CHRISTUS, ONS OFFER

David Wilkerson

In gehoorsaamheid aan God, het Abraham sy seun, Isak, na die berg geneem om hom te offer. Langs die pad het Isak vir sy pa gevra, “Waar is die lam vir die brandoffer?” Abraham het in geloof geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir die brandoffer voorsien, my seun” (Génesis 22:8). En God het voorsien en Abraham gelei na ‘n ram wat in die bosse vasgevang was.

Abraham se geloof spreek baie duidelik tot ons vandag, net soos dit met Isak gespreek het: “As jy tog net op die uitkyk was, sou jy sien hoe God vir die brandoffer voorsien.”

As God se volk tog maar net die woorde van Johannes die Doper geglo het. Hier was een van hulle eie profete, wat hulle gerespekteer en vertrou het, wat van Jesus gesê het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). Later het Johannes Jesus wéér op hierdie manier geïdentifiseer: “en toe hy Jesus sien wandel, sê hy, ‘Dáár is die Lam van God!’” (Johannes 1:36).

God het sy eie Lam vir ‘n offer voorsien: Jesus, sy enigste Seun. En toe Christus gekruisig is, begrawe en weer opgewek is uit die dode, het hy ons versoening geword, ons vrede. Jesus het gewillig ons sonde, skuld en skande op Hom geneem. Hy het gesterf en weer opgestaan om alle mense vry te spreek.

“Omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees” (1 Petrus 1:1-21).

Net soos die kerk twee duisend jaar gelede, word ons herinner aan hierdie heerlike waarheid: “Christus is ons hoop!”