” lewe. Jesus bewerkstellig hierdie verandering in ons deur ons wêreldse gees met sy eie goddelike Gees te vervang. Hy sê vir ons, “Julle is deur My geseën. En nou moet julle daardie seëninge weggee aan ander.”

Dit is ‘n glorieryke teologie – maar dit is die moeilikste verandering wat ons ooit sal maak. ‘n Lewe van ontvang is maklik; ‘n lewe van vrygewigheid is moeilik – maar so belonend. Onthou, Jesus het geseën; Jesus was gebroke; Jesus het weggegee. Dikwels steek hierdie proses binne-in ons vas na die eerste stap – ons kom nie verder as die seëngedeelte nie. Ons laat nie toe dat ons lewens gebroke is voor God nie, en daarom bereik ons nooit die laaste stap – gee – nie. Daarom sal talle nie die volkome vervulling van God se doel met hulle beleef nie.

Tydens Jesus se bediening, het Hy baie dade van vrygewigheid gedoen, maar die skares het opgehou om Hom te volg toe Hy moeilike waarhede begin verkondig het. Sommige van sy dissipels het Hom selfs verlaat en Jesus het vir die twaalf gesê, “Wil julle nie ook weggaan nie?” Maar Petrus het hom vinnig geantwoord, “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (6:68).

Jy sien, toe Jesus verder gegaan het as gee, na iets van hulle te vra, was die dissipels gedwing om ‘n keuse te maak. Sou hulle Jesus volg of sou hulle terugval na hulle ou lewe waar hulle hul eie agenda gekies het?

Die agenda waarmee Jesus Petrus gelaat het, was ‘n bevel: “Laat my skape wei.” Trouens, Hy het dit drie keer gesê (sien Johannes 21:16-17). Hy het in wese gesê, “Petrus, my kinders het hulp nodig, so versorg hulle. Gee vir hulle kos. Gee jou lewe vir hulle.”

Jesus het Petrus in diens sy gestel vir ‘n lewe van vrygewigheid en Hy doen presies dieselfde met ons.