Christus, die Vloek en die Kruis
“Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U my gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U my liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld” (Johannes 17:24, my beklemtoning). Jesus het dit vir sy dissipels gebid en dit sluit ons in. Hy het die Vader gevra dat ons sy heerlikheid mag sien, wat beteken om Hom te ken.
Daar was sekere tye in die Ou Testament toe Jesus Homself geopenbaar het in menslike of engelagtige vorm. Jy weet wat daardie kere gebeur het. Toe Jesaja God se heerlikheid in die tempel gesien het, het sy liggaam gebewe en hy het op sy aangesig neergeval. Toe Jakob probeer het om met die Here te stoei, het Hy Jakob se heup ontwrig. Toe Moses gevra het om God se heerlikheid te sien, het die Here vir hom gesê, “Reg, maar eers moet jy jou gesig toemaak. Dan moet Ek jou wegsteek agter ‘n rots. Slegs dan kan Ek vir jou My nagloed van agter laat sien...” Kortom, Hy moes Moses beskerm teen die volle openbaring van Homself. Dit was nie ‘n maklike ding om in die heerlike teenwoordigheid van die Heilige te wees nie!
Dit het nie nét in die Ou Testament gebeur nie. Toe Petrus Jesus die eerste keer ontmoet het, het hy op sy aangesig neergeval, skielik bewus van sy onwaardigheid en het verklaar, “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man” (Lukas 5:8). Daar was geen ligsinnigheid in ‘n ontmoeting met die Here nie. Dit was ook waar van die apostel Johannes, verban op Patmos, toe hy die Openbaring ontvang het. Toe die Here se stem die eerste keer met hom gepraat het, het Johannes vreesbevange op sy aangesig neergeval.
Ons weet vanuit die Skrif dat dit die normale reaksie is van mans en vroue wanneer hulle Jesus sien. Dit skep die vraag: Het óns Jesus gesien? Is óns verander deur die geringste glimpsie van sy teenwoordigheid in ons lewens? Wat sal gebeur as ons Hom sou sien soos Moses, Jesaja of Johannes of Petrus?
My boodskap aan jou hieroor is eenvoudig: Jesus is lieflik!
Ek gebruik hierdie frase met ‘n groot stryd. Dit dra so min krag om die ontsaglike werklikheid van sy heerlikheid oor te dra. En ek gebruik nie “lieflik” op die manier wat ons gewoonlik gebruik as ons sou sê, “Is sy nie lieflik nie?” of “Is hy nie aantreklik nie?” Ons kan nie al die dieptes van Jesus se skoonheid peil nie – hoe heerlik, asemrowend, wonderlik, afgesonder, uniek en besonders Hy is nie.
Al hierdie eienskappe verdien om weer en weer en weer gesê te word. Jesus is teer, vriendelik, kosbaar. Hy is vol majesteit en grootsheid. Hy is wonderbaar, sterk, magtig, kragtig. Hy is briljant, wys, voortreflik. En Hy stel nooit teleur nie.
Hy struikel nooit, Hy is nooit swak nie, en Hy word nooit vir een oomblik neergevel nie. Hy luister nooit nié na ons nie; Hy pleit altyd vir ons. Hy neem nooit ‘n ruskans om Satan vir ons te bestry nie, en hou nooit op om ons lief te hê as ons faal nie. Jy is al hierdie dinge oor Jesus geleer. Ek vra jou, is Hy nie lieflik nie?
Byvoorbeeld, die Bybel beskryf Jesus op maniere wat dit óns nooit sou beskryf nie. Dit sê Hy het geen sonde geken nie. Jesaja sê daar was geen bedrog in Hom nie, wat beteken, Hy het geen valse motiewe gehad nie. Hy het nie gepreek om skares te lok of genees om mense te beïndruk nie. Dit sê ook Hy was op alle maniere versoek, wat beteken, Hy was onderwerp aan elke soort stryd wat ek en jy beleef. Hy is egter so lieflik dat selfs in daardie versoekings, Hy sonder sonde in alle gevalle was. Hy het in der waarheid van die Vader gesê, “Dit behaag My om U wil te doen.” Sy begeerte en behae was om “boontoe te dink” oor hoe Hy Sy Vader kon behaag.
Ek is seker die Bybelskrywers het verlang na dieper woorde om Jesus te beskryf. Hooglied van Salomo sê sy mond was pure soetigheid en dat Hy volkome begeerlik was. Die outeur van Hebreërs gebruik die woorde “onskuldig,” “onbesmet,” “afgeskeie van die sondaars” (wat beteken, om geen geur van sonde te hê nie), en “hoër as die hemele geword het.” Hy kom tot die gevolgtrekking, “Dit was gepas vir ons om so ‘n Hoëpriester te hê.”
In sy eerte sendbrief, noem Petrus Jesus “vlekkeloos.” Dit gaan nie oor Christus se fisieke voorkoms nie, maar oor sy karakter, wat sê daar is geen merk teen Hom nie. En dit sluit die karakter van sy verhouding met ons in. Sommige mag beswaar maak, “Jesus het my nie deurgedra toe ek Hom nodig gehad het nie,” maar Jesus het nog nooit iemand in die steek gelaat nie. Dit is waar, nie net vir die geskiedenis van die mensdom nie, maar voor die Skepping, insluitend sy reaksie teen die rebelse engele in die hemel.
So, hoe het Jesus Homself beskryf? Hy sê Hy is sag en nederig van aard. Hy het “nederig” gebruik, nie op die manier wat ons gebruik deur onsself in die skaduwee te stel nie. Sy bedoeling is baie sterker en stel voor Hy het Homself gewillig verneder uit Sy regmatige posisie in die hemel om menslike vlees te word. Hy het sy heerskappy uit die hoogte eenkant toe geskuif om ‘n afhanklike vorm van goddelikheid aan te neem, sodat Hy as ‘n mens op sy Vader vertrou het om Hom te bemagtig om al Sy goddelike aktiwiteite op die aarde uit te voer. Praat van ware nederigheid; wie gee mag prys wanneer hulle dit eers besit? En niemand het dié soort mag wat Jesus gehad het nie. Wat Hy gedoen het, was lieflik.
Teoloë gebruik ‘n vreemde woord om Jesus te beskryf en sê Hy is “onfeilbaar.” Om feilbaar te wees is om te faal, om te sondig, om verkeerd te wees, om te sukkel, die idee dat iets in jou geïrriteerd kan wees. Maar selfs in sy menslike natuur, het Jesus se goddelike natuur dit alles gekanselleer. Daar was geen wellus in sy oë en geen trots in sy hart nie. Dit is opsigself heerlik. En selfs in sy menslike natuur, het Hy soewerein gebly, een met God (Matthéüs 18:18, Kolossense 2:10).
Beskou nou hierdie lieflike kenmerke: Hy is volkome regverdig (Johannes 8:46) en vol geregtigheid (Johannes 8:16). Hy is beide regverdig en ons regverdigmaker (Romeine 3:26). Met ander woorde, Hy vind ‘n manier om sy geregtigheid te behou, terwyl Hy ons vryspreek van ons onregverdige dade.
Hy is ewig en bestaan vir altyd (1 Timótheüs 1:17). Hy is ons lofprysing waardig tot in ewigheid. En Hy is liefde (Johannes 13:34) – ‘n liefde wat onpeilbaar is! Hy is alvermoënd – almagtig, met geen gebrek aan mag nie. Sy hande word nie gebind deur die duiwel of deur ons vrye wil nie; Hy het mag oor enige situasie te enige tyd. Hy is alomteenwoordig – oral te alle tye. En Hy is alwetend en ken die begin en die einde selfs voor die einde aanbreek.
Dit alles is ‘n klap in die gesig van ‘n valse lering deesdae, genaamd oop teologie. Dit verklaar dat God een ding in die geskiedenis doen en ons doen ‘n ander – dat Hy reageer op dit wat ons doen en verstellings maak. Nee, nooit! Toe Jesus gekruisig was, het God nie passief toegekyk en gesê, “O, Ek beter iets doen om dit te verlos” nie. Hy het Offerlam in gedagte gehad lank voor die Skepping. Hy besit alle gesag en Hy heers in volmaakte oordeel. Die somtotaal is, Hy is lieflik – die begeerte van alle nasies!
Jy mag dink jy verstaan sekere dinge oor Jesus, soos die teologie oor sy Wederkoms en die eindtye. Jy mag hierdie onderwerpe van bo tot onder ken, van pre-milleniaal tot post-tribulasie en dit is goed. Maar jy sal nooit in staat wees om Jesus se skoonheid ten volle te begryp nie – sy geregtigheid, sy liefde, sy regverdigheid, sy soewereiniteit, sy ewige natuur.
Die belangrikste van alles is, Christus se lieflikheid spreek ‘n vloek aan.
Weens Jesus se skoonheid, sal Hy nie na iets wat onvolmaak of sondig is kyk en dit bloot oorsien nie. Hy sal nie sê, “Ek sal dit deur die vingers sien, dit verskoon en dit laat verbygaan” nie. Omdat Hy lieflik regverdig is, veroordeel Hy elke sonde. In Romeine 1-3 praat Paulus duidelik oor die toorn van God teen sonde. Natuurlik is dit nie ‘n gewilde onderwerp in die meeste kerke nie. Ons kultuur hou daarvan om God te skilder as ‘n groot teddiebeer. Maar selfs die Nuwe Testament verklaar, “My kom die wraak toe, sê die Here.” As ons daardie aspek van God se karakter ignoreer – dit is dat sy geregtigheid ‘n aspek is van sy lieflikheid – doen ons dit tot ons eie nadeel. Waarom is dit belangrik? Dit is omdat ons sondes ons onder ‘n vloek plaas. In Deuterónomium 27, demonstreer God dit met sy volk. Hy het die twaalf stamme verdeel en helfte van hulle beveel om op die Berg Ebal te gaan staan, en die ander helfte om op ‘n ander berg ‘n klein entjie verder te gaan staan. Die Leviete moes al die vloeke uitroep wat oor die mense sou kom as hulle teen God se Woord sou rebelleer en afvallig word.
Dit het so begin: “Vervloek is die man wat ‘n gesnede of gegote beeld maak, ‘n gruwel vir die HERE, werk van ‘n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel; en die hele volk moet antwoord en sê: Amen” (Deuteronómium 27:15). As die vloek uitgeroep was, het al die mense op die ander berg geantwoord, “Amen!” Hulle het saamgestem oor die geregtigheid van God se wet – oor ouers oneerbiedig, naastes se goedere begeer, en geregtigheid vir weduwee’s, wese en die haweloses verdraai.
Maar daarna was die seëninge aan die volk gelees (sien Deuteronómium 28) – seëninge van voorspoed, van lang lewens vir kinders, van krag teen vyande, van seëninge wat inkom en uitgaan. God se volk moes oorstelp in hulle harte gewees het om elke ontsaglike seën te hoor wat deur die priester opgenoem is.
Hierdie hele toneel het daaroor gehandel om met God se wet saam te stem en te bevestig dat dit goed was. Dit was egter nie een of ander Ou Testament oortuiging nie; dit is ook bevestig in die Nuwe Testament. Paulus beklemtoon die volmaaktheid, heiligheid en geregtigheid van God se wet in Galásiërs 3:10: “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie in alles bly wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.” Sy beklemtoningspunt hier? Alles van die wet, wat beteken elke iedere bevel was waardig om onderhou te word. As jy selfs aan een jota ongehoorsaam was, was jy vervloek.
Natuurlik is dit onmoontlik vir enige mens om God se wet volmaak te onderhou. Paulus wys ons dan hoe ons van hierdie vloek ontsnap: “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Galásiërs 3:13-14).
Ek en jy verdien die vloek – moenie ‘n fout maak nie. Ons moes aan die kruis gehang het. Maar in plaas van ons, was dit Jesus – die vlekkelose Lam, vol prag en heerlikheid, almagtig en onberispelik. Wat ‘n wonder: Die enigste mens in die geskiedenis wat die wet volmaak onderhou het – die mees bewonderde van alle mense – het die kruis vir ons opgeneem. Dit beteken elke sonde in die wêreld was op Hom geplaas.
Jesus het die gewig van daardie sonde gevoel. In die Tuin van Getsémané het Hy tot die Vader gebid om die beker by Hom te laat verbygaan. Sommige sou gesê het, “Hy was bang vir die kruis, of vir die marteling wat sou kom.” Dit is nie waar nie: Ander mense in die geskiedenis het flink na hulle marteling gestap en gesange gesing, maar Jesus was sterker as hulle almal. Sy bewing het gekom uit die gedagte van wat alles in die beker was – die ganse mensdom se sondes – en nie net ‘n teugie nie, maar alles, tot by die drek.
Dit kon wees dat toe Hy van die beker gedrink het, Jesus al die vloeke van Deuteronómium 27 op Hom hoor neerkom het: “Vervloek is jou vee. Vervloek is jy in alles wat jy doen, jou kom en gaan. Vervloek sal jou gedagtes wees, vasgedraai in verwarring.” Ons pragtige Verlosser het dit alles op Hom geneem en meer – die sondes van elke massamoordenaar, elke gierige afgodedienaar, elke seksuele plunderaar in die geskiedenis. Hy het dit alles gedrink en Hy het dit volkome gedrink.
Dit breek my hart om daaraan te dink. Om die vloek van al ons sondes op Jesus te plaas, was soos om die Mona Lisa deur ‘n papierversnipperaar te plaas – om die beste kunswerk bekend aan die mensdom word op die vullishoop te gooi. Die hele verbryselende gewig van sonde se straf moes op ons gewees het. In plaas daarvan, is “Hy...ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel” (Jesaja 53:5).
Waarom het God daardie beker aan Jesus gegee? Waarom sê die Skrif het dit Hom behaag om dit te doen? Dit was omdat sy volk dan nie daardie beker hoef te gedrink nie. En beide Vader en Seun het daarmee saamgestem.
Sommige bespot hierdie gedagte en sê dit is “goddelike kindermishandeling,” dat geen liefdevolle vader dit aan sy seun sou doen nie. Maar ‘n groter liefde was aan die werk, ‘n liefde wat die opofferende, vrygewige aard van beide Vader en Seun openbaar het. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16, my beklemtoning). Vriend, daar is een rede vandag waarom ek en jy nie daardie beker hoef te drink nie: Dit is omdat Jesus dit vir ons gedrink het.
Die heerlike aard van die kruis is nie net dat ons sondes vergewe is nie. Daarvoor is boete gedoen, wat beteken dit is ten volle weggeneem. Dan word iets in die plek van ons sondes geplaas, ‘n transaksie bekend as versoening. “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Romeine 3:25). Christus se bloed het ons gered van God se regverdige toorn wanneer dit daarby kom om sonde te oordeel.
Al hierdie dinge gee vir jou ‘n beslissende reg as ‘n volgeling van Jesus. Wanneer Satan teen jou kom en sê, “Jy het steeds drek van sonde in jou lewe,” stop jy hom net daar. Jy noem hom ‘n leuenaar. Jy laat hom nie toe om te trap op die kosbare bloed wat Jesus vir jou gestort het nie – omdat Jesus die hele beker gedrink het, insluitend alle drek. Laat die duiwel jou dan nie forseer om boetedoening te doen nie. Jy kan nooit die beker drink wat Jesus gedrink het nie, maak nie saak hoeveel beloftes jy aan God gemaak het oor jou verbeterde dade nie. Sy liefdevolle daad alleen red jou van alle toorn. En Hy het daardie werk volmaak voltooi en gesê, “Dit is volbring” (Johannes 19:30, my beklemtoning).
Ja, ons is vol sonde, heeltemal onverdienstelik. Maar ons lieflike Verlosser het verklaar, “Ek het dit alles gedrink. Ek het die prys ten volle betaal. Nou hoef my kinders, wat hulle geloof en vertroue volkome in My plaas, nie boete te doen nie, geen skuldgevoelens om aan vas te hou nie, geen skande om te dra nie. Ek het dit alles vir hulle gedra” Dit is die beste boodskap in die wêreld. En dit is die lieflikheid van ons wonderlike, onvergelykbare Verlosser, Jesus Christus!