Aan Die Dood Oorgelewer!
Op die dag van Pinkster, het die apostel Petrus aan die skares in Jerusalem verklaar, “Jesus, die Nasaréner...wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van die goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring” (Handelinge 2:22-23).
Wat het Petrus bedoel toe hy dit gesê het? Een Griekse woordeboek vertaal sy woorde op hierdie manier: “Jesus was oorhandig aan vyande, oorgegee aan die dood volgens die bepaalde plan van God.”
Wat ‘n vreemde, onbegryplike daad deur ‘n sogenaamde liefdevolle Hemelse Vader. God het doelbewus sy Seun aan die dood oorgelewer! Dit was asof Hy Jesus doelbewus in die hande van sy grootste vyande ingelei en gesê het, “Hier is my Seun – doen met Hom wat julle wil.” Toe het Hy by gestaan en niks gedoen om te keer dat sy Seun se bose vyande Hom doodmaak nie.
Watter soort voorafbepaalde plan was dit? Waarom sou God sy eie geliefde Seun aan die dood oorlewer? Petrus gee vir ons die antwoord in die volgende vers: “omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word” (Handelinge 2:24).
God het geweet dit was onmoontlik vir Jesus om permanent in die dood se greep vasgehou te word. So, daar was vir Hom geen risiko daarin om sy Seun aan die dood oor te lewer nie. Hy het geweet dat Jesus by die graf sou uitkom met ‘n heerlike oorwinning oor die dood – opgewek deur die lewegewende krag van die Heilige Gees!
Dit is egter belangrik om die tye waarin Petrus hierdie woorde gespreek het te verstaan. Tot op Golgota, was dood ‘n baie vreesaanjaende ding vir die mensdom. Dit was steeds die duiwel se domein, onder sy beheer en heerskappy. Daarom was die dood ‘n vyand om te vrees.
God het geweet hierdie mag van die dood moes gebreek word. En dit is waarom Hy sy Seun aan die dood oorgelewer het: “...sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel” (Hebreërs 2:14). God wou die dood se angel verwyder om Satan se mag oor die dood te breek vir eens en vir altyd. Daarom het Hy toegelaat dat Jesus afgaan in die dood, sodat Hy dit kon verslind.
Terwyl Jesus stil in die graf gelê het, het Satan en sy hordes gespog. Hulle het gedink hulle het ‘n onomkeerbare oorwinning behaal. Maar in die tussentyd, was God se voorafbepaalde plan in werking gestel – ‘n plan vir die opstandingslewe!
Die Here het sy Heilige Gees in die buik van die hel ingestuur. En daar het die Gees Jesus se liggaam verkwik en Hom uit die dood opgewek. Toe het ons geseënde Verlosser uit die graf opgestaan, regdeur die dik klip. En Hy het daar uitgekom het hierdie getuienis:
“Ek is...die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en die dood” (Openbaring 1:17,18). Christus sê hier in wese, “Ek is die Een wat die ewige lewe het! Ek was dood, maar kyk, Ek lewe, nou en vir ewig. Ek hou die sleutels van lewe en dood in my hande!”
Die oomblik toe Jesus uit die dood se gevangenis uitgestap het, het Hy die opstanding en die lewe geword. En Hy het dit nie net vir Homsefl gedoen nie, maar vir almal wat in Hom sou glo van daardie dag af en verder. Hy het vir ons ‘n opstandingslewe, wat bo die mag van die dood was, voortgebring!
Daarom is daar nie meer enige rede vir ‘n Christen om die dood te vrees nie of om dit as ‘n vyand te sien nie. Ons Here het dit heeltemal oorwin: “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het” (Handelinge 2:24).
As jy Jesus as jou Verlosser en Here ontvang het, dan woon Hy in jou as ‘n magtige krag van die opstandingslewe. En dieselfde opstandingskrag wat Hom uit die graf laat opstaan het, sal jou ook onderhou. “Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie” (2 Korinthiërs 13:5). Jy het binne-in jou wese alles wat in Christus is, ‘n magtige lewenskrag wat Satan nie kan vernietig nie!
Paulus sê vir ons dat ons ook aan die dood oorgelewer is soos Jesus, ons Here!
Die apostel Paulus skryf, “Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word” (2 Korinthiërs 4:11).
Wanneer Paulus sê, “ons wat lewe,” herhaal hy Jesus se woorde in Openbaring 1:17,18: “Ek is... die lewende.” Paulus praat hier van Christene wat op Christus vertrou en sy lewe blywend in hulle het. Wat sê Paulus egter oor ons in hierdie vers? Hy sê vir ons dat ons ook aan die dood oorgelewer is!
Dit is reg, net soos die Vader sy Seun aan die dood oorgelewer het, lewer Hy almal wat in Christus is net so oor. God lei elkeen van ons aan die hand na die poorte van die dood en sê, “Hier, dood, neem hierdie een ook. Doen wat jy wil met hom!” En op daardie punt, is God se hand nie meer een van beskerming nie. Dit lei ons eerder in die kake van die dood in!
Waarom doen God dit, vra jy? Hy doen dit om dieselfde rede waarom Hy sy eie Seun aan die dood oorgelewer het. Hy weet die dood kan ons nie hou nie! Die dood se pyn en lyding kan ons nie meer verslind of vernietig nie. Ons het binne-in ons ‘n lewenskrag wat magtiger is as die dood, die lewe van Christus self!
God weet daar is vir ons geen risiko nie, net soos daar geen risiko vir Jesus was nie. En Hy het ‘n voorafbepaalde plan vir ons, net soos Hy vir sy eie Seun gehad het. Hierdie plan gaan vir ons die grootste oorwinning wen wat ons nog ooit geken het. Hierdie oorwinning kan egter slegs in ons bereik word deur die dood.
Paulus waarsku ons, “As jy die opstandingslewe van Christus in jou het, gaan God jou aan die dood oorlewer elke dag van jou lewe!” “Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood” (2 Korinthiërs 4:11).
Die apostel voeg by, “Soos geskrywe is: Om u ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape” (Romeine 8:38). Die Griekse betekenis hier is, “Elke dag word ons oorgelewer aan die dood.” Kortliks sê Paulus, “Elke dag beleef ek ‘n nuwe doodsituasie.”
Verstaan asseblief dat Paulus nie hier praat van fisieke dood nie. Hy praat van ‘n soort dood wat met ons gebeur in ons daaglikse wandel met Christus. Wanneer hy getuig, “Ek sterf dag vir dag” (1 Korinthiërs 15:31), verwys hy na verdrukking, benoudheid, vervolging, gevaar en allerhande soorte moeilikheid.
Paulus sê in wese, “Ons wat die Christus-lewe in ons het, word gedurig oorgelewer aan een doodsituasie na ‘n ander. Elke dag is daar ‘n nuwe toets, krisis of vervolging wat ons tref. So, as jy die lewe van God se Seun in jou het, kan jy verwag om te sien dat een of ander soort doodsituasie jou lewe binnekom elke dag!”
Elke keer wat Paulus se vriende hom gesien het, was hy in die moeilikheid.
Die goddelike apostel Paulus was vol van die Heilige Gees en openbaringskennis. Hy het daagliks vurig gebid en in ‘n intieme gemeenskap met Jesus gewandel. Hy het egter erken dat hy gedurig geslaan, belaster, verag en uitgeskel was. Hy was oor geskinder, sy karakter is aangeval en sy naam is gesmaad. En buiten al hierdie sielsangs, was hy aangeval deur demoniese magte, het skipbreuk gely, is geslaan en gestenig.
Paulus het so baie en so dikwels gely, dat selfs sy geestelike kinders gewonder het waarom hy gedurig moeilikheid en vervolging beleef het. Elke keer wat hulle hom gesien het, was sy gesig gekneus, of sy bene was gebreek, of sy liggaam was vol letsels.
Hulle kon nie help om vir hulle geestelike vader te vra, “Waar is God se beloftes vir jou, Paulus? Jy verkondig dat God beskerm en red. Waarom gebeur dit nie met jou nie? Waarom moet jy altyd met so ‘n swaar hart kom wanneer jy ons besoek?” Hulle het gedink Paulus was skuldig aan een of ander sonde.
Natuurlik het dit Paulus diep seergemaak. Hier was ‘n magtige, opregte prediker van God se genade en verlossing en oral waarheen hy gegaan het, was hy beledig en belaster. Die laster het uiteindelik so erg geword, dat Paulus in ‘n brief aan Timótheüs uitgeroep het, “Almal in Asië is teen my! Ek het al hierdie kerke gestig en hulle leiers opgerig. Maar nou het selfs hulle teen my gedraai!”
Die apostel het gesê hy het een vriend oorgehad, Onesiforus, wat “hom oor my kettings nie geskaam [het] nie” (2 Timótheüs 1:16). Paulus het van sy vriend gesê, “Hierdie man skaam hom nie oor my gevangenskap nie. Hy weet van beter as om te dink daar is een of ander verborge sonde in my lewe!”
Paulus het ook gesê hy was bemoedig deur ‘n groep gelowiges wat “ook saam met my gevoel [het] in my boeie” (Hebreërs 10:34). Hy het gesê, “Hierdie mense voel wat ek voel.”
Waarom het al hierdie mense by Paulus in sy beproewings gestaan? Dit was omdat hulle self “deur smaad en verdrukkinge ’n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het” (Hebreërs 10:33).
Hierdie gelowiges het die apostel se “deelgenote in verdrukking” geword, omdat dieselfde dinge wat met Paulus gebeur het, met hulle gebeur het! Hulle kon nie na die apostel se diep beproewings kyk en hom beskuldig dat hy onder oordeel van ‘n sonde is nie. Hulle het immers dieselfde smaad gely. Hulle moes medelyle met Paulus gehad het, anders sou hulle hul eie geestelike lewens moes bevraagteken!
Ek ken ‘n diep geestelike bedienaar wat jare van sataniese kastyding en vervolging deur ander gelowiges verduur het. Elke keer wat ek hom gesien het, het my vir my gevra om vir hom te bid oor sy moeilikheid. Ek het met graagte ingestem, maar met verloop van tyd, toe sy beproewing aangehou het, het dit my begin pla. Uiteindelik het ek hom reguit gevra:
“Ek verstaan nie waarom jy altyd so geteister word nie. Waarom lyk dit of jy voortdurend ‘n teiken vir sataniese aanvalle is? Jy is een van die goddelikste pastore wat ek ken. Jy is intiem met die Here, altyd in gebed en bestudeer voortdurend sy woord. Waarom sou die Here toelaat dat jy soveel voortslepende probleme beleef?
Ek kon nie help om te dink, “Ek het beproewings en slegte tye, maar ek het dit nie die hele tyd, soos hy nie.” Vir ‘n tydperk het ek daardie man se geestelike lewe betwyfel.
Maar nou weet ek waarom hierdie goddelike bedienaar so oorgelewer was aan doodsituasies daagliks. Dit was omdat hy so vol opstandingslewe was! God wou hom op ‘n magtige manier gebruik en daarom het Hy aangehou om hom aan die dood oor te lewer op elke gebied van sy lewe. Hy wou hê niks moes oorbly wat die glansryke openbaring van Christus in hom kon verhinder nie.
Dit is waarom Paulus daagliks “aan die dood oorgelewer was.” Dit was waarom hy geslaan, belaster, vervolg, beroof, gevange geneem, skipbreuk gely, beswadder, gehaat en misverstaan was. Satan was daarop uit om die getuienis van die lewe in hom te vernietig. Hy het geweet ‘n groot openbaring van Christus was op die punt om uit Paulus se lewe te skyn!
Waaraan presies moet ons sterf?
Paulus sê ons word oorgelewer aan die dood “dat die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word” (2 Korinthiërs 4:10). God bring ons in doodsituasies, sodat Christus se lewe in ons geopenbaar kan word aan ander!
Die apostel sê ook, “Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense” (1 Korinthiërs 4:9).
Eenvoudig gestel, wanneer goddelike heiliges vol van die Christus-lewe in doodsituasies ingelei word, is dit nooit ‘n private aangeleentheid nie. Die Skrif sê ons word ‘n skouspel gemaak vir drie verskillende intelligensiemagte: engele, duiwels en die mensdom.
Huidiglik mag jy dalk stry in die kake van die dood. Die vyand het teen jou gekom en bring moeilikheid op moeilikheid en oorweldig jou met vrees. Soms mag jy heeltemal alleen voel in jou stryd.
Maar jy is nie betrokke in een of ander verborge oorlogvoering nie. Jou stryd vind nie in een of ander donker hoekie plaas nie. In teendeel, drie koninkryk kyk met groot belangstelling na jou. Duiwels hou jou dop, engele hou jou dop en mense hou jou dop. En hulle wonder almal, “Hoe gaan hierdie dienaar van God teenoor sy beproewing reageer?”
Waaroor gaan sulke ‘n skouspel-beproewings? Waarom moet ons deur hierdie dode gaan? Wat is in ons waarna God soek?
Ons hemelse Vader weet dat sekere onverloste gebiede in ons lewens die volle openbaring van Christus se lewe in ons verhinder. Hy ken ons struikelblokke, ons vrese, ons ambisies, ons begeertes – alles wat ‘n volle glans van Jesus blokkeer. Daarom laat Hy toe dat ons in “doodsituasies” geplaas word om ons harte van hierdie struikelblokke te reinig.
Beskou hierdie voorbeelde:
1. As jou struikelblok die vrees vir mense is, sal God moontlik iemand in jou lewe bring wie se teenwoordigheid jou met vrees verlam. Alles wat daardie persoon doen of sê, dra by tot jou vrees, totdat dit ondraaglik word. Met verloop van tyd, begin jy neerslagtig en waardeloos voel en skaars in staat om voort te gaan.
Ek het gesien hoe so ‘n vrees fisieke pyn vir God se heiliges gebring het. Sommige het op die ou end gehiperventileer oor die “harde persoon” in hulle lewe en letterlik na hulle asem gesnak!
Waar kom so ‘n baasspelerige persoon vandaan? Waarom laat God toe dat so ‘n man of vrou betrokke raak in jou lewe? Dit gebeur omdat jou liefdevolle Vader jou aan die dood oorlewer! Hy sê vir jou, “Jou vrees vir mense verhinder die kosbare vloei van die Christus-lewe in jou. Daarom kan dit nie lewe in ander veroorsaak nie. Hierdie vrees in jou, moet tot ‘n einde kom. Jy moet sterf daarvoor!”
Jou uitroep tot Hom mag wees, “Here, kry my hier uit!” Maar God reageer, “Nee, Ek gaan die dood sy werk laat doen. Ek het alles so gereël dat jy by ‘n dood gebring sal word!”
2. As jou struikelblok ambisie is, sal God moontlik vir jou ‘n deur oopmaak tot ‘n geweldige geleentheid. Dit kan ‘n seëning wees wat so vanselfsprekend en belowend is, dat jy dit nie kan mis nie. Dit mag selfs die grootste, mees ambisieuse projek van jou lewe wees. En God sal toelaat dat jy daarmee voortgaan, terwyl jy dink, “Dit is dit! Ek het uiteindelik my groot deurbraak gekry.”
Dan sal die Here toelaat dat die hele ding ten gronde gaan. Jy sal te midde van die bouvalle van jou lewe se droom staan en uitroep, “Here, ek het gedink hierdie projek was u wil! Ek het gedink dit het u seën. Ek het getrou daaroor gebid en U het my sover gebring. Hoe kon U toelaat dat dit so ellendig misluk het?”
Jy is oorgelewer aan die dood! Die mislukking van jou projek is bedoel om die dood van jou ambisie te wees, ‘n dood van alles wat verhinder dat die Christus-lewe in jou gemanifesteer word.
3. Jou struikelblok kan moontlik die ontsaglike openbarings, wat jy van God ontvang het, wees. Jy mag moontlik vra, “Hoe kan vars openbaring ooit ‘n struikelblok vir ‘n liefhebber van Jesus wees?” Glo my, dit gebeur met baie toegewyde volgelinge van Jesus en dit kan met jou gebeur!
Eendag mag jy jubel oor die nuwe waarhede wat vir jou oopgegaan het. Diepgaande leerstellinge word vir jou duideliker as ooit tevore. En jou vertroue groei, omdat jy konsekwent elke nuwe openbaring van jou wandel met die Here toepas. Jy is so seker van jou posisie in Christus dat jy dink, “Ek het uiteindelik die Bybelse beginsels gevind om ten volle ‘n oorwinnende lewe te leef!”
Dan skielik, vir geen opsigtelike rede nie, word jou siel getref met droogte. Gou maak jou blydskap en versekering plek vir ‘n gevoel van swakheid en nutteloosheid. ‘n Onverklaarbare depressie vul jou siel en elke dag word vir jou ‘n las.
Die Skrif wat eens so lewend in jou hart geword het, lyk nou soos ‘n geslote boek. In plaas van openbaring ontvang, wonder jy of jy ooit weer enigiets gaan leer. Jy dink, “Dit lyk of ek selfs nie meer die duidelikste gedeeltes van die Skrif kan verstaan nie. Ek kan eenvoudig nie ‘n woord van God kry nie. Ek moet ‘n geestelike onkundige wees!”
Die probleem is nie jou intellek nie. Jy word oorgelewer aan die dood! Jou droogheid is bedoel om jou dood van alle vertroue op jou vlees te verhaas. Dit is ‘n dood tot jou geneigdheid om te roem in die openbaring wat vir jou gegee is, eerder as om jou blydskap in Christus te kry.
Trouens, openbaring is geneig om trots te veroorsaak. Dit is die rede waarom God vir Paulus ‘n doring in sy vlees gegee het. Hy het Paulus verhoed om te roem in sy talle groot openbarings. God wou hê sy getroue dienaar moes in alles nederig bly!
Hierdie hele proses waarin jy “doodsituasies” moet verduur, kan wreed klink. Dit is sonder twyfel een van die pynlikste aspekte van ons wandel met Jesus. Maar as ons toelaat dat dood sy werk in ons afhandel, sal Christus se eie opstandingslewe vrylik uit ons vloei. Aan die ander kant, as ons die dood se werk weerstaan, sal ons nooit Christus se lewe in ons hê nie!
Wanneer ek praat van sterf aan iets, bedoel ek eenvoudig dat die ding waaraan ons “sterf,” nie langer mag of heerskappy oor ons het nie.
Wanneer ons sterf aan iets, verloor wat ook al die struikelblok was, sy greep op ons. Dit is nie meer ons baas nie en nie meer ‘n bron van afleiding vir ons gedagtes of gees nie.
Christene het egter verskillende reaksies wanneer God hulle oorlewer aan doodsituasies. Talle murmureer en kla. Hulle roep tot God uit, “Here, haal my hier uit! Ek het genoeg gehad. Dit is alles te veel vir my om te hanteer!”
Ander word oortuig dat God hulle gefaal het. Hulle wonder, “Waar was die Here se reddende krag toe ek dit die nodigste gehad het? Waarom het Hy nie sy woord aan my gehou nie? Sy beloftes werk nie!”
Maar met elke doodsituasie wat ons beleef, weet God dat dit nie klaarpraat met ons is nie. Hy weet ons gaan nie af na die dood vir ewig nie. Die dood wat ons gaan beleef, kan ons nie vashou of vernietig nie. Ons Vader se goddelike plan is vir sy Heilige Gees om ons seëvierend uit ons toets te bring, vol van opstandingslewe!
Eenvoudig gestel, ons doodsituasie is bedoel om die einde van sekere persoonlike struwelinge te wees. Ons Vader bring ons by ‘n plek waar ons sal besef dat ons heeltemal op Christus moet vertrou, of ons sal nooit deurkom nie. Hy wil hê ons moet sê, “Jesus, tensy U my red, is dit hopeloos. Ek plaas my vertroue in U om alles te doen!”
Paulus het hierdie soort dood beleef. Op een stadium in sy lewe, het hy opgehou soek na verligting van sy doodsituasies. Ek is seker dat hy in die vroeë dae van sy wandel met Christus verskriklike tye beleef het. En, soos die meeste van ons, het hy waarskynlik gehoop dat as hy die Here net lank genoeg vertrou het, sou hy bewaar word van alle moeilikheid.
Die eerste keer wat Paulus in die tronk gegooi is, byvoorbeeld, kon hy moontlik vir redding uitgeroep het, “Here, maak hierdie tronkdeure vir my oop. Kry my hier uit, vir u evangelie se ontwil!” Net so, het sy eerste skipbreuk sy geloof waarskynlik ernstig getoets. En sy eerste slae kon moontlik veroorsaak het dat hy God se vermoë om sy woord te hou, bevraagteken het: “Here, U het beloof om my te beskerm. Ek verstaan nie waarom ek hierdie verskriklike beproewing moet verduur nie!”
Maar dinge het vir Paulus net erger geword. Die Skrif gee min bewyse dat die apostel ooit veel verligting van sy moelikheid gekry het.
Ek glo met sy tweede skipbreuk, moes Paulus gedink het, “Ek weet die Here woon in my. En daarom moet Hy ‘n rede hê vir hierdie beproewing. Hy het vir my gesê alle dinge werk ten goede mee vir die wat God liefhet en geroep is volgens sy voorneme. As dit sy manier is om ‘n groter manifestasie van Christus se lewe in my voort te bring, laat dit so wees. Sink of swem, my lewe is in sy hande!”
Teen die derde skipbreuk, het Paulus waarskynlik gesê, “Kyk na my, al julle engele in heerlikheid! Kyk na my, al julle onrein demone van die hel. Kyk na my, al julle broeders en sondaars. Ek gaan weereens deur diep, donker waters tot by die kake van die dood. Ek is ‘n skouspel en word vir almal ten toon gestel om te sien!
“Ek wil hê dat julle almal moet weet dat God weet die dood kan my nie vashou nie! Hy het vir my gesê dit is nog nie my einde nie en ek verloor nie moed nie. Ek gaan nie my Here bevraagteken oor waarom ek op hierdie manier getoets word nie. Ek weet hierdie doodsituasie gaan op die ou end groot heerlikheid vir Hom bring. So, almal van julle wat vir my kyk, sien hoe my geloof te voorskyn kom so suiwer soos goud!”
Ek wens ek kon Paulus ontmoet het in sy laaste, volwasse dae van sy wandel met die Here. Ek sou vir hom gevra het, “Broer, wat het jou weerhou dat jy beswyk en moed verloor het? Jy was voortdurend verdruk aan alle kante.”
Ek glo Paulus sou geantwoord het, “Ja, ek was verdruk. Maar ek was nie deur dit alles terneergedruk nie.”
“Maar jy skryf dat jy dikwels verleë was oor jou beproewings,” sou ek sê.
“Dit is waar, maar nooit het ek een keer wanhopig moed verloor nie,” sou hy antwoord.
“Jy was ook meer vervolg as enige ander.”
“Ja, ek was. Maar die Here het my deur alles nooit verlaat nie.”
“Jy was dikwels neergeslaan, met ongesteldhede en moelikheid.”
“Sekerlik. Maar niks daarvan het my vernietig nie.”
Vandag getuig Paulus teenoor die hele wêreld, “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie” (2 Korinthiërs 4:8-9). Hy wil hê God se mense moet weet, “Al jou probleme is ligte, tydelike verdrukkinge. En dit werk in jou ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid!” (sien 2 Korinthiërs 4:17).
Paulus som God se ewige doel met ons doodsituasies op met een kragtige stelling.
Paulus sê vir ons, “So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle” (2 Korinthiërs 4:12). Die apostel stel dit baie duidelik, “Hier is die rede waarom God ons oorlewer aan die dood. Hy doen dit, sodat die lewe van Christus uit ons sal vloei na ander! As ons toelaat dat die dood sy werk in ons afhandel, sal ‘n manifestasie van die Christus-lewe uit ons voortkom. En ons getuienis sal lewe bewerk in almal wat dit hoor!”
Die Here lewer ons oor aan die dood, dood tot alle begeertes, sonde, ambisie, vlees en trots, sodat ons diepste innerlike wese sal oorstroom met suiwer, lewegewende waters. Hy sê vir ons, “Die dood waarin Ek jou gelei het, is bedoel om lewe in diegene rondom jou te bring. Slegs ‘n dienaar wat dood is vir hierdie wêreld, kan waarlik Christus se lewe na sy invloedsfeer bring!”
Onthou, wanneer finansiële probleme toeslaan, wanneer fisieke pyn tref, wanneer jou naam en karakter belaster word, is alle oë op jou. Jou medewerkers, jou familielede, jou broers en susters in Christus, selfs vreemdeling hou jou dop en wag vir jou reaksie.
Wat sien hulle uit jou vloei in sulke tye? Sien hulle geloof, vertroue en oorgawe? Of sien hulle ‘n wanhopige, murmurerende Christen wat homself nie toevertrou aan die opstandingskrag van Jesus nie?
Geliefde, laat die dood sy werk in jou afhandel! Laat dit alles verwyder wat die vloei van Christus se lewe uit jou na ander verhinder.
Sê vir die Here, “Vader, ek weet hierdie moeilikheid gebeur nie met my omdat U kwaad is vir my nie. Dit gebeur omdat U by iets in my siel probeer uitkom. Deel daarmee, Here. Bring dit tot by die dood en uit daardie dood, bring lewe!”