Aan Hom Wat Veel Gegee Is

Jim Cymbala

Kom ons kyk na 'n boodskap wat God vir Eli, een van sy priesters, oor die man se seuns gegee het: “Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees. Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap, sodat daar geen bejaarde sal wees nie” (1 Samuel 21:30-31, AFR53).

Sjoe! Waarom het God dit oor Eli se seuns gespreek? Omdat hulle God se huis ontheilig het; hulle het onheilige dinge daar gedoen soos om hul mag te gebruik om die vroue in die tempel te misbruik, en Eli het daarvan geweet, maar hulle nie gekeer nie.

God is 'n God van genade, maar Hy is ook 'n God van oordeel. Dit was ook nie net 'n Ou-Testamentiese ding nie. Dit het ook in die Nuwe Testament gebeur (sien Handelinge 5:1-11). ’n Man en sy vrou het vir die Heilige Gees gelieg en hulle het albei in die kerk dood neergeslaan.

Wanneer jy betrokke is by heilige dinge en jy het toegang tot baie lig, neem God dit ernstig op wanneer jy weet dat iets boos aan die gang is en jy laat dit toe. Jy maak asof jy dit nie raaksien nie. “En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle te veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis” (Lukas 12:48). Dis waarvoor Eli geoordeel is en daarom is sy hele toekomstige nageslag uit die priesterskap verwyder. Jy weet dat God voorheen met Eli se gewete gepraat het en mense het ook by Eli gekla oor wat sy seuns gedoen het. God se oordeel het nie uit die bloute gekom nie.

Ons leef in 'n dag waar enigiets geregverdig kan word as ons 'n slagoffer van ons omstandighede is, maar God kyk nie so daarna nie. As God ons waarskuwings gegee het en ons het lig deur sy Woord, sal God ons daarvolgens oordeel. Ons moet daarteen waak en seker maak dat ons nie maak asof ons boosheid nie sien nie, net omdat dit ons familie of ras of denominasie is nie. God haat oneerlike weegskale. As ons die vermoë het om iets boos wat aan die gang is te stop, laat ons ons bes doen om dit te stop. 

“Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is 'n verterende vuur” (Hebreërs 12:28-29).