‘n Liefdesbrief aan Mislukking

Gary Wilkerson

My vriend, Eric, het 'n baie moeilike kinderlewe gehad. Sy pa het herhaaldelik vir hom gesê: "Jy is ‘n nikswerd en jy sal nooit iets word nie".

Soos Eric ouer geword het, het hy hom tot dwelms gewend. "Ek was 'n slegte verslaafde", sê hy. “Ek het allerhande goed gemeng wat my kon doodgemaak het. Ek was selfs sleg daarmee om 'n verslaafde te wees. My naald sou breek, of ek sou nie genoeg kontant hê om my gewoonte te voed nie. Ek het soos ’n totale mislukking gevoel”.

Eric se lewe het 'n totale gemors geword. Sy verslawing het hom van elke sent ontneem en daarom het hy besluit om 'n kafee te beroof om nog dwelms te koop. Hy het 'n vuurwapen uitgehaal en geskree: "Almal teen die muur!" Die kafee was so stampvol dat al die mense nie teen die muur kon inpas nie. Verward het Eric weggehardloop.

Wanhopig het Eric uiteindelik besluit om homself te skiet met die haelgeweer wat hy vir die roofpoging gebruik het. Hy het egter die geweer laat val en dit het per ongeluk afgevuur en hom in die sy gewond. Terwyl Eric homself na die hospitaal bestuur het, het hy gedink: "Ek is so 'n ellendige mislukking dat ek nie eers myself kan doodmaak nie". Nadat hy vir sy wond behandel is, het Eric in totale wanhoop deur die strate geloop. Diep in sy binneste het hy tot God uitgeroep: “Is U enigsins daar? Is daar enige rede vir my om aan te hou lewe?”

Eric het 'n stem hoor sê: "Ek stuur vir jou 'n liefdesbrief". Op een of ander manier het Eric geweet dit was die stem van Jesus. Terwyl hy op 'n randsteen gesit het met reënwater wat in die sloot onderdeur sy bene geloop het, het hy 'n klein boekie opgemerk wat na hom toe aangedryf het. Toe hy dit optel, sien hy dat dit 'n traktaat was met die titel: "Daar is hoop vir die dwelmverslaafde".

Die traktaat is gepubliseer deur 'n groep genaamd Victory Outreach. Eric het hulle adres gesoek, na hulle gegaan en sy lewe aan Jesus gegee. Kort voor lank is hy van sy verslawing verlos. Hy het alle verkeerde gewoontes laat vaar, insluitend sy oortuiging dat hy bestem was om 'n mislukking te wees. Jesus het in alle opsigte vir Erik 'n nuwe skepsel gemaak.

Hierdie jongman het gedink sy lewe is verby, maar dit het pas begin. Hy was blind vir die opstandingslewe wat Jesus die hele tyd vir hom beplan het. “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11).