Deur die Woord van God Beheer

David Wilkerson (1931-2011)

As Christus met oppergesag oor sy koninkryk heers en ons sy onderdane is, moet ons lewens deur Hom regeer word. Wat beteken dit presies om deur Jesus regeer te word? Volgens die woordeboek, beteken om te regeer “om te lei, te rig en om alle aksies en optrede van hulle wat onder die gesag staan, te beheer.”

Jesus moet toegelaat word om al ons dade en optredes te beheer, insluitend al ons gedagtes, woorde en dade. Die Bybel sê vir ons: “Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela” (Psalm 66:7, AFR53) en  “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles” (Psalm 103:19).

Geliefde, ons God is glad nie bekommerd oor Satan nie. Met net een woord uit ons Here se mond, sal Satan vir altyd verdwyn en vir ewig gemartel word. Daarom moet ons geen onheil vrees nie. God heers oppermagtig en kragtig in sy eie koninkryk, die een wat Hy in die harte van sy kinders gevestig het.

Jesus het gesê: “Want die koninkryk van God is in julle” (Lukas 17:21). Dit is in hierdie koninkryk – die koninkryk van ons harte – waar Christus oppermagtig heers oor sy kinders en ons lei, genees en oor ons lewens en toekoms regeer.

Die profete het van Jesus se heerskappy tot in ewigheid gepraat “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Isaiah 9:6). Hierdie vers het egter ook nog ‘n belangrike betekenis: Ons moet altyd toeneem in ons onderwerping aan ons Koning se heerskappy.

Kan jy opreg sê dat Jesus se heerskappy in jou, dag na dag vermeerder? Bring jy jou gedrag meer en meer onder sy gesag?

Die outeur sê vir ons dat in die Ou Testament, God met sy volk gepraat het deur die profete, maar vandag het God gekies om deur sy Seun te praat (sien Hebreërs 1:1-2). Jesus is God se uitdruklike boodskap aan ons, die goddelike Woord wat vlees gemaak is. Op sy beurt, het die Vader vandag die Heilige Gees vir ons gestuur om ons te herinner aan die Woorde wat Jesus gespreek het toe Hy nog op aarde was. Daarom heers Jesus oor ons deur die geopenbaarde Woord van God. Die Bybel is ons heerser se septer waardeur Hy sy Woord aan ons bekend maak.

As jy die getuienis van ‘n mens wil hoor wat deur God se Woord regeer is, kan jy dit in Psalm 119:11 vind: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.”