Bou op die Rots

David Wilkerson (1931-2011)

Geliefde, jy bou nie op die rots nie as jy 'n prediker nodig het om op jou te skree om God te gehoorsaam, as jy 'n stel moets en moenies nodig het. Jy het nie 'n boek met reëls nodig nie; jy het 'n passievolle liefde vir Jesus nodig. Jy moet so verlief wees op Hom dat jy weet wat Hom behaag. 

“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het” (Matthéüs 7:24. AFR53).

Hoe liewer jy Hom het, hoe makliker is dit om Hom te dien en te gehoorsaam. Jy sal nie meer omgee wat die wêreld van jou sê nie. Jy kan antwoord: "Ek het van my Vader gehoor, en ek doen wat sy hart behaag". Wanneer jou hart bekoor is met Jesus, vloei sulke gehoorsaamheid natuurlik uit. Jy hoef nie gedurig voor die Here te gaan en uit te roep: "O, God, verbreek die mag van die duiwel oor my!" nie. Al daardie boeie sal begin afval soos jy sy hart leer ken.

Is jy verlief op Jesus? As jou antwoord ja is, het ek verskeie vrae vir jou. Hoe kan jy deur die week gaan sonder om tyd in sy Woord te deur te bring? Hoe kan jy nie smag om alleen saam met Hom in gebed te wees nie? Hoe kan jy nie ’n tyd van liefdesgesprek met jou Vader hê, Hom loof en aanbid en probeer om te leer wat Hom behaag nie? Dit is die grondslag vir gehoorsaamheid.

Jesus sê vir ons: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar” (Johannes 14:21). Wat 'n fenomenale belofte, alles gebaseer op 'n gehoorsaamheid van liefde.

Deursoek die evangelies en leer ken Jesus se woorde soos opgeteken in Matthéüs 5-7, wat begin met die Bergpredikasie. Soos jy sy woorde leer, doen dit! God se gebooie is nie swaar nie; hulle is nie 'n swaar las wat op ons gelê word nie. Inteendeel, om hulle te gehoorsaam, word makliker hoe liewer jy Hom het.

Dit is om jou huis op die rots te bou. Wanneer die storm kom, kan jy sonder vrees staan. Niks sal jou beweeg nie, want jy wandel in liefdevolle, welgevallige gehoorsaamheid aan die Vader.