Beproef deur Onheil en Geseën deur God

David Wilkerson (1931-2011)

Toe Daniël en sy drie vriende saam met duisende van hul landgenote gevange geneem is, moes dit wat hulle gesien het toe hulle die eerste keer in Babilon aangekom het, hulle verskriklik geskok het. Dit was 'n samelewing so losbandig, immoreel en vol afgodery dat hierdie vier mans se geestelike sensitiwiteit aangeval is.

Daniel en sy vriende het 'n ooreenkoms gemaak. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons durf nie ’n kompromie aangaan nie. Ons durf nie hierdie morele standaarde aanneem nie. Ons sal onsself afsonder en ons sal gedissiplineer wees in ons geloofswandel.” Hierdie vier mans het nie rondgegaan om hulle lewenswyse aan ander te verkondig nie. Dit was streng ’n saak tussen hulle en God, en ek glo hulle het iets meer in gedagte gehad as om enigiets wat seremonieel onrein was te vermy.”

“En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie” (Daniël 1:8, AFR53).

Die woord “verontreinig” in hierdie vers dui op “bevryding deur verwerping”. Daniël het met ander woorde gesê: "Enige kompromie van my standaarde sal my van my vryheid beroof." Toe hy dit aan die owerste van die hofdienaars meegedeel het, het die man geantwoord: “Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou betaal?” (Daniël 1:10).

Eerder as om terug te trek, het Daniël die hoof van die hofdienaars genooi om hom en sy vriende op die proef te stel en God het hulle geëer. “En hierdie vier jong seuns — God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome” (Daniël 1:17).

Wanneer jy in ’n krisis is, roep jy uit, “Here, waar is U as ek U nodig het? Is U nie verbind tot my verlossing nie?”

Wat as die Here in daardie oomblik vir jou sou sê: “Waar is jy as Ek ’n stem nodig het? Ek het stemme in hierdie sondige tye nodig, rein werktuie deur wie Ek kan spreek. Jy sê jy wil hê Ek moet by jou krisis opdaag, tog bly jy deel van die goddelose, wêreldse stelsel. Sê vir my, is jy verbind tot my planne? Sal jy toelaat dat jy beproef word en vertrou dat Ek jou sal bewaar en seën?” Hoe sal jy Hom antwoord?