BEKLEE MET NEDERIGHEID
“Wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (1 Petrus 5:5).
Hoe wonderlik sal dit wees as alle gelowiges in nederigheid gewandel het! Hoe aanloklik sou die kerk wees vir ‘n verlore, hartseer, gebroke wêreld en hoe genesend vir mense wat seergemaak is in die huis van die Here. En verder, hoe wonderlik en heerlik sou dit wees vir ons Vader om te sien dat sy kerk die mantel van nederigheid aantrek.
Sommige mag dink dat om nederig te wees, beteken om ander nie aanstoot te gee nie wanneer dit in werklikheid mensbehaend is, eerder as God-behaend. Die wêreld mag nederigheid verag maar soos ons sien in hierdie gedeelte, verhoog God diegene wat nederig lewe. Dit is nie altyd maklik om met nederigheid te lewe nie; eintlik is dit onmoontlik sonder die genade wat God belowe.
Nederigheid is nodig om die uitstorting van God se seën te hê. Die teenoorgestelde van nederigheid is ‘n dominerende houding, iemand wat altyd beveel en altyd gesag uitoefen sonder enige soort barmhartigheid of genade. Petrus sê ons moet onsself met nederigheid beklee. Ek het altyd gedink nederigheid beteken dinge uittrek, wegneem, afdaal tot niks. Maar Petrus sê nederigheid is om jou te beklee met sekere dinge.
Een van die maniere om toe te neem in nederigheid is om jou algehele vertroue in God te plaas. “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Dit is onmoontlik om jou bekommernis op die Here te werp voordat jy eers weet dat Hy magtig is; jy sou nie jou bekommernis op God werp as jy gedink het Hy sou jou teleurstel of in die steek laat nie.
Nederigheid bevry ons van die arrogansie wat sê, “Ek kan vir myself sorg,” en bemagtig ons om op die sterk hand van God te vertrou. Dit bring ons by ‘n plek van vrede, gegrond en gevestig in Hom. Besluit vandag dat jy gaan groei in nederigheid deur God toe te laat om die gebeure in jou lewe te orkestreer. Verneder jouself voor Hom en op die regte tyd sal Hy jou verhoog (sien 1 Petrus 5:6).