BEMOEDIG

David Wilkerson

In Deuteronómium 11 vind ons Israel by die Jordaanrivier op die punt om deur te trek na die Beloofde Land.

Voor God se volk Kanaän binnegegaan het, het Moses hulle byeengeroep vir ‘n spesiale boodskap van die Here af. Onthou, dit was nie die geslag wat verdoem was om in die wildernis te sterf oor hulle dade van ongehoorsaamheid nie. Liewer, dit was die geslag wat daardie ongelowiges opgevolg het. Toe hulle vaders die Rooi See oorgesteek het, was hierdie volk steeds jonk en het in ouderdom gewissel van baba’s tot twintig jaar oud. Teen hierdie tyd, was baie van hulle ouer as vyftig en hulle eie kinders het die derde geslag uitgemaak.

LUISTER NA MY

Moses het sy vermaning aan hierdie “middelgeslag” begin met die volgende woorde:

“En julle moet vandag weet dat ek nie spreek tot julle kinders wat die onderwysing van die HERE julle God nie geweet en nie gesien het nie; sy grootheid, sy sterke hand en sy uitgestrekte arm” (Deuteronómium 11:2).

Moses het dit duidelik gemaak: “Die boodskap wat ek op die punt is om vir julle te bring, is nie aan julle kinders gerig nie. Dit is nie bedoel vir diegene wat nie die wonderwerke gesien het wat julle gesien het nie. Dit is nie vir diegene wat nie die tugtiging van die Here geken het nie. En dit is nie vir die onbeproefdes, wat nie God se ontsagwekkende krag te midde van hulle beproewings gesien het nie.”

‘N DUIDELIKE MANDAAT

God het vir hierdie middelgeslag in soveel woorde gesê: “Hier is julle voltydse roeping as My dienaars. Julle moet altyd standvastig wees en nooit weifel in julle vertroue in My nie. Op hierdie manier sal julle kinders My magtige hand in julle lewens aan die werk sien. Hulle sal bemoedig word deur die vrede wat julle te midde van julle verdrukkings beleef.”