In Alles Verdruk
Eeue lank, was die kragtigste getuienis van God se kinders in die wêreld die uitstraal van Christus ten spyte van diepe lyding in hul lewens. Christus se gemanifesteerde karakter het diegene rondom hulle aangeraak en ateïste, Moslems en ongelowiges van alle soorte bedien.
Die apostel Paulus het gesê: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word” (2 Korintiërs 4:8-10).
Paulus het eerstehands die betekenis van wanhoop geken; hy was immers nie bomenslik nie. Hy het moeilike tye, wat hy nooit gedink het hy sou oorleef nie, beleef. Hy het getuig: “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; wat ons verlos het uit so ’n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos” (2 Korinthiërs 1:8-10).
Verstaan jy wat Paulus bedoel? Hy sê vir ons: “Ons was bo alle menslike kragte verdruk en ons kon dit glad nie verstaan nie. Ons het by die punt gekom waar ons gedink het dat dit alles verby was.”
Op daardie oomblik, op Paulus se moeilikste tyd, het hy sy bediening en roeping onthou. Toe hy die dood in die gesig gestaar het, het hy homself herinner, “Die hele wêreld hou my dop. Ek het al baie preke gepreek oor die krag van God om sy diensknegte te bewaar en nou kyk almal na my om te sien of ek dit glo.”
Daarna het Paulus vir die Korinthiese kerk gesê: “Dit was julle gebede wat ons gehelp het. Julle het ons in staat gestel om deur alles te kom met ‘n oorwinningslied.” Hy skryf: “Terwyl julle ook vir ons saamwerk deur die gebed, sodat daar vir die genadegawe aan ons deur baie persone op baie maniere vir ons gedank mag word” (2 Korinthiërs 1:11).
Moet nooit die saak van gebed vir jou broers en susters wat in nood is, ligtelik opneem nie. Paulus sê dat die gebede van die Korinthiërs ‘n geskenk aan hom was, en ons gebede kan ook ander seën.