Beklee My, Jesus

David Wilkerson (1931-2011)

“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Efésiërs 6:11, AFR53).

 

Liewe Jesus,

U het my beveel om die duiwel teë te staan en hy sou van my af wegvlug,

Maar ek het geen weerstand nie.

U het al die krag en weerstand wat ek ooit sal nodig hê,

Gee my dus die krag om te weerstaan.

U het vir my gesê ek kan my berge verskuif

As ek die geloof het van ‘n mosterdsaad;

Maar my berge wil nie skuif nie

Al is my geloof in U so groot

As wat ek dit kan kry.

U het die hemele en die aarde gemaak;

Skuif asseblief my berg.

U het gesê: “Vlug van goddeloosheid af weg!”

Dus het ek gevlug,

Maar sonde het my ingehaal

In die tyd wat ek die hardste probeer het.

U het die mag

Oor al die krag van die vyand

Met wonders, tekens en kragte.

Verlos my uit die strik van Satan.

Ek het nie eens die krag om die hele wapenrusting aan te trek nie,

Trek dit dus vir my aan as my wapendraer.

Doen vir my wat ek nie vir myself kan doen nie.

 

“Al beswyk my vlees en my hart – God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid” (Psalm 73:26).

“Maar die HERE is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose” (2 Thessalonicense 3:3).

“Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede” (Psalm 34:18).

“So ‘n vertroue het ons deur Christus by God. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God” (2 Korinthiërs 3:4-5).

“Omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4).

“Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien” (Psalm 91:15-16).

“Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus” (1 Korinthiërs 15:57).