‘n Woord Is Aan Ons Gegee

David Wilkerson (1931-2011)

Ons leef in 'n tyd van die grootste evangelie-openbaring in die geskiedenis. Daar is meer predikers, boeke en gospel-media as ooit tevore. Tog was daar ook nog nooit meer benoudheid, beproewing en onrustige gemoedere onder God se kinders nie. Herders ontwerp vandag hul preke net om mense op te tel en hulle te help om wanhoop te hanteer.

Daar is niks fout hiermee nie. Ek verkondig self hierdie waarhede, maar ek glo daar is een eenvoudige rede waarom ons so min oorwinning en bevryding sien: dit is ongeloof. Trouens, God het in hierdie laaste dae met groot duidelikheid gepraat en Hy het gesê: “Ek het reeds vir jou ’n Woord gegee. Dit is voltooi en klaar. Staan nou ​​daarop.”

Laat niemand vir jou sê dat ons 'n hongersnood van God se Woord ervaar nie. Eintlik ervaar ons 'n hongersnood om God se Woord te hoor en dit te gehoorsaam. Hoekom? Paulus stel dit duidelik: “Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word... Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja sê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:11-13,16-17, AFR53).

Dit is die enigste manier waarop ware geloof ooit in enige gelowige se hart sal opstaan. Dit kom deur God se Woord te hoor—dit is om te glo, te vertrou en daarop te handel.

“Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom... Die Here verlos die siel van sy knegte; en almal wat by Hom skuil, hoef nie te boet nie” (Psalm 34:18-20, 23).

In net hierdie paar gedeeltes uit Psalms, word ons genoeg van God se Woord gegee om alle ongeloof uit te dryf. Ek versoek jou nou om dit te hoor, dit te vertrou en dit te gehoorsaam. Rus uiteindelik daarin.