AFGESONDER VIR GOD
Op die aand voor die kruisiging, by die Nagmaal, het Jesus vir sy dissipels gesê, “Nog ‘n klein tydjie en die wêreld sien my nie meer nie; maar julle sien My” (Johannes 14:19). Wat ‘n interessante stelling vir Jesus om te maak. Een van hulle het gevra, “Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie?” (14:22).
Natuurlik het Jesus ‘n les in gedagte gehad. Hy het geantwoord, “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak . . . Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie . . . En nou het Ek dit aan julle gesê voordat dit gebeur, sodat hulle kan glo wanneer dit gebeur. Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie. Maar dat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen net soos die Vader My beveel het” (14:23, 27, 29-31).
Jesus se reaksie hier, bring ‘n tema in fokus wat Hy dwarsdeur hierdie gedeelte onder ons aandag wil bring – afsondering. In hierdie paar verse, maak Christus drie duidelike onderskeidings tussen sy koninkryk en die wêreld:
- “Die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My” (14:19).
- “My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (14:27).
- “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (14:30).
Tot die afgelope paar jaar, was afsondering ‘n kenmerk van Christus se kerk. Om afgesonderd te wees, was ‘n duidelike bevel van God se Woord en ‘n deel van elke Christen se roeping. Vandag egter, lyk dit of daar min verskil is tussen die kerk en die wêreld. Laat ons onthou dat ons afgesonder word vir sy koninkryksdoel, om instrumente van verandering te wees.